Vat vyf, Danie Marais: Bestuurshoof van PEN Afrikaans

Danie, nogmaals van harte geluk met jou aanstelling as PEN Afrikaans se voltydse bestuurder. Hoe sien jy die taak wat op hande is?

PEN Afrikaans se amptelike missie is:

  • Om ’n sentrum te vestig vir Afrikaanse skrywers wereldwyd
  • Om vir Afrikaans en sy woordkunstenaars ’n vaste en gerespekteerde plek in die internasionale skrywersgemeenskap – soos verteenwoordig deur  PEN International – te verwerf
  • Om die belange van Afrikaans en spesifiek die Afrikaanse boek te dien
  • Om Afrikaanssprekendes orals  in die wêreld, veral ook in Namibië, aan te moedig om deel te hê aan ons strewe
  • Om, gegewe aanduidings dat Afrikaans se grondwetlike regte nie genoegsaam eerbiedig word nie, op waardige wyse te stry vir ’n vaste plek vir Afrikaans in Suid-Afrika
  • Om die belange van woordkunstenaars te dien ten opsigte van wetgewing, kopiereg, en outeursregte; spesifiek, om stelling in te neem teen alle vorme van sensuur
  • Om geletterheid, belangstelling in die Afrikaanse boek, en kreatiewe gebruik van Afrikaans op alle vlakke van die gemeenskap te bevorder
  • Om mee te werk aan verwante inisiatiewe, insluitend noue samewerking en gedeelde projekte met South African PEN …

Dít is ’n bekvol. Ek hoop om ’n bydrae te lewer tot hierdie strewe. As PEN Afrikaans die belange van Afrikaans en spesifiek die Afrikaanse boek wil dien, moet ons myns insiens fokus op twee dinge:

1) ’n Beter koördinering tussen Afrikaanse kultuurorganisasies, media, uitgewerye en die skole en universiteite waar Afrikaans geleer word.

2) Die vul van leemtes wat in ons taalkulturele stelsel onstaan het

By punt 2 dink ek veral aan die leemtes wat met die heengaan van Insig, Boeke-Insig en die samesmelting van die Afrikaanse dagkoerante se boekeblaaie  ontstaan het. Hier is dit ook belangrik om in ag te neem dat nie net Afrikaanse skrywers van fiksie, poësie, toneelstukke, draaiboeke en nie-fiksie ondersteuning nodig het nie, maar ook akademici wat in Afrikaans wil publiseer en Afrikaanse joernaliste. As gevolg van die digitale revolusie wat om ons woed, het die tradisionele sakemodel van koerante en tydskrifte verbrokkel. Die gevolg is dat baie Afrikaanse joernaliste sonder werk en/of publikasieruimtes sit.

PEN Afrikaans werk tans aan ’n paar idees en konsepte. Die deurvoerbaardheid daarvan sal egter afhang van befondsingsmoontlikhede en die deelname van almal wat in en met Afrikaans wil werk en leer.

In welke mate glo jy sal PEN Afrikaans jou in staat stel om juis dié doelwitte te bereik?

 Ek sien PEN Afrikaans as ’n uitdaging en ’n geleentheid. PEN Afrikaans is ’n virtuele lappie grond waarop ek een van die deelsaaiers is. Ek en ander ondersteuners van dié inisiatief sal, met ander woorde, baie vir PEN Afrikaans moet doen sodat PEN Afrikaans iets vir Afrikaans en sy skrywers en lesers kan doen.

PEN Afrikaans se affiliasie met PEN Internasionaal is egter ’n voordeel wat nie onderskat moet word nie. Afrikaans se grootste geestesarmoede gedurende die Apartheidsjare was isolasie. Die gesprek en vennootskap met PEN Internasionaal gee ons toegang tot ’n organisasie wat globaal met die bevordering van taalregte, vryheid van spraak en ’n pro-aktiewe, progressiewe lees- en skryfkultuur gemoeid is. Dis baie belangrik dat Afrikaans deel word en deel bly van so ’n verenigde nasies van skrywers en taalregte.

Jy is bekend daarvoor dat jy dikwels ’n meer inklusiewe benadering (as eksklusiewe) voorstaan. Hoe plaas jy ’n Afrikaanse skrywersorganisasie soos PEN Afrikaans byvoorbeeld binne die groter konteks van ’n multilinguale land?

Aan die een kant is dit baie duidelik waarvoor PEN Afrikaans staan. Wanneer jy lid word, onderskryf jy die volgende handves van PEN Internasionaal wat deel van ons aansoekvorm om lidmaatskap is:

DIE HANDVES

Die PEN-handves is gegrond op besluite wat by ons internasionale kongresse geneem is en kan soos volg saamgevat word:

PEN bevestig dat:

  • Letterkunde geen grense eerbiedig nie en in weerwil van politieke of internasionale woelinge gemeengoed tussen mense moet bly.
  • Onder alle omstandighede, en veral ten tye van oorlog, behoort die erfenis van die ganse mensdom onaangetas deur nasionale of politieke dryfvere te bly.
  • Lede van PEN behoort te alle tye die invloed tot hul beskikking te gebruik om goeie begrip en onderlinge respek tussen volkere te bevorder; hulle onderneem om hul uiterste bes te doen om rasse-, klasse- en nasionale haat te besweer, en om die ideaal van een mensdom wat in vrede in een wêreld woon, na te streef.
  • PEN staan vir die beginsel van onverhinderde oordrag van denke binne elke volk en tussen alle volkere, en lede onderneem om elke vorm van onderdrukking van spraakvryheid in die land en in die gemeenskap waartoe hulle behoort teen te staan, sowel as orals ter wêreld waar dit ook al moontlik is. PEN is ten gunste van ‘n vrye pers en staan arbitrêre sensuur in vredestyd teen. Die vereniging glo dat die noodwendige voortgang van die wêreld na ‘n hoogs georganiseerde politieke en ekonomiese orde vrye kritiek op regerings, administrasies en instellings nodig maak. En aangesien vryheid vrywillige beheer veronderstel, onderneem lede om sodanige euwels van ‘n vrye pers soos leuenagtige publikasie, opsetlike onwaarheid en die verdraaiing van feite vir politieke of persoonlike gewin teen te staan.
  • Lidmaatskap van PEN is oop vir alle kwalifiserende skrywers, redakteurs en vertalers wat hulle by dié beginsels neerlê, ongeag hul nasionaliteit, etniese afkoms, taal, kleur of godsdiens.

Danie Marais

Binne die Suid-Afrikaanse bestel waar meertaligheid in teorie deur die Grondwet verskans word, maar in die praktyk onder beleg is, het PEN Afrikaans egter ook ’n taal-aktivistiese komponent. Hierdie aktivisme berus nie vir my of enige ander lede van die bestuur op ’n taalchauvinistiese beskouing wat wil beweer Afrikaans is op een of ander manier verhewe bo ander landstale nie. Ons koppel ook nie Afrikaans aan ’n spesifieke leefwyse, godsdiens of waardestelsel nie. Ons wil Afrikaans graag sien voortbestaan soos wat enige natuurliefhebber graag die ysbeer wil sien oorleef. En soos die ysbeer is Afrikaans ’n “dier” – dit wil sê nie goed of sleg nie, maar ’n unieke, kosbare manier van wees in die wêreld. Afrikaans het ook, soos die ysbeer, ’n bedreigde, krimpende habitat en daardie bedreiging is ’n sameloop van allerhande ingewikkelde omstandighede wat beïnvloed word deur baie veranderlikes.

Om te baklei vir ’n lewensruimte vir Afrikaans binne ’n demokratiese, veeltalige bestel is niks anders as om te veg teen globalisering en die blinde pragmatisme van die vrye mark nie. Globalisering beteken groot korporasies en franchises gedy oor alle grense heen ten koste van al wat ’n klein, onafhanklike onderneming en ondernemer is. Die dodelike logika van ongebreidelde kapitalisme bepaal: “If it don’t make dollars, then it don’t make sense” (soos Blackroc en The Black Keys dit netjies opsom in “Dollaz & Sense”).

Op dieselfde manier word Engels in die naam van kommunikasie, pragmatisme, skaal,  besparing en internasionalisme ten koste van alle ander tale in Suid-Afrika bevorder. En dit kom uiteindelik neer op ’n hopelose, minderheidsveragtende oorvereenvoudiging van ’n gelaaide, bitter ingewikkelde situasie.

Ek staan dus vir Afrikaans nes ek staan vir onafhanklike uitgewerye, platemaatskappye, tydskrifte, koerante en boekwinkels.

Stel dit so: niemand gaan my oortuig Dan Brown, Lady Gaga en Hollywood-flieks is al wat daar is om te lees, luister en kyk nie. Dis soos daai ou grappie: Demokrasie is drie wolwe en een skaap wat stem oor wat hulle graag vir aandete wil hê. Demokrasie en die vrye mark gaan nie outomaties sorg vir minderheidsgroepe, klein ondernemings of meertaligheid nie. Die ordenende onsigbare hand van die mark is waarskynlik onsigbaar omdat hy nie bestaan nie.

As jy omgee vir Afrikaans sal jy moet moue oprol en betrokke raak.

Jy het vroeg in November ’n interresante kongres oor Afrikaans en haar pad vorentoe bygewoon. Kan jy vir ons so in die breë jou indrukke hiervan gee?

 Ek het by die eerste De Ark-“boetiekkunstefees” in Lydenburg deelgeneem aan ’n paneelbespreking met die tema: “Afrikaanse kuns en kultuur – quo vadis?” Saam met my op die paneel was die sanger, musiekvervaardiger en een van die hoofrolspelers in die Voëlvry-beweging Dirk Uys, asook fliek- en TV-vervaardiger en omroeper Deon Maas, skrywer-joernalis-sanger Rian Malan, professor Christo Lombard van UNISA se Departement Spiritualiteit en die jong rolprentvervaardiger Niel van Deventer wat pas Jaco Jacobs se Suurlemoen verfilm het.

Daar is lekker heftig gedebatteer oor Steve Hofmeyr se Stem-singery en Dookoom se liedjie en musiekvideo “Larney, jou p**s”. Daar was beslis ook geen algemene konsensus oor die toekoms van Afrikaans of die impak en belangrikheid van proteskuns nie.

Die afwesigheid van ’n onafhanklike kritiese publikasie soos Die Vrye Weekblad is wel deur almal betreur. Die meeste paneellede was dit ook eens dat daar steeds beduidende woord- en filmkuns in Afrikaans gemaak word, maar dat die toekoms onvoorspelbaar en onseker is. (Dirk Uys het die gesprek laat opneem en hopelik sal dit ook nog iewers digitaal beskikbaar gemaak word.)

 Uiteindelik meen ek die posisie van Afrikaans is baie soortgelyk aan dié van onafhanklike joernalistiek wêreldwyd. Baie mense wil dit hê, maar min mense is bereid om daarvoor te betaal of op te offer.

As Afrikaanse skryfwerk en joernalistiek van gehalte vir jou belangrik is, sal jy emosioneel en finansieel daarin moet belê. Anders gaan niemand behalwe trustfondskinders kan bekostig om hul tyd en energie daarin te steek nie.

Dankie vir hierdie volledige uiteensetting, Danie. Uiteraard is die bevordering van die Afrikaanse letterkunde een van PEN Afrikaans se primêre doelstellings. Hoe voel jy persoonlik oor die stand van ons letterkunde tans?

Ek gaan my nek uitsteek en sê ek dink die laaste dekade was ‘n baie goeie een vir ons letterkunde. Daar word werk van wêreldgehalte in prosa en drama gelewer wat glad nie vanselfsprekend is vir ‘n klein letterkunde soos ons s’n nie. Ons poësie is selfs in ‘n gesonder toestand as tien jaar gelede. Daar het nie net ‘n hele rits indrukwekkende bundels verskyn nie; daar word ook meer poësie met ‘n groter tematiese en stilistiese verskeidenheid uitgegee.

MAAR: Ek is bekommerd oor die volgende dekade en daarna. Die Afrikaanse letterkunde van die toekoms gaan deurslaggewend beïnvloed word deur die toegang van Afrikaanssprekendes tot moedertaalonderrig op primêre, sekondêre en tersiêre vlak. Die gesprek om die Afrikaanse boek kan ook net gesond bly indien die resensiebedryf nie saam met die Afrikaanse joernalistiek tot in die lewe teruggesnoei word nie. Afrikaans-departemente aan universiteite wat krimp of sluit, is ‘n verdere bron van kommer.

Kortom, die Afrikaanse letterkunde is steeds die moeite werd. As ons wil hê dit moet lewenskragtig bly, moet ons nou pro-aktief begin plan maak om bestaande strukture te versterk en die leemtes aan te spreek wat al groter gaap.

Groete van die PEN-kongres in Egoli.

Danie / Desember 2014

Bookmark and Share

Comments are closed.