Breyten Breytenbach. Van die os op die jas


Van die os op die jas was my bydrae tot Gent Universiteit se tweedaglange kollokwium met as tema, Die taal se stiltes. Ek wil hierdie spoegie in die kwispedoor graag opdra aan Louise Viljoen wat met helder oë bly kyk na die donkerwordende prentjie en juis daarom verseker dat die duister nie vormloos is nie.

***

VAN DIE OS OP DIE JAS…

(Om die esel ore aan te sit, of Die eengesprek as causerie)

                                                                                           die voël se vlug

                                                                                                is ‘n verbranding van vlerke       

 

OS : Om die grond gelyk te maak, die mond wat praat te identifiseer…

Jy sou hierdie causerie kon aanbied as ‘n teisho, soos dit in Zentaal genoem word (dit wat nie ‘n taal is nie), oftewel ’n direkte deling wat nie ‘n mededeling is nie. Want om aan woorde en frases vas te klou met die bedoeling om begrip te kweek, so het Meester Mumon al opgemerk, is soos om die maan met ‘n stok te wil bykom of om die skoen te krap omdat die voet ‘n jeukplek het.

JAS : Dames en here, u moet hom nie kwalik neem nie. Hy praat maar altyd so in raaisels en neem dan nog sy toevlug tot hoogdrawendheid ook. Die benadering pas hom soos ‘n skoen want nou kan hy mos van een onderwerp na die ander dwaal terwyl hy maak asof die dorings hom nie pla nie…

Hy is nie skadelik nie, al ploeg hy meestal met anderman se donkies wanneer hy nie soos ‘n sjebienvlieg by die drinkplekke uithang nie. Hou die riem tog maar kort sodat hy julle nie jong osse laat inspan nie.

Ek is sy jas, ek gaan probeer om sy onbetaamlikhede te verdiskonteer, die mantel voor u oë te swaai terwyl hy langs afdraaipaaie soek na die ossies wat hy sukkel om weer in die gewaande kraal te kry.

OS : Nee, my liewe esel, moenie weggaan nie – jy is dan juis die jas waarop ek reken om my warm te hou teen die koue van die Relatiewe.

JAS : Terwyl jy jou aan die irrelevansie van ‘n Absolute blootstel !

OS : Dis tog hoekom jy daar is, so empiries gesout soos ‘n Brit om my plaaspote in die stof te hou.

JAS : Tja, soos ek altyd sê – « No solution, maybe no problem. » Maar wat is jou punt ? Waaroor wil jy vandag praat ?

OS : Dat die punt juis ‘n beweging is.

JAS : Moet nou nie vir my sê jy gaan weer sanik oor die dooies wat nog lê en bewe nie, en dit nogal hier in die vreemde voor mense wat vriendelik na jou luister !

OS : Nee, ek gaan my probeer inhou.

Vriende, julle moet my verskoon as my bydrae die vorm aanneem van ‘n eengesprek – so te sê van speen tot speen aan dieselfde engel. Ek gaan nie my teenstrydighede onder ‘n maatemmer wegsteek nie. Waaraan ek wil raak is nietemin van ons besinning se tema’s, maar dan soos hulle mag opdoem in die gesprek van twee ou trawante : Os, die uwe, die voortvarende vuurvreter of vabond (want dis belangrik, soos Jean Genet dit eens gedoen het, om ‘n verskil te maak tussen die revolusionêr wat ek nié is nie en die landloper oftewel dwaalgees, die woordsmous in die lappieskleed waarin ek my wel herken), en in die ander hand Jas, die middelwêreldvermoeide, skuwe leepoog. Ons het vervreemd geraak oor die jare en tog albei besef dat elk op eie manier die weg byster is.

JAS : Jy druk my nou in ‘n blik. Maar goed dan – kry jou gang !

OS : Kom ons begin deur te probeer bepaal wat mens deur die gedig kan wéét.

Is daar ‘n versinsel uniek aan die prosesse van kreatiwiteit, om nou maar so-iets uit die lug te gryp, wat jou iets wyser gaan maak omtrent wording en verwording ? Alle kennis is in wording en daarom twyfelagtig, dit besef ons met die gang van dae en in die loop van woorde al druis dit ook in teen ons behoefte aan sekerheid.

JAS :  die verlies is daar

            as ‘n vlies van vrees

            wat skil word om verskille te verskuil

            in die stilte van verswording

 

OS : Sien, dit is wat ek bedoel ! Wat jy so pas daar aangehaal het maak geen sin in die gebruiklike kenniswêreld nie want jy beskryf tegelyk ‘n proses en die illustrasie daarvan. En om dit te kon doen het jy jou toevlug geneem tot ‘n beeldewêreld wat nie dieselfde konnotasies vir almal gaan ontketen nie. Of om dit in die woorde van Stefan George te stel : jou denkfiguur is ‘n aforistiese vormgewing wat, wanneer dit nie heeltemal leeg is nie, bespiegelende analise kombineer met byna tasbare prentjiesmakery om vir jou ‘n beduidende kritiese mimesis te gee.

JAS : Solank mens dit nie te ver laat loop soek na betekenis nie want anders word die tong weer jags. Is die poësie dan ook gebarespel ?

OS : Presies. Met nadoen leer jy van binne ken.

Walter Benjamin het geglo die self – as jy nou die self sou neem as versamelpunt, beide wisseldiertjie en koördinaat – is « uit en uit ‘n stel improvisasies van die een minuut na die volgende. » Dit wil sê dat dit ‘n eenheid van bewussyn is wat bestaan of staanplek kry deur op te gaan in die meervuldige beduidenisse wat nie noodwendig ‘n duidelikheid daarstel nie. Jou denkprosesse is dan deurweek deur die altyd-aanwesige gewaarwees van veelsinnigheid in die werkinge van denke. Om te dink is om te maak. Sien, die waarheid is nié ‘n tydlose universeel nie.

JAS : Jy aap nou abstraksie na ! Op die gevaar af dat jy my verkeerd gaan verstaan sou ek sê jy verlustig jou in die afwyking van ‘n kakogamie – die ongelukkige samevoegsels (of saamgooiery) van teenstydighede wat dit vir jou onmoontlik maak om lewensvatbare en vrugbare basters voort te bring – en waar is jou Afrikaans dan ? Jy sal duideliker moet artikuleer !

OS : Nee kyk, dat die jas nou vir ‘n os wil gaan vertel van onvrugbaarheid ! Luister, al klink dit nie so nie het ek ‘n broertjie dood aan sekerhede, dogma, ortodoksie, apartheid, die eenduidige wetmatigheid van moralisme, die bevrydingsteologie, die eenheidstaat…

Laat my meer konkreet betéken, al moet mens by die geboortetoneel ook versigtig wees om die gedig in die krip nie saam met die kaf te vreet nie : My verwysing is na werke van Giotto, Fra Angelico, maar veral Jeroen Bosch en Breughel waar die woord vlees word, waar gedagtes vorm aanneem en tasbaar is. (Wysheid groei uit die verwysende en jy kan daaraan ruik, met die vingertoppe daaraan raak.) Natuurlik skep hierdie denkfigure die illusie van bestaan in wording. Hulle is syngoed, verbeeldingsdenke en nié teorieë of filosotlike konstrukte nie.

Die beweging en die interaksie van tot stand koming is ‘n vloei van bestaansvernuf wat anders is, maar van gelyke waarde, as intellektuele begrip. Die besinning is in die sintuiglike belewenis. Mens sou selfs hierdie argumentering verder kon voer en beweer dat dit ‘n soort didaktiese sedeleer is, ‘n volksmanier van skepping in teenstelling met studeerkamerbespiegeling – ideografie eerder as ideologie of, erger, die ideolatrie van veronderstelde waarhede. Jy sou ook kon sê dis hoekom die maak van gedigte gevesel is in die vlees van woorde wat verklank tot trajekte, dat dit geen waarheid vergestalt nie maar eerder ‘n gewaarwording – ‘n wordheid, en daarom onderhawend aan verwording. Ter illustrasie : die skip van dwase en sotte is ‘n maanverhaal verskeep in taal. Dis hoekom dit moes sink.

 

JAS : Ek vergeet altyd dat jy eintlik ‘n skilder is.

OS : Ja, ek was nog van plan om eendag ‘n reis uit te stippel as opstel –

« Die tekenleer van ‘n skildigter » sou die titel wees.

JAS : Die regterhand wil liewers nie weet wat die linkerhand mee besig is nie !

OS : Hierin lê ‘n les opgesluit. In die pogings tot vormgewing, in die omgang met die materialiteit (en die geskiedenis) van dit wat saampraat – en wie sê vir wié voor ? – begin ek insien dat mens nooit téén die lig moet skilder nie. Aan die een kant is jy vervoeg in die poging om musiek te maak wat die aanroer van ‘n wye dekveld is met slegs verbeelding as instrument – daar kom immers altyd die moment wanneer jy begin skilder wat jy wéét en nie meer wat jy sién nie, wat jy met ander woorde kan verbeel en dus verbeeld, want dit wat jy nie kan verbeel kan jy nie jou eie maak nie. Maar aan die ander kant is dit byna altyd ook die ‘oomblik’ wanneer die materiaal – kleure, lyne, woorde, patrone, die begrensing van afsprake en die verwysings wat in die taal lewe – vir jou begin voorsê wat jy moet en mag doen ; dit is die skeidingsmoment of die uitskeidingsoomblik wanneer die materie, beide outonoom en deur jou geïnisieer, jou in ‘n dialoog betrek.

Jy word deur die wil-word aan die hand gelei. Die noem van dinge word ‘n ontdekking, miskien ‘n stroping van illusies, soms soveel so dat jy kaal anderkant uitkom. En in die verloop van die proses is daar oorgange, ‘n verskuiwing van sêpunte, miskien selfs andersmaak. (Kontinuïteit word deur oorgange gelas en ontlas. Miskien nog belas ook.)

Om vervang te word deur wat ? Jy kan alleen dans indien jy deur die ritme beweeg word.

Wat bly dan oor ? Die tekens van beweging tot beeldvorming of die tydelike stolling wat ons ‘gedig’ noem ? Die lewe leef net in die openinge van die teks.

JAS : Jy behoort jou teen die afskil te beskerm !

Daar word gesê die Talmoed (wat alreeds ‘n eksegese van die Boek is) mag nooit naak gelees word nie. Dit moet altyd geklee gaan, toegedraai wees in kommentaar, voetnota’s, interpretasies, teenstrydige lesings. Ek weet jy sou die gedig kaal wou teëkom, sonder verwysings of verswyging. Is dit egter wys, of selfs moontlik ? Dit sal tog jou oë uitbrand en jou tong verkool !  Gelukkig vir jou is elke woord ‘n hibried, ‘n mos, ‘n aandiksel, ‘n dop geskiedenis wat altyd weer gebruik word en in die gebruik daarvan verander. Hulle sal jou seker genadig wees. Jy sal dalk ge-abba word deur woorde wat meer weet van dinge as wat jy ooit kan bybring en sal maak asof hulle nie raaksien hoe verflenterd jou lappiesjas is nie.

OS : Jy is reg. Mens moenie bang wees nie maar jou asem tog ophou…

Om terug te kom op ritme – wat van vertroude begrippe na afwagting na die breuke en spronge van oorgange lei : dis altyd ‘n spanning, ‘n ontspanning en ‘n inspanning. Dis hoekom dit so belangrik is om leeg te wees sodat die vloei nie verhinder word nie.

Die teenstelling is dat die gedig ook ‘n ervaring is wat vol loop en sig dan manifesteer, wat gesig word om die tekens van die bewegings te wys. Jy kan sê dit spoel oor soos water wat uit die grond syg en dan, indien dit kalm en lewensvatbaar en standhoudend genoeg is (ja, selfs leeg genoeg), ‘n spieël sal vorm vir lig en die beweging van wolke. Dis immers ook waar die ooreenkoms met zen opvallend is : in die toegewyde inspanning op soek na niks. Of na ontlading.

 

nie sodanig om die taal te verwring –

seer sekerlik nie om die waan

van gedeelde emosies en griewe te besing nie

maar om die proses van beweging

geweeg in woorde en ontwikkel uit stilte

te laat uitkring

in dit wat as gedig ervaar word –

           

met ander woorde : om dit

met afweeg en uitvee

tot verdinging te bring

 

JAS : Indien dit dan so sou wees dat die werklikheid leeg is, met die gedig as draer en soeker na daardie werklikheid, as ontlaaier daarvan – wat bly dan agter ? Wat onthou ons ? Wie is ons ?

OS : Wat jy vra is : waarom is ons eintlik hier ? Is die lukrake verskynsel van die bestaan van denkende, bespiegelende, lydende en woedende lewe, in sover ons weet dat ons daarvan bewus is, nie net ‘n absurde evolusionêre aanpassing om as lewensuiting ten alle koste te oorlewe nie ? Bestaan ons inderdaad ? Of is ons ‘n illusie, die mooi storie van syn wat ons vir onsself vertel ?

JAS : Jy redeneer nou soos ‘n os wat aan ‘n bakkiespomp vasgemaak is. Niemand weerhou jou daarvan om op te hou bestaan nie ! Jy sal gou genoeg agterkom dat ‘n verwarde bewussyn met al haar haar implikasies en bloeding tog die enigste opsie is. It’s the only act in town, my china.

Om te lewe is nie vervangbaar nie ; om te bestaan is nie ‘n keuse nie. Die enigste vrye wil wat ons van weet is om nié te wees nie. Maar ook dan was jy nog altyd deel van ‘n proses en ‘n omgewing, laat jy tekens agter, sal jy ‘n holte wees, ‘n voelbare afwesigheid.

OS : Vir ‘n tydjie… Vir die lengte van ‘n gedagte… Jy besef tog hoe beperk ons agtertoe onthou en vorentoe projekteer ? Drie, vier generasies terug kan jy nog herroep – en die oproep is reeds ‘n andersmaak ; die res is newel, geskiedenis, verdigsel, betekenisskepping . Om van jou vrese ‘n dood te skep en uit die onvermoë om te weet ‘n god.

En vorentoe ? Tot by die kleinkinders miskien ? Twee generasies ? En hulle sal klaar anders wees, in ‘n ander omgewing as ons lewe. Miskien is ‘onthou’ en ‘verbeel’ ook net sinaptiese pogings, trillings, om ‘n ruimte te bepaal.

Maar dis illusie, die namaak van ‘n bestaansrede, wat ons ruimte vul.

Net soos ons geprogrammeer is om daardie ruimte groter te maak, tegelyk die grense van ons kennis te versit om so die onbekende en die onvoorspelbare binne te laat. Illusie is beide beskrywing en herkenning en bespiegeling en skepping. En die teken (die roete, die neerslag) wat ons oorhou om aan vas te hou is die teks, daardie onbetroubare bewussynsdraad.

Skrywe dan – wat per definisie ‘vaslê’ sou moes beteken – is slegs die vergestalting van beweging. Van oorgang. Die dialektiek tussen maak en herken.

JAS : Ek wil jou tog terugbring na die implikasies van daardie beweging… Want tensy dit net ‘n bewerasie is, skep dit verwagting. Dis immers hoe narratief ontstaan. Jou Leser of jou Toehoorder se aandag word betrek – ons wil almal vertél word.

OS : Maar dit sê nog nie dat daar betekenis of implikasie gaan wees, of enigiets om te leer nie. Jy vergeet te gou dat verstaan uit die wortel van staan groei al vra dit ook om verplasing.

Miskien ontvou die relaas slegs stilte. Miskien skud jy net voue uit die mou. Of ‘n koue pampoen.

JAS : Ek wil wat jy hierbo kwytraak effens kontekstualiseer. Jy neuk al die hele middag in die rigting van ‘n soort nihilisme…

Jy kén die teks wat ek gaan aanhaal – ek het nog die boek in jou hand gelê. Dit kom uit François Cheng se Cinq méditations sur la mort. 

« Geduldige en ontroerende deurlopende draad van menslikheid, van mense-bewussyn! Al gaan dit ook hoe ver terug, dis nie verlore in die duisternis van tyd nie, dis nie slegs ‘n draling van rook nie, dis konkreet en lewend. Die indruk wat ons mag hê dat  daar agter ons ‘n ontelbare skare van anonieme mense sou wees wat verdamp in die newel van die verlede, is vals. Want in feite tel ons maar net drie of vier geslagte per eeu en dertig of veertig oor ‘n duisend jaar – dis nie watwonders veel nie, en daarom is ons voorouers veel nader aan ons as wat ons glo. Daar is ‘n oordra van beloftes en hoop wat ons verplig (of verbind) tot ‘n gegewe menswaardigheid, en in ‘n sekere sin verleen dit waarde en betekenis aan ons lotsbestemming… / Die mensdom lewe in elke individu, en elke individu – as hy of sy haar of hom met die lewe vereenselwig – het ‘n aandeel aan die avontuur van die mensdom wat integraal deel is van ‘n veel groter en grootser avontuur: dié van die lewende heelal in wording. »

OS : Ek onthou… Jy moet ‘n Chinees wees om so oortuig te wees daarvan dat die heelal in wording is.

JAS : Ek weet jy onthou. Dis hoekom jy so spartel.

En dit is waarom ek my dit gaan veroorloof om nog ‘n stukkie skrywe aan te haal – jy verwys tog self na die bewussynsdraad waaraan jy vashou om kop bo woorde te hou… of waaraan jy jou wil ophang. Ek weet nie of dit inmiddels iewers gepubliseer is nie.

« Ons moenie (net) treurig wees nie. Dis goed om soms melancholies te wees – of dan, dis goed om te weet dat dit deel is van die siklusse wat ons ervaar. Nie net op intieme vlak nie maar ook die groter wêreld daar buite. Ons sjôr almal op verskillende wyses deur die driwwe waar sterre versuip. Dis sekerlik makliker om uiting te gee aan mens se ontsteltenis of aan die triestigheid van drome en ideale wat bitter geword het (ek praat nou bv. van die Suid-Afrikaaanse ontnugtering) as om die vreugdes van die tekstuur van lewe te artikuleer of, om hoe krities dan ook, vas te hou aan die onderliggende droom, die ‘dieper reg’ se behoefte/begeerte vir andersmaak en andersword wat tog die oorspronklike voedingsaar van mens se betrokkenheid by ‘n historiese proses is. Maar dis net so belangrik om te wéét en te ervaar dat ons seker altyd met hierdie tweespalt sal saamlewe – die dialektiek wat inhou dat dit wat goed is, die droom van bevryding en vooruitgang vir almal, ook die korrupsie en die verspilling meebring – maar dan in ‘n groter siklus van beweging waar dit belangrik is om te onthou dat mens nie net “aanhou beweeg om gedig te maak nie” maar dat jy ‘n agent vir verandering is en dat dit die moeite werd is. »

Jy weet dat ek pragmaties ingestel is, dat ek seker die stelling sal onderskryf dat « politieke aksie bestaan uit die kuns om die geringer euwel te kies. » Ek het iewers gelees dat jy tot ander insigte gekom het en seker lankal nie meer glo in die « politiek-opvoedkundige verantwoordelikheid van die skrywer nie » Ek is bly, al is ek ook oortuig dat dit slegs veranderende of verslegtende toestande is wat jou van sienswyse laat verander het, want jy gaan mos nie erken dat jy dom was nie !

En tog bly daar kontradiksies wat die saamprater onder die oë moet sien, wat nie omseil kan word nie. In ons moderne kommoditeitskapitalisme wat teer op onsekerhede en besluitloosheid word die mens al hoe meer ‘ontmens’. Benjamin het destyds al daarop gewys dat ‘n nuwe liggaamlike ruimte slegs ontwikkel kan word indien daar ‘n nuwe verbeeldingsruimte sou wees. Net binne die transformasie van die ervaring van ruimte en tyd sal ‘n nuwe vorm van kollektiewe samesyn kan ontstaan, het hy gesê.

En nou ? Dit gaan nie help as die een hand die ander was of as ek die jas oor my kop trek nie. Waar staan jy ?

OS : Benjamin het ook beweer die taak van skrywe is om toe te laat dat dit wat was (mens sleep tog altyd die verlede met jou saam) vir die eerste keer verskyn in die is-heid van aktuele toepaslikheid. Om die reis te komponeer is in feite die ware reis.

Jy vra eintlik wat geword het van die strydgenote van my jeug ? Waar is die « permanente revolusie » ? En hoe lyk die « Afrikaner as Afrikaan » nou ? Bestaan die « Middelwêreld » nog ? En die « saam-mekaar-andersmaak » waarmee ek my mond so uitgespoel het ?

Dis waar dat die snykant van ons betrokkenheid stomp geword het, dat ons seker nie eens kan bydra tot die daarstelling van die verbeelde ruimte – en wat daarom die waarheid sou wees – van ‘n maatskaplike samesyn nie.

Die siklusse in jou moet herken en die dooie tye respekteer word. Trouens, so ‘n laat-gaan is ook ‘n oorgang, miskien na ‘n ander dimensie. Daar moet ‘n ruimte wees, ‘n leegte, waarnatoe jy kan beweeg.

             om ruimte vir stilte

            te maak of

            stil te word

            sodat ruimte mag groei

Spinoza sou troos : « Die enigste ware vreugde is in ons aanwesigheid in die wêreld en in die vasgryp van alles wat nog lewe, wat kragtig is en selfs in die hart van ongelukkigheid oorlewe. » En verder : « Mens moet ook leer (of aanleer) om partykeer treurig te wees, al is dit slegs as beskerming (of teenwig) teen die buitensporige of narkotiese vreugdes wat maar al te dikwels lei na ‘n nog groter triestigheid. Want daar is eweveel onmag in die persoon wat nie weet hoe om te treur nie as in dié wat hom (of haar) nie kan verheug nie. »

Maar wat nou as ruimte beweging is? Dis die retoriese vraag wat ek ‘n tyd gelede aan my dogter gerig het.

JAS : Ek het nie geweet ‘n os kan ook kinders vaar nie !

OS : Daar is baie wat jy nie weet nie, Jas, al kom ons so ‘n lang pad saam…

Ek het regdeur probeer om gefokus te bly op hierdie allesomvattende oorwegings, gedagtig aan die gesprekdraad met jou wat eintlik maar net ‘n verskoning is. Daarom het ek teruggegaan na goed waaroor ek die afgelope jare tob. Nie dat dit tot enige insigte lei nie maar omdat spore of merke agtergebly het van die pogings om tussen-inne en intussens te identifiseer – gapings, deurbrake, of net die belofte van ruimte waar die moontlikheid van transformasie miskien sigbaar sou word. Daarmee saam woorde – omdat ek op bygelowige wyse nog versot op hulle is. (Bachelard het gesê: “La parole pense” – die woord dink.)

Twee, drie jaar gelede moes ek ‘n inleidende opstel skryf vir Imagine Africa, ‘n versameling tekste uit of oor Afrika. In die opstel verwys ek na die Algerynse digter Tahar Djaout. Een van sy geskrifte sou vertaal kon word as “Die uitvind van die woestyn.” Hy vertel hoe ‘n jong man ‘n karavaan reisigers deur die woeste begelei onder ‘n halfdooie hemel – miskien is hy op vlug saam met sy makkers. Maar hy dra ‘n ekstra las: die kennis van voëlvlerke en van weiding, van see en van kuste. Die besef sonder hom af in eensaamheid, dit bring verwydering tussen hom en die ander. En tog is dit hy wat water moet opspoor, die woorde wat wêrelde oopmaak met beweging en met klank; hy moet die topografie aan die lig bring of uitvind, selfs verbeel indien nodig. Dis sy taak om die ronddwaling te boekstaaf; hy moet die fluisteringe opvang sodat die wêreld genoem kan word.

Want al is die wêreld – of dit wat ons onder daardie konsep verstaan – ook hoe ingewikkeld en vlietend: nog steeds is daar die voorvaderlike opdrag om te noém. En om Afrika te vergeet, het my vriend Ka’afir altyd gesê, is om die hart te laat verdor soos ‘n lam hand.

Hoe maanbevlek en swartgallig ek ook mag wees glo ek nog steeds dat dit moontlik is om ‘n ruimte vir debat en dialoog oop te maak, dat daar saambestaan sou kon wees gebaseer op wedersydse respek en aanvaarding, maar veral vir saamverbeel. Ek glo daar sal nuwe groeperings kom en dat hulle uit noodsaaklikheid deurtrek gaan wees met die verbeelding van ‘n etiek. Niks is finaal afgesluit of voltooi nie. Beweging vloei na verandering, na saam-mekaar-andersmaak, na kreolisering en metamorfose.

JAS : Utopis ! Dat jy sowaar hier aan die einde van ons gesprek weer in dieselfde groewe verval ! Waar is jou verwysings ? Wat van die vrees vir die onbekende ? Hoe kan jy verwag dat mense wat agter hulle hoë ringmure en kraalmure waak oor hulle gevestigde belange sommer so sal « laat gaan » ?

OS : Omdat daar onderliggende waardes is wat dalk nie aan tyd gemeet kan word nie. Omdat die tydelike ewig is en ons daarom nie aan ‘n etiese besinning kan ontkom nie. « Alle revolusionêre dade is so vars soos die begin van die wêreld. » Omdat die middele die doel is.

Iemand het eenkeer gesê ‘n gedig begin waar die nuus ophou – mens kan sê waar die goeie bedoelings gesublimeer word. Dieselfde iemand het ook gesê die gedig gee gestalte aan wat die geskiedenis uitlaat.

Ek wil beweer die skrywer se etiese imperatief vang woord, kry ritme en loop en lewe en meervlakkige beeldskepping (of beeldestorming) wanneer die hand wat skryf begin luister hoe die sê en die stiltes van die ding – dit wat gedig gaan word, en slegs gedig – begin beweeg.

Etiek is die ontvanklikheid waarmee wording benader word, die beluistering en die verluistering daarvan. Dis in daardie verbintenis wat tegelykertyd ook die uitwissing van die skryfagent beteken, dat estetiek verskyn. Estetiek is die lykkleed van etiek. Jy as digter, opstoker of sommer net stoker, is ‘n tussenganger wat toegelaat word om die omvorming te begelei.

Hoe dan gemaak met die ‘ek’ wat uit die proses geweer word ? Hoe beperk jy die ontwrigting van die gek wat oor die werf dwaal, wat klippe deur die ruit gooi om te kan inkyk op die binnekameraktiwiteite ?

Andries Bezuidenhout vertaal ‘n stukkie bekende Benjamin as volg : « Die storm dryf hom (die engel wat sy vlerke nie weer kan sluit nie) genadeloos die toekoms in, waarop sy rug gekeer is, terwyl die rommelhoop voor hom ten hemele aangroei. Hierdie storm is wat ons vooruitgang noem. »

JAS : Ek dink jy het genoeg gesê. Op hierdie ouderdom is elke causerie natuurlik ‘n belydenis. Jy sal ongelukkig nog lank so kan aangaan want die sondes is legio, word aldag meer. En tot die mate waartoe jy nog aanwesig is word jou aandadigheid aan die gemors aldag groter. Dit groei soos gedigte wat nie gedelg kan word nie.

OS : Dis waar. Miskien moet ons medelye hê met die digter wat totaal gemarginaliseer geraak het. Sy ambisies en betrokkenhede was ‘n beneweling ; hy het nou wel vir kwaadgeld rondgeloop maar darem nie te veel kwaad gedoen nie. Onthou jy nog die gedig wat ek van Gorée-eiland saamgebring het jare gelede, die een wat Ka’afir geskryf het nie lank voor sy dood nie ? Eintlik sou mens daarmee moes volstaan.

 

ek is ‘n digter

moenie vir my lag nie

ek is ‘n digter

moenie van my verwag

om sin te maak uit syn nie

 

ek vang die woorde

in vlug en bewe

en pluk hulle vlerkies

om ‘n kleed

van ligte trilling

te maak lewe

 

ek is ‘n digter

ek gaan dikwels dood

in elke donker vertrek

van die vers

sonder om teken

of sonde se sing

te laat wapper

 

ek is n digter

julle het my nie geken nie

moenie vir my wag

vir môre nie

moenie vir my lag

oor gister nie

ek is ‘n digter

JAS : Voel jy nou minder beswaard ? Het jy jou behoorlik ontboesem ? Jy kry darem maar swaar met die lewe, né ?

OS : Dit is so. Dit moet wees omdat die woorde of die flarde of die gedagtebewegings, die vlerkslae sou jy kon sê, my nie met rus wil laat nie. En wat die hart van vol is…

JAS : So nou… Ganôg es ganôg. Buitendien, jy het vir Luisteraar en Leser belowe om die kwispedoor nie te lank in beslag te neem nie, jou nie te buite te gaan en die mense te verveel en verwar met jou onverstaanbare gekweel nie. Sê nou dankie vir die mense wat so geduldig was.

OS : Dankie, mense !

(c) Breyten Breytenbach / Parys, Desember 2014

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Breyten Breytenbach. Van die os op die jas”

  1. Briljante vormgewing – ek stel my hierdie teks op n teaterverhoog voor.

  2. Melanie Grobler :

    Baie dankie Breyten!

  3. Francis :

    Baie dankie Breyten dat jy die tweegesprek deel met ons wat nie daar was nie. Die kollokwium verbly my hart.

  4. Joan Hambidge :

    Geluk!