Gisela Ullyatt. Mary Oliver se Blue Horses.

In 1984 word die Pulitzerprys aan Mary Oliver (gebore, 1935) toegeken vir haar seminale American Primitive, wat onder andere Indiaanse (Native American) motiewe inkorporeer met legendes van dié soos ene John Chapman wat as ‘primitive’ in die woude van Ohio oorleef het.

Blue Horses wat in Oktober 2014 vrygestel is, is Mary Oliver se vyf-en-twintigste digbundel. Daarbenewens het sy ook drie boeke met essays gepubliseer, waarin sy onder andere haar grootste invloed, Walt Whitman, bespreek. Verder het sy twee boeke oor prosodie die lig laat sien. Sy is ’n bewonderaar van Keats en Shelley en ’n vurige aanhanger van Schubert se musiek.

Oor die jare het Oliver se poësie oënskynlik eenvoudiger geword, minder literêr en meer toeganklik vir die breë Amerikaanse publiek. Die afgelope paar jaar het haar poësie so gewild geword dat sy gereeld gevra word om poësievoorlesings te hou en elke lesing word byna onmiddellik uitverkoop. Vroeër sou dit nie moontlik gewees het nie, want Oliver is essensieel ’n kluisenaar, wat byna geen onderhoude toestaan nie. Sy voel dat haar poësie die praatwerk moet doen, nie sy nie. Tog, na die dood van haar geliefde Molly, wie haar lewensmaat vir veertig jaar was en saam met wie sy in Provincetown, Massachusetts, gewoon het, het sy haarself meer toeganklik vir die publiek gemaak alhoewel sy steeds verkies om vir lang tye slegs aandag aan haar poësie te skenk.

Blue Horses se voorplat bevat ’n skildery van Franz Marc (Turm der blauen Pferde), wat in 1880 in München gebore is. Marc was lid van die groep Der Blaue Reiter, wat Wassily Kadinsky ingesluit het. Marc het die liefde vir blou en perde gekoester en byna al sy skilderye inkorporeer hierdie twee elemente. Die groep was egter kortstondig en het net drie jaar geduur (1911-1914). Marc sterf ’n tragiese en jong dood (hy was maar 36 jaar oud) in die Eerste Wêreldoorlog in 1916 toe hy noodlottig deur skrapnel verwond is. ’n Moontlike seëning was dat Marc dus nie die verbanning van sy kuns gedurende die Nazi-tydperk meegemaak het nie. Ekspressionisme is as dekadent en afvallig beskou en as iets wat uitgeroei moes word.

Blue Horses is ’n voortsetting van Oliver se topos van verwondering en aandagtigheid. Die bundelmotto kom uit Kabir:

If you don’t break your ropes while you’re alive

do you think

ghosts will do it after?

 

In “What I can do” (3), skryf Oliver oor die tegnologiese wêreld wat allesoorheersend is. Die eenvoud van die gedig weerspieël die spreker se versugting na ’n nie-verwikkelde wêreld:

 

The television has two instruments that control it.

I get confused.

The washer asks me, do you want regular or delicate?

Honestly, I just want clean.

Everything is like that.

I won’t even mention cell phones.

 

I can turn on the light of the lamp beside my chair

where a book is waiting, but that’s about it.

 

O yes, and I can strike a match and make a fire.

 

Oliver skryf ook oor haar nuwe tuiste, Florida, wat die teenoorgestelde klimaat van die koue winters van Provincetown het in “The Mangroves” (35). “Blueberries” (27) lewer kommentaar oor die vervreemdingseffek van globalisasie op die individu wat noodgedwonge aan produkte van ander lande blootgestel word. In die eerste stanza beskryf die spreker die ‘blueberries’ van Suid-Amerika wat te koop is in Florida en die feit dat jy dit die hele jaar kan koop:

 

[…] They’re

as sweet as any, and compared with the

berries I used to pick in the fields

outside of Provincetown, they’re

enormous […]

 

There are limits, however. What they

don’t have is the field. The field they

belonged to and through the years I

began to feel I belonged to. Well,

there’s life, and then there’s later.

Maybe it’s myself that I miss. The

field, and the sparrow singing at the

edge of the woods […]

Try packing that

up, South America.

 

Oliver ontgin ook in hierdie bundel die meditatiewe aspekte van die alledaagse, soos gesien in “First Yoga Lesson” (7) en “On Meditating, sort of” (47). Ook humor voer die botoon hier en ontmasker konsepte soos meditasie of joga wat soms verkeerdelik as slegs hoë spirituele praktyke beskou word. Altyd word daar na die alledaagse teruggekeer in ’n Oliver-gedig, asook na die natuur. Die eerste strofe van “On Meditating, Sort of”, lui:

 

Meditation, so I’ve heard, is best accomplished

if you entertain a certain strict posture.

Frankly, I prefer just to lounge under a tree.

So why should I think I could ever be successful?

 

Verdere gedigte wat by die meditatiewe tematiek aansluit is “Such Silence” (39) en “Rumi” (5).

Daar is ook ’n gerf gedigte met ’n liefdestema, iets wat Oliver eers in haar later jare as digter begin ontgin het soos “Little Lord Love”(29), “Little Crazy Love Song” (31). “I woke” (33) sluit die volgende roerende strofes in:

[…] to look

 

at you

while you were sleeping,

your hair

 

sprayed on the pillow,

your eyes

closed,

 

your body

safe and solitary,

and my doors

 

shut for your safety

and your comfort […]

 

“To be human is to sing your own song” (49) blyk oor familieverhoudings te wees, maar soos altyd verras Oliver se gedigte deur van afwisseling en ’n skielike wending van onderwerp of beeld gebruik te maak. Hierdie jukstaposisie word ook gevind in “Drifting”(53) en “I don’t want to be demure or respectable”(9). Met “On not mowing the lawn” (59) utiliseer Oliver anaforiese herhaling, ’n poëtiese tegniek wat Walt Whitman dikwels gebruik het: “Let the grass spring tall, Let the roots sing/[…]Let the weeds rejoin and be prolific throughout./ Let the noise of the mower be banished[…] Die laaste reël verwys dan ook na Whitman: “Or, if you want to be poetic: the leaves of grass”.

Oliver se poëtika van aandagtigheid van die alledaagse en Zen eenvoud staan in kontras met hedendaagse poësie wat soms te verwikkeld raak en te veel voetnote aan die leser bied. Met die lees van Oliver kan die leser eenvoudige waarhede herontdek wat nie deur ’n dik laag van intertekste toegeverf word nie.

Ek sluit af met “Franz Marc’s Blue Horses” (43) ter aansluiting by die voorplat van die bundel:

 

I step into the painting of the four blue horses.

I am not even surprised that I can do this.

 

One of the horses walks toward me.

His blue nose noses me lightly. I put my arm

over his blue mane, not holding on, just

commingling.

He allows me my pleasure.

Franz Marc died a young man, shrapnel in his brain.

I would rather die than try to explain to the blue horses

what war is.

They would either faint in horror, or simply

find it impossible to believe.

I do not know how to thank you, Franz Marc.

Maybe our world will grow kinder eventually.

Maybe the desire to make something beautiful

is the piece of God that is inside each of us.

Now all four horses have come closer,

are bending their faces toward me

as if they have secrets to tell.

I don’t expect them to speak, and they don’t.

If being so beautiful isn’t enough, what

could they possibly say?

 

Bibliografie:

Oliver, M. 1983. American Primitive. New York: Little, Brown and Company.

Oliver, M. 2014. Blue Horses. New York: The Penguin Press.

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Gisela Ullyatt. Mary Oliver se Blue Horses.”

  1. Baie dankie vir die plaas hiervan, Gisela. Die lewe self is die skildery, wat ons toetrede natuurlik maak. Dit is vir my self ‘n wonderlike gevoel om “in te stap” in ‘n skildery … Tewens, ek het al self verskeie gedigte oor hierdie belewenis geskryf.

    Dis altyd vir my wonderlik dat woorde in hul eenvoud soveel diepte peil; helder, en toeganklik oor grense heen.

  2. Ilisna Nel :

    Well done!

  3. maria snyman :

    Sjoe Gisela, “Franz Marc’s Blue Horses” is pragtig! BAIE dankie vir die bekendstelling aan hierdie digter en hierdie lieflike gedig.
    Die volgende reëls slaan my asem weg:

    “I do not know how to thank you, Franz Marc.
    Maybe our world will grow kinder eventually.”

    Dit is beide so spesifiek en so veralgemeenbaar re kuns/die kunstenaar in die algemeen. Gee kuns/die kunstenaar mens nie ‘n lieflike (voor)smakie van (asembeduiwelende) teerheid nie, soos die volgende reëls byvoorbeeld aan my doen:

    “One of the horses walks toward me.
    His blue nose noses me lightly. I put my arm
    over his blue mane, not holding on, just
    commingling.
    He allows me my pleasure.”

    Oe, is ek darem nou lief vir hierdie vier blou perde! (Die vreemde verband tussen liefde en verbeelding?!)

    Oliver se droiture/op die man af cum opregtheid (vgl. Derrida oor Levinas) is ook baie interessant – die duiselingswekkende dun lyntjie tussen (die) geweld (waarsonder daar nie kultuur kan wees nie à la Derrida) en dogmatisme. Die digter as deliriese dun lyntjie loper, waansinnigmakende ligloper?!

    Die humor in die volgende reëls is ook heerlik onhebbelik – die h*lse aanname wat die spreker maak om te dink sy weet wat die perde dink:
    “I would rather die than try to explain to the blue horses
    what war is.
    They would either faint in horror, or simply
    find it impossible to believe.”

    Die einde van die gedig is perfek – die paradoks: iets word gesê terwyl dit juis nie nodig is nie, maar wie kan hom/haarself nie nie te buite gaan gekonfronteer met sulke skoonheid nie!

    Dankie nogmaals, Gisela, jy mag maar blogs skryf!