Johann Lodewyk Marais. Ongerepte aarde

ONGEREPTE AARDE

 

Gee my ’n landskap vol hindernisse

met bergspitse wat na die hemel reik

en waar wilde riviere en spruite

in die vergete voetheuwels ontspring.

’n Plek

wat geen mens kan tem nie en waar paaie

deur die driwwe en al teen die rante

en ver bergplase mettertyd wegraak

en tamboekie vinnig die oorhand kry,

 

waar die geelhoutbome geheimsinnig

bo die diepgroen ouhoutruigte uitsteek

en stem gee aan die piet-my-vrou se roep.

En steil hellings

met ’n wildspad wat deur ’n bamboesbos

op, op vorder tot op die gelykte

 

waar ’n pan skitterend in die son lê

en sewejaartjies onder die blou lug

om die water in die oggendson roer.

 

Dáár sal eenhorings uit die niet uit kom

en in die heilige ongereptheid

hulle koppe laat sak en begin drink.

 

 

© JLM / 2014

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Johann Lodewyk Marais. Ongerepte aarde”

  1. Ek verstaan dat Amichai grootliks as ‘n “toeganklike” digter gesien word. Die vertalings hier demonstreer dit. Maar dit beteken natuurlik nie dat die gedigte alledaags en gewoon is nie. Inteendeel. Leesdie gedig oor hoe twee mense mekaar in ‘n appel ontmoet. Hulle sit en luister hoe die appel rondom hulle geskil word. Daar is ‘n ryk reeks metafore en beelde in die gedig wat dit baie genietlik maak om te lees. Die Afrikaans waarin die gedigte vertaal is, is onopgesmuk, maar het ‘n varsheid en tinteling wat die beste poësie tipeer. Ek is bly Afrikaanse lesers kan nou ook kennis maak met hierdie interessante digter.