Yehuda Amichai – vertaling in Afrikaans

 Yehuda Amichai. Vertalings deur Marlise Joubert; Johann Lodewyk Marais.

.

DIE SEE EN DIE STRAND

 

 

Die see en die strand is altyd langs mekaar.

Albei wil leer om te praat, wil leer om net een woord

te sê. Die een wil sê “strand”

en die ander “see”. Hulle kom naby daaraan,

miljoene jare al, om te praat, en daardie enkele

woord te sê. Dan sê die see “kus”

en die kus “see”,

verlossing kom na die wêreld,

die wêreld sal weer tot chaos terugkeer.

 

 

(Vert. deur Johann Lodewyk Marais)

Uit: Chana Bloch and Stephen Mitchell (edited and translated from the Hebrew), The Selected Poetry of Yehuda Amichai. (Berkeley, Los Angeles and London: University of California Press, 1996).

 

***

In die appel

.

Jy besoek my in die appel.

Saam kan ons die mes hoor skil

om en om ons, versigtig,

sodat die vel nie skeur nie.

Jy praat met my. Ek vertrou jou stem

want daar is ook harde pyn

soos wat egte heuning

byewas vorm in die korf.

Met my vingers raak ek aan jou lippe:

ook dit is ‘n profetiese gebaar.

En jou lippe is rooi, net soos verskroeide veld

swart is.

Dis alles waar.

Jy besoek my in die appel

en jy sal by my in die appel bly

totdat  die mes klaar is met skil.

(Vert. Marlise Joubert)

*

‘n Brief

.

Om in Jerusalem op die balkon van ‘n hotel te sit

en te skryf:   “Die dae verloop soet

van woestyn tot see.” En om te skryf: “Trane

droog vinnig hier. Die klad is ‘n traan wat

die ink laat loop.”  Dis hoe hulle gewoonlik geskryf het

in die vorige eeu. “Ek het ‘n sirkel daarom

getrek.”

Tyd vloei weg, soos wat iemand op ‘n telefoon

ver van my af, lag en huil:

wat ek ook al hoor, kan ek nie sien nie;

wat ek sien, kan ek nie hoor nie.

Ons was nie versigtig toe ons “Volgende jaar”

gesê het nie, of ook nie: “’n Maand gelede”. Die woorde

is soos skerwe van glas: jy kan jouself daarmee verwond,

selfs ‘n slagaar sny, as

jy dan so wil wees.

Maar jy was mooi soos die kommentaar

op ‘n argaïese teks.

Uit die oorskot van vroue van jou ver land

is jy na my toe gebring, maar

‘n ander wet van gemiddeldes

het jou weer weggeneem.

Om te lewe is om ‘n skip en ‘n hawe

op dieselfde tyd te bou. En om die hawe klaar te maak

lank nadat die skip gesink het.

En om af te sluit: ek onthou slegs

dit was mistig. En as dit só is om te onthou –

wat onthou jy dan?

 (Vert. Marlise Joubert)

*

[Uit:] Somer of sy einde

.

Jy het die vrugte gewas.

Jy het die bakterie vermoor.

Op die stoel: ‘n horlosie en ‘n rok.

In die bed: ons,

sonder iets hiervan

maar elkeen vir die ander.

En as dit nie was vir ons name nie

sou ons geheel en al nakend gewees het.

Dit was goed, die droom op

die tafel.

Ons het die vrugte vir altyd gelos

tot die volgende dag.

En op een van hierdie aande

sal ek baie kan sê oor alles

wat agtergelaat en binne ons bewaar word.

Na middernag, toe ons woorde

die wêreld begin verander het,

sit ek my hand op jou voorkop:

jou gedagtes was kleiner as die palm van my hand,

maar ek het geweet dis ‘n fout,

soos die fout van die hand wat

die son toemaak.

*

Soos die afdruk van ons lywe,

sal daar geen teken wees dat ons hier was nie.

Die wêreld sluit dig agter ons,

die sand is weer gladgestryk.

En reeds is daar datums op kalenders

waarin jy nie meer sal bestaan nie,

reeds ‘n wind wat die wolke bring

wat nie op ons sal reën nie.

En jou naam verskyn op die passasierslyste

van skepe en in die gasteboeke

van hotelle waarvan die einste name

die hart doodmaak.

Die drie tale wat ek ken,

alle kleure wat ek sien en oor droom,

help my nie.

*

Dit was ‘n somer, of sy einde. Ek het

jou voetstappe gehoor van oos na wes

vir die laaste keer. Sakdoeke, boeke, mense

was vergete in die wêreld.

Dit was somer, of sy einde,

daar was middagure,

en jy.

Vir die eerste keer, het jy ‘n doodskleed gedra

en dit nie geweet nie.

Want dit was met blomme borduur.

*

As jy met ‘n bitter mond soet woorde sê

sal die wêreld nie soet word nie

en dit sal nie bitter word nie.

En dis geskryf in die boek dat ons nie sal vrees nie.

En dis geskryf dat ons ook sal verander,

soos die woorde,

in die toekoms en in die verlede,

in meervoud en in eensaamheid.

En binnekort, in die nagte wat kom,

sal ons verskyn, soos dwalende akteurs,

elkeen in die drome van die ander

en in die drome van vreemdelinge

wat ons nooit saam geken het nie.

.

 (Vert. Marlise Joubert)

 

*

‘n Hond agterna

.

Nadat jy my gelos het

laat ek ‘n bloedhond snuif

aan my bors en aan my maag.  Laat ek hom

met gesperde neusvleuels

jag om jou te vind.

O, ek hoop hy sal jou kry en jou minnaar

se balle aan flarde skeur en sy penis afruk

of dan ten minste

tussen sy tande een van jou sykouse vir my bring.

.

(Vert. Marlise Joubert)

*

Weervoorspelling

.

Dit sal bewolk wees. Dit sal reën.

Ons sal lewe en sterwe. Wees bedag daarop.

Daar sal sluimerwinde waai. Ek sal jou

sien in die eerste swaar opwinding.

Jy sal my sien, soos ‘n reën wat stort

oor jou gesig na my opgehef. Dit sal koud wees.

Daar sal hoogtes wees, en laagtes. En met wie

sal ons praat as ons nie meer daar is nie? Daar sal

goeie weer wees vir minnaars op die argaïese heuwel.

Uit al vier rigtings van my lewe, sal die wind aankom.

Dit sal donker wees. Daar sal golwe wees. Dit sal nie matig wees nie.

Daar sal ‘n wolk wees. Daar sal ‘n reënboog in jou lyf hang.

Ons sal nie meer daar wees die dag daarna nie. Dit sal koud wees

in die valleie. Daar sal mis wees. Ons sal uiteenstuif.

 .

(Vert. Marlise Joubert)

 

Bookmark and Share

Comments are closed.