Leon Retief. 1914

 Papawers by die Toring van Londen

Die Eerste Wêreldoorlog het net meer as ‘n honderd jaar gelede uitgebreek. Om hierdie gebeurtenis te herdenk het die kunstenaar Paul Cummins 888 246 keramiekpapawers laat maak vir ‘n installasie by die Toring van Londen. Die blomme vloei soos ‘n stroom bloed by die toring af en bedek die omringende gronde soos ‘n groot bloedplas. Elke papawer is met die hand gemaak, dus uniek en verteenwoordig ‘n soldaat van die Britse Gemenebes wat gesneuwel het.

‘n Voorkomende oorlog is soos om selfmoord te pleeg uit vrees vir die dood. Otto von Bismarck

Vir my is daar ‘n groot ironie in die feit dat die vonk in die kruitvat juis die sluipmoord op Aartshertog Franz Ferdinand was. Hy was ‘n baie liberale persoon vir sy tyd (moontlik as gevolg van die feit dat hy heel tereg geaffronteer was oor hoe sy vrou as gevolg van hul morganatiese huwelik behandel is), het besef dat baie van die magshebbers in sowel Duitsland as Oostenryk ‘n voorkomende oorlog begeer het en was sterk gekant teen enige wapenstryd tussen die betrokke moondhede. As hy nie om die lewe gebring was nie sou hy heel moontlik, met ‘n bietjie geluk, dalk sy oom, die Oostenrykse keiser Franz Josef I, kon oortuig het (al was hulle nie op goeie voet nie) om die opperbevelhebber van die Oostenrykse weermag, generaalveldmaarskalk Franz Xaver Josef Conrad Graf von Hötzendorf se oorlogsugtigheid teen te staan. Conrad was na my mening een van die mees inkompetente veldhere van die vorige eeu maar dit nou daar gelaat, genoeg om te sê dat sy onbeteuelde krygslus tot ‘n groot mate verantwoordelik was vir WOI.

Dit is niks. Dit is niks. Franz Ferdinand net nadat hy geskiet is.

Die omvang van die slagting slaan mens se asem weg: 1,8 miljoen Russiese soldate het in die oorlog gesterf, 1,4 miljoen Franse, 800 000 Turke, 723 000 uit Brittanje alleen, 578 000 Italianers, 114 000 Amerikaners, 2 000 000 Duitsers, nagenoeg 1 000 000 Oostenrykers. Duitsland het 55 dooies vir elke uur verloor, 1330 elke dag vir die hele 52 maande wat hierdie oorlog geduur het. As mens Roemenië en Serbië insluit is sowat 9,5 miljoen jong soldate gedood. ‘n Ietwat makabere stukkie rekenkunde toon dat daar meer as vier dooies elke minuut was, oftewel dan nagenoeg een elke 13 of 14 sekondes. Dan was daar meer as 15 miljoen gewondes, sommige met breinbeserings, blind, kakebene en ledemate afgeskiet, post-traumatiese stress sindroom (wat destyds nie ‘n erkende siekte was nie en waarvoor talle soldate tereggestel is), nagenoeg nege miljoen wat gevange geneem is en dan praat ek nie eers van die dermiljoene burgerlikes wat gedood of verhonger is nie.

Ek beveel julle nie om aan te val nie. Ek beveel julle om te sterf. Mustafa Kemal.

Tydens ons besoek aan België in 2000 het ek ons vriende in Gent, Paul de Rijke en Rita de Caluwe, gevra om ons na Ieper te neem, die enigste slagveld waarvoor ons tyd kon inruim – al het ek ‘n aktiewe belangstelling in militêre geskiedenis het besoeke aan talle bierbrouerye om hul produkte te proe te veel tyd in beslag geneem want Paul, Rita en ek moes gedurig sorg dat ons bloed se hopsvlakke binne normale perke bly – hipohopsemie kan lewensgevaarlik wees sien. Nie veel is nog sigbaar van die loopgrawe van destyds nie. Ek dink ek het ‘n redelike kennis van strategie, taktiek en hoe daar van terrein gebruik gemaak word maar België is nou nie juis ‘n bergagtige land nie en ek moes lank rondloop, rondkyk en dink om te probeer vasstel hoe die soldate van destyds elke klein golwing in die landskap moes aanwend.

Ieper… rye en rye wit kruise op groen gras, elkeen ‘n simbool van ‘n jong man wat daar sy dood tegemoet gegaan het. By die ingang van die begraafplaas is ‘n groot monument met die name van daardie soldate wie se oorskot nie identifiseer kon word nie of van wie niks, nie eers ‘n flentertjie vleis, gevind is wat herken kon word of eers begrawe kon word nie. Die name van sommige van die vermistes en onbekendes is daar gegraveer, vier-en-vyftig duisend name. Vier-en-vyftig duisend… en dis nie eers al nie, toe die monument voltooi is sou daar vasgestel word daar nie genoeg plek is vir al die vermiste soldate se name nie en nog 34 000 se name is elders aangebring.

Een gevegsplan na die ander is deur die generaals uitgedink, meeste – hoewel nie almal nie – so futiel soos die voriges. Die enkele soldate of politici wat besef het dat die wyse waarop die oorlog gevoer word honderdduisende jong mans na hul dood stuur was meestal magteloos om iets betekenisvol te uit te rig teen die greep wat generaals en oorlogsugtige bewindhebbers gehad het.

Hierdie is ‘n plan vir die leër van die Gravin van Gerolstein! Generaal Louis Lyautey, kortstondig (om die rede hier bo genoem) een van ‘n hele paar Franse ministers van oorlog, toe hy uitvind wat sy landgenoot generaal Nivelle beplan. Die Gravin van Gerolstein was ‘n destyds populêre operette.

Die masjiengeweer is ‘n hoogs oorskatte wapen. Generaal Douglas Haig, kavalleris en vas oortuig dat ‘n aanval deur berede soldate enige verdediging deur masjiengewere te bowe sou kom.

Toe ons begin vuur het ons net nodig gehad om te laai en te herlaai. Hulle het in hul honderde geval. Dit was nie eers nodig om te mik nie, ons het net in hulle in geskiet. Anonieme Duitse masjiengeweerskut in ‘n brief aan sy familie na ‘n slag by die Somme.

Die groot aantal dooies kan verstaan word as mens in ag neem dat daar soms soveel soos 250 000 kanonskote per dag afgevuur is en dat in sommige kampanjes daar elke sewe meter van ‘n front wat oor kilometers gestrek het ‘n kanon staangemaak is. Tydens die gevegte by die Somme het 1 000 ton plofstof op elke vierkante meter van die Duitse posisies beland. By die gedenkteken wat die veldslagte daar herdenk is die name van meer as 72 000 vermiste soldate gegraveer.

Dit is nie verbasend nie dat daar by sommige intelligente manne ‘n bitter oortuiging posgevat het dat hulle nodeloos opgeoffer word. Uittreksel uit die amptelike Australiese geskiedenis van die gevegte by Somme.

 

Monument by Ieper

 

Bloed en modder, bloed en modder, hulle kan aan niks beter dink nie. Lloyd George met verwysing na die generaals.

Soos dit maar nou met oorloë gaan was daar ‘n groot opwelling van patriotisme en derduisende gedigte en ander geskrifte het in elke land se koerante en ander publikasies verskyn. Nie al die gedigte was van hoogstaande gehalte nie om dit saggies te stel. Die dag nadat Engeland oorlog verklaar het is die volgende gedig deur Sir Henry Newbolt in die Times gepubliseer:

 

The Vigil

 

England: where the sacred flame

Burns before the innermost shrine,

Where the lips that love thy name

Consecrate their hopes and thine,

Where the banners of thy dead

Weave their shadows overhead,

Watch beside their arms tonight

Pray that God defend the Right.

Baie van Engeland se vooraanstaande letterkundiges het hul gewig agter die oorlogspoging ingegooi: Robert Bridges, James Barrie, Arnold Bennett, GK Chesterton, Conan Doyle, John Galsworthy, Rider Haggard, Thomas Hardy, John Masefield en HG Wells. Duitse skrywers, kunstenaars en intellektuele, onder wie Thomas Mann, het ‘n verklaring onderteken waarin hulle hul vaderland se saak ondersteun het. Mann het geskryf oor die oorlog as ‘n versuiwerende vlam wat die verrotte dele van ‘n siek kultuur kan kouteriseer.

Twee gedigte versinnebeeld WOI steeds vir baie mense. Die eerste is In Flanders Fields deur die Kanadese militêre dokter John McCrae, wat ook in die Anglo-Boere-oorlog diens gedoen het. Dat papawers ‘n soort van ikoon van hierdie oorlog geword het is aan McCrae se gedig te wyte:

 

In Flanders Fields

 

Die eerste twee verse is vir my betekenisvol, maar die laaste een, nee dankie.

Dan is daar Rupert Brooke se ewe bekende gedig wat so begin:

 

If I should die, think only this of me

That there is some corner of a foreign field

That is forever England. …

En so eindig:

 

And think, this heart, all evil shed away,

A pulse in this eternal mind, no less

Gives somewhere back the thoughts of England given,

Her sights and sounds, dreams happy as her day;

And laughter, learnt of friends; and gentleness,

In hearts at peace, under an English heaven.

Ars poetica? Ars siropus, as ek nou my matriek Latyn van jare en jare gelede reg onthou. Nietemin, Brooke en ander soos hy se gedigte is deur die Engelse verslind. Dit is heeltemal moontlik dat Brooke verwag het dat hy as ‘n dapper kryger in ‘n veldslag sal sterf, ironies dus dat hy oorlede is aan septisemie na (van alle dinge) ‘n muskietbyt en dat sy stukkie van ‘n “foreign field” in die Griekse eiland Skyros is. And he never even fired a shot in anger…

Die siviele bevolkings van ten minste Frankryk, Engeland en Duitsland is vertel dat die oorlog binne maande verby sou wees. “Home by Christmas…” Klink dit dalk bekend? Dapper soldate, gewapen met geregtigheid (sowel as masjiengewere, artillerie, gifgas, landmyne en later tenks) sou die magte van die bose moeiteloos oorwin. Of so het almal gedink. Namate ‘n besef by die burgerlike bevolking begin posvat het van die wreedhede van die medoeënlose loopgraaf-oorlog, die steeds stygende aantal gesneuweldes en verminktes, die feit dat derduisende soldate hul lewens moes opoffer om ‘n paar honderd meter veld te wen net om dit die volgende dag te verloor en die algemene ondenkbare onmenslikheid van hierdie oorlog het mense se menings mettertyd begin verander en het die stemme van skrywers en intellektuele wat die oorlog ondersteun stil geword. Briewe van soldate aan die front, sowel as hul vertellings aan familie en vriende wanneer hulle op verlof was het ‘n groot invloed op openbare mening gehad maar nogtans het die oorlog onstuitbaar voortgeduur.

Roland Leighton, ‘n jong infanterie-offisier, se verloofde het ‘n bundel van Rupert Brooke se gedigte aan hom gestuur terwyl hy aan die front was. Ek vermoed dat sy nie die volgende antwoord verwag het nie: “Let him who thinks that War is a glorious golden thing, who loves to roll forth stirring words of exhortation, invoking Honour and Praise and Valour and Love of Country with as thoughtless and fervid a faith as inspired by the priests of Baal to call on their own lumbering deity, let him look at a little pile of sodden grey rags that cover half a skull and a shin bone and what might have been its ribs, or at this skeleton lying on its side, resting half-crouching as it fell, supported on one arm, perfect but that it is headless, and with the tattered clothing still draped around it; and let him realise that how grand & glorious a thing it is to have distilled all Youth and Joy and Life into a foetid heap of hideous putrescence. Who is there who has known and seen this who can say that Victory is worth the death of even one of these?

Hierdie is nie hiperbool nie. Soldate in die loopgrawe moes dikwels leef tussen stinkende, verrottende lyke wat al dae of weke dood was, rotte wat aan die kadawers kom vreet het (rotte, soos politici, is orals waar daar iets te aas is), die stank van ontbinding. Reën, dikwels vir weke aaneen, vrees, uitputting en siektes.

 

IRON

Guns,

Long, steel guns,

Pointed from the war ships

In the name of the war god.

Straight, shining, polished guns,

Clambered over with jackies in white blouses,

Glory of tan faces, tousled hair, white teeth,

Laughing lithe jackies in white blouses,

Sitting on the guns, singing war songs, war chanties.

Shovels, broad, iron shovels,

Scooping out oblong vaults,

Loosening turf and leveling sod.

        I ask you

        To witness –

        The shovel is brother to the gun.

Carl Sanburg

 *

Anthem for a Doomed Youth

 

What passing-bells for those who die as cattle?

Only the monstrous anger of the guns.

Only the stuttering rifle’s rapid rattle

Can patter out their hasty orisons.

No mockeries nor for them; no prayers nor bells;

Nor any voice of mourning save the choirs –

The shrill, demented choirs of wailing shells;

And bugles calling them from sad shires,

What candles may be held to speed them all?

Not in the hands of boys but in their eyes

Shall shine the holy glimmers of goodbyes.

The pallor of girls’ brows shall be their pall;

Their flowers the tenderness of patient minds,

And each slow dusk a drawing-down of blinds.

Wilfred Owen

In vredestyd behoort ‘n wetenskaplike aan die wêreld. In ‘n tyd van oorlog behoort hy aan sy land. Fritz Haber.

Om te sê dat Duitsland se vermoë om ‘n oorlog te voer grotendeels aan twee mense te wyte was is nie om die waarheid aan te dik nie. Die vervaardiging van beide kunsmis en plofstof benodig nitraat en aangesien Duitsland nie neerslae van hierdie stof gehad het nie moes dit vanaf Suid-Amerika ingevoer word. Duitsland kon nie sonder nitraat bly voortbestaan nie. Die Suid-Amerikaanse myne was meestal in Britse besit en dit, tesame met die feit dat die Britse vloot die Atlantiese oseaan oorheers het sou beteken dat Duitsland in geval van oorlog nie nitraat sou kon bekom nie.

Duitse nyweraars, sowel as keiser Wilhelm, het dus daadwerklike pogings aangewend om ‘n alternatiewe proses vir die verkryging of vervaardiging van nitraat te bevorder. Die werklik briljante fisiese chemikus Fritz Haber het in 1909 daarin geslaag om ammoniak uit die atmosfeer te berei. Om daarna nitraat uit ammoniak te sintetiseer was ‘n maklike stap. Haber se metode was egter net op klein skaal suksesvol en die chemiese ingenieur Carl Bosch het daarin geslaag om dit verder te ontwikkel sodat ammoniak op industriële skaal vervaardig kon word.

Die aanvanklike navorsing was daarop gemik om aan Duitsland ‘n onafhanklike bron van kunsmis te verskaf maar daar is in werklikheid uit ‘n chemiese oogpunt nie ‘n groot verskil tussen kunsmis en militêre graad plofstof nie. Dit is uitstekend en baie doeltreffend in 1995 deur Timothy McVeigh in Oklahoma City demonstreer toe hy sy bakkie vol ammoniumnitraat gelaai het – al wat nodig was om sy voertuig in ‘n dodelike wapen te omskep was die byvoeging van die baie eenvoudige verbinding nitrometaan en daardie een ontploffing het die dood van 168 mense tot gevolg gehad.

Haber het in 1918 die Nobelprys vir chemie ontvang, nie weens die feit dat Duitsland plofstof kon maak nie maar omdat kunsmis nou maklik en goedkoop vervaardig kon word. Bosch is in 1931 die Nobelprys toegeken. Met enkele modifikasies word die Haber- Bosch proses steeds wêreldwyd in die chemiese industrie gebruik.

Dit was egter nie Haber se enigste bydrae tot Duitsland se oorlogspoging nie. Hy was onder andere (en baie entoesiasties) betrokke by die Duitse gasoorlog en was instrumenteel in die vervaardiging en gebruik op die slagveld van chloor. Hy het ook navorsing gedoen oor ander gifgasse en teen die einde van die oorlog is hy beskou as ‘n outoriteit oor die gebruik van gifgas. Dat hy ‘n briljante wetenskaplike was is nie te betwyfel nie maar hy het die morele spoor so iewat byster geraak.

 

Dulce et Decorum est

 

Bent double, like old beggars under sacks,

Knock-kneed, coughing like hags, we cursed through our sludge,

Till on the haunting flares we turned out backs

And towards our distant rest began to trudge.

Men marched asleep. Many had lost their boots

But limped on, blood-shod. All went lame; all blind;

Drunk with fatigue; deaf even to the hoots

Of tired, outstripped Five-Nines that dropped behind.

Gas! Gas! Quick boys! – An ecstasy of fumbling,

Fitting the clumsy helmets just in time;

But someone still was yelling out and stumbling,

And flound’ring like a man in fire or lime…

Dim, through the misty panes and thick green light,

As under a green sea, I saw him drowning.

In all my dreams, before my helpless sight,

He plunges at me, guttering, choking, drowning.

If in some smothering dreams you too could pace

Behind the wagon that we flung him on,

And watch the white eyes writhing in his face,

His hanging face, like devil’s sick of sin;

If you could hear, at every jolt, the blood

Come gargling from the froth-corrupted lungs,

Obscene as cancer, bitter as the cud

Of vile. Incurable sores on innocent tongues,

My friend, you would not tell with such high zest

To children ardent for some desperate glory,

The old Lie: Dulce et Decorum est

Pro patria mori.

Wilfred Owen

 *

The Next War

War’s a joke for me and you,

   While we know such dreams are true.

– Siegfried Sassoon

 

Out there, we’ve walked quite friendly up to Death, –

Sat down and eaten with him, cool and bland, –

Pardoned his spilling mess-tins in our hand,

We’ve suffered the green thick odour of his breath, –

Our eyes wept, but our courage didn’t writhe,

He’s spat at us with bullets and he’s coughed

Shrapnel. We chorused when he sang aloft,

We whistled while he shaved us with his scythe.

Oh, death was never enemy of ours!

We laughed at him, we leagued with him, old chum.

No soldier’s paid to kick against His powers.

We laughed, – knowing that better men would come,

And greater wars: when each proud fighter brags

He wars on Death, for lives; not men, for flags.

Wilfred Owen

Wilfred Owen het gesneuwel op 4 November 1918, presies een week voordat vrede gesluit is. Die telegram wat sy dood aan sy familie meegedeel het is afgelewer terwyl kerkklokke wat die vrede verkondig het dwarsdeur Engeland gelui het.

Daar is baie goeie boeke wat die verloop van WOI en\of veldslagte beskryf maar twee wat ek baie sterk kan aanbeveel maar wat nie oor die oorlog as sulks handel nie is deur die vermaarde Kanadese geskiedkundige Margaret Macmillan. Die eerste een is: The War that ended Peace wat die aanloop tot WOI beskryf, die tweede is Paris 1919 wat die vredesonderhandelinge na die oorlog breedvoerig beskryf. Beide boeke bevat digte hoeveelhede informasie soos mens van ‘n historikus sou verwag maar is dubbel en dwars die moeite werd.

 

(c) Leon Retief / Januarie 2015

 

 

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Leon Retief. 1914”

  1. Joan Hambidge :

    Uitstekende inskrywing. Ek sit in Buenos Aires. Toe ek gister uit Mendoza terugkeer, ontvang ek die slegte nuus: die slagting van die joernaliste in Parys. Nou sien ek op televisie daar is ‘n bom in die subte in Madrid ontdek …
    Leon, as oorlogkenner: dink jy ons gaan ‘n nuwe era van oorlogvoering binne?

    Om vrees en onsekerheid te saai? Wie/ wat is volgende?

    Wilfred Owen se sardoniese “Anthem for A Doomed Youth” bly vir my die raakste beskrywing van daardie oorlog.

  2. Leon Retief :

    Joan ek is nie ‘n kenner van oorlog nie, dis maar net ‘n belangstelling, dalk ietwat makaber maar as Margaret Attwood ‘n belangstelling in die geskiedenis van militêre uniforms kan hê kan ek seker so iets toegelaat word. Die slagting in Parys was ‘n daadwerklike poging om vryheid van spraak die nek om te draai. Mens hoop maar net dat dit nie die uitwerking gaan hê waarvoor die moordenaars hoop nie. Ek verneem dat daar glo volgende week een miljoen eksemplare van Charlie Hebdo gedruk en hopelik ook versprei gaan word. Ek weet nie wat die inhoud gaan wees nie.
    Oorlog het baie metamorfoses ondergaan maar die gemene deler is nog altyd die gewelddadige afdwing van een land/groep se wil op ‘n ander. Oorlog is die voortsetting van diplomasie op ‘n ander manier soos Clausewitz gesê het en sowel sy en Sun Tzu se boeke is vandag steeds relevant. Alhoewel daar mense is wat sê dat die dae van konvensionele oorlog (die botsing van een land se formele magte met die van ‘n ander) verby is dink ek nie dit is so nie. Pakistan en Indië grom maar steeds vir mekaar en wie weet wat gaan eendag in die Stille Oseaan gebeur of wat Putin als in die mou voer met die verrottende oorblyfsels van die USSR wat Rusland omring.
    Sogenaamde onkonvensionele oorloë is al amper so oud soos die mensdom maar wat ons deesdae sien is anders in graad of intensiteit maar nie karakter nie – tegnologie en die groter vermoë van mense om oor die hele wêreld te reis maak dinge soos 9/11, bomme in moltreine en dies meer moontlik met gepaardgaande groter lewensverlies en natuurlik meer publisiteit en dis juis waarop terroriste floreer. Hulle besef meestal goed dat hulle nie die militêre vermoë het om ‘n oorlog met wapengeweld te wen nie maar publisiteit kan die wil van hul teenstanders uitput. Hoe groter die slag wat hulle kan slaan hoe meer publisiteit. In daardie opsig dink ek jy is reg wanneer jy vra of ons ‘n nuwe era van oorlogvoering binnegaan. Tot relatief onlangs was ontevredenes se pogings beperk tot die plant van ‘n bom hier en daar maar daar is veel meer skrikwekkende moontlikhede en ek is eintlik effens verbaas dat veel groter slagtings nog nie plaasgevind het nie. Massiewe hoeveelhede verrykte uraan en ander stowwe nodig vir die vervaardiging van ‘n kernbom word uit die ou Sowjetunie vermis, niemand weet waar dit is nie en die wat wel weet wil nie sê nie. Die moontlikheid dat hierdie materiaal in die verkeerde hande beland is nie uitgesluit nie. Dan is daar sekerlik ook nog biologiese oorlogvoering wat in gedagte gehou moet word en waaroor ek nie nou wil uitbrei nie.
    Heel waarskynlik sal sulke dinge nie gebeur nie maar dis beslis ook nie iets wat summier buite rekening gelaat kan word nie. Trouens, ek sal verbaas wees as sulke scenarios nie reeds deur fundamentaliste bekyk is nie. Die ander moontlikheid is ‘n lang tydperk van relatief laegraadse geweld soos ons die afgelope dekade of twee gesien het met geen oorwinning vir die een kant of die ander nie. Slegs as daar weer ‘n 9/11 plaasvind, of iets erger, sal die Weste weer ‘n grootskaalse oorlogspoging van stapel stuur en ons weet almal watter gevolge Bush se veglustigheid gehad het.
    As ek hierdie lang betoog met iets min of meer persoonlik mag afsluit: die gevolge van oorlog op soldate is soms skrikwekkend en ek dink mense onderskat dit maklik – mens lees van post-traumatiese stress maar min mense ondervind dit aan hul eie bas. In die 1970’s het ons in dieselfde woonstelblok gewoon as oom en tannie Pottie. Ten spyte van die ouderdomsverskil het hy en ek nogal vriende geword en een aand toe ons by hulle gaan eet vind ek uit dat hy in die slag van Sidi Rezegh in 1941 was waar die SA magte groot verliese gely het. Ek het hom gevra om te vertel – wat hy toe gedoen het – maar die volgende oggend kom sê tannie Pottie vir my dat ek hom asseblief nie weer oor die oorlog moet uitvra nie want hy het heel nag gesit en whiskey drink en kon nie slaap nie. Ek was van plan om hom later uit te vra oor die Italiaanse kampanje waarby hy ook betrokke was maar het dit toe maar liewer nie gedoen nie…

  3. Vir almal wat dit nog nie ken nie wil ek graag Charl-Pierre Naude se lieflike
    gedig uit sy jongste bundel aanbeveel:

    Lof aan die versakers
    Na n besoek aan die slagvelde,
    Weshoek, Vlaandere

    Julle,
    Liewe drosters en lafaards
    wat met die koms van die dagbreekuur geskiet is,
    was die bedremmelde en vlerklose engele van n Nuwe Aarde…….

    Waarom al die haat vir julle,
    wat die wereld se vervloekste grasperk
    in n heldeakker omskep het?
    Skote, ouens!
    …….
    En die loftuitende morfiennaald,
    John McCrae, was hy beter?
    Met sy selfingenome, humorlose,
    katkiserende rapsodie
    wat so vingerloos gly oor die nikssnare
    van n tandelose
    dowwegloedkitaarbak genaamd “patriotisme”?
    ……
    Julle is die slapende godheid
    wat uit die dood sal opstaan.

    ……

  4. In 1917 of 1918 het Bertolt Brecht sy tydlose ‘Legende vom toten Soldaten’
    geskryf. In Engels ‘Legend of the dead soldier’ in

    Bertolt Brecht. Bad Time For Poetry, edited and introduced by John Willet.
    (London: Methuen, 1995), 5 – 8.

  5. Joan Hambidge :

    Ek volg nou hierdie sage vir die afgelope paar dae op CNN. Hierdie terroriste soek publisiteit; en het dit gekry. En oneindige vrees, onrus en histerie geskep.
    Die Franse noem dit reeds hul 9/11 en ek lees dat Michel Houellebecq se uitgewer nou benoud is oor die effek van sy roman.
    ‘n Sin vir humor of ironie is nie bekend aan hierdie mense nie – ons onthou wat het met Salman Rushdie gebeur.

  6. maria snyman :

    Die nou verband tussen oorlog/terreur, letterkunde (sin vir ironie ?), die vryheid van spraak en ‘n sekere voorgeskrewe “moeilike vryheid” …

    Escobar (2004, sien skakel onder) herinner mens in sy skrywe kort na Derrida se dood en met verwysing na wat Derrida gesê het oor 9/11 aan wat hy beskryf as “”a strange ‘war’ without war” wat hy dan ook meen baie keer die vorm aanneem van “”a confrontation between two groups with a strong religious identification”” met aan die een kant Amerika (wat “despite the separation in principle between church and state, a fundamental biblical (and primarily Christian) reference in its official political discourse and the discourse of its political leaders: ‘God Bless America’, (…)” het) en aan die ander kant, “facing them, (…), an ‘enemy’ that identifies itself as Islamic, Islamic extremist or fundamentalist, even if this does not necessarily represent authentic Islam and all Muslims are far from identifying with it” wat ons laat met “”a confrontation between two political theologies, both, strangely enough, issuing out of the same stock or common soil of what I would call an ‘Abrahamic’ revelation.””

    Escobar sê Derrida “emphatically deplores the absence of dialogue between the West and Islam” en haal hom aan oor terrorisme as “”a direct consequence of a global dialogue not taking place”” – “”With all these victims of supposed globalization, dialogue (at once verbal and peaceful) is not taking place. Recourse to the worst violence is thus often presented as the only ‘response’ to a ‘deaf ear’. There are countless examples of this in recent history, well before ‘September 11.’ This is the logic put forward by all terrorisms involved in a struggle for freedom. [Nelson] Mandela explains quite well how his party, after years of non-violent struggle and faced with a complete refusal of dialogue, resigned itself to having to take up arms. (…).””

    Die onderhoude in A Taste for the Secret sluit af Derrida wat onderskei tussen soorte geweld – aardbewings, wat (moet) gebeur, is byvoorbeeld net geweldadig in soverre dit die mens se belange affekteer – en hy sê dan dat “(…) we ought to distinguish between violence and what I am tempted to call brutality” en waar brutaliteit “the brutality in a discussion, in an argumentation the dogmatic fiat” is, dit wil sê die geval van meen “that’s just how it is”; brutaliteit is “not only an unrefined violence” nie, maar “a bad violence,” ’n “impoverishing, repetitive, mechanical” geweld “that does not open the future, does not leave room for the other.”

    Sonder om die argument oor die “dowe oor” en sinvolle dialoog te ontken, sou ek die argument ook in die lig wou plaas van die moontlikheid van andersoortige leesvaardighede (of sin vir humor of ironie, soos Joan dit stel) wat Derrida ons gebied het, dit wil sê, om ‘n oog te ontwikkel vir die fenomeen van daardie “undecidability” of onvermydelike onderhandeling tussen die finiete en infiniete, soos setteorie dit ook goed demonstreer – ‘n sekere “formal imperative” in terme van Norris (2012) se Derrida, Badiou and the Formal Imperative. Daar bly altyd iets oor wat, soos die a in différance, net gelees/geskryf kan word en wat dan ook neerkom op ‘n “moeilike Vryheid.” Derrida se projek word volgens my goed opgesom in Sussman (2008) se woorde in “Pulsations of Respect, or Winged Impossibility” as die ontbloting van ‘n “difficult freedom” (‘n konsep wat ook in Levinas se oeuvre figureer). Obama maak dus nogal ‘n deurslaggewende opmerking as hy sê die Charlie Hebdo aanvalle “”underscores that these terrorists fear freedom of speech and freedom of the press.””

    Escobar skryf dan ook: “For Derrida “the terrorists” are, in a sense, us: “Those called ‘terrorists’ are not ‘others’, an absolute other whom we, as ‘Westerners’, can no longer understand. We must not forget that they were often recruited, trained, and even armed, and for a long time, in various Western ways by a Western world that itself, in the course of its ancient as well as very recent history, invented the word, the techniques, and the ‘politics’ of ‘terrorism’.””

    “Terror works both ways” stel Escobar en haal Derrida aan wat gesê het – en mens dink byvoorbeeld aan (die respons van) poësie wat, soos terreur, so oud soos die mens (of berge) is: ““the ‘bombs’ will never be ‘smart’ enough to prevent the victims (…) from responding, either in person or by proxy, with what will then be easy for them to present as legitimate reprisals or counter-terrorism. And so on ad infinitum …””

    Daar is dus op ‘n manier niks buite “terreur” nie – of niks buite die geheim (“secret,” Latyn se-cernere, separasie, skrif in die algemeen, verskil-verplasing-uitstelling) nie. Wat skort is dus ‘n smaak vir die geheim … vir die baie soorte of style terreur … vir die feit dat opoffering reeds opgeoffer is want “Julle is die slapende godheid / wat uit die dood sal opstaan,” oftewel, die dood is nie ’n finale horison nie …

    “Oh, death was never enemy of ours!
    We laughed at him, we leagued with him, old chum.”

    terra, terrein, terreur … terrigeen: “gevorm deur die uitkalwerende werking van (…) strominge” – terrigenus (L) gebore uit die aarde (die zeropunt van alle persepsie)

    Escobar skryf (in 2004) en verwys uiteindelik na “the war of images and of discourses …” en dus by implikasie na lees- en skryfvaardighede (wat via Badiou se verletterliking van setteorie nou verband hou met wiskundigevaardighede of harde logika – hoe maak mens berekeninge met die onberekenbare, met wat gebeur, met die lewe?):

    “And it gets worse
    Talking about the relation among terror, terrorism and territory, Derrida worries that this abyss of non-communication [of onvoldoende leesvaardighede of sin vir humor] may lead to even greater, and invisible, dangers: “The relationship between earth, terra, territory, and terror has changed, and it is necessary to know that this is because of knowledge, that is, because of technoscience … In this regard, when compared to the possibilities for destruction and chaotic disorder that are in reserve, for the future, in the computerized networks of the world, ‘September 11’ is still part of the archaic theater of violence aimed at striking the imagination. One will be able to do even worse tomorrow, invisibly, in silence, more quickly and without any bloodshed, by attacking the computer and informational networks on which the entire life … of the greatest power on earth depends.”
    Meanwhile, we are squeezed between “the two supposed war leaders, the two metonymies, ‘bin Laden’ and ‘Bush’, and the war of images and of discourses … at an ever quickening pace over the airwaves, dissimulating and deflecting more and more quickly the truth that it reveals, accelerating the movement that substitutes dissimulation for revelation – and vice-versa” (one thinks about the vast Bush/Cheney disinformation campaign before, during and after the invasion of Iraq).
    When “Bush and his associates blame ‘the axis of evil’, we ought both to smile at and denounce the religious connotations, the childish stratagems, the obscurantist mystifications of this inflated rhetoric”.”

    Kortom: mens benodig ‘n oog vir daardie letterkunde in geheim, oftewel vir daardie poëmatiese krimpvarkie (hérisson) wat, laag, baie laag en naby aan die aarde, ‘n snelweg kruis en, as hy die gevaar hoor, homself oprol en sy penne uitsteek … !!! “Distress, stress itself,” soos Derrida dit in “What is poetry?” stel. Met hierdie oog mag jy ondervind “jy nodig (let wel, onder andere) verskriklik drank,” soos die klip in Krog se “narratief van klip” dit stel, want soos klip dit baie reguit en op die man af stel: “‘so skiet ek mense oor die kranse weg / of skroei hulle godswart maer in die klipwoestyn.’”

    Escobar sluit sy artikel af met ‘n Oscar Wilde aanhaling, naamlik “each man kills the thing he loves.” Wat kan meer mal (lees ook die Franse mal) wees as dit? Dit is egter ook ‘n uitstekende beskrywing vir wat Derrida by herhaling uitgrawe en wys – dit moet gesien word om geglo te kan word want dit gaan die verstand absoluut te bowe.

    Iets skiet pas ook my verstand te binne – mens dink aan vroue dig versluier agter swart sluiers: die voorblad van A Taste for the Secret bestaan uit ‘n afdruk van ‘n Cranach “Eva” – ‘n sekere “naakte enkelheid” (wat Gideon Joubert (1997:159) in Die Groot Gedagte beskryf as ’n geval van waar materie in ‘n swartkolk “tot onbeperkte dighteid ingedruk” word wat dit bepaald “onbepaal[baar]” maak.) Kan dit wees dat daar van mens verwag word om anderkant verby hierdie naakte vrou – khora? – te kan kyk om by daardie onderskeid tussen geweld en brutaliteit te kan kom?

    “Loosening turf and leveling sod.
    I ask you
    To witness –
    The shovel is brother to the gun”

    Father, Son, and Literature … An Impossible Filiation … “God,” if you’ll pardon the expression … Tout autre est tout autre … “Every other (one) is every (bit) other” … skryf Derrida in The Gift of Death and Literature in Secret. Hoe hou mens huis met so ’n treffende situasie … jy “nodig verskriklik drank” (Krog), ‘n sin vir humor (humus, homo, holtes) …

    *Skakel na Escobar se artikel: http://www.atimes.com/atimes/Front_Page/FJ14Aa01.html

  7. NOUS SOMMES CHARLIE

  8. René Bohnen :

    Na aanleiding van WO1, dink ek ook aan die verse van Thomas Hardy. Die eerste is “Men who march away” en in kontras, miskien, daarmee, “We are getting to the end”.
    Men who march away
    (Song of the Soldiers)
    What of the faith and fire within us
    Men who march away
    Ere the barn-cocks say
    Night is growing gray,
    To hazards whence no tears can win us;
    What of the faith and fire within us
    Men who march away?
    Is it a purblind prank, O think you,
    Friend with the musing eye
    Who watch us stepping by,
    With doubt and dolorous sigh?
    Can much pondering so hoodwink you!
    Is it a purblind prank, O think you,
    Friend with the musing eye?
    Nay. We see well what we are doing,
    Though some may not see –
    Dalliers as they be –
    England’s need are we;
    Her distress would leave us rueing:
    Nay. We well see what we are doing,
    Though some may not see!
    In our heart of hearts believing
    Victory crowns the just,
    And that braggarts must
    Surely bite the dust,
    Press we to the field ungrieving,
    In our heart of hearts believing
    Victory crowns the just.
    Hence the faith and fire within us
    Men who march away
    Ere the barn-cocks say
    Night is growing gray,
    Leaving all that here can win us;
    Hence the faith and fire within us
    Men who march away.

    En dan, dieper in die oorlogstyd in:

    We Are Getting to the End
    We are getting to the end of visioning
    The impossible within this universe,
    Such as that better whiles may follow worse,
    And that our race may mend by reasoning.

    We know that even as larks in cages sing
    Unthoughtful of deliverance from the curse
    That holds them lifelong in a latticed hearse,
    We ply spasmodically our pleasuring.

    And that when nations set them to lay waste
    Their neighbours’ heritage by foot and horse,
    And hack their pleasant plains in festering seams,
    They may again, – not warily, or from taste,
    But tickled mad by some demonic force. –
    Yes. We are getting to the end of dreams!

  9. René Bohnen :

    Jammer, die strofebreuke in die eerse gedig heeltemal verlore in die plasing!

  10. Joan Hambidge :

    Maria, jy het gelyk: hierdie vreemde oorlog sonder oorlog (Derrida).

    http://joanhambidge.blogspot.com.ar/

    Dit is – soos kenners uitwys – soos kanker. ‘n Mens sal elke keer die groeisel moet uitsny. Met die vrees: wat (wie) is volgende.