Resensie: “Nomade” (Johann Lodewyk Marais)

 

Nomade deur Johann Lodewyk Marais

[Cordis Trust, 2014; Prys: R150; Formaat: Sagteband; ISBN: 978-0-9870397-8-1]

Resensent: Tom Gouws

Poëtiese taksidermie op sy beste

 

Omslag

Johann Lodewyk Marais beklee ’n nisposisie in die Afrikaanse poësie. Miskien meer as enige ander digter hier te lande dokumenteer hy sy poëties gefokuste ekobewustheid, en in die proses gee hy gestalte aan baie fasette en gee hy poëties beslag aan ’n dikwels onaangeraakte deel van die sosiaal-kulturele én natuurlike geskiedenis van Afrika. Hy het bepaald “afsprake met ’n kontinent”, soos dit in die gedig ‘Worsboom’ verwoord word .

’n Tydjie gelede het pres. Zuma op die ANC se 103de herdenking uitgevaar dat die probleme met die land begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap, met die implikasie dat die blankes eintlik die begin van Afrika se probleme was. Nie net adem Marais se digbundel dat die blanke “onloënbaar hier aangeland” het (soos Antjie Krog dit sê) nie, hy beroep hom voorts op ’n gemeenskaplike oorsprong van alle mense in dié wieg van die mensdom:

            Al het ek eenkeer saam met ’n groepie

            uit Afrika weggedros, die landbrug

            na ’n ander kontinent oorgesteek

            en die buiteland diep binnegedring,

            kom ek nou weer tuis by die riviere,

            vleie en heuwels van hierdie moeder

            met die chromosome van lank, lank terug.

Die digter as nomade staan dus hier voorop, sy bundel die optekening van die rykdomme  wat hierdie vasteland spesifiek bied, en die gedigte “rou gedagtes” waarin die digter “versink met die noem van die kontinent”. Hy gedenk en verdig “avonturier, sendeling / en soldaat met stoete vorraaddraers”, se reise elk as ’n ‘daad van geloof’ (soos die titel van die gedig dit benoem), soos ook sy eie:

Met my oog op ’n verweerde aardbol

en ruwe kaarte van groot trekroetes

het alles onherstelbaar begin kwyn.

Marais se verkenning van die “verweerde aardbol”, ook ’n titel van sy 1992-digbundel, is welbekend, en ook in hierdie bundel is daar ’n besorgde digtershand wat aan die verweer (in albei betekenisse van die woord) van die natuur probeer beslag gee. Maar soms is ’n gedig helaas bloot “’n koloniale moment” (‘McMillan Memorial Library’), soos byvoorbeeld die onbevredigende gedigte ‘Kaïro’, ‘F.W. de Klerk’, ‘Haile Selassie’, ‘Cecil John Rhodes’, ‘Victoria’, ‘David Livingstone’ en andere. Dis opvallend dat die huldigingsgedigte of (stand)beeldgedigte dikwels die minder bevredigende tekste in die bundel is. Marais se kensketsing van mense is te veel kere anekdoties of episodies, berus op obskure verwysing, en gaan dikwels mank aan die aandoenlike sensitiwiteit wat sy gedigte oor fauna en flora wel demonstreer. Maar toegegee: die ontroerende huldigingsvillanelle vir Nelson Mandela is egter ’n absolute uitsondering:

Jare lank al weier u om te swig
by Mvezo oorkant die Mbashe.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Hier het u voorvaders ’n kraal gestig
en het u u heel eerste tree gegee.
Jare lank al weier u om te swig.

Bedags het u gedroom van stedelig
terwyl u drentel agter spikkelvee.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Ver hiervandaan was iets duisters in sig
toe u leer van mense se bitter wee.
Jare lank al weier u om te swig.

Hulle – mý mense – het u selfs verplig
om na dié te luister wat op u skree.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Toe u uit die donker kom na die lig
het u met ons nasie ’n band gesmee.
Jare lank al weier u om te swig.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Johann Marais se streng taksering in woorde en strak digterlike lyntekeninge is poëtiese taksidermie op sy beste. Kyk byvoorbeeld na die gedig ‘Arabierperd’:

ARABIERPERD

            Equus caballus

Die oorspronklike bloedlyn gaan stellig

terug na die dae van koning Dawid;

‘n perd geliefd deur Abbas Pasja I,

die graaf Rzewuski en Wilfrid Scawen,

en opgekoop deur die lady Anne Blunt.

Die perde van Ibn Saud van Nejd se stoet

moes net vyftien hande hoog wees, niks meer,

en ‘n korter effense hol rug hê

met die dik kanonne van die skene,

en welgesete lugpyp met strotklep

om akkers woestynwind in te adem.

Die breë kop, smaller af na die neus,

fier asof dit lug drink uit ‘n beker,

met die wakker en gevoelige oë,

en die twee ore, spits soos skerp dorings.

Voor- en agterpote met digte been

asof uit suiwer smeedyster gegiet,

die skoon en snaarstyf gedraaide spiere

en ‘n adrette hoef vir harde grond.

Die kort pels is sag, die maanhare lank,

die stertboog van nature perfek hoog.

Die heersende kleur: kastaiing of grys.

In die Sahara se perdestalle

staan in die oggend die buitelyne

van manne in disjdasjas en keffijes,

met saalkomberse oor hulle diere

ter beskutting teen die son en die wind:

die perd wat jy mag ry en moet versorg

soos deur Mohammed aan jou toegewys.

            Koran XIV: 16:8

Die begrip ‘nomade’ het sterk metaforiese ontginningsmoontlikhede. Hierdie woord verwys na die trekkende, pastorale bestaanswyse van bepaalde volkere of groeperings. Hul beweeg-rede, letterlik en figuurlik, word gerig deur voedselvoorsiening (dikwels die beskikbaarheid van diere om gejag te word), of dikteer deur klimaatsomstandighede en seisoene (vir planting), of die meer moderne nomade, wat vir die lewering van ’n bepaalde diens aan andere noodwendig moet rondtrek. Min hiervan ontgin Marais egter as potensiële onderwerpe – hy verwys hoogstens op die oppervlak daarna. Dis ’n jammerte, want dit sou die eenselwigheid van die digtersaanbod verbreek en vir die bundel groter wins kon bring.

Marais se klem val op enkel gegewens wat hy poëties verdig. Dit is baie soos die lyntekeninge van Lynette ten Krooden wat in die bundel afgedruk is – skerp buitelyne, maar nie altyd met reliëf, diepgang en dimensie nie, dikwels blote vinjette. Die waarneming van die digter val jou op, en die versigtige en sober aanbod, met net af en toe ’n suggestie van meer filosofiese of simboliese diepgang. Die “sinsbedrog van woorde” ontbreek egter grootliks, en dit is asof die meeste gedigte bloot vassteek in óf ’n waarneming, óf ’n doodgewone narratiewe gegewe wat in versreëls oorvertel word, óf die oorsigtelike kensketsing van ’n persoon/gebeurtenis/plek.  ’n Gedig soos  ‘Lamu se katte’ (sien Jack Couffer se boek: The Cats of Lamu), ten spyte van die ryk konteks waaruit die gedig gesprokkel is, bied nét te min uitdaging om as teks te boei:

LAMU SE KATTE

Tydens koningin Hatsjepsoet
van Egipte se kort bewind
het skepe van die Rooi See af
tot by dié argipel gevaar.

Ewebeelde van Bastet: kompleet
met lang bene, spits gesigte,
slanke lywe, van stert tot snoet,
reis op die vroeë vaarte saam.

Die Profeet was lief vir hulle,
katte voor oop deure, in steë,
of die koelte van ’n moskee,
die nakroos van die eerste kat.

Tog bied die digbundel deurlopend ’n tipe kode aan wat dui daarop dat die woorde in die gedig nie soseer net as woorde gesien moet word nie, maar as saad gesien moet word, byvoorbeeld in die gedig ‘Kremetart’

sien ek die ovaal vrugte oopgebreek

en ’n hand vol pitte soos die woorde

van ’n gedig in my kaart toegevou.

Alhoewel “die saad in goeie aarde geval” (‘Wonderboom’) het in die bundel se ryk veengrond, val dit dikwels egter “tussen klippe en dorings” (‘Hypatia’), en vat dit dalk ’n tyd om as gedigte in die leser se dromende denke te ontkiem, en miskien gebeur dit nooit.

In die knap gedig ‘Nelspruit’ word hierdie ars poëtikale siening van die digter dit besonder mooi poëties verwoord:

Al hierdie swoel dae wat ons deurdink,

word soos die pitte van ’n botterklapper

op ’n mrabaraba-bord rondgeskuif

tot één hand alles mooi kan kleinkry.

Dan dwing ons terug na soeter woorde,

dié wat spruit uit wyshede en ontroer.

Maar die hoop beskaam nie, want die digter se vertroue is in die saadwaarde van die woorde:

Deur al die eons heen het baie tyd

verlore geraak (’n rare begrip!)

en dimensies van bestaan het verdwyn.

Maar die stoflike neerslag duur.

Water en ’n sirkel sal nie weet nie

en die vrugbaarste sade het geheel

en al onopgemerk begin ontkiem.

’n Interessante kenmerk van die digbundel is ’n klompie gedigte wat aanvly tot Islam, miskien noodwendig omdat dié godsdiens en ideologie ’n bepalende stem in Afrika is. Dit verruim op sigself ’n tematiese register van Afrikaans wat erg afgeskeep word, en is ’n welkome toevoeging tot ons geskakeerde digkuns.

Die oeuvre van Johann Lodewyk Marais as literêre nomade bied veel stof tot interessante navorsing. Lees opnuut sy oeuvre byvoorbeeld in die lig van Katharine N. Harrington se uitspraak: “nomadism also implies a new perspective with regards to borders, both real and imaginary. In fact, nomadism, as a postmodern style of thinking, encourages individuals to reconsider rigid definitions of borders.” (in Writing the Nomadic Experience in Contemporary Francophone Literature, p. 4). Daar is steeds ook verkennende navorsing nodig rondom die neerslag van die filosoof J.H. van den Berg se kensketsing van metabletika, soos ek indertyd in my resensie van sy 1989-bundel ‘By die dinge’ genoem het.

En dan: die N.P. van Wyk Louw- en D.J. Opperman-spore wat Marais naloop in hierdie bundel, veral die inspeel op laasgenoemde se ongepubliseerde laaste bundel: Sonklong oor Afrika (wat egter wel as faksimilee-uitgawe verskyn het), is ’n ondersoek werd. Soms is die verwysings te ooglopend eksplisiet en effe pretensieus (soos met “Dr. Opperman, neem ek aan?”), maar dikwels is dit vernuftig verhul, soos in ‘Hamerkop by Dunga’ en in die manjifieke sluitgedig van die bundel, ‘’n Lewe’, waar die amper terloopse verwysing na dennebolle ’n hele Opperman-leefwêreld aktiveer. Op sy beste gee Marais beslag aan die palimses-konsep van intertekstualiteit op ’n besonder vindingryke wyse, met ’n duidelike natrap op Derrida se idee van spore.

Ten slotte: Wat ’n lieflike bundel om in die hand te hou! Cordis Trust het met die verloop van net ’n paar jaar met puik publikasies ’n sterk meesprekende stem in die Afrikaanse letterkundesisteem geword. Die kwaliteit van hierdie bundel, ook die pragtige drieluik debuutbundels van Mellet Moll wat pas deur Cordis Trust gepubliseer is, is ’n ryk en welkome toevoeging tot ons literatuur.

(c) Tom Gouws / Januarie 2015

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Resensie: “Nomade” (Johann Lodewyk Marais)”

  1. Melanie Grobler :

    Baie dankie Johann en Tom!

  2. Marina Rheeders :

    Woorde van tyd in ewigheid opgeskryf, soos ‘n raaisel in ‘n spieël, sonder sluier tot heerlike onthou !
    Sien uit om die bundel in my hand te kan hou en mondjiesvol te proe-eet van ‘n dieper verstaan!
    Dankie dis kosbaarder as koerant wat swart afgee aan hande wat iets uitdeel tot vermeerdering.

    Met groot waardering !
    Marina Rheeders