Resensie: Die mond vol vuur. Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach.

Die mond vol vuur. Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Louise Viljoen. SUN PRESS. 2014. Sagteband. 329 bladsye. ISBN: 978-1-920338-83-1. Prys: R275.

Resensent: Zandra Bezuidenhout


Die mond vol vuur

Binne dieselfde maand en jaar waarin Breyten Breytenbach ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit van Gent ontvang, verskyn Louise Viljoen se gebundelde beskouings oor sy woordkuns. ʼn Dubbele huldiging, sou mens kon sê, of ʼn geval van literêr-akademiese sinchronisiteit.

As deurbraakfiguur sou Breytenbach in die 1960’s die Afrikaanse poësielandskap omdolwe en in die daaropvolgende vyftig jaar, binne en buite sy geboorteland, ikoonstatus as digter, skrywer, vertaler en visuele kunstenaar verwerf. En tog het ʼn enkelwerk waarin aspekte van sy oeuvre in oënskou geneem word tot dusver ontbreek. Hierdie hiaat in die literêre kritiek word gevul deur ʼn stewige boekpublikasie waarin Viljoen ʼn verteenwoordigende beeld gee van die veld wat Breytenbach in sy werk bestryk. Sy skryf nie ʼn inleidende studie of blokboek soos dié van André P. Brink (1971) wat in daardie tyd aan bepaalde behoeftes voldoen het nie. Ook stel sy nie ʼn volledige lewensgeskiedenis van Breytenbach met die toepaslike literêre invulling te boek, soos wat J.C. Kannemeyer sou doen nie. En anders as Francis Galloway wat haar in Breyten Breytenbach as openbare figuur (1990) aan ʼn meer spesifieke terrein gewy het, maak Viljoen ʼn seleksie uit ʼn veelheid van tekste en kontekste.

SUN PRESS, die uitgewer van Die mond vol vuur, spesialiseer in akademiese, professionele en navorsingswerk, wat beteken dat lesers kan uitsien na ʼn akademiese diskoers deur ʼn gerespekteerde literator, toevallig ook ʼn Breytenbach-kenner – en ʼn liefhebber van sy werk, sou mens vermoed. Moeilik om te bewys, maar ek verbeel my ʼn skeutjie van persoonlike betrokkenheid wat die oorwegend wetenskaplike aanbod temper. Nietemin is die twaalf boeiende hoofstukke gebaseer op artikels wat ná hul aanvanklike verskyning in vakjoernale deeglik hersien en bygewerk is. Die bydraes is dus literêr-wetenskaplik gefundeer, ingeklee met begrippe uit die literêre teorie en gerugsteun deur uitsprake van teoretici uit Viljoen se vakgebied.

Die besprekings het ʼn drieledige fokus: die werk(e) self, die denk- en leefwêreld van die skeppende woordkunstenaar en die konteks waarbinne sy tekste beslag gekry het en funksioneer – want ook dit is ʼn teks wat ontsluit moet word. Terwyl Breytenbach se poësie die spilpunt van hierdie besprekings vorm, word ook enkele van sy prosa- en toneelwerke betrek. In alle gevalle dien aanhalings en fragmente uit die betrokke tekste, of in sommige gevalle ook ʼn volledige gedig, om die werk met die bespreking te integreer en Viljoen se argument te substansieer. Breytenbach se visuele kuns, sê Viljoen in haar inleiding, laat sy egter aan kenners op daardie gebied oor, maar nie sonder om verbande te lê waar die literêre en kunsaanbod raakpunte vertoon nie. Lesers wat hierin belangstel, sal genot put uit Painting the eye (1993) – ʼn kleurvolle geleentheidspublikasie by een van Breytenbach se kunsuitstallings – met bydraes deur Georges Marie Lory, Marilet Sinaert, John Miles en Breytenbach self. ʼn Meer onlangse publikasie waarin die kuns en die geskrewe woord as ʼn eenheid gesien word, is Breyten Breytenbach, a monologue in two voices deur Sandra Saayman (2014).

Prof Louise Viljoen, Dept. Afrikaans, US

In die onderskeie hoofstukke laveer Viljoen dus tussen genres en tekstipes, teks en konteks, en tussen feitelike gegewens en nadenke. Algaande word nuwe perspektiewe geopen wat ʼn verdere verkenning van die Breytenbach-oeuvre en ʼn voortsetting van die akademiese gesprek mag stimuleer. Hierdeur demonstreer Viljoen hoe sy die digter-skrywer se kreatiewe produk nie verontagsaam, en lesers nie van die plesier van die teks ontneem nie, maar die kunsobjek vir haar doeleindes as vertrekpunt gebruik; anders as die “gewone” leser, neem sy as navorser ʼn metaposisie in vanwaar ondersoek en nadenke oor ʼn kluster van literêre fenomene op gang gebring word.

Lesers van hierdie publikasie sal waarskynlik in ʼn mindere of meerdere mate met Breytenbach se werk vertroud wees, maar verras word deur die oorspronklikheid en diepgang van Viljoen se aanbod. Anders as wat die inhoudsopgawe van Die mond vol vuur moontlik laat vermoed, staan die onderskeie hoofstukke inhoudelik nie los van mekaar nie. Die leser sal ontdek dat sekere aspekte meermale ter sprake gebring of uitgebrei word, met mekaar resoneer of mekaar aanvul. Nog ʼn opvallende eenheidskeppende faktor is die deurlopende kontekstualisering van Breytenbach se werk. Hierdie aanpak is in pas met die sosio-literêre literatuurbenadering waar die geheel van die kulturele veld in ag geneem word, omdat omringende “tekste” (binne en buite die literêre sisteem) met mekaar oorvleuel en mekaar binnedring – soos die literatuur- en kultuurfilosoof Pierre Bourdieu en die sisteemdenker Even Zohar uitvoerig aangetoon het. Die destydse gebruik van die New Critics om uitsluitlik op ʼn literêre teksanalise te konsentreer, is nie die doelwit van Viljoen se werk nie, hoewel sy daaraan ʼn plek toeken waar die betoog daarom vra. Wat Viljoen wel doen, is om uit te lig hoe Breytenbach se kreatiewe tekste hul verhou tot die geografiese, kulturele, politieke, sosiale en ander ruimtes waarin hy hom bevind het of waarvan hy bewus was, en die denke wat daarmee saamgegaan of daaruit voortgespruit het – ʼn proses wat nog nie afgesluit is nie. Hierdie besonder interessante aanpak mag bydra om ʼn wyer lesersgroep te betrek.

“Die naam van die digter: eiename in Breytenbach se poësie” vorm ʼn sinvolle inleiding tot Viljoen se versameling opstelle. Breytenbach stel hom uit die staanspoor aan sy lesers bekend in die openingsgedig van sy debuutbundel Die ysterkoei moet sweet (1964): “Dames en Here, vergun my om u voor te stel aan Breyten Breytenbach,/ die maer man met die groen trui […]”. Namate sy korpus gedigte aangroei, bly hy getrou aan die procédé van naamstoeëiening en naamsverwisseling, waardeur die beginsel van ʼn persoonlike identiteit gerelativeer en as onstabiel voorgestel word. Hieraan bestee Viljoen uitvoerige aandag, omdat Breyten Breytenbach hom nie deur een bepaalde naam, lokaliteit, nasionaliteit of denkwyse laat tipeer of inperk nie, ewe min as wat hy toelaat dat die mure van ʼn gevangenis, landsgrense, politieke sienings of selfs genrekonvensies hom as mens en digter isoleer.

Om Viljoen se werkwyse in meer besonderhede te illustreer, en as ʼn voorbeeld van die gevarieerde inhoud, word daar stilgestaan by die hoofstuk “Vaderfigure in Breytenbach se vroeë poësie”. Aanvanklik plaas Viljoen die uitbeelding van vaderfigure binne ʼn tydskonteks (die laaste twee dekades van die vorige eeu) en die verwante politieke konteks, maar ook binne ʼn literêre konteks, deur haar lesers te herinner aan ʼn aantal Afrikaanse prosaskrywers wat die rol van die vader binne daardie bepaalde periode ontgin het. Vervolgens wys sy op die ouer-kind-situasie wat deur Freud as die familie-romanse beskryf is, asook op sekere postmodernistiese verskynsels wat die uitbeelding van die vaderfiguur sou kon beïnvloed. Die konteks word verder verruim as Viljoen aandui dat Breytenbach nie alleen voortgebou het op vader-seun-verhoudings in die ouer Afrikaanse letterkunde nie, maar op sy beurt ʼn voorganger was van jonger prosaskrywers wat dieselfde onderwerp hanteer het. Sy maak ook die belangrike opmerking dat Breytenbach herhaaldelik die verhouding tussen vader en seun as boustof sou benut in die sewe bundels wat voor sy gevangeneming gepubliseer is.

Die betoog neem ʼn nuwe wending as Viljoen aantoon dat die begrip “vader” nie slegs op die biologiese vader betrekking het nie, maar ook alternatiewe betekenisladings kry. Sy verwys na ʼn aantal digterlike vaders waarop en waarteen Breytenbach in sy poësie reageer, asook na sy ontginning van die begrippe “goddelike” en “politieke vader”, en dui aan hoe die plasing daarvan binne hul onderskeie betekenisvelde die taal en representasie van die reeks vaderfigure beïnvloed. Vier gedigte word gekies om aan te toon hoe Breytenbach die verskillende interpretasies van die vaderbegrip eksploiteer. Die gedigte word hoofsaaklik op ʼn inhoudelike vlak geanaliseer, intra- en intertekstuele verbande word gelê en literêr-teoretiese bevindinge word van toepassing gemaak. Een bekende voorbeeldgedig is “ʼn brief van hulle vakansie” waarin die biologiese vader teenwoordig gestel word. Die gedigkeuses is funksioneel ten opsigte van hul eksemplariese waarde en aansluiting by die betoog, asook hul bydrae tot variasie binne die hoofstuk en die interessantheidswaarde daarvan.

Waar die digter se “tronkpoësie” onder bespreking kom, gaan dit gepaard met verwysings na sy geskiedenis as politieke aktivis en gevangene, wat uiteraard gekoppel word aan sy skeppende werk wat in of ná die betrokke periode onstaan het. As onderwerp is dit nie so vars soos die drie Breytenbach-bundels wat Viljoen in haar slothoofstuk ter sprake bring nie, maar uit ʼn literêr-historiese en politieke perspektief van soveel belang dat twee hoofstukke wat daarmee verband hou uitgesonder moet word. Ek verwys hier na “Intieme vreemdeling: die leser in Breytenbach se tronkpoësie” met sy vindingryke invalshoek waar die genre van tronkliteratuur en die posisie van die leser sentraal gestel word, en tweedens na “Afrikaanse digters in gesprek met Breytenbach as openbare figuur” waarin reaksies op Breytenbach as politieke gevangene, asook op sy verhoor en vrylating, onder meer ondersoek word.

In ʼn hoofstuk oor die konstruksie van Afrika in Breytenbach se tekste kom sy besoeke aan verskeie lande op hierdie kontinent en sy reaksie daarop ter sprake, asook die emosionele band met Afrika en Suid-Afrika wat behoue bly omdat hy hom as Afrikaner met albei identifiseer. Dit skakel weer met die hoofstukke “Die beweging tussen binne en buite” wat konsentreer op reistekste met die prosawerk Return to paradise as voorbeeld, en die “Die spanning tussen lokale en globale identiteite” soos dit in nog ʼn prosawerk Dog heart bevoorgrond word. Die digter-skrywer se tussenposisie as wêreldburger en terselfdertyd hartstogtelike liefhebber van die “eie” bodem vertak in die problematiek wat opgesluit lê in die belewing van plek en identiteit. Dit sluit aan by die uitbeelding van die individu as balling, nomade en swerwer, wat lesers mag verbind met aktuele kwessies soos die posisie van Suid-Afrikaners wat tans verskuiwings of verplasings ervaar en in terme van fisiese lokaliteit en ʼn veranderde kulturele of sosiale bestel, en dikwels ʼn alternatiewe, gefragmenteerde of meervoudige identiteit moet uitleef. Die verhouding tussen die self en bepaalde ruimtes in “Die skrywer as liminale figuur” is ʼn logiese uitvloeisel van die voorafgaande hoofstukke waarin die “middelwêreld” op verskillende wyses gestalte kry. Uit hierdie samehang groei ʼn hegte, dog veelkleurige weefsel van die tematiek en denke in Breytenbach se woordkuns.

Ewe insiggewend is die twee opeenvolgende hoofstukke oor ander digters wat onderskeidelik met Breytenbach as openbare figuur en met sy digterskap in gesprek tree. Op hierdie wyse word sy rol in die samelewing sowel as in die Afrikaanse literêre kanon belig. Die verskeidenheid onderwerpe wat deur Viljoen ontgin word, blyk nie alleen uit haar aandag vir twee van Breytenbach se dramatekste nie, maar ook uit haar slotbespreking van drie meer resente digbundels wat die verskyning van Skemeraandsange (2014) voorafgegaan het. Die reikwydte van Viljoen se werk word selfs verder verbreed deur haar hoofstuk oor Breytenbach se gebruik van die parodie in die digbundel Yk, met as voorbeeld Breytenbach se “ballade van ontroue bemindes” waar hy in gesprek tree met sy voorgangers François Villon en Peter Blum. Getrou aan haar werkwyse verbind Viljoen ook Breytenbach se gedig met sy situasie in die gevangenis. Hierdie hoofstuk gee  ʼn omvattende uitleg van die parodie, ʼn digvorm wat vir Viljoen bewys is “van die nimmereindigende intertekstuele proses waarin tekste voortdurend gegenereer word uit ander tekste.”

In die voorwoord lig Viljoen die titel van haar boek toe. Die mond vol vuur sinspeel op die naam van ʼn bloemlesing uit Breytenbach se werk (Die hand vol vere, 1995), en daarmee saam op “die hand vol vuur”, ʼn reël uit die slotgedig in dieselfde bloemlesing. Terselfdertyd roep dit iets op van “die passie waarmee hy skryf, die vuur van sy kreatiwiteit […] die skroeiende aard van sy kritiese ingesteldheid”, sê Viljoen. Lesers sal waarskynlik ook ander assosiasies kan maak, soos dat “mond” as ʼn instrument of “spreek-buis” van die digterlike stem gelees kan word, en dat die “vuur”-element ook op sy soms eksplisiete liefdesgedigte, en selfs sy innige familie- en vaderlandsgedigte mag slaan. ʼn Meer veelseggende en gepaste titel, bondig en welluidend, kan ʼn mens jou kwalik voorstel.

Maar die gedig is in wese ʼn vuurbal, of anders gestel, die vuur sit in die (knetterende) woord. Presies hoe Breytenbach sy houtjies uitsoek, pak en aanblaas, is vir lesers van die primêre teks nie voor die hand liggend nie. Die akademiese leser vra by wyse van spreke: Hoe lyk die kunsgrepe van Breyten die brandsteker? Hoe bring hy die stof tot vlam? Dit beteken dat die literatuurwetenskap ook iets van die maakproses moet agterhaal, want die gedig is “maakwerk”, en sonder tegniek sou geen objek tot stand kom om verbruik of bestudeer te word nie. Daar is dus ook ʼn behoefte aan navorsing en naslaanwerke wat toegespits is op die konstruksie, binnewerking, formele eienskappe en effek van literêre tekste; nie sonder konteks nie, maar byvoorbeeld teen die agtergrond van tendense in die wêreldpoësie; die nalatenskap van die Nederlandse Vijftigers; invloede op die woordkunstenaar as vakman (of -vrou); die rol van die surrealisme, of die invloed van die Tao-denke op die vormgewing in Breytenbach se werk. Selfs samelewingsomstandighede sou met verstegniese elemente in verband gebring kan word. Miskien kan ʼn versameling gekontekstualiseerde vormanalises as Die Mond vol vuur II uitgegee word; miskien as ʼn deelwerk, en met ʼn titel soos as ek in die kooltjies mag krap.

Elke hoofstuk in Viljoen se werk het sy eie meriete en verdien om in meer besonderhede ontleed te word, maar die inhoud is so ryk en die stof so deeglik nagevors dat daar in die resensie met ʼn breë omlyning volstaan word. Hierdie publikasie is by uitnemendheid geskik as ʼn navorsingsbron, nie alleen vir studente en dosente nie, maar ook vir belangstellendes in die eietydse poësie – veral dié van Breytenbach – wat nie terugdeins vir indiepte-leesstof nie. Viljoen skryf nietemin helder en op die punt af; haar stof is sorgvuldig gekies, sinvol gestruktureer en boeiend aangebied. Die voetnote, bronnelys en register is netjies op hul plek en van groot hulp.

Ook die voorkoms en versorging van hierdie boek verdien kommentaar. ʼn Effens groter as gewone formaat, die netjiese bladuitleg en drukwerk, saam met die gehalte en gevoel van die papier en die glansomslag vergemaklik die lees en hantering van die boek. ʼn Besondere treffende foto-afbeelding van die digtersfiguur, skoon tipografie en smaakvolle kleuraanwending sorg vir ʼn pragtige buiteblad. Met so ʼn voorkoms en inhoud word ʼn wetenskapspublikasie  ʼn kunsproduk, selfs ʼn kommoditeit. Iets vir die verstand, die hart en die sinne – genoeg aansporing om die steeds groeiende Breytenbach-oeuvre verder te verken.

 ***

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Resensie: Die mond vol vuur. Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach.”

  1. Desmond Painter :

    ‘n Belangrike boek: dit bewys dat mens nog akademies in Afrikaans kan skryf; dat akademiese Afrikaans nog soepel en betekenis-ontsluitend kan wees; dat akademiese besinning oor literêre aangeleenthede van meer as net ‘akademiese belang’ kan wees, maar outonoom ‘n plek kan inneem in die estetiese en etiese diskoers in ‘n taal; dat Louise Viljoen een van die bestes van haar generasie is, en nie net in Afrikaans nie; en dat daar nog goeie goed uit Stellenbosch kan kom. Hoeveel boeke bewys soveel dinge, selfs nog voor jy by die inhoud gekom het?!

  2. Ek sien daarna uit om hierdie mooi mylpaal boek in die hand te hou. Mag die vuur ons altyd bietjie laat sweet. Baie dankie, Louise Viljoen.

  3. Joan Hambidge :
  4. Het jou resensie geniet, Joan.

  5. Nicolaas :

    Kan iemand asb sê wat beteken ‘laveer’ en is daar nie ‘n beter woord daarvoor nie?

  6. Hans Kaapnaar :

    SEIL, VAN RIGTING VERANDER MET ‘N BOOT, TEEN DIE WIND OP. Waarom so sikkeneukerig? Die woord is welbekend in Afrikaans. Uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, of te wel die WAT (ook aanlyn beskikbaar vir ‘n klein bedraggie v R150 per jaar):

    aveer ww., het gelaveer of soms het laveer; byv. en byw. laverende, laverend. Ook soms, verouderd en streektaal, laweer.
    1 (seilvaart)
    a In ‘n sigsagkoers, beurtelings oor die bakboord- en stuurboordboeg, teen die wind op vaar: Die boot laveer teen die noordewind. Die laverende skip vorder stadig. Laverend nader. ≈ Kom die wind van voor dan kan die skip nie reguit op sy doel afseil nie, maar moet daar laveer word (S.C. Biermann in TVV, Nov. 1951, 76). ‘n Geweldige kruissee loop op die sandbank, en die wind was van so ‘n rigting dat onmiddellik voor die bank gelaveer moes word (E.N. Marais: Sketse, 1928, 191). Die wind begin hulle nou moeite gee. Hulle moet laveer om nader te kan kom, en by elke sywaartse swenk sukkel hulle met die seil (J. Rabie: Eiland, 1964, 48). Wanneer ‘n skip skuins teen die wind op laveer, word hy deur die seil aangedryf net soos die vlerke ‘n vliegtuig laat lig (W.O. Kühne, vert.: Skepe, 1976, 10).
    ■ Ook t.o.v. ander vervoermiddels: Terwyl die skipper stadig heen en weer laveer (m.d. masjienaangedrewe visserskuit), gooi hulle lyne af en kry ‘n klompie snoek (E. Kotze: Halfkrone, 1982, 8). Hulle het al meer hoogte verloor, en aangesien hy bang was dat hul skroef deur die gierende wind afgeskeur kon word, moes hy sig-sag laveer soos ‘n seilboot (J. Rabie: Karoo, 1957, 27).
    Vgl. 1LOEF II.
    b Wend: Die jag verskyn tussen die oorlogskepe, laveer om die wind aan die stuurboord te kry (K. Myburgh: Skip, 1972, 28). “Laveer, Johan, en seil soontoe,” en hy wys die rigting aan. “Daar sal ons anker gooi” (D.F. Malherbe: Hans8, 1936, 194).
    Vgl. GYP, KNYP I 1 i, 2KORTSKOOT.
    2 Heen en weer beweeg: Vrolik laveer hy (die briewebesteller) kruis en dwars, van vér / gejou deur honde wat ‘n hekel het / aan ratwerk (E. Eybers: Balans, 1962, 35). Frans neem ‘n dame na die voorkamer waar spoedig meer paartjies op ‘n gesofistikeerde maat begin laveer (J.S. Rabie: Afgod, 1958, 54). Die heeldag laveer wolke in die blou gerantsoeneerde / hemel, ontplof die lig in wit blomme (B. Breytenbach: Bill, 1984, 72). ‘n Mens se ruggraat kan mos nie reguit bly as jy jou lewe lank op sponsrubber lê en laveer nie (A. Blignault: Dae, 1965, 130).
    3 Deur vindingrykheid ‘n probleem oplos of ontwyk: Tussen al die teenstrydige eise wat aan hulle gestel word, moet die samestellers van die advertensiekolomme laveer om van gebrekkige Afrikaans en Engelse “commercialise” ordentlike Afrikaans te probeer maak (L.W. Hiemstra in J.P. Scannell: Keeromstr. 30, 1965, 56). “Korneels … ek het jou nie lief nie, en sal jou nooit liefkry nie.” Korneels, geheelenal dronkgeslaan, moes nou laveer. “Sit, Marie, laat ons die ding kalmpies oorpraat” (J.G. Slier: Pagal, 1932, 241).

  7. Nicolaas :

    Dankie Hans. Ek het so gedink. My google het ook so gesê. Maar daar is beter alternatiewe. Mens kan ‘n sin beter saamstel.

  8. Marlise :

    Breyten, baie mooi gewees om na te luister. Ek plak die skakel hier, indien ander dit gemis het: http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20150324_VERS_EN_KLANK.mp3

    Vers en klank 24 Maart 2015
    Dinsdag 24 Maart 2015

    Breyten Breytenbach lees ‘n paar verse wat sy oog gevang het.

    Laai AfLaai Af (16 743KB)
    iTunesTeken in met iTunes
    LuisterLuister

    Vers en klank 17 Maart 2015

  9. Maria Snyman :

    Dankie vir die skakel Marlise, dit was baie lekker en baie mooi. Die opmerkinkies was ook baie interessant.

  10. Dankie vir die lieflike geskenk, Marlise. Heerlik geluister!