Carina van der Walt. Met zingen is de liefde begonnen Beyond Borders

                                                                Coat Hanger Watch (1971) Dali

 

Die Nasionale Poësieweek in Nederland duur vanaf 29 Januarie tot 4 Februarie. Die tema is Met zingen is de liefde begonnen. Onder hierdie tema word voorlees- en besprekingsaande oor poësie en nuwe bundels landwyd gereël. Elke stad wat sy sout literêr werd is, skraap sy digters bymekaar vir ’n optrede. In Tilburg is dit nie anders nie. Martin Beversluis, één van die stad se digters, het nog ’n tema bo-op die nasionale tema geplak: Beyond Borders. Daarby het hy ’n klompie digters uitgenooi. Vir my het hy gevra om spesifiek my nuwejaarsgedig voor te lees plus nog iets. My nuwejaarsvers in Nederlands is tematies  vermoedelik ’n goeie mengsel tussen die nasionale tema en die stadstema. Nieuwjaarsvers 2015  was ’n projek van die huidige stadsdigter Jasper Mikkers. Sekerlik is ’n Suid-Afrikaanse Afrikaanstalige digter wat soms oor die kunswêreld skryf ’n vreemde skeppie (Beyond Borders) bo-oor die bekende: Nederlands.

 

Die inspirasie vir nieuwjaarsboodschap van Dali aan Venus was ’n kombinasie van Dali se installasie Coat Hanger Watch (1971), sy The Persistence of Memory (1931), die Duitse kunstenaar Anselm Reyle se Venus (2011) en Die geboorte van Venus van Sandro Botticelli (ongeveer 1483).

 

 

nieuwjaarsboodschap van Dali aan Venus

 

naakt slapend op haar rug

met een blos op haar gezicht

ontvangt ze de tijd van het nieuwjaar

in de schelp van haar open hand

 

gisteravond nog heeft de satijnen jurk

haar blote schouders in afscheid gekust

haar lichaam verlaten & is om haar enkels

beland     als een stilgezette klok

 

toen heeft haar kale schouder

als een lege chromen hanger

tegen een andere hanger aangetikt

& is de tijd weer in gang gezet

 

het oudejaar was reeds ontkleed

gereed om een nieuwjaarsboodschap

in haar open hand te schrijven:

alle tijd is genummerd vlees

 

                                                                      Venus (2011) Anselm Reyle 

 

Die Afrikaanse gedig dobber  & droom is met betrekking tot taal Beyond Borders. Die ruimte waarin die gedig egter afspeel, is ’n baie bekende omgewing vir alle inwoners van Tilburg, naamlik die bos by die universiteit. Die inspirasie vir hierdie gedig kan herlei word na één kunswerk: Pas encore mon histoire (2008) van die Fransman Vincent Olinet. Beide Olinet se werk uit 2008 en Reyle se werk uit 2011 was uitgestal in die vierjaarlikse Lustwarande-tentoonstellings in die Oude Warande langs die universiteit in Tilburg. Dit is die enigste sterrebos in Nederland.

 

 

dobber & droom

 

Vincent Olinet dra sy hemelbed

gewoonlik ongestoor

die vywer of fontein in

waar dit onverstoor bly dobber

 

in Oude Warande

– stokou sterrebos om my nuwe stad –

wens ek dat ek & jy deel

van hierdie droom mag wees

dat ons vir één dag

die glansende bed mag beslaap

waar hemel & aarde mekaar raak

 

bedags sal ons ronddobber tussen waterlelies

van Monet

aandagtig in pastelle vasgeverf op die dam

 

skemertyd sal ons saggies praat oor die omringende

rododendrons

wat vir só lank hulle uitgeswelde beloftes in knoppe kan vashou

 

snags sal die maan onverstoorbaar  op die water dobber

sal ons vingertoppe mekaar se blinde silhoeëtte lees

& ek sal vir jou vra om die Suiderkruis te gaan haal

 

want hoog bo die bed speel hy wegkruipertjie met ons

sonder lêplek in die noorde gly hy weg uit die baldakyn

weg uit die hemel

om  middernag

sal ons slaperige rodorendronknoppe wees

sal ek droom van my wegloopSuiderkruis

tuis tussen ons eie onderdakse sterremos

 

& sal ek die kompaskruis nog één keer uitgooi

as ’n dobber in die donker vreemde water

om stil-stil die diepte van ons drome te peil

 

                                                  Pas encore mon histoire (2008) Vincent Olinet

(c) Carina van der Walt / Januarie 2015

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Carina van der Walt. Met zingen is de liefde begonnen Beyond Borders”

  1. Theo Rikken :

    Carina,

    in mijn hoofd zit al een tijd een poesie – kunstvoorwerpen [ beelden, schilderijen etc] project.
    Jouw gedicht zet me weer aan het “hardopdenken”. Zal er toch een keer van moeten komen.

  2. Hilda Smits :

    “& sal ek die kompaskruis nog één keer uitgooi as ’n dobber in die donker vreemde water”. Dankie, Carina. Geniet die Poësieweek!

  3. Gisela Ullyatt :

    ‘stokou sterrebos om my nuwe stad’: hiervan hou ek, Carina!

  4. carina van der walt :

    Dankie Theo, Hilda en Gisela. Die eerste weergawe van “dobber & droom” is in 2008 as ‘n soort prosagedig met ‘n heeltemal ander titel geskryf. Daarna is dit talle kere herskryf. Ek het ophou tel by nommer 20. In die eind “sprint” het ek onverwags ondersteuning gekry het van iemand wie se poësie ek nogal bewonder. Of die persoon tevrede is met wat hierbo te lese is, weet ek nie. Uiteindelik moet ‘n mens 100% verantwoordelikheid vat vir jou gedig en jou eie kop volg. Dis één ding om dit te weet, ‘n ander ding om dit ook toe te pas.