Carina van der Walt. Dit het pryse gereën.

 

’n Hoogtepunt op die kalender van die digters in die Lae Lande is die Nationale Poëzieweek. Vanjaar was dit vanaf 29 Januarie tot 4 Februarie. Die tema was Met zingen is de liefde begonnen. Dit was die derde jaar dat ’n volle week aan poësie afgestaan is. Vóór Januarie 2013 was daar net ’n Nasionale Gedichtendag.

 

Groot aktiwiteite was die uitreiking van die VSB-poësieprys 2015 (25 000 euro), die Herman de Coninck-prys 2015 (6000 euro) en die Awater-poësieprys (500 euro), die aankondiging van die wenner van die Turing Gedichtenwedstrijd en die gratis poësiegeskenk vir kopers van digbundels. Dit het alles geëindig met die Gedichtenbal op die laaste aand in die Stadschouwburg van Amsterdam.

 

Kleiner aktiwiteite met optredes van digters, voorleesaande met gedigte, gedigteskryfwerkswinkels en talle ander bedrywighede is gehou in stede en dorpe soos Amsterdam, Assen, Barendrecht, Breda, Den Haag, Doesburg, Eindhoven, Groningen, Haarlem, Huizen, Rotterdam, Terneuzen, Tilburg, Zaltbommel, Zutphen en Zwolle in Nederland. Antjie Krog het kom voorlees uit haar bundel Mede-wete by die bekendstelling van die Nederlandse vertaling daarvan. In België was daar aktiwiteite in onder andere Aarschot, Beringen, Brussel, Diepenbeek, Diksmuide, Kortrijk, Lille, Mechelen, Neerpelt en Oostende.

 

Vyf kandidate was vir die VSB-poësieprys genomineer. Net één kon wen. Sy is Hester Knibbe het haar bundel Archaïsch de dieren. In haar bundel bring sy die mens terug tot sy ontgogelde kern, byvoorbeeld:

 

Ik neem de hersens de tong en de wangen,

zei eentje, maar het hart gooi ik weg.

 

We zwegen onthutst, liepen de rest

van het lijf na, deelden ons verder niet

 

mee. Gingen de volgende ochtend de berg op

om voedsel te zoeken, vonden oneetbaar.

 

Toen hebben we een onschuld geslacht.

We lieten hersens, tong en wangen intact,

namen het hart.

 

Die vorige aand het sy gehoor dat sy verkies is tot die nuwe stadsdigter van Rotterdam. Drie ander genomineerdes het ook pryse losgeslaan. Sommer ’n week voor die poësieweek al het die genomineerde Piet Gerbrandy die Jan Campert-prys (5000 euro) van die stad Den Haag ontvang vir sy bundel Vlinderslag. Jan Campert was die vader van die bekende digter Remco Campert. ’n Ander genomineerde, Peter Verhelst, het met sy bundel Wij totale vlam die Herman de Coninck-prys gewen. Dis die tweede keer dat Verhelst die prys wen. Die eerste keer was in 2009 met Nieuwe Sterrenbeelden. Dieselfde prys se afdeling vir debutante (1000 euro) het gegaan aan die 32-jarige Runa Svetlikova uit Antwerpen vir Deze zachte witte kamer. Alfred Schaffer was die derde genomineerde vir die VSB-poësieprys wat toe ’n ander prys losgeslaan het, naamlik die prys van die tydskrif Awater vir sy bundel Mens Dier Ding. Schaffer was wel vooraf die gunsteling vir die VSB-prys by die bekende poësieresensent Arie van den Berg: “Het zou me dan ook verbazen als de VSB Poëzieprijs 2015 op woensdag 28 januari niet aan Alfred Schaffer wordt uitgereikt. Mocht dat toch zo zijn, dan hoop ik op een bekroning van Archaïsch de dieren.” Die jurie van die Awater-prys was beroepslesers en dagbladskrywers. Eén van die kommentare oor Mens Dier Ding wat die pers gehaal het, was: “De huiveringwekkende herschepping van het verhaal van Zoeloekoning Sjaka heeft me het hele jaar vergezeld.” Hier volg ’n fragment uit Schaffer se belewing van die Suid-Afrikaanse (ook kulturele) landskap:

 

dag(droom) # 526

 

Deze kale ruimte die ik met munitie voor

een week doorkruiste.

Hier werd ik aan een truck gehaakt

terwijl ik luid de eerste regels van het

volkslied zong.

Alleen de eerste regels, om de melodie.

Hier leerde ik een dier te slachten

alle ingewanden in een jutezak en dan de

fik erin.

Hier was wie slimmer dan de dood dan wie.

 

Die enigste genomineerde vir die VSB-poësieprys wat geen prys gewen het nie, was Sasja Janssen. Dis haar tweede nominasie. Sy was ook in 2012 genomineer vir die Jo Peter-prys. Waarskynlik word haar ontwikkeling nou fyn dopgehou. Gister, vyf dae na die Nationale Poëzieweek se prysereën opgedroog het, is daar nog ’n prys bekendgemaak: die driejaarlikse Prijs der Nederlandse Letteren (met ’n prysgeld van 40 000 euro groter as die VSB) is aan die 85-jarige Remco Campert uitgereik.

 

Twee toekennings gedurende die Nationale Poëzieweek laat die poësielesers hier tog vermoed dat daar ook ’n taalpolitieke streep van korrektheid deur alles loop. Dis die eerste keer in sy bestaan van ses jaar dat die Turing Gedichtenwedstrijd tussen twee wenners gedeel word: ’n Nederlander en ’n Belg. Die Turing Gedichtenwedstrijd is bekend as die kompetisie met die grootste geldprys (10 000 euro) vir ’n enkele gedig. Laurens Hoevenaren en Ruth Lasters moes die prys deel.

 

Anna Vegter is al sedert Januarie 2013 die Dichter des Vaderlands. Dis ’n ereposisie wat sy vir vier jaar moet beklee en invul met haar gedigte oor dinge wat in die Nederlandse samelewing gebeur. Sy is die eerste vroulike Dichter des Vaderlands. Nou is daar ook ’n Dichter der Nederlanden benoem deur die Algemeen Nederlandse Verbond. Sy is Joke van Leeuwen. Kritiek het losgebars na hierdie aankondiging veral van die manlike digters se kant af, wat haar maar alte graag wil afmaak as ’n soort Annie MG Schmidt. Ook Vegter het vanuit haar posisie as Dichter des Vaderlands die volgende uitspraak oor Van Leeuwen se titel gemaak, naamlik dat sy “de kloof tussen de talen in België alleen verder verdiept.” Van Leeuwen se antwoord was: “Dit is geen actie om Vlaanderen en Nederland samen te brengen. Dichten is gewoon een kunstvorm.” Ook Ilja Pfeijffer se reaksie was dat Van Leeuwen “ertoe opgeroepen dient te worden om onmiddellijk afstand te nemen van de functie”, waarop sy nogal nugter gereageer het met: “Waar haalt hij die arrogantie vandaan?”

 

Van Leeuwen is glad nie eerste om die bordjie ‘arrogansie’ om Pfeijffer se nek te hang nie. Dis so ongeveer sy handelsmerk. Met die poësiegeskenk wat Pfeijffer vir hierdie jaar geskryf het, het hy egter bewys dat hy literêr gesproke rede daarvoor het. Giro giro tondo, een obsessie is ’n gedigtesiklus wat uit vyftien sonnette bestaan. Vormlik (Petrarcaans) en tegnies  (beeld in die twee kwatryne, toepassing of verdieping in twee tersines plus die regte rympatroon, metrum ensovoorts) het so iets nog nooit in die Nederlandse letterkunde gebeur nie. Dit word beskryf as ‘n “pijnlijke liefderondedans van begeren naar beminnen naar verliezen naar missen”. In die eerste sonnet beskryf hy die opjek van sy verliefdheid op die mark:

 

1

 

Gebrade hanen reeg je aan het spit

alsof je daarmee iets wilde beweren.

 

In sonnette 2 en 3 volg ook pragtige raak beskrywings van die geliefde se bykomstighede of soos sy haarself op die internet aanbied:

 

2

 

Met bubblegum had ik je opgeplakt

waar jongensbedjes overgaan in dromen.

 

3

 

Op elke website wist ik jou te heten.

Daar was je Foxxy, Peachez, Roxxy Love,

Ivana Fuckalot of Trixxie dove.

We hebben samen zoveel tijd versleten

 

Giro giro tondo is Italiaans. Dit verwys na ’n liedjie wat kinders sing tydens ’n speletjie waarby hulle al vinniger ’n in kring dans totdat hulle uiteindelik dronkgedraai neerval. Dit is nie vreemd dat Pfjeiffer ’n Italiaanse titel gekies het nie, omdat hy in Genua woon. In sonnette 5 én 11 betrek Pfeijffer hierdie speletjie:

 

5

 

Toen ik je vond, was jij verrassend echt.

Je zong een kinderlied dat ik niet kende,

waarbij je huilend door de regen rende.

De wereld viel. Je had het net gezegd.

 

De hele kring moest van je op de grond.

 

Die slotreël van elke sonnet is weer die beginreël van die volgende sonnet. En so vleg Pfeijffer ’n sonnettekrans aanmekaar. Die vyftiende sonnet is ’n samestelling van die beginreëls van alle voorafgaande veertien sonnette. Dit is in die twee kwatryne hieronder herleibaar na die beginreëls van sonnette 3 en 5 hierbo. Virtuoos!

 

15

 

Op markplaatsen heb ik naar jou gezocht.

Ik wist je naam niet, wilde die niet weten.

Op elke website wist ik jou te heten,

Hoewel ik nergens op je hopen mocht.

 

Toen ik je vond, was jij verrassend echt.

Je maakte lange vingers van gedachten.

Je vlocht mijn woorden tot een strik. Je lachte,

al had ik volgens mij niets raars gezegd.

 

In die twee slottersines kan die leser se verwondering oor ’n volledig verstaanbare sonnet met die nodige besinnende verdieping, saamgestel uit die beginreels van ander sonnette, net toeneem. Terselfdertyd trek ’n mens se keel toe oor wat die klassikus Pfeiffer eintlik skryf of waarteen hy waarsku, naamlik dat liefde slegs moontlik is as dit op afstand gekoester word – sonder ’n lyf en die rompslomp van lyflike teenwoordigheid.

 

We scheppen wie ons liefheeft naar ons beeld. (reël 9)

Ik kan je slechts als fantasie beminnen. (reël 12)

 

Die afgelope poësieweek was ’n Nederlandse-Vlaamse samewerking waaraan die volgende organisasie deelgeneem het: Nederlandse Letterenfonds, Boek.be, De Poëzieclub, Poetry International Rotterdam, Stichting Lezen Vlaanderen, Stichting Lezen Nederland, Wintertuin, Poëziecentrum Gent en Stichting Collectieve Propaganda van het Nederlandse Boek (CPNB). Finansieel is dit ondersteun deur die VSB-fonds, Turing Foundation, die Nederlandse Taalunie en die Vlaams Fonds voor de Letteren.

Bookmark and Share

Comments are closed.