Trienke Laurie. Woestynverplaaste

Woestynverplaaste

Vlug ek na die stad,
ontmoet ek U daar,
praat U met my
uit die mond van ‘n vreemdeling.

Vlug ek na die woestyn
weg van die geroesemoes,
is U in elke korreltjie sand.
U sien my van ver
soos ‘n lalapalm of dadel-
wat by ‘n oase staan.

In die morsigheid van my sonde
in die warboel van my emosies
die uitstort van my trane
voel ek steeds u nabyheid
soos lawende water
soos my eie sweet.

U koel my emosies af
soos die bloed van die gemsbok afkoel
in die wondernet van are in sy neus
en onder sy brein
só oorleef ek hittige aanslae
van mens en versengende son.

U lig my denke
sodat ek vergeet van myself.
In die vergetelheid van duin op duin
word U meer as ‘n lugspieëling
word U werklikheid vir my.

Al wat luuks is
het ek agtergelaat
en is nou net aangewese op U.
Maar U is alles.

Ek wéét van U gesig wat blink
soos die lig soggens op die duinekam
en die weerkaatsende lig
in die dou van elke plakkie.

In hierdie stilte
hierdie eensaamheid
hoor ek U brul soos die duin
met sy kruimelende korrels sand.

In die skadu van die sekelduin
in my bangheid, is ek dapper,
want ek is by U
‘n nietige luis in die pels
van ‘n bakoorjakkals of woestynwolf.

Hier, in die dorre wêreld,
word my hart sterk
soos die harde melkwit hart
van die dadelpalm,
delf my wortels diep,
my begeertes gekonsentreer
in my soeke
na u ewige water.

 

© Trienke Laurie / 2015

Bookmark and Share

Comments are closed.