Onderhoud met Joan Hambidge (Matriks)

Joan Hambidge gesels oor haar nuwe bundel Matriks met Gisela Ullyatt.

(GU) Baie geluk met Matriks, Joan.

Die voorbladfoto is van ’n besonderse deur met ’n Bisantynse ontwerp. Vertel ons meer oor waar jy die foto geneem het asook wat die detail wat op die deur verskyn vir jou beteken. Hoe is dié foto gekies is om Matriks te verteenwoordig? In die bundel kom daar ook ’n ridder-motief in die vorm van ’n klein afdruk voor, heel voor in die bundel en dan ook na die laaste gedig. Sluit dit aan by die voorblad?

(JH) Ek het die foto – ‘n gelukskoot – afgeneem op ‘n deur in Lbuljana op ‘n reis verlede jaar deur Serwië en Kroasië. Die riddermotief het die ontwerper Susan Bloemhof as ‘n soort motief (dalk vingerafdruk?) gekies.

Die leser moet self besluit wat die simbole beteken …Die riddermotief, die perd, die deur wat moet oopmaak …Die deur wat oopmaak na die kollektiewe onbewuste en die skryfproses as opstand …

Hierdie deur maak swaar oop …

Daar is ook ‘n moeder en kind en ‘n priester. Ook ‘n lydende figuur. Al die temas van my bundel is hier saamgesnoer. Skryf as verset teen, maar skryf ook as oorlewing. Om by iets diepers uit te kom. As kind het ek nie binne die strukture ingepas nie en as volwassene besef ek al hoe meer hoe dankbaar ek moet wees hiervoor. Dit het my geleer om die enkelstaat met volledigheid te omhels. En vandat ek dit regkry, is my verhoudings met ander sinvoller.

 

Matriks is ’n stewige bundel; 168 bladsye. Hierdie is nie ’n bundel vir die lui, oningeligte of onbelese leser nie. Stem jy saam? Intertekstualiteit in ag genome, sou Matriks jou Wasteland kon wees?

Ek streef nog na my Wasteland … In my bundel Indeks waaraan ek tans werk, is Eliot ‘n rigtingwyser. Die gedigte het oor ‘n lang tydperk ontstaan. Van die lykdigte gaan sover terug as my jeug en was eers opgeneem in ‘n bundel met die titel Witbank-blues. Ek skryf uiteindelik een groot bundel en die idee van die matriks (die chora van die digkuns) het gemaak dat ek teruggekeer het na bestaande verse en dit herdig het. Ek het ook verse uitgegooi wat nie by die idee van die “matriks” inpas nie.

Hopelik werk die gedigte ook net as gedigte, met ander woorde, op die gevoelswaarde. Vir die speurende leser is daar verwysings, nie omdat ek ly aan ‘n “anxiety of reference” of “anxiety of influence” nie, maar eerder omdat ek altyd onder die indruk staan van die tradisie waarbinne ek dig, sowel binnelands as buitelands.

Afdeling een heet “Chora”. Dis ’n konsep rakende die pre-linguistiese/pre-verbale fase van die individu wat Julia Kristeva intensief eksploreer binne die Franse skool van Feminisme. Jy skryf ook gereeld hieroor in jou blogs en resensies. In die laaste reëls van die gedig “Chora”, som jy hierdie primordiale bestaan (wat gekoppel is aan die skryfproses) besonder goed op (17):

 

Dit wat buite woorde lê

– my ma wat ’n dagboek konfiskeer

waarin ek ’n ánder bestaan karteer –

kry ek nou vir goed ontsê.

 

Waarom is die “chora” so sentraal tot jou lewensbeskouing en skryfwerk? En kan “chora” ook gelees word in die lig van Plato se siening oor die baarmoeder, die matriks in die konteks van Matriks?

Ek skryf in hierdie bundel oor die baarmoederlike van taal, die ruimte waar digterlike inspirasie gehuisves word. Kristeva se idee gaan uiteraard terug na Plato se idee. Psigoanalises (meervoud) interesseer my, juis omdat dit baie belangrike uitsprake oor taalteorie maak en nie, soos sommiges meen, dat dit ‘n wetenskap is nie. Adam Phillips se versoening van digkuns en psigoanalise.

 

In Matriks duik ou bekendes weer eens op wat oor die jare herhaaldelik ’n buiging gemaak het in jou oeuvre: Emily Dickinson, Erica Jong, Elisabeth Eybers, D.J. Opperman, Lacan, Freud, Jung; om maar ’n paar te noem.  Vind jy dat jou in-gesprek-tree met hierdie digters, filosowe en psigoanaliste oor die jare verdiep het en waarom keer jy telkens terug na hulle?

Die “in-gesprek-tree” met filosowe, psigoanaliste en ander digters het waarskynlik te make met my werk as dosent en akademikus. Die Januskop van die digter wat haar daaglikse brood verdien as dosent, resensent en optekenaar.

 

Lykdigte is veral jou digterlike forté. In Matriks word die leser getrakteer op lykdigte oor ’n wye spektrum van subjekte soos Robin Williams en Fiona Coyne; lykdigte wat kort na hulle selfdood op Versindaba verskyn het. Vind jy dat lykdigte relatief gou na die persoon se afsterwe geskryf moet word, veral deesdae met die media en internet wat mense se aandagspan so geweldig verkort? Is lesers dus meer geneig om sulke gedigte te lees en dalk selfs terugvoer te gee daaroor?

Ek het in 2000 ‘n bundel gepubliseer met die titel Lykdigte en ek dink die digterlike reaksie is waarskynlik sowel huldeblyk as testament. ‘n Mens kan immers net die lewe verstaan indien/ as jy die dood begryp. Die terugvoer op gedigte is altyd onvoorspelbaar. ‘n Mens ontvang ‘n e-pos van ‘n jong kind wat ‘n opstel moet skryf of ‘n klein uitgewer wat ‘n gedig optel in ‘n koerant of webblad en dan kry jy tyd om die gedig af te rond alvorens dit gepubliseer word in ‘n durende bloemlesing. Die internet is tydelik … skakels verdwyn …

Daar is ook ’n afdeling wat uit ekfrastiese gedigte bestaan, onder meer oor Marlene Dumas se skildery van Elisabeth Eybers; foto’s van Gérard Depardieu en Jackie Onassis. Wat is die roete wat jy volg wanneer jy ’n ekfrastiese gedig skryf?

Ek het nie ‘n resep nie. Marlene Dumas se inspirerende teks Intimate relations (Jacana) dra sy op aan haar moeder. Sy noem dit ‘n “love letter to my mother”. Matriks is ook ‘n liefdesbrief aan my moeder. My moeder wat my intellektueel gestimuleer het en met wie ek – soos met my vader – ‘n volgehoue gesprek voer in my digkuns.

Die verse in hierdie bundel gaan oor meer as my biologiese moeder. Dit gaan oor moeders (soos Dorothy Parker se verhouding met haar moeder) en die komplekse verhouding wat veral die gay-vrou met haar moeder het, met moedertaal, met identiteit, met jou posisie binne die kanon en hoe manlike digters vir lank die kanon oorheers het. Die “vroulike aanvulling tot Dertig”-gedagte wat deesdae met sterk vrouedigters soos Krog, en voor haar, Sheila Cussons en Wilma Stockenström verkeerd bewys word, al het Opperman duidelik respekvol na Eybers gekyk. In daardie stadium was Eybers nog nie die kragtige figuur wat sy wel later geword het nie.

Ekfrastiese digkuns interesseer my geweldig. Kyk hoeveel gedigte bestaan daar oor Marilyn Monroe in Afrikaans en elke gedig vertel uiteindelik iets van die digter ook …

Jackie Onassis fassineer my – die Amerikaanse digkuns en geskiedenis ook. Ek was nou onlangs in Argentinië en waaragtig in Mendoza is daar langs my hotel ‘n bar met die naam Jackie O.

 

Die gedig as ars poetica vind veral neerslag in jou oeuvre en die leser kan uitsien na ’n hele paar ars poëtikas in dié bundel. Die program-gedig, “Ek skryf omdat ek moerig is” se sub-titel is “’n aweregse ars poëtika” wat ’n gesprek met die bekende versreël van Krog – “ek skryf omdat ek woedend is” – aktiveer (13):

 

’n  Vrouedigter bely

op ’n keer dat woede

haar gedigte begelei

 

Hoekom is die ars poetica so ’n belangrike fokuspunt in jou oeuvre? En is skryf vir jou as digter ’n wyse om van persoonlike woede ontslae te raak en te verwerk en indien wel, wat is die proses wat jy volg? Distansieer jy jouself van daardie aanvanklike woede wat ’n gedig tot gevolg gehad het dermate dit onherkenbaar is in die finale weergawe? Skryf jy dit dus uit jou sisteem uit of nie?

Die ars poetica is ‘n belangrike fokuspunt en waarskynlik is elke gedig tog maar ‘n (soort) ars poetica? Ek skryf waarskynlik om wel woede te besweer.

 

Die gedig “Emily D op Facebook” (119) inkorporeer elemente en bepeins moontlikhede (wat terugspeel op die motto van die gedig wat uit Dickinson geneem is: “I dwell in possibility”) en vestig dus die leser se aandag op ’n vars manier: 

Hoeveel volgelinge

sou jy op Facebook trek?

Oor hoop as die ding met vere

wat woeker in die siel?

Oor jou liedere van eensaamheid

met spaars, afgetelde sillabes?

Sou jy elke dag aanmeld

en ’n boodskap laat

oor nog ’n dag sonder voorval

of gebeurlikheid?

Dalk iets vertel van die singende

bome, die klaende huidjie-hu

of die blomme in jou tuin?

Sou jy iemand unfriend

of afweer wat niks begryp

van die hartslag van ’n aandagstreep?

Hoe sou dit tog alles klop?

Die intens private digter

uitgelewer aan sengende,

sinnelose sinergie?

 

Hoe het hierdie gedig tot stand gekom en hoe het jy besin oor Dickinson en Facebook? Reis is ’n deurlopende motief in jou oeuvre en Matriks is geen uitsondering nie. Hoe versoen jy jou liefde vir reis met die voorliefde vir Dickinson se oeuvre wat oor ’n binnenshuise, statiese lewe in Amherst (“oor nog ’n dag sonder voorval/of gebeurlikheid?”) berig?

Ek het haar huis in Amherst besoek – net om te ontdek die meeste briewe en aandenkings staan in ‘n Harvard-biblioteek waar ek navorsing gedoen het aan my tweede PhD. Daar is mos ‘n lieflike tekengrap waar die reis van ED uitgewerk word: Dag 1: stoep, Dag 2, tweede kamer, ensomeer. Teen die einde van die week het sy reg rondom die huis gereis.

Ek probeer haar stilte (en eensaamheid) plaas teenoor my ervaring van eensaamheid. Ek leef oënskynlik meer na buite, is immer aan die beweeg, op reis, maar alle digters ervaar dieselfde gevoel van isolasie, van jy word nie gehoor nie … anders as prosaskrywers met hul groot oplae … applous … lesers … 80 000 eksemplare. Ons skryf vir die eenhand-applous.

Terloops, ek is nie op Facebook nie. Ek besweer alles deur skryf, lees, reis – en ek het ‘n blog Woorde wat weeg (blogspot) waar ek my resensies en kritieke berg. Dit is ‘n argief en ‘n belangrike een, omdat ‘n mens dikwels ontdek hoe resensies uit die internet “verdwyn”.

“Projective verse” (85) se motto is afkomstig uit reëls van die Amerikaanse digter, Charles Olson: “the skin I wear/feels too tight”. Die titel verwys na Olsen se welbekende essay, “Projective verse” (1950) wat die leser laat kennis maak met die onkonvensionele “oop veld” (“open field”) van ’n gedig se plasing op die bladsy. Tipografies is jou gedig in drie kolomme verdeel wat die orde en konvensionele bladsyveld van ’n tipiese gedig ontwrig. Sou die leser dit as ’n matriks kon beskou en het jy aan die konsep van ’n matriks gedink toe jy dié gedig geskep het? Dink jy in “Doubling the point” (156-159) is daar ’n voortgesette “ontwrigting” van konvensie vir die leser? Vertel meer oor hoe jy besluit het om al die verklarings van “matrix” uit die Merriam Webster aan te wend in dié gedig?

Ek het nie aan die konsep van die matriks bewustelik gedink nie, maar wanneer ek dig word sekere temas en motiewe altyd verbind aan die digbundeltitel waaraan ek werk. Met “doubling the point” het ek eweneens tot sekere insigte gekom oor my liefdesverhoudings oor soveel jare. Die verklarings uit die aanlyn-woordeboek was gewoon om die spel tussen emosie en intellek te balanseer. In hierdie bundel is daar veral ‘n volgehoue gesprek met Eybers en haar simmetrie. Sy is so ‘n befokte digter. De Lange spreek ek aan, omdat hy as vriend ‘n eerste, speurende en streng leser is.

In Afdeling tien, “Vertalings en verdraaiings”, is daar onder andere twee gedigte genaamd, “Anna Akhmatova I” en “Anna Akhmatova II”. Vertel ons meer oor jou belangstelling in Akhmatova se gedigte en is hierdie twee gedigte vertalings of verdraaiings?

Dit is verdraaiings. Ek doseer kreatiewe skryfwerk en een van my briljante studente, Richard Higgs, het oor die problematiek van vertalings geskryf – asof dit ‘n moord is wat jy moet oplos. Hy is Russies magtig en deur sy werk het ek baie geleer oor die konsep van vertaling / verdraaiing. My gedigte is verdraaiings – ek ken nie die Russiese tekste nie! ‘n Somerkursus in Moskou was bepaald nie genoeg nie.

Ek leer geweldig baie van my studente – hul essays (wat deel vorm van die portefeulje) dwing my ook om verder te lees: oor stilte in die digkuns, digters as dokters, Akhmatova, Maria Tsvetejeva, ensomeer. Vertalings in Afrikaans is tans ‘n sterk debatspunt: daar is uitstekende vertalers soos Charl JF Cilliers, die Oeljatte (haha), Bernard Odendaal, De Lange en knap teoretici wat help met hierdie begeleidingsproses.

Dig is ‘n vertaalproses van die onbewuste wat alles berg, wat orals aanwesig en nêrens sigbaar is nie, dog uitkom in ‘n gedig. Soms melancholies, soms woedend. Ek dra hierdie bundel op aan ‘n voormalige terapeut en intellektueel, Joost Heystek, wat my deur soveel jare bygestaan het in hierdie alchemistiese proses.

 

Joan, watter gedig in Matriks sou jy vir Versindaba-lesers wou aanhaal wat jou besonder na aan die hart lê?

 

Maria

—The gossip in Milan was that Callas

had swallowed a tapeworm.

But of course she hadn’t.

The tapeworm

was her soul ...

Frank Bidart

Als van die woord wálg

het sy verstaan, lintwurms

verslind om te verslank glo;

dog met die wagtyd

van die liefde anders gesteld:

haar understudy Jackie O

mooier, perfekter, slanker,

beslis geen Griekse tragedie.

In die operahuis van die hartstog

het die applous verstil:

note krioel teen dusketyd

iets soos ek-het-gelewe-vir-die-kuns?

Tosca beproef deur Scarpia,

Callas verneder deur Onassis.

Nou is die lyf weg,

maar haar stem,

die lyflose taal, draal

lank na die laaste noot…


Endnote:

1.

My ouers

i

Van haar, my kromgetrekte moederlief,

erf ek my ontevrede, wrewelige, onvergenoegde aard:

Gister was ‘n beter dag.

Van hom, my forsgeboude vaderlief

kry ek my droomverlore, romantiese, onverskrokke aard.

Die een kan woorde soos blokkies pas.

Die ander het bykans die lewe in drome verpas.

En ek?

Hul erfstuk?

Die een kant van die Januskop

kyk terug na wat was;

die ander sy vooruit

na dit wat woorde kan vermag.

ii

Vroeër was dit maklik om my weg

te draai van julle, my ouers,

ewige aangesprokenes

in my gedigte en gebede.

Kyk, dit is ‘n klaagsang hierdie

eer julle vertrek na die ander oord

omdat ‘n lykdig onvanpas mag klink

wanneer stilte onherroeplik is.

Vir haar, my kromgetrekte moederlief

vir hom, my forsgeboude vaderlief

iets korter as ‘n brief

iets meer as ‘n erflating

durender as ‘n grafsteen

betroubaarder as ‘n polis

kosbaarder as ‘n familiering:

Elke vers wat uit my spruit

met toegeneentheid

aan hul twee te danke.

Haar stem die metrum van my verse

sy hand die vorm vir my verse.

iii

Hulle is die sout van die aarde

ja, die sout van die aarde

omdat hul trane

hul trane

soos sout

soos sout

oor hul wange stroom

hulle is die sout van die aarde

ja, die sout van die aarde

omdat hul trane

hul trane

soos sout

soos sout oor hul wange stroom

Hulle is die sout van die aarde

my ouers

wat in stilte weeklaag

oor hul kinders se trane

wat soos sout

wat soos sout

oor hul wange stroom

iv

Moeder:

vanaand onthou ek ‘n brief aan jou

in my krabbelskrif

uit vele verre lande:

Dis winter in New Haven

saans hoor ek die sneeu

geruisloos soos vere neerdaal

van ‘n vertrekkende swael.

O Moeder

ek dra swaar aan hierdie las

van woorde voel neerdaal

soos die vere van ‘n vertrekkende swael.

O Moeder

O Moeder

ek dra swaar aan hierdie las

van woorde wat soos swart swaels

op my neerdaal.

v

Ek onthou vanaand meteens

hoe jy uitroep:

“Alles is teen my!”

en ongeveer drie dekades later

weet ek

Dad

hoe dit moes meet

kos om ons almal in jou

30 dae Ou Mutual kalender

in te pas.

Nog ‘n polis

nog ‘n laatskof

nog ‘n ekstra werk.

En ek?

Ek hou my besig met ‘n polis

met bykans geen beleggings-

of uitkeerwaarde.

Dit laat sig nie op ‘n kalender inpas,

dit verkies eweneens die onvoorspelbare uur

en ja, dit beskerm jou gewis nie teen ontnugtering

of soortgelyke slopings

soos nog ‘n gedig wat teen jou draai.

vi

Toe ek jonger was

ja toe ek jonger was

was julle net ‘n las.

Noudat ek ouer is

ja noudat ek ouer is

keer ek telkens terug

na hulle: my ouerwordende

altyd begrypende ouers.

Is daar iets in dié woordspel

onbedoeld opgesluit?

Dat ouer word gelyk is

aan borg staan vir ouers:

al is dit net in ‘n vers?

vii

Dad

ek dra jou en Ma

my ou moederlief

soos ‘n ent op my lyf.

Gisternag droom ek van jou:

saam met ou vriende

speel jy in ‘n klein orkessie

by ‘n eenvoudige dorpstroue

met vuil, opgestapelde borde.

Jy bied my ‘n glas wyn aan …

Hoe tasbaar, werklik voel

die droom wat volgens Cirlot

‘n naderende dood kan dui.

Ja, my vader bied my die glas

waaruit ek die lewe met oorgawe skink.

viii

My moeder verkies

dat ek oor haar in my verse swyg.

Tog, my eerste soekende, stamelende vers

geskryf in die verre VSA

in wintersneeu aan haar gerig.

Vroeër deur ander vrouedigters

met haar gepraat in briewe.

Poësie eers van buite geleer;

nou van binne geskandeer.

My moeder verkies

dat ek oor haar in my verse swyg.

Tog spruit alle woorde

uit die ingehoue, begrensde moederbuik.

Moeder, vergeef my vir hierdie binne-

dringing, vir hierdie skending

van jou privaatheid,

vir hierdie ongeknipte naelstring.

ix

Hier sit hulle, my ouers

die twee jong verloofdes

op ‘n rusbank in ‘n Joodse ateljee.

Ek sien hoe jy met jou klein kadotjie

glimlag en Pa se hand vashou.

Dekades later weet ek:

ons kies gewis ons ouers

voorgeboortelik en astraal.

Hier sit hulle, my ouers,

die twee ou vernieldes

in ‘n gedig van hul naasoudste kind.

Ek sien hulle na ‘n 50 jaar-herdenking:

weer eens praat ek uit die vreemde.

Hier bly hulle, my ouers

die twee ou geliefdes:

wyl hulle ‘n lewe saam herdenk

plaas ek hulle netjies reg

– asof in ‘n fotosessie –

vir ‘n finale bestekopname,

vir ‘n onbeskadigbare weergawe,

in ‘n erkentlike, dankbare cadeau.

Uit: Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Onderhoud met Joan Hambidge (Matriks)”

  1. Heilna du Plooy :

    Baie geluk met die bundel, Joan. Dis ‘n mooi onderhoud, Gisela, en ek sien uit na die bundel. Dis so ‘n belangrike gedagte Joan, dat die skrywer eintlik aan een groot werk skryf, ‘n lewe lank kou en herkou en uitsoek en uitsif en weer teruggaan na die oorblyfsels en die uitsiftings. Umberto Eco het gesê in die naskrif by Die naam van die roos dat die skrywer eintlik moet sterf as hy sy teks voltooi het. Dan kan die leser alleen verder daarmee werk. Maar ek begin dink dis andersom: eers as die skrywer sterf, weet ons hoe lyk die totale teks. Daar lê nog baie skryf en baie jare se skryf voor vir jou en hopelik vir ons almal.