Johann Lodewyk Marais. Eugène N. Marais se dood

Eugène N. Marais se dood

Johann Lodewyk Marais

“[T]here is no escape from the dilemma of being a man.”

(Joseph Ratzinger (1970:20))

I

In Eugène N. Marais (1871–1936) se biografie beklee Pelindaba in die vallei tussen die Witwaters- en Skurweberg dertig kilometer wes van Pretoria ’n prominente plek. Om die laaste tydperk en gebeure in sy lewe in perspektief te plaas, is dit nodig om kortliks iets oor die enkele jare te sê wat dit voorafgegaan het. Gedurende hierdie jare het die joernalis, geskiedskrywer, kritikus en digter Gustav S. Preller (1875–1943) en sy vrou Hannie (gebore Pretorius) ’n groot rol in Marais se lewe gespeel. Dit is ook deur hulle toedoen dat hy sy laaste ure juis op Pelindaba deurgebring het. Maar kom ons neem die verhaal terug na ’n dekade of twee vantevore.

In Januarie 1916 het Marais die landelike lewe in die Waterberg ná ’n verblyf van nege jaar vir goed verlaat. Hy vestig hom vir ’n rukkie as advokaat in Pretoria en daarna as prokureur op Erasmus (tans Bronkhorstspruit). Van 1922 tot 1927 werk hy as prokureur op Heidelberg (in die destydse Transvaal). Hier het Marais in die geneesheer A.G. Visser ’n geesgenoot gevind (kyk Langenhoven, 1950:16). Op Visser se aanbeveling woon hy ’n tyd lank op die Meyers se plaas Steenkampskraal om sy morfienverslawing onder beheer te probeer kry. Aan die begin van 1927 keer ’n desperate Marais terug na Pretoria, waar die Prellers vir hom ’n stoepkamer by hulle huis in Blackwoodstraat 176, naby die Uniegebou, inrig. (Hy sou later ook ’n tyd lank by mevrou Jessie Cross en haar gesin loseer.) In hierdie jare (veral 1933) is Marais buitengewoon produktief en verskyn die meeste van sy bekende verhale en artikels in nuusblaaie soos Ons/Die Vaderland.

Dit was deur die Prellers se toedoen dat Marais nou met Pelindaba kennis maak. Pelindaba was aanvanklik deel van die familieplaas Welgegund waarop M.W. (Swart Martiens) Pretorius en sy vrou Deborah, die dogter van Piet Retief, hulle kort ná 1842 gaan vestig het. Swart Martiens is in die 1860’s dood. Daarna het sy seun kommandant Henning (Petrus Nicolaas) Pretorius, die stigter van die ZAR se Staatsartillerie en Hannie se vader, op die plaas geboer (kyk Du Plessis, 1988:322). Die bou van die Hartbeespoortdam tussen 1921 en 1924, waar die Krokodil- en Magaliesrivier inmekaarloop en deur die Magaliesberg vloei, het meegebring dat ’n deel van Welgegund onder water sou wees. Op Hannie se aandrang het Preller van haar oom Tinie Pretorius, destyds die eienaar van die plaas, ’n deel van haar geboortegrond gekoop wat hoofsaaklik suid van die Witwatersberg geleë was. Preller het onmiddellik met deeltydse boerdery op die plaas begin en naweke saam met Hannie en hulle drie seuns daar deurgebring. Preller se swear, Johannes Lodewicus (Lood) Pretorius, het ook op die plaas gewoon, naamlik in die familieplaashuis.

Die ou familiebegraafplaas was, soos die gewoonte onder die boere was, op laagliggende (sagte) grond naby die plaashuis. Talle mense het egter, toe die Hartbeespoortdam in aanbou was, die hoogwatervlak van die dam te hoog geskat en gevrees dat huise, landerye en begraafplase sou oorstroom. Dit was ook die geval met Hannie Preller, wat haar man aangesê het om ’n nuwe begraafplaas hoog op ’n plato te maak en die familie daar te herbegrawe. In die nuwe plaaskerkhof hoog op ’n kliprantjie het Hannie onder andere haar grootmoeder, Deborah Retief, laat herbegrawe (kyk Barnard, 1970: 25– 2; Du Plessis, 1988: 322–324).

Met die verkryging van grond om die dam te bou het die regering in die geval van Welgegund te veel grond gekoop en toe oorweeg om ’n dorp op die oorblywende deel te stig. Die boere was in die algemeen daarteen gekant en ’n jare lange debat het daaroor gevolg. Uiteindelik het die regering van die plan afgesien. ’n Plaaswerker van die Prellers het in reaksie hierop verlig uitgeroep: “Pelile indaba!” – Uitgepraat, einde van die pratery! (Barnard, 1970:25; kyk egter ook Raper, 1987:261). Die Prellers het toe die plaas se naam nieamptelik na Pelindaba verander.

Marais, wat in hierdie jare hoofsaaklik by die Prellers in Blackwoodstraat (waar die Duitse ambassadegebou tans is) tuisgegaan het, het uitstappies saam met die Prellers na Pelindaba baie geniet. In die 1930’s gaan hy heel dikwels na die plaas en bly sommer ’n hele paar dae oor. Die natuur was vir hom stimulerend en volgens oorlewering het hy in die somer graag onder die sterrehemel geslaap (Rousseau, 1984: 80). Andersins het Marais in die rondawelhuis (bestaande uit drie verbinde rondawels) gewoon wat Preller in 1924 in die “Transvaalse Styl” as naweekhuis vir hom en sy gesin opgerig het (Holm, 2005a:33). Volgens Preller (in Du Toit, 1940:XVI) het Marais in 1935 ’n gesondheidskuur op die plaas ondergaan en “lange tyd alleen in dieselfde rondawels gewoon, met sy chauffeur”. Die poging om van sy verslawing te oorkom was egter nie suksesvol nie en Marais het teruggestap Pretoria toe (Rousseau, 1984:489–490)!

Van die mense in die omgewing met wie Marais vriendskapsbande smee, is majoor Lood Pretorius, een van Hannie se broers. Hy het alleen in die familieplaashuis naby die sameloop van die Krokodilrivier en die Klipspruit gewoon, aangesien sy vrou en kinders (onder andere Dotman Pretorius, waarvan ons later meer hoor) in Pretoria was (Rousseau, 1984:480; Pretorius, 1989). Lood Pretorius was ’n lid van die ZAR se Staatsartillerie gewees. Hy was ’n uitstekende skut en volgens oorlewering verwys die uitdrukking “skote Petoors” na hom. Nog iemand wat Marais hier goed leer ken het, was meneer C.D. (Chris) Roos, een van die twee onderwysers verbonde aan die tweemanskooltjie op Broederstroom (Rousseau, 1984:481). Hulle was op verskillende maniere getuienis van die wel en wee van Marais se laaste dae.

Aan die begin van 1936 het Gustrav Preller as redakteur van Die Vaderland uitgetree. Die Prellers het besluit om hulle huis in Blackwoodstraat te verhuur en permanent op Pelindaba te gaan woon, waar Gustav as geskiedkundige navorser van die Departement van Binnelandse Sake sy geskiedskrywing en insameling van historiese bronne vir die Staatsargief kon voortsit (kyk Du Plessis, 1988:439 en 442). Lood Pretorius en sy seun was in daardie stadium reeds besig om ’n nuwe huis, wat Gustav en Hannie ontwerp het, ’n entjie wes van die rondawelhuis te bou. Aangesien die Prellers die huis op 19 Maart wou betrek, is Lood aangepor om vinniger te werk. Oor die bouwerk en die styl van die huis, wat hulle Sterrewag genoem het, skryf die argitek Albrecht Holm (2005a:31) soos volg:

Die 60 cm dik mure is tot op vensterbankhoogte van plaaslike rooibruin verweerde ‘ysterklip’ en daarbo van gesaagde lei in lae gebou. Die aankarwei en saag van die klip was ’n geweldige werk en het amper ’n twis tussen die swaers laat ontstaan. Die dakke is van plaaslike dekgras, die vloere van lei en selfs die bad is van lei gebou. Ook die groot eettafel op die stoep is van lei. Hier is dus weer hoofsaaklik van plaaslike materiale gebruik gemaak: ’n kenmerk van die Transvaalse Styl.

Die huis is blykbaar so in die ontstaan beplan en verander. Die agterste gedeelte wat uit ’n groepering van rondawels om ’n lapa met ’n lae muur en tuinhekkie na suid bestaan, is eerste gebou en sou feitlik soos ’n Tswanakraal daar uitgesien het. Daarna is die voorste gedeelte van die huis aangebou. Hierdie deel is reghoekig en versmelt nie eintlik met die rondawels nie, behalwe dat die dak groot sagte wolwe-ente het. Dit bevat ’n grondverdieping en ’n solderkamer met ’n uitsigbalkon waar die teleskoop (sterrewag) opgestel kon word. Ook was daar ’n kelder. Die huis is noord gerig na die uitsig op Hartbeespoortdam. Die agterste lapa asook die klipgemesselde stoepe en groot bome aan die noordekant dui weer daarop dat die huis buite netsowel as binne bewoon is.

Preller se biograaf, P.J. du Plessis, beskryf in Die lewe en werk van Gustav Preller (1875–1943) (1988:441) die ligging van hierdie huis soos volg:

Die ligging van die woonhuis is so beplan dat dit stelende uitsigte oor die omringende vlaktes, bergreekse en rante bied. Aan die noordekant, waar die Krokodilrivier die Hartbeespoortdam voed, domineer die hoë rondings van die Magaliesberg die landskap. Die huis harmonieer met die landskap waar dit toegerank tussen die doringbome en Van Wykshout nestel. […] Slegs inheemse bome en plante word geduld en beskerm. Hier sal hy [Gustav Preller – JLM] die rus en bekoring wat die Bosveld bied, in ’n mate weer ervaar.

Marais het op die laaste Saterdag van Maart 1936 teësinnig die Prellers uit die stad na Pelindaba gevolg (kyk Preller in Du Toit, 1940:XVI; Rousseau, 1984:504–511). Hy het sy intrek in die rondawelhuis geneem, sowat sewehonderd meter vanaf die Prellers se nuwe huis. Marais sou verkies het om in Pretoria te bly woon, waar hy elke dag sy morfieninspuiting moes kry, maar die Prellers se verhuising het hom geen ander keuse gelaat as om saam te gaan nie. Volgens Preller (in Du Toit, 1940:XVI) sou hy hom bowendien op die plaas “kon gee aan beter werk as die koerante-artikels, en aan sy roman” waaraan hy kort vantevore met groot entoesiasme begin werk het. Die voëlbak wat Marais voor die rondawelhuis uit ’n dolomietklip en sement gebou het (kyk Preller in Du Toit, 1940:XVIII) en die krokodilvelmatjies wat hy gesny en op die drumpels vasgespyker het (kyk Barnard, 1970:26), het ook daarvan getuig dat hy op Pelindaba tuis kon wees. Kort nadat hy per motor na die plaas geneem is en deur die Prellers ontvang is en die aand by hulle in die nuwe huis geëet het, het hy egter ’n vergeefse poging aangewend om terug te gaan Pretoria toe. Met een van die plaaswerkers het hy laat die aand ’n brief aan Chris Roos met die volgende boodskap gestuur:

Waarde Heer Roos.

Ek het skielik ernstig siek geword. Kan u my tog nie in neem nie. Ek moet dadelik medisyne kry. Ek sal u vir die twee ritte vergoed. Kom tog a.u.b. gou. U vriend Eugène N. Marais

Roos, wat Marais kort vantevore ingeneem het dorp toe, het geweier. In Januarie 1980 het die agt en sewentigjarige Roos (in Mulder, 1980:1) sy besluit soos volg verdedig:

Ek skryf hom terug dat ek hom nie kan help nie. Ek was destyds een van die weinige persone met ’n motor. Dit het gereën en die swak grondpaaie was sulke tye altyd onbegaanbaar.

Oor Roos se reaksie op hierdie versoek bespiegel Rousseau (1984:513) soos volg: “Hierdie Saterdagaand is donker en nat. Buitendien weet Chris Roos dat sowel Lood Pretorius as Gustav Preller op die plaas is. As Eugène hóm nader, beteken dit dat hulle geweier het, en dan mag hy niks [morfien – JLM] kry nie.” Marais sou ook met dieselfde boodskapper ’n versoek om ’n bottel brandewyn stuur, wat ook geweier is. Preller (in Du Toit, 1940:XVI) (en Hannie, aldus Rousseau, 1984:513) het hom die volgende oggend terwyl dit nog motreën in die rondawelhuis gaan opsoek toe hy nie vir ontbyt opdaag nie. Marais het rustig “onder die breë gras waranda op ’n bed uitgestrek gelê, want, by gebrek aan beweging kon die klammigheid van die weer effens kouerig wees. Die gebruikelike versameling koerante en boeke waarin hy gelees het, het op en om ’n stoel voor die bed gelê.”

Die aanhoudende reën was vir Marais hinderlik. Deur sy venster kon hy sien hoe “’n klompie melkbeeste kromrug en kroeserig, met die stêrte teen die sagvallende reën” staan en herkou, wat hom, volgens Preller (in Du Toit, 1940:XVII) ongeduldig laat opmerk het: ”Selfs die arme diere het daar al genoeg van gehad!” Daar is afgespreek dat as dit sou aanhou reën, ’n motor gestuur sou word om hom na die Prellers se woning te haal; indien dit sou opklaar, sou hy op sy eie soontoe gaan. Kort ná Preller (en sy vrou) se besoek, moet Marais deur die ruie, nat gras in die rigting van die rivier na die huis van die buurman, Lood Pretorius, gestap het.

Kolonel Bob Preller, die Prellers se oudste seun en ’n befaamde vlieënier, het jare later self soos volg aan Chris Barnard (1970:27) vertel:

Oom Lood het ons dikwels vertel wat daardie nag gebeur het. […] Hy het toe nog in die ou Pretorius-opstal in die doringlaagte gewoon. Dit het dié nag verskriklik gereën.

Iemand het aan die deur geklop en toe hy oopmaak, het oom Eugène daar gestaan, deurdrenk van die reën. Hy het gesê daar is ’n slang bo in die rondawels en hy kom net gou die geweer leen. Daar was ’n koeëlgeweer en ’n haelgeweer en oom Eugène het die koeëlgeweer gevat. Oom Lood het gesê hy kan mos g’n ’n slang net ’n koeëlgeweer skiet nie – hy moet die haelgeweer vat. Oom Eugène wou nie, hy het op die koeëlgeweer aangedring, maar later is hy tog op oom Lood se aandrang met die haelgeweer daar weg. Die volgende oggend het klonkies [sic – JLM] Eugène Marais se lyk omtrent honderd tree van oom Lood se agterdeur af onder ’n boom gekry lê, met die haelgeweer by hom. Hy het homself geskiet.

 Oor die leen van die geweer en die gebeure daarna het Roos (in Mulder, 1980:1) die volgende inligting verstrek:

My haelgeweer was juis by Pretorius wat dit ook geleen het om ’n slang te skiet. Slange was daardie dae lasting en volop. Niks vermoedend, oorhandig Pretorius toe die geweer en ’n paar patrone aan hom. Ongeveer 300 meter van Pretorius se woning af, het Marais die loop van die dubbelloop haelgeweer teen sy skouer, aan die regterkant – nee, aan die hartkant, dws die linkerkant, vasgedruk en ’n skoot afgetrek. Die skoot tref nie die hart nie maar net die skouer. Dis toe dat hy die punt van die loop in sy mond plaas en met die tweede skoot sy lewe neem. Ek het die skoot gehoor want dit was maar ongeveer 1 km van my huis af maar niks vermoed nie. Eers die volgende dag het ek die plek besoek waar die lyk gekry is. Ek het op die bebloede plek ’n klipstaprel opgerig […].

Gustav Preller (in Du Toit, 1940:XVII-XVIII) skryf dat hy “die verpletterende tyding” van Marais se dood eers die volgende aand in Johannesburg oor die radio gehoor het waar hy met voorbereidings vir die Rykstentoonstelling besig was. Die vorige dag tydens hulle gesprek het hy nie gemerk dat Marais “buitengewoon neerslagtig” was nie maar wel onthou dat hy “een van die seuns wat by hom op besoek was, ’n haëlgeweer laat vra het, ‘om ’n slang te skiet wat in die Engelse-doring voor die rondaweldeur, die voëltjies vang’”. Die Prellers het egter nie patrone vir die geweer gehad nie.

In landdros L. Oakes se geregtelike ondersoek na Marais se dood, waaroor in Die Volkstem (11.4.1936, ook in Nienaber (samest.), 1951:120) berig is, is getuig ’n swart vrou het verklaar dat sy “die lyk langs die pad sien lê het” en Lood Pretorius daarvan vertel het. Pretorius het vertel dat Marais hom omstreeks drie-uur die middag besoek het. Marais het te kenne gegee dat hy “graag na die stad wou gaan. Die oorledene het hom om ’n haelgeweer gevra daar hy graag wou gaan skiet. Getuie het hom ’n entjie op die pad vergesel. “Daar is getuig dat Marais op sy rug gelê het, met die geweer by hom, toe hy gevind is. Die landdros se bevinding was soos volg:

Die dood is veroorsaak deur ’n geweerskoot wat die hoof verbrysel het. Die skoot is self toegedien.

Jare later het G.R. (Rein) Mulder (1981b:1), ’n afgetrede skoolhoof wat heelwat navorsing oor die plaaslike geskiedenis gedoen het, naby Brits ’n onderhoud gevoer met die vyf en tagtigjarige Maria Mofamere wat die oggend van 30 Maart 1936 op Marais se lyk afgekom het. Sy het vertel dat sy in die Prellers se kombuis gewerk, “kos gemaak het en baie keer aan baas Marais voorgesit het en ook vir hom tee aangedra het na die kamer in die rondawel”. Die vorige dag het Marais verdwyn en sy het die middag tot die aand na hom help soek.

Die volgende oggend het Mofamere die tyding gekry dat haar vader, wat by Lood Pretorius gewerk het, oorlede is. Mulder (1981b:1) vervolg:

Toe sy die tyding van die dood ontvang is sy deur die veld reguit na Lood Pretorius se woning. Onwetend het sy dus op dieselfde koers gestap as wat Marais die vorige dag gestap het om die haelgeweer te leen. Maria beweer […] dat sy geweldig geskrik het toe sy die Witman in die veld sien lê op sy rug in ’n plas bloed met die geweer langs hom. Met ’n geweldige uitroep van Jô-Jôôô … het sy die rieme neergelê na Pretorius se huis. Daar aangekom, al huilende en verskriklik ontsteld, moes Pretorius lank sukkel om haar tot bedaring te bring. Pretorius was onder die indruk dat sy ontsteld was oor haar Pa se dood, maar toe sy bedaar het, moes hy verneem van die lyk in die veld. Hy het nou self geskrik, vir Maria bietjie soet swart koffie gegee en eers daarna is sy na die Strooihuis waar haar Pa se lyk was. Pretorius is na die lyk [van Marais – JLM] toe en het die Polisie verwittig.

Marais, “die man wat gedurende sy lewe veel van die tragiese ervaar het” (Du Toit, 1940:22), se selfmoord is grootliks aan sy morfienverslawing toegeskryf. Oor dié selfmoord bied die skrywer en kliniese sielkundige Alexis Retief (1989:6–7) die volgende perspektief:

Selfmoord is altyd ’n tragedie. As ’n persoon homself boonop afsonder in die veld en hom onder ’n boom met ’n haelgeweer doodskiet, op ’n reënerige dag, is daar iets verlate en jammerlik sowel as iets grusaams daarin. Wat hierdie elemente by Marais intensifiseer [sic – JLM], is dat dit ’n spieël van sy laaste lewensjare was, en ook ’n soort logiese gevolgtrekking van sy verval in hierdie jare.

Marais is op ’n reënerige dag as armlastige deur ’n Skotse predikant in ’n eenvoudige houtkis (kyk Rousseau, 1977:19) langs sy jonggestorwe vrou Aletta (Lettie) (gebore Beyers), in die Pretoria-begraafplaas in Kerkstraat begrawe. Hulle grafte lê langs die Heldeakker, en Marais se graf het ’n klip uit die Waterberg as kopstuk, waarop die woorde “DIGTER, SKRYWER, NATUURKENNER” gegraveer. Enkele meter van sy graf lê dié van ander figure wat ’n prominente rol in die Afrikaanse politieke en kulturele lewe gespeel het: die digter Jan F.E. Celliers; die martelaar van die Rebellie van 1914, Jopie Fourie; en die politici doktor E.G. Jansen, advokaat J.G. Strijdom en doktor H.F. Verwoerd.

II

Oor die jare heen is ek deur mense gewaarsku dat Marais ’n “duister figuur” is en versigtig moet wees vir die invloed wat hy op my kan hê. As ’n mens met so ’n persoon besig is, kan dit allerlei onheile tot gevolg hê, is meermale geredeneer.

Ek het gelukkig oor ’n tydperk van meer as vyf en twintig jaar geen direkte inmenging deur Marais ervaar nie. Dit kan wees dat Marais my nie ernstig opneem het nie. Volgens Leon Rousseau (2005) sou dit wees omdat ek “oor Marais se wetenskaplike prosa geskryf het en nie oor sy lewe nie”. Met my rasionele en wetenskaplike ingesteldheid en oortuiging dat ’n mens nie duister magte ’n houvas op jou lewe moet gee nie, het ek in elk geval nie probeer om spoke op te jaag nie.

Daar is wel vreemde ervarings waarvan ek kan vertel. Terwyl ek met voorbereiding besig was vir die Marais & Preller-simposium wat op 25 en 26 Mei 1989 deur die RGN aangebied is, het ek met persone kennis gemaak wat my ’n een en ander oor Marais vertel het. Een van hulle was meneer Dotman Pretorius, Hannie Preller se broerskind. Dotman was ’n vooraanstaande Pretoriase fotograaf wat sy ateljee op Kerkplein gehad en heelwat negatiewe van (onder andere) Gustav Preller en sy gesinslede gehad het. Vir die simposium se uitstalling het ons van die negatiewe foto’s laat maak.

 Dotman het my vertel dat hy baie ongelukkig is omdat die monumentjie – wat die destydse Raad op Atoomkrag in 1981 opgerig het, op die plek nie ver van sy vader se huis af nie waar Marais selfmoord sou gepleeg het – op die verkeerde plek staan. Hy het immers die naweek nadat Marais selfmoord gepleeg het die toneel besoek en gesien waar dit gebeur het. Die besoek dié naweek was weliswaar die eerste kans om daar uit te kom, aangesien hy deur die week in Pretoria op skool was, waar sy moeder ook gebly het. Volgens Dotman was daar dié naweek nog heelwat bloed en stukke van Marais se brein en vergruisde skedel op die toneel.

 Op 18 Februarie 1989, ’n reënerige Saterdagoggend, het Dotman my, Renée Marais en Albrecht Holm na Pelindaba geneem om die presies plek te gaan soek waar Marais selfmoord gepleeg het. Eers het ons op die terrein van die Raad op Atoomkrag, net suid van Lood Pretorius se huis, gaan kyk na die klipmonumentjie op die plek waar Marais selfmoord sou gepleeg het. Daarop verskyn die volgende bewoording op ’n gepoleerde granietplaat wat in die monumentjie vasgemessel is:

Ter nagedagtenis van

EUGÉNE N. MARAIS

WAT OP 29 MAART 1936

OP 11HOO UUR

OP HIERDIE PLEK GESTERF HET

______

OP VERSOEK VAN DIE

VERENIGING VAN AFRIKAANSE

SKRYWERS EN LESERS VIR

KULTUURBEVORDERING

DEUR DIE

RAAD OP ATOOMKRAG

OPGERIG – 6 NOVEMBER 1981

Dotman het tydens die besoek ’n plek uitgewys wat veel nader is aan Lood Pretorius se huis, waar Marais die geweer geleen het, en wat sowat honderd meter is van waar die huidige monumentjie, wat op inisiatief van Rein Mulder deur die Raad op Atoomkrag opgerig is (kyk Mulder, 1981a:1). Dié plek is in 1981 deur Mulder uitgewys op die plek waar Roos ná die selfmoord klippe sou gestapel het om die bloed te bedek (kyk Roos in Mulder, 1980:2). Tydens ons besoek die Saterdag en lank daarna het ’n geweersmit, meneer Lars Melin, in Lood Pretorius se gerestoureerde huis gewoon! Dotman Pretorius, wat ook ’n ywerige amateurargeolooog en versamelaar was, was van plan om nog met sy siwwe stukkies van Marais se skedel te probeer kry sodat die nageslag presies kon weet waar dit alles gebeur het. Ek glo nie hy het dit ooit gedoen nie. Ek kan ook nie sê dat ek besonder geïnteresseer is in die uitslag van so ’n ondersoek nie!

Hoewel ek dit nie ook so ervaar het nie, was dit vir Albrecht Holm (2005b) asof Dotman Pretorius op daardie Saterdagoggend op ’n indirekte manier iets anders vir ons te kenne wou gee: Marais het hom so naby sy ouerhuis geskiet dat Lood Pretorius, sy vader, albei die geweerskote sou gehoor het. Tog het hy besluit om nie te gaan ondersoek instel nie. (Vroeër in die artikel is byvoorbeeld aangehaal dat Roos die skoot gehoor het, hoewel dit ongeveer een kilometer van sy huis af was. Uit die verslag van Mulder se gesprek met Mofamere blyk dit wel dat Pretorius “self geskrik” het toe hy by haar van die lyk in die veld gehoor het.)

Tydens ons besoek daardie Saterdagoggend het ons ook ’n draai gaan maak by Roos se Oord, een van die bekendste visvangplekke langs die Krokodilrivier voor dit in die Hartbeespoortdam vloei. ’n Entjie verder af met die grondpad het die ruïne van die huis gestaan waar meneer Chris Roos, die onderwyser, gewoon het, aan wie Marais kort voor sy dood sy laaste brief gestuur het. Die huidige eienaar, die destydse onderwyser se kleinseun, het ’n groot belangstelling in die Marais-geskiedenis gehad en het ons ’n fotostaat van die brief gewys wat Marais aan sy oupa geskryf het. Hy het egter met iets anders vorendag gekom wat héél makaber was. Onder die oorhang van die huis het hy die verroeste voorste deel van ’n dubbelloophaelgeweer uitgehaal. Aan die bokant van die geweer was duidelike kapmerke van ’n hamer. Volgens Roos junior het hy dié stuk van die geweer op sy oupa se erf gekry. Hy het min twyfel gehad dat dit die geweer is waarmee Marais selfmoord gepleeg het en waarvan sy oupa klaarblyklik ontslae probeer raak het deur dit in die grond te kap. Roos junior se aanname het heel aanneemlik geklink. (Volgens Mulder (1980:2) wou Roos egter ná die sefmoord nie meer die haelgeweer hê wat hy vir Pretorius geleen het nie en het dit “kort hierna vir ’n paar skape verruil aan iemand anders”.)

Enkele jare gelede het ek ’n boeiende gesprek met die dramaturg en Hertzogpryswenner Reza de Wet gehad (De Wet, 2005). Die gesprek het op Saterdag, 12 Maart 2005 tydens die Woordfees 2005 oor die middagete in die Bergzicht Heerenhuys op Stellenbosch plaasgevind; die wiskundige, professor Dirk Laurie, en sy vrou, die digter, Trienke Laurie, was ook deel van die geselskap. Tydens die fees is Verleiding, De Wet se collage oor onder meer Marais se verblyf op Boshof, vir die eerste keer opgevoer. Ons het oor Marais se dood gepraat. Na aanleiding van die beskrywing daarvan in (uitsluitlik?) Rousseau se Die groot verlange het sy die mening uitgespreek dat sy dood nie bloot aan selfmoord gewyt kan word nie. Marais het immers die haelgeweer by Lood Pretorius gaan leen, waaroor Rousseau (1984:514) soos volg skryf:

Hierdie twee verstaan mekaar goed. Lood Pretorius – dít lyk agt-en-dertig jaar later [in 1974, tydens die publikasie van Die groot verlange – JLM] feitlik vanselfsprekend – weet dat Eugène Marais nie ’n slang wil skiet nie, in elk geval nie ’n werklike slang nie.

Rousseau (1984:514) vervolg:

Lood stap ’n ent saam met hom voor hy teruggaan huis toe. Wie kan hom kwalik neem as hy daarna, toe die eerste skoot klap, gemaak het asof hy niks hoor nie?

Op grond van hierdie inligting in Die groot verlange was Reza de Wet van mening dat Lood Pretorius dalk aandadig was aan en verantwoordelik gehou kan word vir Marais se dood. Was hy dan nie onverantwoordelik deur die geweer vir Marais se leen indien hy vermoed het dat Marais sy eie lewe wil neem en nie ’n slang wou gaan skiet soos hy beweer het nie? En was Marais se eerste skrams skoot nie dalk ’n hulproep, soos dikwels tydens selfmoordpogings nie? Waarom het Pretorius hom nie toe tot Marais gewend, hulp probeer verleen en só op Marais se hulproep geantwoord nie? Is dit dalk moontlik om nou, jare later, weer hierdie saak te open en reg en geregtigheid te laat geskied? Ek kon De Wet nie antwoord nie. Een van die probleme is dat ons nie presies weet watter bronne Rousseau alles vir ’n beskrywing soos hierdie gebruik nie en dat sy interpretasie van fasette van Marais se lewe omstrede is (kyk Marais, 2004). Ná verdere besinning oor die saak dink ek De Wet se argument is moontlik nie vergesog nie. Selfs Pretorius se aandrang dat Marais ’n (geleende!) haelgeweer gebruik (waarvan mens nie die ballistiek kan bepaal nie!) en nie ’n koeëlgeweer nie, is moontlik sinister. Maar dan moet mens Rousseau se interpretasie van Pretorius se optrede as ’n getroue weergawe van die tragiese gebeure kan aanvaar.

Bibliografie

 

Barnard, Chris. 1970. “Pelindaba – Is dié saak afgehandel?” Die Huisgenoot, 17 Julie: 24–27.

 

De Wet, Reza. 2005. Tydens ’n gesprek. Bergzicht Heerenhuys, Stellenbosch, 12 Maart.

Du Plessis, P.J. 1988. Die lewe en werk van Gustav Preller (1875–1943). Pretoria: Universiteit van Pretoria. (Ongepubliseerde D.Phil.-proefskrif.)

Du Toit, François Guillaume Marais. 1940. Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Amsterdam: N.V. Swets & Zeitlinger.

Holm, Albrecht. 2005a. HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam: Omgewings- en Erfenisvereniging van Hartbeespoortdam. CD-ROM.

Holm, Albrecht. 2005b. Tydens ’n gesprek. Glen Afric Lodge. Broederstroom. 22 April.

Langenhoven, P.H. 1950. Sanger van die Suikerbosrand: Die lewensverhaal van A.G. Visser. Johannesburg: Voortrekkerpers.

Marais, Johann Lodewyk. 2004. “Perspektiewe op Leon Rousseau se Die groot verlange (1974).” Referaat gelewer by die Gesamentlike Internasionale SAVN/ALV-kongres, aangebied deur die Noordwes-universiteit, Potchefstroom, 21–25 September.

Mulder, G.R. 1980. “Eugène Marais sterf in ons omgewing.” (Ongepubliseerde dokument van 2 pp.)

Mulder, G.R. 1981a. “Gedenksteen Eugène Marais.” (Ongepubliseerde dokument van 1 p.)

Mulder, G.R. 1981b. “Hoe die lyk van Eugène Marais ontdek is op 30 Maart 1936.” (Ongepubliseerde dokument van 1 p.)

Nienaber, P.J. (samest.). 1951. Eugène Marais: Die groot eensame. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel. (Letterkundige Biblioteek Nr. 9.)

Pretorius, Dotman. 1989. Tydens ’n gesprek. Pelindaba, 18 Februarie.

Raper, P.E. 1987. Dictionary of Southern African place names. Johannesburg: Lowry.

Ratzinger, Joseph. 1979 (1968). Introduction to Christianity. New York: The Seabury Press. (Translated by J.R. Foster.)

Retief, Alexis. 1989. Eugène N. Marais se haplografie van die dood? (Ongepubliseerde referaat gelewer by die Marais & Preller-simposium, 25–26 Mei.)

Rousseau, Leon. 1977. “Die agtergrond van Die groot verlange.” Standpunte 30(6), Desember: 5–19.

Rousseau, Leon. 1984c (1974). Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais. Derde uitgawe. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Rousseau, Leon. 2005. Bespreking van “Die groot Eugène”. Woordfees 2005. Bergzicht Heerenhuys, Stellenbosch, 12 Maart.

■ ’n Besondere woord van dank aan meneer Albrecht Holm wat nuwe inligting tot my beskikking gestel en waardevolle kommentaar op ’n vroeë weergawe van hierdie artikel gelewer het.

(c) Johann Lodewyk Marais / Maart 2015

Johann Lodewyk Marais

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Johann Lodewyk Marais. Eugène N. Marais se dood”

  1. Leon Retief :

    Baie interessant Johann, dankie.

  2. Carin Lawrie :

    Aangrypend.

  3. Baie dankie, Johann.

    Vir alle belangstellendes:

    The Construction of Eugène Marais as an Afrikaner Hero

    http://sun025.sun.ac.za/portal/page/portal/Arts/Departemente1/geskiedenis/docs/marais_hero.pdf

  4. Johann Lodewyk Marais :

    Ek het nog nooit probeer om Eugène N. Marais in my bloemlesings as ekologiese of “groen” digter voor te stel nie. Ek het prof Sandra Swart ook reeds elders op haar vergissing gewys.

  5. Joan Hambidge :

    Uitstekende artikel. Hoe kan iemand dink Marais was ‘n ekologiese digter?

  6. ib :

    … en selfs al is sy lewe op die nippertjie gered, sou hy enigsins gelukkiger gewees het? ‘n Mens kan net soveel vrae stel oor die dood van Virginia Woolf – dink net wat sy alles sou vermag het as sy toegang gehad het tot die antidepressante wat vandag beskikbaar is.

  7. Maria Snyman :

    Boeiend – verslawing en depressie bly bliksems! Die onderhandeling tussen die verstand en die chemiese gewoel in die liggaam is nie maklik reduseerbaar tot rasionele logika nie, om nie te praat van wat dit tussen mense laat gebeur nie. Dalk het Pretorius (bewustelik of onbewustelik?) gedink/gevoel genadedood is die enigete uitweg??
    Ek sien uit om van die bronne op te volg.