Joan Hambidge. Buenos Aires

Buenos Aires

Lorca

 

Stad met ‘n obelisk en Rodin se denker

(‘n replika glo maar vol verdigris),

Cervantes se Don Kiesjot en vele rotunda:

in my gedagtes keer ek vannag terug na jou.

In ‘n steeg val die skuinslig van skemer,

afskeid aan jou ónmoontlik en verdrietig.

Wat snoer jy saam? Wat vertel jý vir my?

Dat ‘n stad ‘n spieëlbeeld word van ‘n mens:

driftig, hartstogtelik, dog melancholies.

Parys van Latyns-Amerika: onnabootsbaar

in jou avenues en buurtes saamgesnoer.

Vol subte, ondergrondse gerommel

nes ‘n lang elegiese Spaanse gedig deur

Federico del Sagrado Corazón de Jesús García:

“Oppas, oppas, die lewe is nie ‘n droom;

om te vergeet, ‘n illusie; en jy wat die dood

vrees, sal dit op jou skouers dra.”

Nou beweeg ek deur sy landskap van oop oë

ook met bitter wonde wat my aanvuur:

na alles word die lewe net ‘n lament.

 

 

© Joan Hambidge/ 2015

 

Bookmark and Share

Comments are closed.