Wicus Luwes. Bedevaartslied vir ‘n Enkeling

‘n Bedevaartstog of pelgrimstog is ‘n snaakse gedoente om te beplan of om voor in te pak. Die bagasie is eintlik al klaar gepak. Dit moet miskien net afgestof word.

‘n BEDEVAARTSLIED om

kwart voor drie en hoe geyk die geheue
wat soveel sagter as ‘n gister jul gordyn eenkant toe
druk. Op dié reis blyk die reisiger

onverwags ongereed te wees: gedaantes om jul bed
met wapens gerig op die binneholtes
van jul skrik. En slaan jou oë op na die berge

om kwart voor nou, vir oulaas,
is jul hulp kasdeure wat oopgeruk word
om alle vensters vloeibaar te laat
soos ‘n gebed om kwart voor sterwenstyd

(uit Die afwesigheid van berge deur Louis Esterhuizen)

 

Die temas van treine en spoorlyne speel ‘n rol in die Ballade vir ‘n Enkeling roman wat onlangs uitgegee is en was ook temas in die Ballade vir ‘n Enkeling TV-reeks van destyds. Richard van der Westhuizen se Tussen Treine, die hele grootword aan die regte en verkeerde kant van die spoorlyn. Die spoorlyn as simbool van die buitewêreld. Die trein wat ‘n koppelvlak bied tussen afdelings in die verhaal ens.

Ek neem die spoor van die bedevaartsreis waarop Ballade vir ‘n Enkeling my neem en volg die roete wat spoorlyne deur Suid-Afrika getrap het. ‘n Paar dinge het verander sedert die Ballade TV-reeks Suid-Afrikaners se hartsnare aangeraak het. Die sylyne is toegemaak en die roetes na plase en kooperasies word as ‘n kleiner tema gesien deur die huidige stasiemeesters. Die vragmotors trap ons paaie gaar en die diewe steel die spoorstawe wat vir meer as vyf minute nie gebruik word nie.

My gedagtes skuif na die film, The Darjeeling Limited, van 2007. Dit volg nie dieselfde roete as Ballade vir ‘n Enkeling nie, maar dit het idees in my agterkop losgemaak.
Daar is ooreenkomste en kontraste tussen Darjeeling en Ballade:
Ek dink aan die ‘Vriende vir altyd’ van Ballade teenoor die Darjeeling-vraagstuk ‘If we were not brothers, would we have been friends’? Darjeeling Limited neem jou op ‘n treinreis deur Indië en die vraag kan gevra word: Is ‘n reis in ‘n plek wat oorloop van spirituele dinge noodwendig ‘n spirituele reis?  ‘n Bedevaartsreis gaan oor meer as net die bestemming en die roete of spoor wat jy volg is miskien net so belangrik as die bestemming. Ons besef dit miskien nie, maar die Ballade-film is ‘n stasie op ‘n roete wat sonder twyfel ons eie roete iewers kruis. Of miskien maak ek te veel van die reis omdat ek die TV-reeks destyds op n sekere manier ervaar het.

Daar is die universele temas, soos liefde, wat natuurlik die stoomtrein se wiele laat draai en sweet op die stoker se voorkop laat uitslaan. Dis die woorde wat verliefdes vir mekaar fluister terwyl hul op ‘n kombers lê en sterre kyk.

Lena. Lena. Lena.
Liewe, pragtige Lena.
Lena in die swempoel.
Lena en my tikmasjien
Lena wat my met bier doop.
Lena wat sulke klein happies patee neem.
Lena wat die grootste stukkie biltong met my deel.
Lena wat my op die muur verf.
LENA op die tikmasjien.
Lena met haar kaal voete.
Lena met haar los rokkie

Verder is daar ‘n gedig wat slegs in die draaiboek voorkom en wat die skrywer van Ballade, Leon van Nierop, met ons deel:

Ek reis deur die nag
Vind bloed op die maan
Dit vloei oor my siel
Ver van jou vandaan.

My meisiekind wees nou
Vir oulaas by my
Want al wat nou wink is
Die troos van onthou.

 

Die dinge wat ons stories aanmekaar bind en van mekaar af weghou kry ook gestalte in die enkeling-tema. Ek is op die oomblik in my persoonlike lewe maar te bewus van die idee dat ons net aan mekaar geleen is en nooit aan mekaar behoort nie.

Ek verdwaal in die Melkweg,
Ek ontspoor op Mars.
Maar jou vlindervlerke
Bevry my uit die nag.

Ons baljaar op Pluto,
Ons maak liefde op die maan,
Maar dis eers op die aarde
Dat my meisiekind verstaan

(uit die Ballade vir ‘n Enkeling roman)

 

Die woorde ‘moenie dink nie, doen net‘, duik regdeur die roman op en ek wonder of dit ook in die film ‘n opwagting gaan maak. My kaartjie is gekoop en ek sien uit om die reis mee te maak. Die mede-reisigers in die pelgrimstog is mos net so belangrik. Langs my in die kompartement sit Jacques Rynhard en Carina Human. Oorkant my sit Jan-Paul Otto en Lena Aucamp. Ek moet sê dat ek nie eers seker is waarheen hierdie trein my gaan neem nie.

Moenie dink nie. Doen net.
Moenie die trein na hierdie pelgrimstog verpas nie.
Oor die luidspreker in die gang sing Joshua na die Reën:

Bantam hom so en flennie die snare
ek is verlief op die kind

Party reise neem jou na interessante plekke en ervarings, maar die beste reise neem jou op n spoorlyn na binne.

‘n Groot dankie gaan aan Leon van Nierop vir die verskaffing van die gedig in die draaiboek.

Bronne:
1. Esterhuizen, L. 2014. Die afwesigheid van berge. Kaapstad: Human & Rousseau
2. Van Nierop, L. 2014. Ballade vir ‘n Enkeling. Kaapstad: Tafelberg

3. Van Nierop, L. FILM FACTORY. BALLADE VIR ‘N ENKELING.

Foto-bronne:
1. http://madrobot.co.za/ballade-vir-n-enkeling/
2. http://www.netwerk24.com/nuus/2014-06-10-leon-soek-n-jacques-vir-fliek-van-ballade

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Wicus Luwes. Bedevaartslied vir ‘n Enkeling”

  1. Leon van Nierop :

    Baie baie dankie Wicus. Laat weet wat jy van die film dink