Resensie: “Takelwerk” (Daniel Hugo)

Takelwerk deur Daniel Hugo, (Human & Rousseau, 2015)

Resensent: Marius Crous

‘n INTELLEKTUELE SPEL MET VERSVORM

1.

Omslag

In sy onderhoud met Bernard Odendaal (op Versindaba, 24 Februarie 2015 ) merk Daniel Hugo, onder meer die volgende op:

Emosie is die laaste ding wat my inspireer om ‘n gedig te skryf. (Soms tog wel.) Die digkuns is vir my verstandwerk, ‘n vernufspel met die taal en poëtiese vorm. […] Vir my is poësie ‘n produk van die brein, nie van die hart nie.

Dit, tesame met die feit dat Hugo in 1988 gepromoveer het oor die vernufpoësie en hy ook op gereelde grondslag tekste uit Nederlands in Afrikaans vertaal, maak die leser van sy vyftiende bundel bedag op wat om te verwag. In sy proefskrif verduidelik Hugo vernufpoësie soos volg:

Die grootste gemene deler van hierdie soort poësie is die intellektuele spel met die versvorm en met die tipografiese, spellings-, fonologiese, morfologiese, sintaktiese, semantiese en etimologiese moontlikhede van die taal. Die medium word dus in ‘n groot mate doel of tema op sigself. […] Taalvernuf en spel met die versvorm kom ook in ander tipes poësie voor. By die vernufvers is die voorkoms daarvan frekwenter en intensiewer.

As sinoniem vir “vernufpoësie” sou mens die term “geestige poësie” kon gebruik.

Inderdaad is Hugo bekend vir sy “intellektuele spel met die versvorm” en is hy een van die digters in Afrikaans wat bekend is vir sy vaste versvorme en sy gebruik van rymwoorde. Trouens, in die genoemde onderhoud met Odendaal noem Hugo dat die “takelwerk van vaste versvorme” hom veilig laat voel. Hugo erken ook sy skatpligtigheid teenoor Opperman en noem dat laasgenoemde se voorliefde vir die klassieke kwatryn hom aangespoor het om onder meer onlangs die bekende kwatryne van Omar Khajjam in Afrikaans te vertaal. Vergelyk hier byvoorbeeld “Roebai” (bl. 23) wat reeds in 1976 geskryf is:

            Die dood dood sal hom uiteindelik op elkeen wreek –

            ook op die sjah wat hom in ‘n paleis versteek.

            Een nag word hy met ‘n rykversierde dolk deur

            die altydteenwoordige kamerling gesteek.

By Hugo is die leser bewus van die humoristiese inslag wat dikwels kenmerkend is van die vernufvers. Vergelyk die gedig “Egpaar” (bl.28):

            ‘n vonkie blaas hy aan

            tot ‘n vulkaan

            vernuftig blus sy dit

            met slegs ‘n traan [.]

2.

Takelwerk  handel oor die bekende temas in Hugo se oeuvre, naamlik die besinning oor die kunstenaarskap, die worsteling met die religie, die liefde en die erotiek en die digter se belewenis van die natuur en die wisselwerking tussen die waarneming van die natuur en die skryf van verse daaroor. Die titel, suggereer dat ons in hierdie bundel verse oor skepe en maste en takelwerk gaan kry, maar dié is egter ontleen aan ‘n siklus van 38 gedigte getitel “Stellenberg se eik”. Dit sluit ook aan by die foto op die voorblad, wat deur die digter se vrou Marlene Malan geneem is. “Stellenberg” as synde ‘n verwysing na die woonbuurt in Durbanville word ook gekontrasteer met die lewe in die Karoo op Prins Albert.

In die onderhoud met Odendaal verwys Hugo na die “kaal wintertakke van die akkerboom wat vir [hom] soos die takelwerk van ‘n seilskip lyk.” In die derde gedig van die reeks word die fotograaf aangespreek as “ die / eensame dokumenteerder van sy vier seisoene” (bl. 57), maar metteryd word “die eik [..] al meer [sy] eie plek” (bl. 74) waaronder hy kan sit en koerant lees of skryf.

Die waarneming van die boom gaan ook gepaard met die oplet na die verskillende voëlsoorte wat in die boom “kweel en kwetter” (bl. 63), maar die digter vergun hom tog self ook die vryheid om snags ook ‘n uil by te lieg (bl 64).  Die digter se metafoor vir die boom as skip gee ook aanleiding tot speelse skrywing, soos byvoorbeeld die beskrywing van die eekhoring as die “ratsste / matroos in die takelwerk” (bl. 71).

Kontrasterend met die eik se “groen swerk” (bl. 56) word die landskap van die Karoo en in die besonder rondom Prins Albert ook beskryf en beleef. Ook die boombeeld word weer betrek in ‘n ander gestalte:

            takke van die uitspansel swiep

            in ‘n kosmiese wind – sterreklusters

            word een-een soos neste losgeruk (bl. 49),

Dit is ‘n ruimte wat gekenmerk word deur “son en stilte” (bl. 53) en die son wat soos ‘n skerp leeslamp skyn (bl. 55).  Die digter moes die “knus Boland / vir die Groot-Karoo verruil” (bl.54), maar gee erkenning aan die geliefde wat saam met hom is, ‘n tuiste skep en snags die een is wat “die deur teen die wolwe sluit” (bl. 43). Vergelyk ook die openingsreels van “Hare op jou tande” (bl. 45):

            ons het ‘n huisie in die Groot-Karoo

en raak hier ongemaklik tuis

hariges bewaak die geharkte werf:

roman, haarwurm en vlermuis

Soos die gedig “Memento mori” (bl. 21) suggereer is daar egter in hierdie paradyslike bestaan ook ‘n voortdurende besef van verganklikheid en verval van die liggaam. In die gedig “Wagkamer” (bl. 29) word genoem dat die spreker snags “wag vir die dood” en in die reeks verse getiteld “Hospitale” (bl. 30-32) en wat aan Eugène Marais opgedra word, word die dood as “die Vale” aangespreek. Met sy verse oor siekte sluit Hugo aan by ‘n tradisie in Afrikaans en veral sy mentor Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok resoneer in etlike verse in die bundel.

Vernufpoësie uit Daniel Hugo se pen is nie noodwendig dorre, intellektuele verse nie. Dit is ‘n slim spel met taal en betekenis en bied ‘n goeie balans tussen humor en erns. Hier en daar (bv “Die lewe as Hollywood” of “Muskiet”) slaag van die verse nie heeltemal nie en skep die indruk van geforseerdheid. In die geheel gesien is dit ‘n welkome toevoeging tot Hugo se oeuvre.

Verwysing

Hugo, Daniel Johannes. 1988.  Die digter en sy middele: ‘n ondersoek na die vernufpoësie in Afrikaans. D.Litt-proefskrif. UOVS. Aanlyn beskikbaar by: http://etd.uovs.ac.za/ETD-db//theses/available/etd-10162013-093750/unrestricted/HugoDJ.pdf

Bookmark and Share

Comments are closed.