Resensie: “Skadu oor die sonwyser” (Kobus Lombard)

SKADU OOR DIE SONWYSER – KOBUS LOMBARD (Protea Boekhuis, 2015)

Resensent: Marlies Taljard

 

Omslag

Toe ek Kobus Lombard se vierde bundel, Skadu oor die sonwyser lees, het dit my met die illusie van Bonsaikuns gelaat. ʼn Bonsai is ʼn boom wat klein genoeg gehou word om in ʼn houer te groei. Ten spyte van die feit dat bonsai miniatuurkuns is, gee egte bonsai die indruk van ʼn deurleefde, volwasse boom; dikwels van hoë ouderdom. Omdat dit kuns is, het die bome meestal ʼn besondere aura, soms ʼn waas van geheimsinnigheid en waardigheid. In ʼn sekere tradisie word bonsai só gevorm dat dit deur die knoetserige, verwronge stam en takke die indruk skep dat dit gevorm is deur die winde en die aanslae van die natuur. Bonsai word deur kunstenaars op so ʼn wyse gestruktureer dat dit die ideale vorm van ʼn spesifieke spesie uitbeeld – ʼn soort argetipiese voorbeeld van die boom soos dit in die natuur sou kon voorkom.

Verskeie van die estetiese eienskappe wat ek hierbo in verband met bonsai genoem het, kan ook op die kuns van Kobus Lombard van toepassing gemaak word. In die bundel onder bespreking bou hy voort op ʼn tradisie van vormgewing wat ook sy vorige bundels kenmerk. Sy gedigte is kort (dikwels baie kort), met die fokus meestal op die slotgedeelte wat soms dieselfde funksie vervul as die slotkoeplet in die Shakespeariaanse sonnet, naamlik dié van opsomming of ʼn nuwe insig oor die voorafgaande gegewe. Die geskakeerdheid van die mens en sy lewe op aarde word deur menige van die gedigte gesuggereer. Omdat die gedigte kort is, het dit ʼn onmiddellikheid in die sin dat dit as’t ware met een oogopslag ingeneem kan word. Dit beteken ook dat die impak wat die slotgedeelte dikwels op die leser het, soveel groter is. Ek het die gedigte in hierdie bundel beleef as ryp, deurleef en behoorlik afgerond, argetipies in die lewenswysheid wat uit baie van die verse straal.

Die voorplat van die bundel beeld ʼn sonwyser uit wat uitgebeitel is op ʼn klip wat rofweg soos ʼn kaart van suidelike Afrika lyk. ʼn Breë skaduwee lê oor die regterkantste boonste kwadrant (Oos) wat, soos ook die sagte lig wat op die kant van die klip val, aantoon dat die son in die weste is, dat dit reeds laat in die namiddag is. Hierdie gegewe korrespondeer op simboliese vlak met die titel van die bundel, Skadu oor die sonwyser wat die bundel se besondere fokus op tyd en tydsverloop in terme van die mens se lewe versinnebeeld en selfs suggereer dat die bundel sterk sal fokus op die einde van die lewenspad. Die koördinate wat op die sonwyser uitgebeitel is, stem ooreen met dié van Kaapstad – die enigste pleknaam wat op die “kaart” aangedui is. Waarskynlik sou ʼn mens hierdie gegewe simbolies kon interpreteer wanneer in aanmerking geneem word dat Kaapstad as’t ware die “eindpunt” van die Afrika-kontinent verteenwoordig, maar (in terme van die gedigte in Afdeling III wat oor die moeder handel) is dit belangrik dat Kaapstad ook die Moederstad is. Op die agterkant van die bundel, waar die foto in kleiner formaat verskyn, is dit duidelik dat dit vanuit ʼn perspektief bokant die sonwyser geneem is. In narratologiese terme sou ʼn mens dus kon verwag dat vanuit ʼn afstandelike perspektief “gekyk” sal word. Dit is inderdaad ook die geval in baie van die gedigte waarin ʼn “jy” aangespreek word. Tog is daar ook ʼn groot aantal gedigte wat vanuit die ek-perspektief geskryf is en waarin biografiese besonderhede van die digter eksplisiet bygehaal word. Die teenstellings “skadu” en “son” wat in die titel voorkom, berei eweneens die leser voor op die tydsaspek wat belangrik is, terwyl dit terselfdertyd suggereer dat die simboliese betekenis van dié twee woorde by interpretasie in berekening gebring moet word.

Die inhoudsopgawe dui aan dat die bundel uit 7 afdelings bestaan wat egter nie benoem word nie. In die bundel self kom, as inleiding tot elke afdeling, telkens ʼn motto uit een van die gedigte binne die afdeling voor wat ʼn aanduiding gee van die tematiese inhoud daarvan.

Die motto van Afdeling I impliseer ʼn herbesoek aan die verlede:

 

jy word geraam

tussen ander gesigte

iewers teen ʼn off-white muur

 

Die openingsgedig skilder die mens wat deur die tyd ingehaal is, die mens wat nie van die verlede kan afskeid neem nie en ʼn anachronisme in die moderne wêreld geword het. Omdat die begin en die einde van ʼn teks meestal betekenisvol is in terme van die ontwikkeling van ʼn tema, sou ʼn mens hierdie gedig kon beskou as ʼn aankondiging van die dominante temas wat in die res van die bundel ontgin sal word:

Laaste saluut

 

niemand herken meer

die land van herkoms

op sy brasso-honger

lapelwapens nie

sy ongepoetsde stewels

spieël nie meer

sy parate figuur nie

die vlag wat hy salueer

is deur te veel winde

aan flarde gewapper

 

hy staan steeds op parade

en wag vir die uittreebevel

maar al wat hy hoor

is die knaende geklap

van die vlagpaal se tou

 

Oorbodigheid, uitgedientheid, onbruikbaarheid en aftakeling word ook elders in hierdie afdeling verwoord in frases soos “jy ken (…) die staar in my oë / na iets om my naaktheid te bedek” in Klerekas, die stelling in Tentwoning “dat dit slegs ʼn aardse woning is” en in Wolmerk die kombers: “na vele winters word jou drade yler / begin jy al te ruik / na motbolle in ʼn donker kas”. Kantgordyn is ʼn voorbeeld van die tipe gedig wat gevaarlik eenvoudig lyk, maar waarin die spel met “eens” en “noudat” deur ironie, teenstelling en metafoor op gesofistikeerde wyse gespeel word om by ʼn verrassende insig uit te kom. Die kantgordyn word in hierdie gedig eerstens simbool vir die jeug, deur gebruik van woorde soos “versiende oë”, “verlei” en “ragfyn”, asook die wyse waarop die jeugdige die lewe filter. Die kantgordyn is egter eweneens simbool van die ouderdom, deur die insinuasie in die slotstrofe van wysheid en insig in die groter opset van die lewe “noudat die lense verdof”:

Kantgordyn

 

jou roerlose hang

het my eens versiende oë

verlei met ragfyn drade

waarmee jy die wêreld sif

 

noudat my lense verdof

en takke buite sagter wuif

merk ek oplaas

die patrone van die wewer op

 

In Afdeling II word gekonsentreer op ontnugtering en die onafwendbaarheid van die dood. Opmerklik is die groot aantal slotreëls wat implisiet of eksplisiet na die dood verwys: “ek is lankal nie meer / doodbang nie” (Ontgroei); “wie sou kon raai (…) // met hoeveel tonge jy / die dood besweer” (Vlamdans); “as sy lyf onsigbaar gaan lê / daal daar ʼn doodse stilte neer” (Windman) en in Begrafnisbrief merk die spreker “hoe dik die lêer is” waarin hy begrafnisbriewe liasseer. Problematiese menslike verhoudinge word in Kind met ʼn tuinslang verwoord in die terminologie en wette “van gravitasie / en meganiese druk” en die beeld van die dogtertjie wie se wysvinger nog te klein is “om die water te laat sproei”. Die gedig is vir Katya geskryf – een van die persone aan wie die bundel opgedra is, waarskynlik die digter se dogter. Die insig in die slotstrofe is dat

jy’s nog te klein

om bang te wees

vir laste wat lek

ʼn pyp wat knak

met elke nadertrek

 

Soos in Lombard se vorige bundels, staan daar ook in hierdie bundel (Afdeling III) ʼn handvol gedigte oor die digter se biologiese moeder. Die flapteks meld dat Kobus Lombard “as aangenome kind op Gobabis in Namibië grootgeword [het]”. In hierdie afdeling is die gedigte sonder uitsondering outobiografies van aard en word die moeder deurgaans persoonlik aangespreek. Die skreiende ironie en die gestroopte eenvoud van die verse maak dit besonder aangrypend. Ek sou graag al vier die gedigte hier wou aanhaal, maar weerhou my daarvan; ek besef dat ek as moeder hierdie afdeling meer subjektief ervaar as wat aanvaarbaar is in hierdie bedryf. Vir my is die slotgedeelte van die Die mond gesnoer een van die mees verrassende en verbysterende slotpassasies in die bundel:

ek sou so graag

vir jou wou Mamma sê

voor jy my in die geheim

af moes teken

 

maar jy het my mond

te vas teen jou bors gedruk

 

In hierdie hoofsaaklik elegiese afdeling is die kortgedig werklik funksioneel, omdat ʼn oordaad aan woorde die skreiende, pynlike affek van die gedigte sou ondermyn. Hierdie gedigte herinner aan Totius se Die aandete in hulle gestrooptheid, eenvoud en elektriese lading.

Soos dit die afgelope tyd onder digters gebruiklik geword het, bevat die bundel onder bespreking ʼn reeks metagedigte – gedigte waarin besin word oor skryf as die proses “om skynsels van die waarheid / na te trek”. Die skryfproses word meestal vanuit die eerstepersoonsperspektief belig. Min oorspronklike insigte kom aan bod – meestal word skryf as problematies beleef, “die angsreuk in die holte van my arm”. In enkele gevalle word die skryf van gedigte selfs in verband gebring met die dood, soos in die slot van Digterspel:

vergeefs soek ons taal

wat ruik na vars hopies grond

om ons verliese te begrawe

 

Die gedig Strandfonds fokus op die lang en moeisame proses van publikasie en bevat in die slot wyse raad wat deesdae alte dikwels deur oorhaastige digters verontagsaam word:

en strome

het dit weggevoer

na ʼn getypoel

waar dit jare lank

tussen seesterre en krappe

skoon moes spoel

 

Geloof en die kerk is die tema van die voorlaaste afdeling. Die meeste gedigte bevat skreiende teenstellings, soos in dié gedig:

Kersfees

 

laasnag se geskenkpapiere

lê ongeërg in konkas geprop

op ʼn straathoek sit ʼn man

wat werk soek

van vroegdag af –

straks kom sy verlosser nog

in ʼn 4×4 aangery

 

Vir my het dit gevoel asof baie gedigte in hierdie afdeling resepmatig gemaak is – daar word eenvoudig te dikwels van ironiese slotreëls gebruik gemaak wat, hoewel dit “werk”, voorspelbaar word en sodoende trefkrag inboet.

Die laaste bundelafdeling is eklekties van aard, met natuurgedigte, gesprekke met die Aarde en plekbeskrywings. Waar die vorige afdelings almal streng volgens een tema gestruktureer was, het hierdie afdeling byna die aard van ʼn samevoeging van alles wat oorgebly het. Die slotgedig, Gobabis, bewerkstellig op outobiografiese vlak die einde van ʼn sirkel, die terugkeer na die begin. Dit is die plek waar die digter grootgeword het en wat vir hom “ná al die jare / steeds na vetkryt en na klei [ruik]”.

Wat my oor die algemeen van die bundel beïndruk het, is die berekende beheerstheid wat die digter ten opsigte van vormgewing en gelade woordgebruik aan die dag lê. Die beelde wat dikwels simbolies op die lewe toegepas moet word, is oor die algemeen vars en oorspronklik. Die gebruik van ironie is meestal geslaagd en bied dikwels ʼn vernuwende en verrassende insig op ʼn bekende gegewe. Soos ek egter reeds gesê het, het ek die gedigte te eenselwig gevind: meestal min of meer dieselfde lengte en dieselfde werkwyse. Tog wil ek daarmee nie sê dat dit “swak” gedigte is nie. Daar is in die Afrikaanse letterkunde heeltemal te min digbundels wat knap én toeganklik is vir die algemene leserspubliek. Die sienswyse dat digbundels geslote moet wees en temas moet aansny wat slegs deur teoretici ontsyfer kan word, kan deur digbundels soos Skadu oor die sonwyser ʼn nekslag toegedien word. Die bundel kan met die grootste vrymoedigheid aanbeveel word vir lesers wat ʼn liefde vir die digkuns het, omdat enige mens wat oor die lewe nadink, daarmee sal kan identifiseer en geestelik daardeur verryk kan word. In die inleiding van die resensie het ek die bundel met bonsaikuns vergelyk. Myns insiens is die feit dat die gedigte almal kort is en gemaklik verstaan kan word, een rede waarom poësieliefhebbers dit sal aankoop – die ander rede is dat die gedigte inderdaad die aura van deurleefdheid en lewensinsig dra.

 

(c) Marlies Taljard / April 2015

Bookmark and Share

Comments are closed.