De Waal Venter. “Drie-uur”

Drie-uur


Twee helftes

van die nag se swart vlies

trek weerskante toe,

weg van die snydende lem

van sy bewussyn.

 

Droë poeierlig

walm geluidloos van agter

die toegetrekte gordyne;

lyne bestaan nie,

net kolomme wisselende donkerte.

 

Dikkoppe klik ’n ent in die straat af.

Hulle besit nou die teerstraat,

die nag is hulle eiendom.

 

Hy luister.

Sy polsslag marsjeer in sy ore.

 

Baie ver ry ’n motorfiets

en hou skielik op.

Leef die ryer nog?

 

Leef hy nog?

Stadig bloei sy gedagtes weg

die nag in;

alles is tot die uiterste volgepak

met niks.

 
(c) De Waal Venter / April 2015

Bookmark and Share

2 Kommentare op “De Waal Venter. “Drie-uur””

  1. Heleen du Preez :

    So werklik – almal was al daar.

  2. Ek hou so hiervan, De Waal! Die bewussyn wat oopvlies agter toegetrekte gordyne: ‘n serebrale, maar private deurgang, wat die digter droogvoets laat loop deur die donker nagsee. Sterk elemente van biologiese tik-tak teenwoordig in die gedig: luisterend na eie stilte binne die stilte; eie reis binne die reis van die motorfietsryer; eie stilstand binne die abrupte stop van die motorfiets, wat lei tot die retoriese vraag: “leef ek nog?” Totdat die gedagtes wegbloei in die niks.