Hennie Nortjé. Twee gedigte

Sal ons die wingerd prys?

 

Wie hierdie blaar op die keper bekyk,

sien dalk in die gehawende rand

die buitelyn van ‘n gebroke hart

 

en vanaf die hoofaar nerwe vertak

om oor die groen soos families

al wyer uitmekaar te spat,

 

of dui só ‘n spinnerakdiagram,

bloot die noodlottige paaie aan

waarlangs gene slaafs moet gaan?

 

© Hennie Nortjé / 2015

 

 

 

*

 

Hottentots-Hollands

 

Selfvoldaan, ‘n reënboog van kleur,

staan die linies voëlverskrikkers,

maar ongeërg deur die beddings

wei swerms Europese-spreeus.

 

Tonge klap soos eens die sweep

as arbeiders in die aarbeiland

van vroegdag af moet bontstaan,

om den brode voort moet sweet.

 

Vir opkyk is daar weinig tyd

en die diep sugte gesug

is beslis nie oor die uitsig nie.

 

Slegs die verbyganger beleef

waarom hierdie plek

Mooiberge heet.

 

© Hennie Nortjé / 2015

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Hennie Nortjé. Twee gedigte”

  1. Linda Claassen :

    Hierdie vers ontroer my. Dit sny diep, daar ek ook weet dat my hoofslagaar aan die sterwe is.

  2. lindie :

    Mooiberge..ongelooflik waar beskryf. wereens is beide gedigte treffers!

  3. jane :

    Ek is groot asb opsoek na gedig van weerwolf sjampoe? my dogter moet ‘n skool-taak doen = asb kan iemand help? jane

  4. André le Roux :

    Hierdie vers laat my mymer. Diep en karmosynmooi.