Wicus Luwes. Die Universele Tandeborsel

Ek verpes universele vrae. Ek verwys spesifiek na die vrae wat  telkemale in my reis deur die kosmos om my brein wentel. Terug by my eie huis of kajuit  in die kosmos (ter wille van die universele tema) konfronteer ek my vroulike en pragtige mede-loods met die volgende vraag:
“Waar is die skêr wat ek in my badkamersakkie hou?”
“Bedoel jy dalk die universele skêr wat in jou badkamersakkie gehou word?”
Ek besef op daardie stadium dat ons die oomblik van ‘Ja, ek weet waar dit is’ verbygesteek het en dat die universele speletjies tussen ‘n man en vrou nou van toepassing is.
Ek besef ook dat my nuuskierigheid my verhoed om die kajuit (ons kamer) te verlaat voordat ek antwoorde kry op watter gedeelde of universele items nog in my badkamersakkie te vinde is:
“Is daar ook ‘n universele tandeborsel in my badkamersakkie?”
“Nee, maar daar is wel universele sjampoe daarin.”
Daarmee het ek genoeg informasie gehad en kon ek die deur agter ons kajuit met gemoedsrus toetrek.

Ek lees dikwels van universele tema’s: die liefde, die soeke na sin. Boeiend, maar ook vasboeiend vir my as skrywer wat soek na vars stories en vars idees. Ek wonder telkemale hoe om iets nuuts en vars te sê en steeds pla my vriend se stelling my:
“Daar word nie nuwe boeke geskryf nie. Al die boeke is reeds geskryf.”
Hoe kan die vermetele stelling my so pla? Kyk almal maar net na dieselfde dinge uit verskillende hoeke en bespreek ons dalk die hoeke in plaas van die item waarna ons kyk?

 

Dwaas met bril

Die verslae vrou in my bril se raam
vra ek beleefd om uit te klim.
Sy doen dit nie. Daarop
bêre ek die nuttige toestel in sy huisie
Ek kis die vrou
telkens as sy met haar vinger
tekens trek oor my lense

Wandel ek dan deur gouddeurweefde strate
in akwamarynaande van mymering
wat my wasig omhul, wandel ek dan
in my eie wêreldjie
waarin kleure plets en biggel,
dis knus, dis goed, en ten minste my eie.
My medemens het sagte kontoere.

Ek gaan my bril vir spesiale geleenthede hou,
net wat welskape en vermaaklik is, beskou.
Maar knaend waar ek kyk, die vrou.
Sy sper haar kake oop,
wyer as God is Liefde en Waarheid.
Soos sprinkane haar wriemelende vingers. Sy stop
hulle in haar mond, en kners
om nie te skreeu, mompel,
vlerke, saagtandpote tussen die lippe.

Voor die blinkende kolle
wat my gesig tot perskeptief dwing,
voor my vensters reg rondom
wat sonwarmte binnelaat,
beduie die vrou met my gebare.

Die wolke dryf soos rôe verby
Die pienk kwal van die son betas
my glasverdieping met ‘n sleepsel garedrade,
en in rooskwarts versteen
staan my kake oopgesper
in ‘n skreeu:
glaslose diamant wat die glas
gillend sny.

(Deur Wilma Stockenström, uit Vir die Bysiende Leser)

 

Die pad van die dood

Ek vind dit amusant en interessant dat elke plek waar ek nog gebly het, ‘n ‘pad van die dood’ gehad het. Dit het my die eerste keer opgeval in ‘n koerantberig waar die inwoners van ‘n dorp langs die pad gaan bid het, aangesien die pad ‘n ontstellende hoeveelheid slagoffers in ‘n kort tyd gehad het.

Ander kere hoor ‘n mens dit weer rondom braaivleisvure of in die verbyloop by ‘n sekretaresse wat in ‘n gedempte stem vir die persoon aan die ander kant van die telefoon fluister:
“Hulle noem dit al die pad van die dood.”
Die plek varieër en die redes waarom mense dit miskien so noem ook, maar die tema bly universeel.

Besoek aan Galpin se Camera Obscura, Grahamstad, Julie 1992
“How are we to read the African landscape? Is it readable at all? Is it readable through African eyes, writable only in An African language?” – J.M. Coetzee, White Writing

Spiraal boontoe, tot in hierdie koepel, waar lig en lens
die horison soos ‘n insek op ‘n tafelblad laat spartel.
Jy hoef jou kop nie te draai nie. Jy’s ‘n krap, ‘n trapsuutjies,
dalk ‘n hottentotsgot, die periskoop ‘n spriet vir jou ronde oog.

Katedraaltorings en ‘n stadsaal proklameer: Hiér het Victoria
se beskaafde oog lank gelede ongehinderd geknip.
Straatblok en plein hoekig uitgelê om die landskap te tem
tussen koppies met aalwyne wat die hemel lem.

Galpin, horlosiemaker met ‘n sin vir orde, hou alles dop.
Ooglopende wendings, selfs subtiele skuiwe, registreer op die film
van ‘n koloniale pupil: ‘n dorpstraat vol kleur en tekstuur,
maar met elke simmetriese vorm van hier bo af obskuur.

(Deur Andries Bezuidenhout, uit Veelvuldige gebruike vir huishoudelike  toestelle)

Lense

Die lense wat ons visie bepaal is ongelooflik interessant. Die beeld wat ons sien word omgedraai deur die kamera en ons oog. In die 9de eeu het Alhazen ‘n eksperiment opgestel met drie kerse wat langs mekaar staan en hul beeld deur ‘n klein gaatjie projekteer. Dit het gewys dat die kers wat aan die linkerkant staan, sy beeld aan die regterkant projekteer en dat die regterkantste kers weer aan die linkerkant projekteer. Lig trek reguit, maar lense draai dit om.
Ons oë of lense is maar net die beginpunt van dit wat ons sien en die interpretasie is eintlik die belangrike gedeelte.

Ons universele interpretasies bind ons saam as gemeenskap en land, miskien ook as mensdom. Ons hou daarvan om mense te verstaan, om hulle dade te verstaan. Die een gemeenskap weet later hoe om ‘n ander gemeenskap te interpreteer sonder om eers na daardie gemeenskap te kyk.

Ek dink weer aan die mede-loods wat onlangs ‘n vliegtuig van ‘n Duitse lugredery laat neerstort het en die dood van al die pasasiers aan boord veroorsaak het. Hy het eenvoudig die kajuit se deur gesluit toe die loods toilet toe gegaan het en die vliegtuig laat val. Was dit die universele soeke na selfgelding, of die universele haat wat in elke mens voorkom. Miskien was dit die lens van een persoon wat gemaak het dat die beeld onderstebo of agterstevoor by sy brein uitgekom het.

Die antwoord wat die lugredery vir die ramp het, is om ten alle tye twee persone in ‘n vliegkajuit te kry. Een persoon is miskien net te gevaarlik. Twee invalshoeke is beter. Ons interpretasies van ons eie denke en ook die van ander is ‘n moeilike onderwerp en vloei soos die lugborrel in ‘n waterpas. Terwyl ek my tande borsel en vir myself in die spieël kyk, besef ek: Miskien verpes ek universele vrae omdat ek so baie daarvan hou. Hoe meer ek egter daaroor dink, besef ek dat dit eintlik universele antwoorde op universele vrae is wat ek verpes.

 

My woorde in jou mond

ek wil hê
jy moet saamkom
as ek met die mense gaan praat
jy is beter met woorde
as ek

ek wil hê
jy moet sê wat ek sê
maar sodat hulle verstaan

miskien moet ek self praat
maar soms verstaan ek nie
wat ek wil sê nie
miskien moet jy net luister of
ek reg praat
want wie weet in elkgeval
wat n ander mens vir jou sê
as jy self nie
weet
wat dit is
wat jy wil hê nie

 

Die Orakel van Orkney

Die Orakel van Orkney is afkomstig van Benoni. Hy het op ‘n dag kaalvoet en met ‘n baard soos die van Moses oor die mynhope neergedaal. Die Brandende Braambos van Benoni was op daardie stadium nog nuut in die omgewing en het vir een of ander onverklaarbare rede onophoudelik gebrand. Die wetenskaplikes het destyds gedink dat die bos dalk naby ‘n  ventilasie-tonnel van ‘n ou myn staan en dat vlambare gasse uit die ou skagte deur die wortels in die bos opstoot.

Mense van die Benoni-omgewing het nuuskierig kom kyk na die bos wat so aanhoudend brand. Koerante het geskryf en Braam, soos die Orakel voorheen bekendgestaan het, het begeleide toere gegee en vrae beantwoord met ‘n rustigheid kenmerkend aan ‘n boemelaar wat al ‘n paar jaar op die pad is. (Nie dat iemand ooit vermoed het dat Braam dalk eintlik ‘n boemelaar was nie.)

Party besoekers het Braam se fooi betaal en vir die wat nie geld gehad het nie, het hy skoene gevra.
“Dis onheilige grond hierdie en werk op ‘n man se voete,” sou hy sê en  dan so wys na sy voete.
“Ek is geroep om die mense te waarsku oor hierdie vuur wat so onophoudelik brand. Dis nie natuurlik nie.”

Op ‘n dag het die koerante berig oor ‘n nuwe vuur in Orkney en Braam was natuurlik die aangewese persoon om, as kenner van onuitblusbare vure, die nuwe brandende bos te gaan ondersoek. Dit was waar die benaming, die Orakel van Orkney, die eerste keer opgeduik het. Die Orakel het wyshede begin inbring vir besoeker aan die brandende bos. (Nie dat iemand ooit getwyfel het of die Orakel oor groot wysheid beskik nie.) Van die wyshede het ingesluit:

“Elke vuur is uniek,” en “Die vuur brand ook in elkeen van ons,” of “Maak vrede met die vuur in jou.”

Tot vandag toe bewaak die Orakel die vuur by Orkney. Hy vra steeds ‘n paar sente by besoekers en vir die wat nie geld het nie, vra hy skoene.
Ook Orkney se grond is onheilig volgens die Orakel en alhoewel dit miskien nie so uniek is as wat wetenskaplikes eers gereken het nie, is dit definitief onnatuurlik.

Bronne
1. Bezuidenhout, A. Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014
2. Stockenström, W. Vir die Bysiende Leser. Kaapstad: Reijger Uitgewers, 1970
3. Internet: http://en.wikipedia.org/wiki/Camera_obscura
4. Internet: http://www.artscalendararticles.mysite.com/blank_19.html

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Wicus Luwes. Die Universele Tandeborsel”

  1. Maria Snyman :

    BAIE geniet Wicus!”Dwaas met bril” maak my altyd wens ek was maller as wat ek is, so wonderlik is dit vir my. “Die Orakel van Orkney” is baie dierbaar, hartroerend:
    “Hy vra steeds ‘n paar sente by besoekers en vir die wat nie geld het nie, vra hy skoene.
    Ook Orkney se grond is onheilig volgens die Orakel en alhoewel dit miskien nie so uniek is as wat wetenskaplikes eers gereken het nie, is dit definitief onnatuurlik.”
    !!

  2. Wicus Luwes :

    Maria, die Orakel sal bly wees dat sy storie gelees is. Mooi week vir jou.