René Bohnen. “Semantiek”
SEMANTIEK
Ek kan my broer nie meer vertaal nie
hy praat van bundoora wattleup mundijong
en ek soek hom
in die koedoe se blaf
in die pelspatrone van ‘n luiperd,
soek in die duisternis dotjies
wit morsekode op tarentale
Inkapsel ingekapsel,
anderland se korrelsand,
bly hy iewers in ʼn stad
soos ʼn ogie bo die suid-see
aan die onderent van ‘n kontinent
kontinente verwyder
van soetdorings en kiepersolle
woon hy tussen
swart swane en pienkbekpelikane
hy staar oor die bruin birrarung,
sy oë is ewige reisigers
oor die yarra –
van daar tel hy ysberge
(c) René Bohnen / April 2015
En ons bly soek hulle in woorde. Jy mag maar, René.
René, treffende slotstrofe.
Dankie, Gisela en Marie, ek waardeer die positiewe kommentare.
Baie mooi broergedig, René – ek stuur hom dadelik aan vir my broer, en vir my ma en my pa!
Ek het my broer ook lief gehad. Baie dankie, Melanie.
Baie dankie, Maria!
Dankie Melanie…
Ek hou baie van
‘…ek soek hom
in die koedoe se blaf
in die pelspatrone van n luiperd,
soek in die duisternis dotjies
wit morsekode op tarentale’
Pragtig, René – dankie!
Dankie Engela, ek waardeer 🙂