Resensie: Narokkong (Riël Franzsen)

Narokkong. Riël Franzsen. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-4853-0410-4. Sagteband. 64 bladsye. Prys: R150.

Resensent: Zandra Bezuidenhout

 

Die skaduwêreld onder die narokkong se vlerk

Omslag

ʼn Enkele woord kan met jou toor; soos “narokkong”, die skrikvoël met die donker, afgetrokke oë wat sy naam by ʼn Masaistam gekry het; die een wie se nimmereindigende, droewe roep al in DJ Opperman se gedig “Koggelbos” en Sangiro se kortverhaal “Koors” gehoor is. Dit is ook die titel wat Riël Franzsen vir sy digtersdebuut gekies het.

Is dit dus ʼn bundel met ʼn Afrikamotief?  ʼn Voëlboek soos Aves van Johann Lodewyk Marais? Ja en nee, want die handvol voëlverse is ondergeskik aan die dreiging van die narokkong wat voortdurend uit die takke van ʼn naboom krys; ver en naby tegelyk met sy onheilspellende teenwoordigheid. Hier is hy egter meer as ʼn vreemde Afrikavoël, want die digter maak van hom ’n metafoor vir ʼn outistiese seun én die atmosfeer wat die gesin omgeef. Soos die narokkong, is die kind afstandelik en ondeurdringbaar, sy onverstaanbare gedrag ʼn knaende geroep in die gemoed van sy vader. ʼn Meer gepaste beeld en bundeltitel kan jy jou kwalik voorstel.

Die bundelomslag sluit op ʼn eiesoortige manier hierby aan; nie deur ʼn uitbeelding van die voël nie, maar onheilspellend en veelseggend op ʼn ander manier: ʼn Wasige, verlate landskap, gevlek in donker skakerings van blou, trek jou oor ʼn afgrond in tot aan die horison – ʼn dramatiese foto geneem deur die lens van die digter, en ʼn voorafskaduwing van die gedigte wat volg.

In hierdie eenheidsbundel met sy deurlopende tema van outisme en die sirkulerende motief van ʼn spookvoël, word die fokus telkens verskuif. Van die een na die ander vers ontvou die problematiek rondom ʼn lewensituasie waarop die spreker nie voorbereid was nie, en konfronteer hy die leser en homself met die outis, die donker omstandighede en die manier waarop dit die gesin raak – in die besonder die verhouding (of nie-verhouding) tussen vader en seun. Waarmee oorleef mens dit, soos Antjie Krog dit in ʼn ander verband gestel het, vra die vader hier by implikasie; hoe bly jy ʼn heel mens te midde van die dringende, hartverskeurende geroep? Die titelgedig, sesde geplaas, is sprekend:

Narokkong

Sy krete is kort afgeskeur en ril deur die donker met ʼn hoë, musikale en oneindig melankoliese klank

                        —  “Koors” (Sangiro, 1929)

 

In die top van ʼn naboom

sit hy nag vir nag.

 

Sy swart oë staar

asof die ondermaanse

hom nie aangaan nie.

 

Knaend en meedoënloos

skreeu hy,

afgemeet en sonder ophou

koggel hy.

 

“Waarvan leef hy?”

het iemand lank terug

ʼn wyse Masai gevra.

“Dit weet niemand nie,

hy is ʼn voël van die nag.”

 

Selfs die vader vertoon eienskappe van die narokkong; ook hy is ʼn buitestander, op sy eie manier gemetaforiseer tot ʼn roepende nagvoël, Deur die poësie probeer die spreker hom van die skreeu in sy binneste ontlas, enersyds deur daaraan stem te gee, en andersyds deur sy ontreddering by wyse van ʼn afstandelike, saaklike toon maskeer. Na buite leef hy, soos sy kind, “asof die ondermaanse/ hom nie aangaan nie”. In die aanvanklike onderbeklemtoning lê die krag van die bundel, of minstens in die eerste helfte daarvan, want mettertyd raak die emosie te uitgesproke; die segging te eksplisiet, totdat die suggestieryke beeldtaal in die laaste gedig terugkeer.

In pas met die semi-narratiewe lyn van die bundel, is “Vrugwater” die aangewese keuse vir ʼn openingsgedig. Die kind, hier nog in ʼn voorgeboortelike staat, reeds slegs kenbaar as ʼn vae klein figuur “in sepia” – wat hy in ʼn sekere sin altyd bly – kry die eerste spreekbeurt. In ʼn binnegesprek identifiseer hy hom as “ʼn uilbal in ʼn broeikas” – ʼn suggestieryke voorloper van die voëlmotief. Die lewensaanvang word weer aangeraak in “Katedraal” en “Hiernamaals”, maar nog sterker aangesny in ʼn skyngesprek wat die vader in “Hospitaalgange” met sy seun voer: “Reeds by geboorte/ in die Mariefont/ was jy verwond.” In “Uitkenning” word die vermoede bevestig. Die slotreël bestaan uit slegs twee woorde: “Ontluikende outis”.

In “Hippokrates het sy hande vol”, soos ook in “Gloukoom” (“steeds val ouers en artse rond”), staan die onmag van die wetenskap teenoor die pyn binne die intieme huislike kring. Die uitsprake van genetici en medici is genadeloos en onbetrokke, want vir hulle is die kind ʼn “chromosomale aberrasie”, ʼn “kuriosum” in ʼn “eiesoortige bestel”. “Kinderpsigiaters/ wat onhandig die toutjies trek” (“Poppekas”) kan die “tonnelvisie van die psige” nie peil nie; die “fout op die grondplan” (ʼn raak, volgehoue metafoor in “Chromosoom”) is onherstelbaar: “Die argitek trek/ skouers op; die bouer grinnik, /skud sy kop.” Mediese aspekte word weereens beklemtoon in “Beseringstyd”, grotendeels ʼn enumerasie van artsname met ʼn reddende skeutjie humor in die slot.

In ʼn reeks praktiese situasies word die omstandighede konkreet voorgestel. Op pad na die noodapteek om medikasie vir sy kind af te haal, hoor die spreker die gekoggel van die narokkong op die huis se nok: “Hierdie kind is myne”, roep hy, waarmee hy sy soewereiniteit oor die fisiese ruimte van die huis, en psige as teenhanger daarvan, beklemtoon. In “Gloukoom word die naamlose, onkenbare seun se posisie uitgesonder. Hier, vanweë skade aan sy optiese senuwee, “bly sy uitsig uitsigloos/ vanuit die skaduwêreld/ onder die narokkong se vlerk”. Hierdie uitsigloosheid en skadubestaan is eksemplaries van die posisie van die gesin in die algemeen, tekenend van geslaagde metaforiek waar die spesifieke ʼn breër geldigheid verkry.

Met verloop van tyd dring die besef deur dat die ouers nooit iets te wete sal kom van die manier waarop die outis die wêreld ervaar, en dat so ’n kind nooit selfstandig kan leef nie. In “Paasfees” realiseer die ouers se voorwete: selfs as jongman bly die seun ’n kleuter op soek na paaseiers in ’n tuin, waarby die tuin van Eden en daarmee die geskonde mens, onwillekeurig meespeel:

Steeds soekend sit ons weeskind

in ’n versorgingsoord se tuin.

Oral dwarrel blare.

Waar is Ma

en waar is Pa?

Sag begin dit reën.

Die tipiese gedragskenmerke van die outis vorm uiteraard die kerngegewe in ʼn hele aantal gedigte. “Hoe dans mens in sirkels/ in hierdie vierkantige plek?” wil die outis weet (“Outisme 1”), want hy dans “om en om/ in sy eie binnekring” (“Sirkelgang”) en “dwaal in “Escher-sirkels” (“Kunsgeskiedenis”). Sy eggolalie of obsessiewe herhaling van woorde en klanke word hoorbaar in “Oueraand”; sy buitestanderskap en eie hel sigbaar in “Speelterrein”, en in “Kunsgeskiedenis” gelykgestel aan ʼn “Hieronymus-hel“. Sy aandrang op ordening kry gestalte in “Prototipe”, en die presiese rangskikking van Lego-blokkies in “Opdragwerk”. Daarnaas word die kind se geïsoleerdheid en labirint van sy bestaan, verbeeld in “Kerker”, ʼn skraal, ikoniese gedig wat inhoudelik en tipografies in die teken van afsondering staan:

in die kern

van die sel

die sleutel

 

enkelsel

oopgesluit

toegesluit

 

sirkelgang

lewenslank

jou vonnis

 

opgesluit

uitgesluit

afgesluit

 

Ten spyte van ʼn bewuste strategie by die spreker om te demonstreer dat hy die realiteit in die oë kyk en nugter reageer, herken die leser ʼn versweë sensitiwiteit. Daar is subtiele aanduidings dat die vader sy pyn nie ontken nie, en sy persoonlike roep al dringender word. In “Gebed” pleit die vader om lig:

asseblief:

 

ʼn Flits om iewers

in die hol stam

van ʼn naboom

die nes se opening te help vind.

 

Vlerke wat hoër,

vinniger en verder

as Swartoog

kan vlieg; in stiltes

en in stormwind.

Op ʼn soortgelyke wyse vra hy in “Skietgebed” vir ʼn ingang, hierdie keer vir sy seun, “na die wêreld/ waar die res van/ die mensdom bly” en “ʼn padkaart/ wat sy gedagtes/ uit die doolhof/ sou kon lei”.

“Engel in die bos”, waar teerheid en erbarming onverwags deur ʼn vreemdeling aan die seun betoon word, is een van die treffendste gedigte in die bundel. Dit staan ten opsigte van styl ʼn bietjie los van die ander, maar ten goede. Ook inhoudelik is die gedig ʼn welkome uitbreiding van die gegewe rondom die outis en sy vader; hierdie keer in ʼn simbiotiese samesyn, hoewel dit die verbyganger is van wie die gebaar van toenadering kom. Sy word ʼn engel genoem, maar dit is ook interpreteerbaar as die Godshand, of ʼn Christusfiguur, of selfs die Christuslig (“die sonnige weg” van die slotreël) wat ongemerk tussen vader en kind manifesteer, en elkeen van hulle, saamgesnoer deur onuitgesproke liefde en wedersydse begrip, ʼn soort engelfiguur word.

Die versbou is hier sterker, sekerder – op sigself ʼn “sonnige weg” wat die skemerwêreld van die verse verlig en komplementeer:

My seun en ek is in die oerbos

deur skaduwees omring.

Dan bemerk ons haar.

In die skemer skimmel van die woud

kom sy rustig met die paadjie

tussen mos en varings langs.

Sy knik terloops vir my,

haar oë gefokus op die kind.

Glimlaggend, begrypend

omhels sy hom, en stap verby.

Onkant betrap deur dié gebaar

kyk ek verwonderd om,

maar sien nou net ʼn voetpad,

die sonnige weg waarlangs ons kom.

Die “paadjie” en “voetpad”, asook die ritmiese gang van die gedig, herinner aan die styl van Ingrid Jonker (“Bitterbessie dagbreek” in die besonder); in die oerbos en varings sluip Van Wyk Louw se Raka saam met Chris Barnard se duiwel as donker teenpool vir die engel rond, en die engel wat soos hierdie stukkie woordkuns (deur nog ʼn engel) verlos is, sleep vlerk by DJ Opperman. En hoor ʼn mens in hierdie kind ook ʼn fyn toespeling op Van Wyk Louw se “Rondloper”? Selfs al konstrueer die leser intertekstuele verbande waarvan die skrywer moontlik onbewus was, is dit volgens die resepsie-estetika die leser (en sy verbeelding) wat aan ʼn teks betekenis toeken. Die skrywersintensie het sy relevansie grotendeels verloor, so leer die literêre teorie.

Wat verbandlegging betref, is dit interessant om die kind in Sangiro se verhaal met dié in Franzsen se bundel te vergelyk. By Sangiro was dit ’n jong seun wat alles met afsydige swart oë dophou en in sy koorsdrome self die onheilspellende narokkong word; by Franzsen word die gedagte getransponeer na die outistiese seun wanneer hy tydens angsaanvalle (maar ook in die algemeen) ’n soortgelyke koorstoestand ervaar en die skreeuende narokkong hoor, en dit selfs word, of minstens as ’n parallel vir die skrikvoël dien. Die laaste twee strofes van “Kortsluiting” lui as volg:

die kamer kantel

om jou

soos modder

val jy

ruk en ruk

onbeheers

jy kwyl

en sluk-sluk

aan jou tong

 

buite

in die donker

op ons huis

se nok

skree swartoog

skree narokkong

 

Wat die bundel in die geheel betref, bring dit die leser te staan voor een van die onontkombare aspekte van die menslike bestaan, naamlik dat die mens soms van die natuur of uit omstandighede dit ontvang waarop hy nie bedag was of nie begeer het nie, en lewenslank uitgelewer is aan pogings om iets daarvan te begryp. Die sleutel blyk die aanvaardende liefde te wees, en geloofsvertroue, dit is die “slotsom”, soos dit veral in die treffende “Slotgesang” met sy strategiese plasing aan die einde van die bundel na vore kom, ʼn gedig wat op grond van sy Bybelse inhoud sowel as die begrip “gesang”, binne ʼn Protestantse raamwerk gelees kan word:

Aanvaar hierdie seun as offer,

maak van hom die lam.

Laat my kind tog eerste wees,

maar slag direk daarna die ram.

Die gedagtegoed in hierdie bundel het my aangegryp, maar, veral na die einde, is die verstegniek nie altyd van ʼn besonder hoë gehalte nie. Die konstruksie is dikwels geyk en die struktuur kom dikwels elementêr of ietwat los en lukraak voor, in ʼn sekere sin verwant aan die losser aanbieding in die praatgedig wat steeds gewilder word, maar nie altyd tot pakkende poësie omgewerk is nie. Hiermee betree ʼn mens die mynveld van wat vandag tot goeie poësie gereken durf word. Tog verwag die ernstige leser ook in die vryer, meer spontane vers ʼn sekere spankrag, ʼn strukturele en inhoudelike geladenheid, en veral ʼn oorspronklike, vindingryke omgaan met die taal – sonder om enigsins van geforseerde vormgewing gebruik te maak. Op plekke gee Franzsen se werk reeds blyke hiervan.

Dit is egter ten opsigte van die invalle, skikking van gedagtes, en formulering wat die verse dikwels gebreke toon; in te veel gevalle soek ʼn mens na oorspronklikheid en verbeeldingskrag, en die digterlike kunsgreep wat van die aanbieding en leserservaring iets buitengewoons maak. Dit gebeur wel ten opsigte van die tematiek en metaforiek, maar word nie verstegnies geëwenaar nie.

Die styl is onopgesmuk en eenvoudig; die woordgebruik en strekking maklik te begryp – in beginsel nie ʼn belemmering nie, maar fynproewers mag iets meer uitdagends soek. Van die minder bevredigende gedigte is “Besoektyd”, “Katakombe”, “Degenerasie” en “Remissie”; so ook “Een-en-twintig”: “geen goue sleutel/ geen groot party […] tog het jy die dag geniet/ want daar was pienk/ meringue-varkies […]”. Jammer genoeg word die kans verspeel om hier ’n gedig van groter impak en diepte te produseer. Selfs die slotgedagte oor die gelui van die Griekse kerk se klok red nie die vers uit sy gewoonheid nie.

 

Tog is dit ʼn roerende bundel en tematies verfrissend, hoe pynlik die invulling ookal. Solank die leser maar die metaforiek snap en van die dreiging bewus bly, slaag die bundel die toets van oortuiging. Twee reëls uit “September” vat die sentrale gedagte beeldend saam:

onder die naboom lê ʼn uilbal,

om sy hol stam seil ʼn slang.

Jy hoor die narokkong roep as jy hierdie bundel lees, skrynend en aanhoudend. En die engel? Sy/hy is ook daar, in die stilte.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Resensie: Narokkong (Riël Franzsen)”

  1. Gisela Ullyatt :

    Uitstekende resensie, Zandra.

  2. Julie Strauss :

    Ek kry vanoggend hierdie resensie na gisteraand se aangrypende “Vers en Klank” op RSG. Oor die akademiese ontleding van die verse kan ek geen bydrae lewer nie. Maar dat Riël Franzsen mens diep aan die hart gryp is ongetwyfeld.

  3. sigeuner :

    Ek weet niks van outisme – maar dat hierdie bundel enige leek se oë “oper” sal dwing, is voor die handliggend.
    Wat `n delikate resensie vir `n delikate bundel!

  4. Ek het ‘n onderhoud met Franzen en sy vrou op monitor gehoor. Ek onthou die vraag – “op watter ouderdom het julle geweet julle kind is outisties?”.

    As ek reg onthou het hulle gesê op 10 jaar.

    Dit was soos ‘n koeël deur my hart – omdat ek besef het hoe lank hullle die stryd gevoer het om hul kind se kondisie te aanvaar.

    Die moeilik om vir gewone mense te verduidelik hoe moeilik hierdie reis is.

    Ons kind is ok.
    Ons kind is min of meer ok.
    Ons kind sal uiteindelik ok wees.
    Ons kind sal nog skool toe gaan, na sy terapie.

    Daarna word dit net vrae

    Sal ons kind nog eendag praat.
    Sal hy werk.
    Sal hy ooit ‘n vriend he
    Wanneer gaan ons sy tassie pak vir die koshuis.
    Sal hy altyd weet wie ons is?

    Ek het geluister na die gedigte wat op “Vers en Klank” gelees is en ek wil Franzen gelukwens met die bundel – hy het in ‘n hele paar gedigte verwoord presies hoedat ek as ouer van ‘n outistiese kind voel.

    Dis baie baie braaf van hom.

  5. Leon Retief :

    Gert is die diagnose eers op 10-jarige ouderdom gemaak of het hulle eers toe hul seun so oud was die situasie aanvaar? Indien eersgenoemde sou dit eienaardig wees want outisme behoort al veel vroeër gediagnoseer word, indien laasgenoemde is dit verstaanbaar. Ons oudste dogter Liezl het ‘n skaars neurodegeneratiewe siekte gehad (Rett sindroom) wat indirek haar dood veroorsaak het in 2001. Destyds was dit nog ‘n relatief onbekende toestand waarvan meeste dokters (ek inkluis) nie geweet het nie en die diagnose is eers in die laat 1980’s gemaak – deur myself, en bevestig deur ‘n pediatriese neuroloog. Ek ken al jou vrae. Die ergste, en wat ons snags laat wakker lê het, was: wat gaan van ons kind word wanneer ons die dag dood is. Sterkte vir julle.

  6. Gert :

    Ek kan net dink dat hulle tussen ouderdom 2 en 10 9 jaar van hel gehad het waarin hulle stukkie vir stukkie die ergste moes aanvaar.

    Die tartende Narokkong is hoop self.