Susan Smith. By die sien: kennisname en kennisskepping

Ek het my die afgelope tyd met ekokritiek en veral ekopoësie doenig gehou en met groot opwinding ’n literatuurkritiese en ekofilosofiese teorieruimte ontdek wat tot talle nuwe insigte lei. Wat my egter veral opval is dat die internasionale kritici hulself meestal met teorie besig hou, terwyl hulle weinig aandag gee aan die toepassingsmoontlikhede binne die literatuur. Dit is iets wat ek tot dusver juis op gefokus het in enkele van my navorsingsartikels.1 Ek vra myself die volgende vrae: Hoe lyk die groen gedig? Op watter wyse vind aspekte van die nuwe materialiteit neerslag in ’n bepaalde gedig? Hoe werk intra-aksie in die teks? Wat is die konneksie tussen die menslike en die niemenslike wêreld?

Soos dit maar gaan, neem my leeswerk my op interessante paaie. In ’n onlangse artikel van Serenella Iovino praat sy van “participative rupture” (2015:73), ’n term wat my verbeelding aangegryp het. Sy beskryf ’n proses wat deel uitmaak van ’n breër konsep, naamlik “diffractions of matter”. Donna Haraway (1997:14) definieer diffraksie as “producing a participative rupture in the linearity of the single elements’ performative properties”. Om by diffraksie uit  te kom, en boonop te sien hoe dit in ’n gedig manifesteer, moet ek die storie ’n entjie terug gaan haal.

Die ekokritiek – en meer spesifiek die nuwe materialiteit – ondersoek nie net materie en die meer-as-menslike wêreld in tekste nie, maar ook materie as tekste. Dus, die wyse waarop materie self uitdrukking gee aan hul eie konkrete realiteit deur interaksie met mekaar en met die menslike dimensie, en konfigurasies van betekenis en diskoers produseer wat ons as stories kan interpreteer (Iovino 2015:71). In ’n vorige artikel (Smith 2012:893,928) het ek reeds die term “storying matters” oftewel verhalende materie voorgestel, in aansluiting by Iovino (2012:136) se term van “storied matter” – die vertelling wat deur bemiddeling van die mens oorgedra word. John Felstiner sê “nature itself wants in on the storytelling” (2009:337). 

Ook David Abram sluit in sy seminale teks, Becoming Animal (2010) hierby aan met sy ekofenomenologiese benadering wat gesien kan word as ’n sensoriese en sensuele bewustheid van die deelnemende en aandaggewende aard van die mens se bestaan as deel van die meer-as-menslike wêreld en hoe hierdie wêreld sigself uitdruk (2010:7, 11). Karen Barad (2007:3) redeneer dat materie en betekenis nie van mekaar geskei kan word nie. Ons is nie buitestaanders wat die wêreld waarneem nie; ons is ook nie maar toevallig op ’n bepaalde plek in die wêreld nie – ons is deel van die wêreld in sy totaliteit van intra-aktiwiteit. Ons kyk en neem kennis, en om te weet is om intra-aktief betrokke te wees. Elke aksie van kennisname is ’n kognitiewe toe-eiening wat patrone van ingryping of tussenkoms en uiteindelike kennisskepping.  Die vraag ontstaan: hoe neem die digter deel aan die uitdrukking van die meer-as-menslike wêreld? 

Wat my by diffraksie bring: ’n deelnemende skeuring/breuk in die lineariteit van individuele elemente se eienskappe. Diffraksie word binne hierdie konteks deur Karen Barad (2003:803) gesien as die teenoorgestelde van refleksie. Volgens Barad is laasgenoemde slegs ’n herhaling op ’n ander plek, terwyl diffraksie elemente op ’n nuwe wyse kombineer wat nuwe eksperimentele voorwaardes tot stand bring. Deelname geskied intra-materieel: materie-betekenis en dus materie-diskoers, wat die mens insluit, word geproduseer. Om te weet is volgens haar om op direkte wyse met materie betrokke te raak, om te besef dat subjekte en objekte verweef is met mekaar en dat objektiwiteit ook te make het met ’n verantwoordelikheid teenoor die verweefdhede waarvan ons deel is. Dit dan, ’n baie oorsigtelike en voorlopige kennismaking met diffraksie.  

Die volgende stap sal wees om deelnemende betekenisskepping en diffraksie aan die hand van ’n gedig te probeer nagaan. Marlene van Niekerk laat die volgende gedig as kommentaar by myPoolshoogtegesprek(2014) op LitNet oor ekokritiek wat, sover ek weet, nêrens anders gepubliseer is nie:  

Dubbelportret: mens/duif 

Om so op riwwe van sink af te wiek uit die takke
van wilde-amandel, om kloek en versigtig,
soos betaamlik vir een met bloedweinig kans
in die groter verband, eers net te kýk wat aangaan,
lugtig na links en regs –  want weerskant sit
nou eenmaal die oë – besorg hoofbrekens.
Want deursigtig geraam in ’n oorkantste nis blyk
’n ander opeens die blik te ontmoet. Eenmalig
in beider heugenis droog verjaging of skrik
die oognat nie uit nie. Pupille ondergaan momenteel
’n stil, gespieëlde gradasie van aftas, takseer
en herkenning, daarna, onverbloembaar
’n verwyding tot reslose adorasie. Veral betref
dit die swart, vorentoe lekkende traan, die git
op die nek –  houtskool geduim op gebleikte
maroen – wat die voël vir sigself uit die kaatsing
verhaal. Knipvliese open en sluit simultaan
oor die rondings weerskant die vlak indentasie
in die front. Kontoer word dubbel bewonder,
lyn, dressuur, balans van stertpunt, pote.
Vliegwerk, russtand dring aan op  begrip
deur ’n vogtige transsubstansie –  één lyding,
één lyf, kwalik verskil hierdie mensdier
van duif. Skigtig volg dan ’n eerste notasie, ferm
geskrap, voorts ’n getortel wat die indamp
van lig op mat pluimasie uit die vingers wil speel,
en terselfdertyd bind.  Maagkiesel, grit, slegs
’n vlugtige por vir die uitgee van kropmelk,
is dit nie die kuns van ’n skets nie? Bly sit lank genoeg,
word gevra, bly sit, want die kleur is onsegbaar,
die subtielste vilet van die skemer, rooidag
gegrys tot kripsis onder skaduweeblare.
En dan die verplompte knikkoppende tred,
uit onder takke van wilde-amandel,
reg in die val van die hoognoenson op die dak,
die trant van ontwapening, wedersyds,
en, voorlopig, die onderling uitgestelde afskeid.
 

(Gedig en foto: Marlene van Niekerk/LitNet Poolshoogte)

In hierdie gedig neem ek iets waar van difraksie en ’n deelnemende breuk in verwagte lineariteit van die gedig wanneer die verwagte perspektief van mens=waarnemer/duif=waargeneemde omvergewerp word. In die gedig kyk die digter na die omringende wêreld, in hierdie geval die duif, en benoem dit: kennisname vind plaas. Die digter is intra-aktief betrokke by die duif deur haar deelnemende betekenisskepping wat dus ook kennisskepping tot gevolg het. Die digter se reaksie, in die vorm van haar gedig, is meer as net die daarstelling van ’n refleksie van die duif – dit veronderstel ’n verdere kennisskepping en ’n wyse waarop die digter elemente op ’n nuwe manier kombineer, wat nuwe ervaringsmoontlikhede produseer – dus, diffraksie. Die leser se fokus word gevra op die kykproses van beide die duif en die digter, waarmee die ervaring van die leser eweneens verruim word en die leser ook deelneem aan die nuwe betekenisskepping.  

In die kyk (deur die duif) herken die duif sigself in die digter/refleksie/portret en die digter haarself as “mensdier” in die duif: 

… één lyding,
één lyf, kwalik verskil hierdie mensdier
van duif.

Deur middel van “transsubstansie” ervaar die digter ’n eenheidsgevoel met die duif. Transsubstansie kan ook vertaal word met transmaterie, die uitruil tussen materie en materie – in hierdie geval die uitruil tussen mens en duif.  

Die effek van ’n “dubbelportret” word geskep: meer as refleksie, is die digter van die duif. Meer as refleksie (in die konteks van Barad se definisie van die begrip), is die omringende materie in die oë van die deelnemende digter. Die suggestie van die skeppingsproses word tot stand gebring deur die digter wat beide portretteer en selfportretteer is deur die verwoording van die digtersblik na buite en die verwoording van die duifblik op die digter na binne. Ook die duif is betrokke in ’n dubbelproses: die duif eien sigself en word verdubbel in die refleksie van die ruit én sien die “mensdier” daaragter. Die duif word ook verdubbel deur inskrywing in die gedig.  

Die elemente van verdubbeling en refleksie, wat deurlopend in die gedig voorkom (“Dubbelportret”, “weerskant”, “gespieëlde”, “sigself uit die kaatsing / verhaal”, “dubbel bewonder” en “wedersyds”) herinner aan Elisabeth Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark” waarin die dubbelbeeld van die swaan beskryf word en wat hier as interteks optree.  

Smetloos geteken dryf die dubbelswaan:

Gesplete hart van hals en dubbelhals,

Geskulpte vlerk met dubbelvlerk teenaan,

Geslote snawel dynserig vervals

Met eenkant lug en water anderkant. (Brink 2008:243)

In die Eybersgedig bly die blik egter op die objekte gevestig (die swaan en die twee kleuters), terwyl Van Niekerk se gedig die duif self as medewaarnemer daarstel, en daarmee dus diffraksie bewerkstellig en die bekende elemente (duif, digter-kunstenaar-kyker) op so ’n wyse kombineer dat nuwe voorwaardes en betekenisskepping tot stand kom. 

In die deelnemende kennisname en kennisskepping word ’n kunswerk geproduseer: die intense beskrywing van kleur is ’n verdere herhalende motief in die gedig: “git op die nek”, “houtskool geduim op gebleikte maroen”, “die subtielste filet van die skemer” en die “rooidag gegrys”. Die woord “skets” dui enersyds op die proses waarmee die digter deur middel van woorde besig is om vinnig die voorkoms van die duif vas te lê, en sy vind uiteindelik dat kleur “onsegbaar is”, maar kan op ’n volgende vlak ook aanduidend wees van ’n kunstenaarsproses waardeur die duif tot visuele kunswerk gemaak word. 

Die woorde “deursigtig geraam” laat die suggestie van ’n vensterraam (waardeur die “mensdier” na die duif kyk), maar verwys ook na die raam van ’n portret. Deur die wedersydse kykproses is beide mens en duif vir mekaar “geraam”.  

Interessant in hierdie gedig is die gebruik van die woord “ander”, wat altyd gelade is.  

Want deursigtig geraam in ’n oorkantste nis blyk
’n ander opeens die blik te ontmoet.

Die suggestie word gelaat dat die “mensdier” die ander is – die ander van die duif, wat interessante gevolge inhou deur nie net die ekokritiese siening van die niemenslike wêreld as die ander te sien nie, maar dan ook die bordjies te verhang en die dier/duif as Self te sien, terwyl die mens in hierdie geval die Ander word, op die periferie, vanuit die perspektief van die duif.  

Uiteindelik gaan dit oor sien. Ek hou van John Felstiner (2009:19-23) se kommentaar wat hierby aansluit: die idee dat die digter die omringende wêreld  opnuut benoem/van naam voorsien en daardeur as ‘t ware deelneem aan die eerste skeppingsaksie en die daaropvolgende benoemingsaksie van Adam. Om te kyk, om vir ’n oomblik te begryp, te noem, terselfdertyd onbegrip toe te gee. Dit bly steeds die rol van die digter. 

Om te sien is dus om deel te neem. Dit is beide kennisname en kennisskepping.

 

5 Mei 2015

____

1My artikels oor ekokritiek en ekopoësie is

Die aard van ekokritiek,Plek en ingeplaaste skryf en

Ekokritiek en die nuwe materialisme(verkorte titels).

 

Bibliografie

Abram, D. 2010. Becoming Animal: An Earthly Cosmology. New York: Pantheon.

Barad, K. 2007. Meeting the Universe Halfway: Quantum Physics and the Entanglement of Matter and Meaning. Durham: Duke University Press.

Barad, K. 2003. Posthumanist Performativity: Toward an Understanding of How Matter Comes to Matter. SIGNS, 28(3).

Brink, A.P.  2008. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Felstiner, J. 2009. Can poetry save the earth? A field guide to nature poems. Yale: Yale University Press.

Haraway, D. 1997. Modest Witness@Second Millennium. FemaleMan©MeetsOnco-Mouse™: Feminism and Technoscience. New York: Routledge. 

Iovino, S. 2015. “The Living Diffractions of Matter and Text: Narrative Agency, Strategic Anthropomorphism, and how Interpretation Works”. Anglia, 133(1): 69–86. 

Iovino, S. 2012. Steps to a material ecocriticism. The recent literature about the “New Materialism” and its implications for ecocritical theory. Ecozon@, 3(1):134–45. 

Smith, S. 2014. Die tasbaarheid en die on(aan)tasbaarheid van literatuurteorie: ekokritiek en die nuwe materialisme. LitNet Poolshoogte. Internet:

http://www.litnet.co.za/Article/poolshoogte-die-tasbaarheid-en-die-onaantasbaarheid-van-literatuurteorie-ekokritiek.(Afgelaai 1 Mei  2015). 

Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9(3).

 

Bookmark and Share

58 Kommentare op “Susan Smith. By die sien: kennisname en kennisskepping”

  1. Waldemar Gouws :

    Uys Krige (wat hom in “Portret van die ou digter as ‘n jong renoster” en in “Stoftrappertjie” -‘n skilpadjie – met hierdie twee diere geassosieer het) haal iewers vir die Chileense digter, Huidobro (1893-1948) aan wat gesê het: “Die digter skep die wêreld wat behoort te bestaan buitekant die een wat wel bestaan … Die digter het slegs te doen met die uitdrukking van die onuitdrukbare” (soos Marlene van Niekerk se siening dat kleur eintlik onsegbaar blyk te wees).

    Is Huidobro se “Die digter is/’n kleine God” te versoen met Felstiner se idee van “deelneem aan die eerste skeppingsaksie”? En hoe staan die literêrgefokuste ekokritiek teenoor die werk van Darwin?

  2. Nini Bennett :

    Baie insiggewend – dankie, Susan!

  3. Dankie vir ‘n prikkelende en insiggewende artikel, Susan.

  4. sigeuner :

    Susan s die voorste kenner op ekopoësie en -kritiek. Enige digter wat “groen” wil skryf, sal baat by hierdie artikel.

    Dankie Susan, Ons sal kyk en ons sal kennis neem , en ons sal intra-aktief betrokke te wees.

  5. Susan Smith :

    Waldemar, baie dankie vir jou insiggewende weldeurdagte opmerkings en vrae. Ek wil begin met die tweede (makliker!) deel van jou vraag, naamlik hoe die ekokritiek oor Darwin voel.

    Die interessante ding is dat die ekokritiek sigself op ‘n unieke wyse as interdissipline posisioneer, waardeur dit voordeel trek uit kruisbestuiwing tussen die wetenskappe en die letterkunde. Inteendeel, ekokritiek werk ten nouste saam met veral die natuurwetenskappe, waardeur die persepsie van die natuur/wetenskap-konflik of digotomie eintlik juis afgetakel word.

    Die ekokritiek gaan dus van die veronderstelling uit dat om wetenskap te onderskryf nie beteken dat die wandade van die verlede in die naam van wetenskap (teenoor die natuur en omgewing) bekragtig word nie, maar dat die wetenskaplike ondersoekmetodes en begronding gesien word as die beste waartoe ons beskik om die wêreld te verstaan en om oplossings vir omgewingskwessies te vind.

    Die ekokritiek doen ‘n beroep op sy praktisyns om interdissiplinariteit te beoefen, veral met wetenskap. Letterkunde veronderstel interverhoudings en ‘n ekologiese bewussyn verhoog ons sin vir interverhoudings om niemenslike sowel as menslike kontekste in te sluit.

    Die evolusionêre biologie van Darwin, as eksponent van die wetenskap, word dus grootliks deur ekokritici onderskryf.

    Maar soos met alle teoretiese strominge, is daar heelwat onderlinge verskille en ook maar ‘n groot skoot binnegevegte.

    Wat my by jou vraag oor Felstiner bring. In sy Inleiding tot Can Poetry save the Earth? (Felstiner 2009:1-15) maak Felstiner melding van verskeie skeppingsverhale, waaronder die Apache-skeppingsverhaal, die verhaal van die Hopi-songod, die inboorlinge van Australië se skeppingsverhaal en natuurlik ook die tradisionele Bybelse verhaal. Hy vestig die aandag op die gemene deler, naamlik skepping deur middel van taal. Felstiner lê inderdaad daarop klem dat skepping tot stand gekom het deur taal, maar wys ook op die feit dat oorheersing (“dominion”) insgelyks met naamgewing gepaard gaan, ‘n term wat nie net besitterskap en seggenskap impliseer nie, maar ook verantwoordelike bestuur veronderstel. Verderaan wys hy op “Adam’s genius for naming” (2009:22), wat nogal binne die ekologiekonteks taamlik antroposentries klink. Uiteindelik fokus hy op die rol van die digter om dit wat hom omring op so ‘n wyse onder woorde te bring, “to make us see”.

    Of die digter besig is om ‘n wêreld te skep wat slegs bestaan búite die bestaande – dit kan mens sekerlik op velerlei wyses beredeneer, en my filosofie-kollegas sal dit soveel beter kan doen as ek.

    Ek verkies om te glo dat die digter besig om te skep – medeskeppend aan die bestaande, deur nuwe benoeming, deur ‘n sensoriese bewussyn van dit wat hom omgewe, dit wat lewend en nielewend is en waarvan hy deel is, maar ook skeppend aan die “onsegbare” en die ongenoemde, die niebestaande. Dit is immers in die aard van die digter om steeds met woorde op reis te gaan op ongebaande weë.

  6. Susan Smith :

    Nini, dankie vir jou opmerking.

  7. Susan Smith :

    Christa, ek waardeer die lees.

  8. Susan Smith :

    Sigeuner, dis ‘n wilde stelling wat ek nie kan onderskryf nie, maar ek aanvaar jou vriendelike woorde. Dankie!

  9. Waldemar Gouws :

    Dankie, Susan. Die gegewe antroposentrisme in ekologie- of ekokritiekverband kan nie ontken of vermy word nie. Soos Heidegger gesê het: “Alles wat is, is een enkele antropomorfisme.” Tog klink Breyten Breytenbach se poëtiese “Alles is een perd” in ekokritiese sin of dit ‘n dieper kyk verteenwoordig. Maar waaraan ly die perd?

  10. Susan Smith :

    Waldemar, ek waardeer die gesprek! Dit is so dat Felstiner nogal baie antroposentries (menssentries) klink in die boek onder bespreking, maar vir die ekokritiek gaan dit juis om die teendeel: die ekokritiek wil ekosentries wees en daarmee die eeuelange persepsie wat die mens aan die toppunt van die piramide staan, omverwerp. Dit gaan oor ‘n siening van die mens as deel van die geheel, soos visueel voorgestel deur die meegaande skets (Internet http://theoverthinker.org/wp-content/uploads/2013/06/ego-eco.jpg , afgelaai 7 Mei 2015).

    Die interafhanklikheid tussen die verskillende spesies word beklemtoon; meer nog, die interafhanklikheid tussen alle lewende organismes (mens ingesluit) en die omgewing.

    Antropomorfisme is ‘n perd (!) van ‘n ander kleur: in eenvoudige terme, die vermensliking van dit wat nie menslik is nie. En hierin lê nogal ‘n interessante meningsverskil. Want die vraag wat die digter/skrywer (en ook die kritikus en die analis) hom- of haarself moet afvra is of ons bloot besig is om diere en plante te “vermenslik” (byna soos die stylfiguur personifikasie) en of ons werklik besig is om deur middel van materiële verbeelding, ‘n objekgeoriënteerde leesstrategie (skryfstrategie, in die geval van die digter) en materiële uitruil (sien my artikel oor Die nuwe materialisme ten opsigte van hierdie terme) besig is om materie (daarmee word ingesluit alle lewende en nielewende dinge) verhalend te laat optree.
    Hieroor kan lank gesels word, en ek haal hierdie enkele paragraaf in die verband aan:

    “Digters het vanaf die vroegste tye reeds die poëtiese vryheid gebruik om die funksies van subjek en objek om te ruil. Teen die agtergrond van die onlangse klem op omgewingsgerigte wetenskappe en die hernude beklemtoning in literatuurteorie van die verwantskap tussen poeisis (om te maak), en eco-poeisis (om ’n huis te maak) (Skinner 2001:5), word alle materie, menslik en niemenslik, gesien as onvoltooid en in ’n durende verhouding met mekaar, aan die verander. Hierdie verhouding werk op allerlei vlakke, wat die grense van taal om die verhouding uit te druk, insluit. Daar is ’n nuwe bewussyn vir opkomende ontologieë wat die sintuiglike en buite-die-objek aksies van nielewende en niemenslike dinge ondersoek.” (Uit my artikel wat binnekort op LitNet Akademies sal verskyn).

    Op ‘n laaste noot: jou perd-waarneming klink vir my in die kol (hoewel ek nie vertroud is met die aanhaling nie).

  11. Anti Sellofaan :

    Al gehoor van die Antroposeen (Engels: “Anthropocene”) soos wetenskaplikes die huidige geologiese era noem, weens die aangetastheid van als in die natuur deur die mens se doenighede sedert die Industriële revolusie (ongeveer 1880)?

    Checkers-sakke teen renosterbosse,
    vrekking in die Karoo,
    koolsuur in lug en see?

    Vloede,
    orkane,
    tifone,
    tsunami’s,
    aardbewings?
    Chernobyl en
    Nepal?

  12. Marie Bredenkamp :

    Ek kan my hier vereenselwig.

  13. marlene van niekerk :

    Dis ‘n wonderlik interessante stuk en so mededeelsaam, Susan. Dankie dat jy met sulke toegespitste konseptuele toerusting in gesprek tree met die teks, dis hoogs prikkelend en ek voel getempteer om deel te neem aan die uitwisselinge hier – met alle gevare van dien(in die teekoppie).*

    Onderstaande pretendeer geen antwoord op jou stuk te wees nie, maar is hoogstens ‘n paar los opmerkings.

    Op die gevaar af om pedanties te klink: die mens se posisie in die biosfeer word tans deur die (mens se eie) wetenskap wonderlik gerelativeer, en wel presies in die tyd dat hy/sy omtrent alles wat lewe uitwis deur sy/haar alles oorwoekerende parasitisme op die kloot. Die (menslike) stuk natuur wat sig tot dusver meester en besitter van die (nie-menslike) natuur gewaan het, begin sy eie betreklikheid gewaar asook die betreklikheid van sy sintuiglike vermoë, veral die asembenewende mikro- en makroskopiese ekstensies van sy sig waardeur elke ding tot in sy tabernakeldrade afgeloer kan word.

    Wat “sien” betref: vgl. Maturana en Varela se nosie van die louter fisieke aard van die transendentale appersepsie (Kant). Die vorme van aanskouing (ruimte en tyd) is volgens hulle liggaamlik-materieel van aard en nie geestelik-mentaal soos Kant gemeen het nie. Vgl. Maturana oor die beperking en spesifikasie van die sig van alle organismes tot wat hulle nodig het om te oorleef. Vgl die beroemde padda-eksperiment. Die interessante van lg. is dat Maturana en kie net kon sien wat hulle kon sien in verband met die konneksies tussen die padda se brein en sy oog omdat hulle wetenskaplikes was met ‘n bepaalde menslike inrigting van waarneming. Wat sê dit van hulle gevolgtrekkings oor die sigvermoë van paddas? Niks! Dit sê slegs iets oor hulle eie wetenskaplike waarnemingsapparaat en vraagstelling. Ons is monades met onontsnapbare kennis-feed-backprosesse tussen ons brein en ons oog. Vgl ook die eerste sinne in Nietszche se teks Über Wahrheit und Lüge. Dit het radikale implikasies. Ook die volgende boek bevat interessante materiaal, veral hoofstuk 1, 2 en 10. Enaction: Toward a New Paradigm for Cognitive Science. Edited by John Stewart, Olivier Gapenne and Ezequiel A. Di Paolo.

    Tog vra ons: is interspesie-“kommunikasie” miskien moontlik in serendipitous momente omdat bv. ons mense soveel DNA met diere deel en daarom soms die smal wand tussen onsself en ons bure kan deurbreek? Vgl. Barbara Smuts en die bobbejane. Het ons alleen maar die sjamanistiese metodes van kontaklegging “vergeet”? die “handigheid” om sommige subtieler intensiewe kwaliteite van materie(Manuel Dalanda)te bespeel met bepaalde dier-verleidende gebare? (My oupa kon hoenders hipnotiseer, en kon so oortuigend op ‘n grassie trompie speel dat al die bewertjies vanaf Koperfontein tot by Koringberg ‘n week lank in die berm staan en tril het daarvan, dit het ek self meegemaak as kind.)

    Of anders: het ons ons verbeelding (artistieke spel = eksessiewe patroonmaking) nodig om te oorleef? Is die maak van kuns deel van ons toerusting om te oorleef en hoe werk dit? (Vgl Brian Boyd). Verbeel ons ons, ons (ekskuus 3x “ons”!) is “in voeling” en “praat met die voëls”, omdat ons anders sal vrek van ellende deur ons habitus van afstandskeppende “kennis”. Ek onthou in die verband Van Peursen se ou boekie Cultuur in stroomversnelling wat ons destyds op universiteit gelees het waarin hy praat van die “partisiperende” aard van die mens se verhouding tot die omringende werklikheid tydens wat hy onderskei as die sg. mitiese periode (toe die wêreld nog jonk was), versus die ontologiese en operasionele benadering van die kennisobjek in daaropvolgende periodes. Vandag sou mens kon praat van ‘n melankoliese want tevergeefse artistieke “guilty recuperation of participation” in die Antroposeen. Lg is welteverstaan absoluut iets anders as die insig van die nuwe materialisme in die materieelgegewe verweefdheid van kennis en objek. Wat my interesseer is waarom lg soort verweefdheid nie sou kon verhoed dat ons die verhaalvertellende natuurdinge op sulke verbysterende wyses sou verwoes het nie. Dooie water, dooie grond, “waste people” brutaal uitgewerp deur die instrumente van die globale finanskapitalisme. (Saskia Sassen) Ek vra eintlik nou na die etiese en politieke implikasies van die nuwe materialisme. Kan jy verduidelik hoe hierdie nuwe epistemologiese paradigma ook dalk ‘n vars selfsituering van die nuwe materialiste in die arena van mag en politieke oorheersing meebring? Of iets aanbeveel wat ek kan lees daaroor?

    Nou weer ‘n ander paragraaf.

    Praktyke van deelnemende verbeelding, wil ek graag glo, kan wel ‘n nuwe interspesie-sosiale wêreld evokeer. Ons is “world-ists”, en dis vir almal steeds meer duidelik dat die wêreld wat ons tot dusver gemaak het ‘n riante ef-op is en dat ons iets anders moet begin maak daarvan saam met ons medewesens langs wie se klades ons geglip het tot ons snode tweebeenstand. Of is ons betrokke in ‘n noodwendige natuurproses met British Petroleum as die apex van ons parasitiese evolusie? (vgl Straw Dogs van John Gray en The Silence of the Animals)

    Nog ‘n opmerking.

    Die kommunikasie het pas begin toe ek die gedig hierbo ritmies vir die duiwe in my jaart begin voorlees het. (ek doen dit ter afwisseling van my obsessiewe ondervraging van my kamerhoeke waarin Koning Zwelithini en Steve Hofmeyer staan) Ek meen dit sou meer met klankoordrag as met die oordrag van konsepte soos “participative rupture” te doen gehad het. Die tortels het ‘n ruk lank bly sit en selfs gekoer, maar skielik almal weggevlieg. Die leë duifdeurvliegbare lug waarmee ek bly sit het, was weer op ‘n ander manier stigtelik. (Vgl. “There was a boy” van Wordsworth.)

    Miskien kan mens sê: die materialiteit van stemhebbende vokale wat die lug en trommelvliese in beroering bring, mobiliseer die argument van die gedig, die konseptuele vlak waar ek iets soos “transsubstansie” probeer formuleer. Sowieso ongelooflik narsisties. ‘n Ydele versugting. Die gedig kan egter nie “verplaas” word deur sy eie (of enige ander) wysgerige argument of nomenklatuur nie, maar wil deur digterlike prosedures (klankorganisasie) meer materieel wees as sy eie redevoering. Klank wat dink, en dink wat klink? Meestal te moeilik om reg te kry en alte hooggegrepe as digterlike ideaal. Poësie as bioluminessensie en eggolokasie? Let the worlds be our oysters to try and suck or blow. Mens word tog net oud en gaan dood, jy kan net sowel begin koer. Dit skep in elk geval onderlinge herkenning tussen birdwatchers wat ek dink omtrent die belangrikste is wat dit regkry.

    Vroeër was digters maklik ook filosowe, (behalwe op Stellenbosch waar dit verbode was), vandag dink ek hulle stel dalk eerder belang in wetenskap en politiek (en ook dit sal miskien verbied word, want onbelemmerde “mymering” word begryplikerwys in roerige tye deur sommige lesers verkies terwille van identiteitsbevestiging). Maar die wêreld is so wonderlik meervoudig, mens het geen rus of duurte nie. Pas het ek ‘n pragtige introduksie vir leke gelees van Albert Goldbeter, ‘n Belgiese selbioloog wat elke hoofstuk eindig met ‘n gediggie van sy eie hand propvol pragtige meersillabige wetenskaplike woorde. Die toenadering tussen wetenskaplikes en digters is miskien wedersyds noudat ons begin verstaan wat dit beteken om saam met alles anders, van minerale tot wolke, op talle skale gekonstitueer te wees in verskillende groter en kleiner ritmes – selfs al is ons gevange in aparte wêrelde soos opgelewer deur ons beperkte sintuie. ‘n Vlies van blinde monades golwend oor die aardebal. Ons weet waarlik nie wie of wat ons is nie, git, soos my pa sal sê, en ons beter ons daarna gedra.

    *Artikel in voorbereiding: Poësie en wetenskap in die Antroposeen: oor ritmes en vibrasies in die monades van die biosfeer.

    Naskrif:

    Orpheus in the Anthropocene

    A plastic drinking straw he carved
    into a probe, a stiff sharp thing he thought
    would do the job. In the kloof he sat
    and waited on a rock but nothing came
    until at dusk a thousand sunbirds in a flock
    descended on a biotope of nerifolia,
    the coral red protea with a collar of black
    fluff that opens at the throat. He closed
    his eyes to check their tuning as they supped.
    Then, as they bobbed with flying tails
    atop the nectar hives in heady susseration,
    a cymbal seemed to rouse the mountain side
    into a rush of echoes. He watched
    them bend to get more sap. They did not enter
    from the front but slid their curvy beaks
    into a drum through hatches of some secret
    doors and straightened up replete with song.
    He waited till they left. The moon was out.
    He strode into the veld, poked his suction
    apparatus at the scales over the basis of the skull
    but came up empty every time. Then snapped
    a stem, shook upside down a bleeding head
    above his maw, felt the prick of something
    on his tongue, the spoils cascading through
    his larynx to his lungs. He coughed a lot, cried
    to god but he was cold. Bereft he walked
    from the reserve, clutching, scrunched
    up in his paw, his faithless music shunt.

  14. Susan Smith :

    Anti Sellofaan, dankie vir die bydrae. Die woord “antroposeen” is natuurlik ‘n kombinasie van die Griekse wortel “anthropo-” , wat “mens” beteken, en “–cene” wat “nuwe” beteken, en wat na die nuwe epog verwys. Soos jy tereg sê, ‘n geologiese term wat verwys na die tyd waarin ons nou leef waarin die invloed van menslike gedrag op die aarde se atmosfeer sodanig was dat dit ‘n nuwe geologiese epog in die aarde se litosfeer ingelui het.

  15. Susan Smith :

    Marie, dankie vir die lees en die vereenselwiging. Dit maak twee van ons!

  16. Susan Smith :

    Marlene, ek is bly dat die bloginskrywing die digter uit haar kamerhoekgesprekke kon laat keer na die virtuele wêreld hier. Want ironies genoeg, hoe materieel ons ookal ingestel wil wees, die oomblik dat ons daaroor redeneer en skryf en opinies deel, begin ons instaar in ‘n 40x20cm skerm en is die enigste materialiteite die klanke wat deur die vensters instroom, hetsy van ’n duif of ‘n luidrugtige student.

    Dankie, dus, vir jou verwysings, bronvermeldings en heel relevante agtergrond oor Maturana en Kant. Wat interspesie-kommunikasie betref – David Abram het dit klaarblyklik reggekry om saam met die kraaie te vlieg, maar my vermoede is dat sy deelnemende verbeelding sekerlik die grootste rol gespeel het. Ja, om jouself sodanig in te leef in die leefruimte van die ander dat jy elemente daarvan meemaak – dit is dalk al wat vir die digter beskore is. Abram sê: “The simple act of perception is experienced as an interchange between oneself and that which one perceives – as a meeting, a participation, a communion between beings. For each thing that we sense is assumed to be sensitive in its own right, able to feel and respond to the beings around it, and to us.” (Abrams 2010: 269)

    Jou vraag oor die nuwe materialisme: omdat die nuwe materialisme (en objekgeoriënteerde ontologie) ook interdissiplinêr funksioneer, bestaan daar die moontlikheid (en die hoop) dat die invloed daarvan wyer sal strek as ‘n paar teoretici wat mekaar om ‘n klein vuurtjie sit en warm maak. Timothy Morton maak belangrike waarnemings, veral oor wat hy hiperobjekte noem, en die invloed daarvan op die lewe soos ons dit tans ken. Of hierdie oproepe die regte ore sal bereik en globaal ‘n verskil sal maak, sal die tyd leer. Groot veranderinge begin met groot idees – laat ons hoop dat hierdie nuwe teorieë nie net teorieë sal bly nie, maar gaandeweg persepsies verander. En persepsies kán verander, een persoon op ‘n keer, een gedig op ‘n keer, een leser op ‘n keer. En een plastieksak op ‘n keer.

    As jy nog nie het nie, gaan lees gerus Timothy Morton se “The Ecological Thought”. Verdere kerntekste oor die nuwe materialiteit is “Meeting the universe halfway” (2007), geredigeer deur Stacy Alaimo en Susan Hekman, en “Material feminisms” (2008) deur Karen Barad. Jane Bennett se “Vibrant matter” (2010), David Abram se “Becoming animal” (2010) en Hekman se “The material of knowledge” (2010) sluit by hierdie tekste aan. Ook Diana Coole en Samantha Frost se “New materialisms” (2010) en die “Oxford handbook of material culture studies” (2010), geredigeer deur Dan Hicks en Mary C. Beaudry, lewer ’n bydrae.

    Die wisselwerking tussen wetenskap en die poësie is beslis aan die opleef so saam met die ekopoësie. Want dikwels werk die groen gedig nie net met deelnemende verbeelding nie, maar met konkrete wetenskaplike feitelikhede.

    Verder, soos jy sê, mens kan probeer koer. En gelukkig is die wêreld wyd en meervoudig.

    (Terloops, hou maar uit en aan met die duiwe – gaandeweg onwikkel hulle sekerlik ‘n smaak vir die Afrikaans, al neem dit nog ‘n negentig jaar. En hulle is waarskynlik meer ontvanklik as die ander figure in jou kamerhoeke.)

  17. marlene van niekerk :

    Beste Susan,

    Baie dankie vir die terugskryf en die gulle lys boektitels, ek sal dadelik beginne lees.
    Ja die duiwe, dis eintlik nog niks, eendag vertel ek die storie van die uile!
    Vriendelike groete,
    Marlene.

  18. Nicolette van der Walt :

    Baie dankie vir ‘n puik artikel, Sudan. Ek leer so baie by jou en ervaar ‘n “connectedness” hiermee.

  19. Stefani de Villiers-Serfontein :

    Susan, ek sit in verwondering by die meesteres se voete en leer…
    Baie dankie!

  20. Pouveer :

    As ek lees wat Susan en Marlene skryf, besef ek net wat ‘n absolute leek ek is op die gebied van letterkunde. Dis ‘n hele nuwe universum wat hier kompak saamgevat word. (Maar ek moet bedees toegee dat dit effens hoog is vir my.)

    Ek wonder net oor een ding, nl of Jung nie meer relevant is as Nietzsche of Kant in die konteks nie. Die Duitsers het ‘n lang romantiese periode gehad waar die natuur besing is. En vir Jung het dit sekerlik ook nie gegaan om enige vorm van ekologiese bewustheid nie.

    Ek wil hom eerder vanuit ‘n ander, meer transsendente hoek betrek. Jung was primêr geïntereseerd in bewussyn (dink Maar aan sy reeks voorlesings by Yale oor kundalini joga en die invloed van diep meditasie/innere waarneming op die bewussyn).

    Jung en ‘n taamlike beroemde wiskundige namens Wolfgang Pauli het ‘n reeks uiters insiggewende gesprekke gevoer, wat ook Einstein begeester het. Dit het gegaan om die begrip sinkronisiteit en hoe dit nie-fisiese fenomene en tyd, evolusie en gelyktydigheid beïnvloed.

    Mens sou dit as ‘n groot simfonie kon beskrywe waar alles gelyktydig sinkroniseer in die skepping, en dat alles wat ons doen en waarneem, terselfdertyd deel is daarvan — en dus opsigself deel is van ‘n komplekse sinkrone skeppende proses.

    Met ‘n groeiende ekologiese bewussyn en die betrekking daarvan in digkuns vanuit die perspektief dat ons deel is daarvan, word sit vir my op ‘n manier ook ‘n sinkrone skeppende proses op verskeie vlakke. Ek weet nie of dit wat ek probeer sê reg oorkom nie, maar anyway, dis sommer net ‘n kleinstuiwertjie vanuit ‘n leë letterkundige beursie. Soos Catullus is my beursie meestal eerder vol spinnerakke.

  21. Waldemar Gouws :

    Homo tyrannicus tier gierig voort. Die keper is menslik. Ten spyte van Susan Smith se boetedoenende bedoelings (is dit gebaseer op ‘n morele sweem van aardse matriotisme?), of Anti Sellofaan se indeks, en Marlene van Niekerk se briljante gekompliseerde blik. Lg. impliseer wel dat ons menslike fokus ook onbekende grense oplê. Want ons formuleer, en druk uit, en druk dit dan in konsepte in. Ek wonder waarom Abram nou die dag nog oor “becoming animal” gedink het, want die denkfout lê en skitter daarin. Ons is van die begin af diere. John Gray stel dit m.i. heel eerlik: “There are not two kinds of human being, savage and civilized. There is only the human animal, forever at war with itself” (in “The Silence of Animals,” 2013).

    Hier vlieg nou buitekant ‘n paar pratende byvreters verby: hoe genuine natuurlik, wil ek dink (al deur ‘n Johannesburgse dik lug, sonder bye byna).

    Om óm antroposentiese denke te wil kom, is onmoontlik. As jy jouself wil steriliseer, dan weet jy darem waar/wat om te sny.

    Terloops, my kat, Sielie Sebald, is heel in haar skik met wat sy my al alles geleer het om haar te behaag.

  22. Pouveer :

    Waldemar, ons leer altyd dat dit wat die mens van ‘n dier onderskei, is dat ons ‘n siel het. Maar nadat ek onlangs hierdie video gesien het wonder ek ernstig daaroor:
    http://m.youtube.com/watch?v=gvwHHMEDdT0

  23. Waldemar Gouws :

    Pouveer, hoe sal ek sê, waar is die res van jou? Druk deur met dit waarmee jou kop begin het. Dankie vir die videoskakel. Anna Breytenbach is ‘n wonderlike eksemplaar van ons spesie (soos ook haar oom, wat, nes die swart luiperd in die video, self lank opgesluit was).

  24. carina van der walt :

    Susan, dis nou een ding (nee, miskien twee) wat my verstand te bowe gaan:
    1) dat twee kunstenaars wêrelde uitmekaar en onwetend van mekaar met dieselfde konsep vorendag kom, nl. die perspektief van spesifiek die duif. Waarna Van Niekerk se “mens/duif” kyk, bly getrou aan die poësie verwoord in ‘n taal van indirekte seggingskrag – bietjie raaiselagtig. Daarteenoor kyk Anderson se duif duidelik, helder en 100% in fokus met ‘n genadelose lig wat die mens in sy naakte, tragikomiese bestaan toon;
    2) dat ons onwetend van mekaar (ja, ek was nie bewus van jou stuk hier op versindaba nie, het dit eers gesien toe ek my eie teks gepos het en het dit vandag eers gelees) geïnspireerd uit twee verskillende hoeke dieselfde saak belig. Dit behoort interessant te wees om Van Niekerk en Naudé se duifgedigte bietjie met mekaar te vergelyk.

  25. Susan Smith :

    Nicolette en Stefani, dankie vir julle lees en kommentaar.

  26. Susan Smith :

    Waldemar, ‘n paar baie interessante opmerkings van jou kant. Moet maar nie vir Abram op sy baadjie (of in die geval, op die titel van sy boek) takseer nie. Sy vorige boek, “The Spell of the Sensuous: Perception of Language in a More-than-Human World” word gereken as een van die boeke wat die opkoms van die nuwe dissipline, ekosielkunde, tot gevolg gehad het. Hy skryf onder andere ook baie insiggewend oor die orale tradisie.

    As jy bereid is om ‘n sensuele, sensoriese reis mee te maak, lees die boek!

  27. Susan Smith :

    Carina, dit lyk my Pouveer het nie verniet oor sinkronisiteit (dankie vir jou bydrae Pou!) gepraat nie! Dalk het die duiwe dit bewerk om ‘n nuwe teken in die diereriem op te rig, want dit lyk sowaar of die sterre in ‘n lyn opgestel is. (So kom ek terug met ink onder my naels van ‘n kunsklas waar ek my lino-proteas gedruk het, met die vibrasie van Marlene van Niekerk se swart-gekraagde protea in “Orpheus in the Antropocene hierbo, agter my oë.)

    Mooi, jou foto van die lug vol duiwe. Dankie vir jou kommentaar en vir jou eie pos, wat ook welkom was.

  28. Susan Smith :

    Pouveer, jou filosofiese blik is alles behalwe oningelig. Dankie vir die raakvlakke wat jy uitwys. Spin maar voort!

  29. Maria Snyman :

    Sjoe, Susan, wat ‘n dier-bare diskoers het jy hier aan die gang gesit – van duiwe tot tierkatte! Ek kan my gevoel (niks verstand oor nie, katte (video) laat dit dissipeer!) maar net in die woorde van die digter uitspreek:

    “Pupille ondergaan momenteel
    ’n stil, gespieëlde gradasie van aftas, takseer
    en herkenning, daarna, onverbloembaar
    ’n verwyding tot reslose adorasie.
    […]
    die trant van ontwapening, wedersyds,
    en, voorlopig, die onderling uitgestelde afskeid.”

    Sien uit om van die bronne genoem en deur die verloop van die blog na vore gekom het onder oge te kry. Doe so voort!

  30. Maria Snyman :

    Dink nou net daaraan: Die digter gee ‘n pas aan. Die onhebbelike humor in Van Niekerk se werk maak dit onmoontlik om in haar pas te bly – jy wil, maar jy kan nie; jy is bang jy begin lag, jy voel jy mag jouself dalk doodlag:

    “Kontoer word dubbel bewonder,
    lyn, dressuur, balans van stertpunt, pote.
    Vliegwerk, russtand dring aan op begrip
    deur ’n vogtige transsubstansie – één lyding,
    één lyf, kwalik verskil hierdie mensdier
    van duif. Skigtig volg dan ’n eerste notasie, ferm
    geskrap, voorts ’n getortel wat die indamp
    van lig op mat pluimasie uit die vingers wil speel,
    en terselfdertyd bind. Maagkiesel, grit, slegs
    ’n vlugtige por vir die uitgee van kropmelk,
    is dit nie die kuns van ’n skets nie? Bly sit lank genoeg,
    word gevra, bly sit, want die kleur is onsegbaar,
    die subtielste vilet van die skemer, rooidag
    gegrys tot kripsis onder skaduweeblare.
    En dan die verplompte knikkoppende tred,
    uit onder takke van wilde-amandel,”

    !!

  31. Susan Smith :

    Liewe Maria, dankie vir die saamlees en die saamlag!

  32. Susan, ‘n baie interessante nuwe veld wat braak lê. Ek lees met groot belangstelling hoe die teorie in die praktyk beslag kry. Dankie vir ‘n baie prikkelende invalshoek!

  33. Marianne de Jong :

    Baie dankie aan almal, beginnend by Susan S., vir al hierdie insigte. Aan Marlene – kan ons uitvind waar die voorgenome artikel gaan verskyn? Oor klankmaterialiteit in po-esie: vir my fassinerend dat ‘n mens in mensetaal klank nie los kan maak van betekenis nie.

  34. Susan Smith :

    Marlies, baie dankie vir die positiewe terugvoer. Die kommentare van ervare akademici soos jy en Marianne word waardeer. Ek probeer om die kloutjie by die oor te kry – of dalk in hierdie geval die oor by die kloutjie! Die ekokritiek bied soveel interessante invalshoeke en die praktiese toepassing daarvan op tekste is ‘n heerlike uitdaging.

  35. Susan Smith :

    Marianne, dankie vir jou opmerking. Ek dink dit is in ons menslike aard om aan klank (ook dan die niemenslike) betekenis te heg. Die poging om hierdie klankmaterialiteit op betekenisgewende wyse in die gedig in te bed, kan ‘n wonderlike uitdaging vir die digter wees.

    Op ‘n ander noot: hier is ook ‘n interessante insetsel waarin die jaarringdata van ‘n boomdeursnit in musikale terme getranskribeer is:
    https://www.youtube.com/watch?v=MS_U5pRpY1I
    (Dankie aan Ellen Botha vir die skakel).

  36. Melanie Grobler :

    Liewe Susan, ek wil graag vertel van my lewensveranderende interaksie met ‘n gorilla in die Pretoriase se dieretuin. ‘n Groep mense het saamgedrom by die ingang van die spelonk en ek moes diep inloop om hom te sien. ‘n Dik glas wand het ons van mekaar geskei. Nogtans het ons energiegewyse kontak met mekaar gemaak. Hy het stadig nader geloop en teenoor my gaan staan.Ek het my hand uitgesprei oor die glas. Die wyse ou dier het onmiddelik my handeling herhaal en ons het ons harte aan mekaar openbaar. Toe het hy diep gesug sodat ek al sy pyn en verlange kon ervaar. Dit was egter nie net ek nie maar ook die ander toeskouers wat die besondere energie ervaar het. Wat ‘n besondere interspesie ervaring!

  37. Susan Smith :

    Melanie, dit is werklik ‘n besondere eraring! Dankie dat jy dit hier deel. Het jy die skakel van Pouveer hierbo raakgesien? Indien nie, gaan kyk gerus.

  38. Maria Snyman :

    Ekokritiek, die nuwe materialisme, klank, musiek en Nietzsche se The Birth of Tragedy… Soos die vertaler Douglas Smith (Oxford World Classics 2000) laasgenoemde bondig opsom: dit is ‘n boek wat verdeeld is tussen eneryds die oorsprong en ondergang van die Griekse tragedie, en andersyds ‘n “impassioned manifesto for the regeneration of contemporary German culture”. Hierdie twee dimensies word bymekaar gebring word deur Nietzsche se argument dat die Griekse tragedie gebore is uit musiek, en die Dionisiese gees wat dit vergestalt. Die Dionisiese is natuurlik onlosmaaklik is van sig energieke onderhandeling met die Apoliniese. Kortom: daar is net (die musiek van) magte en waar magte niks anders is as die verskille tussen magte nie (en mens moet dus ‘n fyn oor ontwikkel om die musiek van die heelal waarin ons ons bevind te kan hoor). Vir dié met slegte gehoor is daar darem dan ook die meer materiële – op ‘n manier buitensporige konkrete – speelse spoor/trace/merk(/tr.) (à la Derrida, ‘n ander dodelik snaakse skrywer) waarmee Nietzsche se “ongehoorde” musiek met die (meer materialistiese metafisiese) oog opgespoor kan word.

    Met verwysing na J. Hillis Miller se “Derrida’s Topographies” (1994) wonder mens of die nuwe materialistiese wending van ekokritiek onthou van Marx se kritiek op Feuerbach, naamlik in Miller se woorde, “that it is no more than a theoretical or mental rearrangement of the terms it challenges and has therefore no means of touching the material world”. Ek wonder dit na aanleiding van Serenella Iovino se afsluitende woorde: “This, far from being the ultimate form of anti-humanism, is going to shed a more realistic — and gentle – light on our place in a widely agentic world.”

    Solank as wat mens sukkel om ‘n smaak vir die onrealistiese te hê, so lank gaan mens sukkel om wat (moet/sou moes) gebeur (het) in die gesig te staar, want wat gebeur is nie mooi nie, maar daar is gelukkig ook dodelike snaakse voorbeelde (as jy noukeurig genoeg kan lees, oftewel bereid is om te sien wat jy lees en te lees wat sien) wat mens kan wys hoekom mens moet ligloop – soos ‘n “Vrou op duifpote” à la Stockenström in ‘Die stomme aarde’? – om die nie-snaakse voorbeelde te kan vermy. Soos daar staan in “Vrou op duifpote”:

    […]
    Maar haar mond, luister, haar mond
    lag. Sodat alles riffeltjies maak,
    grys, kaneelbruin soos duifdenke
    en die plek volmaak plek word
    waar sy trippel.

  39. marlene van niekerk :

    Beste Marianne, (Susan en ander kommentatore)
    My artikel is nog in wording, ek laat weet waar, ek gebruik in ieder geval die insigte van Elizabth Grosz daarvoor. Sien byvoorbeeld die aanhaling uit ‘n teks van Grosz hieronder. Wat my betref het sy die essensie beet van wat “kunstenaars” in die beste geval doen, dit wil sê: die soort kunstenaars wat nie beoog om uit te druk wat hulle bedoel en te bedoel wat hulle uitdruk, synde alteseer opgehang aan hulle sterk opinies nie, (nie bv skilders of komponiste met ‘n eties- of sosiaalverantwoorde “boodskap” nie)

    Grosz het dit dink ek oor kuns waarin die materiaal opgerui is tot ‘n bepaalde intensiteit. By implikasie sal dit kuns wees waarvan die makers in die proses van materiaalopruiïng dinge agterkom wat hulle nooit self sou kon uitgedink het of geweet het hulle kan voel nie. Soms is dit selfs moontlik dat begaafde kunstenaars met baie sterk morele of godsdienstige of politieke opinies of idees wat hulle wil oordra, ook egter dermate instaat is daartoe om hulle materiaal op te rui, TEEN die alledaagse instrumentaliserings daarvan in, dat hulle in weerwil van hulle oortuigings of bedoelinge meer intense/ungainly/dubbelsinnige kuns maak as wat hulle dalk sou wou.

    Ook bewustelik “groen” bedoelde werk kan in die strik val van blote eko-korrekte opinie, en dan is dit wat my betref nie meer radikaal “groen”of radikaal whatever nie. Radikaal “groen”, (of wat ookal) het na my mening te doen met die aan die gang kry van intense vibrasies in die materiaal soos waarvan Deleuze en Guattari praat in What is Philosphy in hulle hoofstuk oor kuns.Siem ook hulle boek oor Francis Bacon.

    Hierdie soort idees dink ek is miskien onder druk in omgewings soos ons s’n onder andere as gevolg van die politieke (postkoloniale?) situasie en die parket van skuld, belydenis, selfbeskuldiging, boetedoening en getuienis lewer, of van aanklag, oordeel, aantyging, waardering, misprysing, idealisering, utopiese verlange of staatsregtelike hoop, waarin baie histories bevoorregte kunstenaars en kunskritici die hele tyd te staan kom, in kort, die parket van die etiese-onder-plaaslik-ideologiese-druk, dit is, onder die druk van diskoerse van mag/ontmagtiging.

    Die idee van radikale/intense kuns is ook onder druk as gevolg van die populêre aandrang op die gebruik van funksionele spreektaal, en die aandrang op sogenaamde toeganklikheid, helderheid, eenvoud soos selfs soms nog af en toe gehoor uit die vakskool van oud-Transvaalse kleremakers wat, in diens van selfbeskerming gesteld is op die identiese en op identiteit.

    Ek sou sê, skeur die lap skuins teen die draad, girrrrrrts en laat klok daardie derwisj-skirt in vadersnaam, selfs in turbulente tye, dit wys mens LEWE tenminste nog, en na my mening is mens juis dan intens medemensdierlik en polities besig – en so “groen” dat as jy lank genoeg stil genoeg sit die trapsuutjies op jou skouer kruip ten einde te verkleur tot jade en saffier.

    Vgl die volgende, beter kan mens dit nie sê nie.In die ouer filosofiese taal van Nietszche sou mens miskien praat van die “Dionusiese” soos Maria verduidelik, sien ook Nietzsche se verwysing via Schopenhauer na die sluiers van Maya.

    https://visrfreeschool.files.wordpress.com/2013/09/grosz-art-and-the-animal.pdf

    Art is of the animal. It comes not from something uniquely
    human – reason, recognition, intelligence, or sensibility –
    nor from any of man’s higher accomplishments – a special
    inclination to the aesthetic or the ethical, to beauty or
    goodness – but from something excessive in the world, from
    what is unable to be predicted, from the animal. What is most
    artistic in us is also the most bestial. Art comes from that excess,
    in the world, in objects, in living things, which enables them
    to be more than they are, to give more than themselves, their
    material properties and possible uses, than is readily given in
    them. Art is the consequence of that excess, that energy or
    force, that puts life at risk for the sake of intensification, for
    the sake of sensation itself – not simply for pleasure or for
    sexuality, as psychoanalysis might suggest – but for what can
    be magnified, intensified, for what is more, what is perhaps
    too much, but through which creation, risk, innovation are
    undertaken for their own sake.

  40. Susan Smith :

    Dankie Anti Sellofaan, vir die skakel na wat lyk na ‘n interessante bydrae tot die gesprek. Ek is veral geïnteresseerd oor die rol van Geesteswetenskappe – die artikel is geboekmerk vir deeglike lees!

  41. Susan Smith :

    Marlene, Maria en medegesprekgenote, dankie vir al die bydraes – dis nogal oorweldigend, moet ek sê, vir ‘n nooiensvaartblog! Ek was definitief nie soveel reaksie te wagte nie!

    Wat my laat besef dat hier raakpunte vir baie van ons is. Die konneksie tussen ekokritiek en die filosofie is besonder interessant. Dit laat mens onwillekeurig dink aan die (ietwat verouderde) vooropgestelde idee dat natuur, aan die een kant, en kultuur/wetenskap/teorie, aan die ander kant, in opposisie met mekaar is. Daar is in die ekokrititiese kringe wyd hieroor gedebateer en onder andere word daar gepraat van die “material turn” in teenstelling of opposisie met die “theoretical turn”. Voorts moet daar rekening gehou word met die sogenaamde verdeling tussen materie en die kulturele konstruksie daarvan – ‘n skeiding wat gesien word as ’n direkte uitvloeisel van die postmodernisme en die poststrukturalisme, en die ekokritiek se poging om hierdie skeiding te oorbrug (http://www.litnet.co.za/assets//pdf/joernaaluitgawe_11_2/11_2_Smith.pdf).

    Dit klink vir my of dit aansluit by jou opmerking oor Marx, Maria, waarmee ek nie vertroud is nie, maar wat klem lê op materialiteit.

    En jou aanhaling van Iovino is in die kol – sy lê klem op die “agentic” eienskap van materie – waarmee ‘n opwindende siening veronderstel word, wat, voel dit my, Marlene, aansluiting vind by wat jy sê van Grosz se “opruiende materialiteit”. In albei gevalle is die fokus op die “ding”(lewend en nielewend) self, wat as “agent” of “aktant” optree en daarmee moontlikhede vir die digter skep om met nuwe oë te kyk na daardie lap wat ons aan die skeur is, soos jy so mooi sê, Marlene. Die materie word die katalisator van ‘n nuwe storie, vandaar die verhaalde en verhalende materie.

    Marlene, ek stem saam dat om met ‘n groen idee of groen teorie in die agterkop te begin skryf, juis die hele konsep ondermyn. En ja, daar is ook ons sosiale bewussyn wat te doen het met die plek en die tyd waarin ons is, waarvan ons nooit loskom nie. Ekokritiek het egter nie net met die “skone natuur” en/of die ontwrigting daarvan te doen nie. Dit kyk onder andere ook na die nadraai en impak van ‘n koloniale bestel op mens en plek en omgewing. Dit behoort in die eerste instansie Afrikagerigte vrae te vra om plek- en omgewingspesifieke antwoorde te kry. Selfs as ons polities-betrokke poësie bedryf of sosiale kommentaar lewer, kan dit in ‘n breër konteks as ekokritiese kommentaar gesien word.

    Wat ons terugbring by “radikale, intense kuns” wat die doek téén die grein laat skeur.

  42. Desmond :

    Marlene, interessante klomp verwysings in jou antwoord hierbo (ek het Grosz nou al lank op my moetleeslysie, ek moet seker ‘n plan maak; is lees nog deel van ons posbeskrywing?), en dit herinner my aan ‘n snedige, amper verkleinerende artikel oor ‘n Francis Bacon-retrospektief wat onlangs in die Guardian verskyn het. Lyk my al wat tans tel is ‘die klassieke’ (in ‘n Rough Guide to Modern Art tipe maklik verteebare verpakking) en ‘die populere’/ ‘toeganklike’ (en dus ‘ervaringsbevestigende’): die soort produksie van intesiteit, van oorgrensende en dalk oorgrensde ervaring, is onder druk. (Die huidige populariteit van die memoir onthul dalk ook iets van die heersende paradigma wat betref die verhouding letterkunde – ervaring…)

    Ek is tans nogal geinteresseerd in Foucault se vroeer werke, eerder die meer invliedryke middelperiode: die groot geskiedenis van ‘onrede’ en die essays oor Blanchot, Bataille en ander. Foucault word onregverdig verwyt dat hy aanvanklik in die ban was ‘n nog half-fenomenologiese ervarende subjek; of dat hy ‘waansin’ sou romantiseer, maar ek dink daar is nog goud te myn in sy (sekerlik Nietzscheaanse) idees oor die ‘limiet- /grens-ervaring’.

  43. Desmond :

    NS. Jammer, ek het gepos voor ek geproeflees het… Hoop dit maak sin.

  44. Desmond :

    Marlene, nog ‘n ding – jammer, ek hou nou nie by die groen onderwerp nie – ek neem dus aan jy beskou die bevestiging van lewe, die affirmasie van die gedig bv., as iets anders as self- of identiteitsbevestiging? – en dalk, in ons tye, noodwendig die teenoorgestelde?

  45. marlene van niekerk :

    Meer lag? iets ligter dus: vra my nie wat die assosiasie is nie, maar ek moes hieraan dink toe ek Bartholomäus Traubeck se jaarrringmusiek hierbo gerefereer, hoor: Clara Rockmore wat Saint -Saëns se swaan op die theremin of eterofoon speel. Sy had skeletprobleme weens ondervoeding as jong kind en kon nie verder viool speel nie, toe ontdek sy die Russiese thereminmaker wat haar vra om met hom te trou, ek vermoed omdat, nadat hy haar ingewy het in die geheime daarvan, sy mooier kon speel op sy masjien as hyself. Hy vra haar driemaal om haar hand maar sy trou toe met iemand anders (sonder theremin). Dink dit uit.

    Die onaardse klank wat die ding maak laat elke enkele swaan wat al ooit geleef het se spook loop. Spoke van diere speel myns insiens ‘n belangrike rol in enige radikale ekologie.

    https://www.youtube.com/watch?v=pSzTPGlNa5U

    En hier is Leon Theremin, lankal ‘n spook, self besig op sy uitvinding.
    https://www.youtube.com/watch?v=w5qf9O6c20o

    En hier is meer inligting oor die instrument:
    http://en.wikipedia.org/wiki/Theremin

    Ek dink soms Afrikaanse letterkunde het nie alleen vanweë die taalverval in sommige registers, (tegniese en vakkundige woordeskatte en grammatikale geledinge, veral die van die verwysende voorsetsel en bepaalde voegwoorde) maar ook weens die tekort aan nieshout-fijole geregresseer na die theremin-stadium: mens hou jou asem op en speel serieuse onsin in die lug soos wat ‘n spiritistiese medium doen by ‘n scéance. Die assemblage van opgeroepte spook, speler (medium) en ontvangers van die boodskap is hoogs vermaaklik.

    Mens kan op lug speel maar vir afwisseling ook op patats:
    https://www.youtube.com/watch?v=N7qiwu46hrA

    Die stem met onbepaalbare sillabes uit verskillende tale kry my voorkeur, omring deur ‘n vriendelike kollaborerende swerm:
    https://www.youtube.com/watch?v=BmXsA-siNvo

    Wat sou Jane Bennet met hierdie stukke materie doen?
    https://www.youtube.com/watch?v=ANIYPrqeesI

    Let’s rock more. Or fly.
    https://www.youtube.com/watch?v=0h6BzNwACDs

    Miskien kan mens ‘n gedig maak wat dermate veelpotig werk in die wind dat niemand dit kan deurgrond nie? https://www.youtube.com/watch?v=MYGJ9jrbpvg

    Jane Bennet oor die produktiewe skeppende kapasiteit van dinge as aktante in die lewe van mense wat niks kan weggooi nie, obsessiewe vergaarders. Well, well, well. Wat my interesseer is of dit ‘n histories-bepaalde fenomeen is en of mens dit ook in hierdie spektakulêre soort uitvoering in die pre-historiese grotte gekry het waar die versamelings dan waarskynlik uit velle, bene, klippe en stokke sou bestaan.

    Tot sover die mensdier, sy goeters en sy geluide.

  46. marlene van niekerk :

    Desmond, ja, ek weet dit klink paradoksaal. Ek sny die draaie en skryf nou net erg vereenvoudigend Miskien moet mens onder andere onderskei tussen politiek, letterkunde en biologie as mens oor identiteit praat? Mens sou seker ‘n modelletjie kon ontwerp waarin hierdie sake saamgedink word ter wille van die instandhouding van verskil as (mede) voorwaarde vir lewe. Ek waardeer ‘n bepaalde soort chauvenisties nasionalistiese identiteitsmakelary absoluut negatief. Ek kan my voorstel dat daar iets soos ‘n “aantreklike nasionalisme” sou kon wees in ‘n idelale wêreld, maar dis miskien hoogstens ‘n regulatiewe idee wat mens verskillend kan invul na gelang die belange en behoeftes van die dag – ek het dit nog nooit gesien nie, miskien onder Vaclav Havel vir ‘n wyle? In die konteks van (literêr) lees en skryf het ek dit
    oor die identiteitsbehoefte van skrywers en lesers wat nie ‘n teks verder kan lees en/of skryf as wat hulle behoefte om hulleself in hulle sterk opinies (ook oor hulself) te herken, strek nie. Ek dink literêre taal is pas lewendig as dit verskil produseer, dit is: verskil van die duidelik verwysende alledaagse taal. Tweedens is literêre taal pas lewendig as dit teen sigself in die weer gedryf word deur intensiewe en niksontsiende improviserende stimulering (radikale spel). Slegs daardeur kan mens bruikbare ongelukke aan die taal ontlok en op die manier ongehoorde dinge aan jouself openbaar kry. ‘n Sigare-maker maak ‘n voorspelbare produk volgens tegniese prosedures. Poesis is ‘n ander prosedure, mens weet nie wat jy maak nie, jy probeer so hard as moontlik van jouself te verskil. Op ‘n bepaalde punt moet jy besluit die teks nou “af”. Dan is dit ook dood (want gelykblywend). Daar is etlike maniere waarop mens kan probeer om dit lewendig te hou na die dood, en die enigste manier waarvan ek weet is om die teks so kompleks te maak dat dit “vanself” verskillende betekenisse bly produseer (vir speelse ondervragers). Dit is waarom sommige komplekse tekste langer “leef” in die resepsie (indien die resepsie leef en speel!)Ek dink die produksie van verskil is baie belangrik in politieke omgewings soos ons s’n waar baie mense hulleself en andere die hele tyd in die een of ander blik probeer druk. Slegs organismes wat daarin slaag om hulleself van hulle agtergrond te onderskei en hulleself fisiek of simbolies te reproduseer kan lewendig genoem word. Dit is waar van die steeds wordende biologiese identiteit van outopoëtiese komplekse sisteme volgens Maturana en Varela. Hulle onderskei derde vlak komplekse sisteme as samelewingsisteme. (onder korreksie, ek het nie nou tyd om presies te kontroleer nie) In lg konteks sien hulle slegs anargistiese samelewings as waarlik lewendig. Hiep hiep hoera.

  47. Desmond :

    Marlene, wat die identiteitsbehoeftes van lesers betref, hierdie mooi aanhaling:

    ‘What most threatens reading is this: the reader’s reality, his personality, his immodesty, his stubborn insistence upon remaining himself in the face of what he reads.’ — Maurice Blanchot

  48. Maria Snyman :

    Ekokritiek en ‘n nuwe materialisme? David Farrell Krell (in Heidegger 1978:86) skryf in ‘n voetnoot:

    During the winter of 1934-35 Heideggger lectured at Freiburg University on two poems of Hölderlin (1770–1843), “Germania” and “The Rhine.” In these two poems the word “earth” appears many times, as it does throughout Hölderlin’s poetry. Perhaps the Ursprung of Heidegger’s notion of “earth” must be sought in poetry, which occupies a special place among the works of art. Indeed. “The Origin of the Work of Art” opens onto the entire question of language and poetry. […] One of the most ancient of the Homeric Hymns, Eis Gën Mētra Pantōn, “To Earth, Mother of All,” stands at the source of a poetic heritage that engaged Hölderlin beyond measure.

    Daar is iets “downright monotonous” (Derrida, in Derrida & Ferraris 2001:3) wat myns insiens nie genoeg raakgesien word nie – heelwaarskynlik omdat dit elke keer onhebbelik anders lyk. Susan, ek lees weer Leon Retief se baie besonderse blog “Gedugte geoloë en gedigte Geologie”. Dit sluit af met die woorde uit Don Mckay se gedig “GNEISS”:

    […] Imagine our
    Ancestors tracing these surfaces, whorled fingertips to gnarled
    rock, reading the earth-energy they had levered into the air.
    They had locked the fury into the fugue and the car crash into
    the high-school prom. They engineered this dangerous dance.
    Better stop here. Better spend some time.

    Nick Norman (2013:10) maak dit in “Geology off the beaten track” duidelik dat geologie “requires enormous elasticity of imagination” – hy noem ook “Thinking big” terwyl hy ook ‘n titel het wat stel “The more things change …”

    My punt: Dit is nie soseer nuwe teorieë wat nodig is nie – hoekom wil mens die wiel weer uitvind? – dit is, soos Marlene dit stel, “taal [wat] pas lewendig” is wat nodig is, d.w.s taal wat “verskil produseer, dit is: verskil van die duidelik verwysende alledaagse taal”. Om dít lewensvatbaar te maak, moet daar gewerk word aan lesers wat daardie soort “niksontsiende improviserende stimulering (radikale spel)” (ek wil myself weer doodlag) kan ontvang, oftewel gewerk word aan daardie “([…] resepsie [wat kan] leef en speel!)”.

    Maar miskien doen nuwe teorieë dalk ietsie in hierdie verband, dit trek aandag, dit hou die wiel aan die rol, dit gooi klippies in die bos – soos “literêre taal [wat] pas lewendig [is] as dit teen sigself in die weer gedryf word” wat klippe in die bos (kan) gooi (as daar ‘n leser is wat dit kan waardeer).

    Groete, Maria, “[o]n the road” in haar poging tot “understanding geology” (Norman 2013:23) “teen kaal helse skuinstes” (Krog 2000:20) uit, Holzwege ofte nie.

    Mckay se “GNEISS” begin:

    On the Isle of Lewis, be sure to stop at Callanish and spend some time
    at the circle of standing stones erected by our neolithic ancestors.
    Touring Scotland by Automobile

    There is not much raw rock in that sentence, with its persuasive
    sibilants, not much scarp or grunt to remember the penalties
    paid – the load of it, the drag, the strained backs, smashed
    hands, and other proto-industrial injuries. […]

    Die deel voor die vorige aangehaalde deel is ook wonderlik:
    […]
    But close up it is more likely to be the commotion of stress
    lines swirling within each slab that clutches at the heart – each
    stone a pent rage, an agon. None of the uniform grey of limestone,
    that prehistoric version of ready-mix concrete, in which
    each laid-down layer adds to the accumulated weight that
    homogenizes its predecessors. Think instead of Münch’s The
    Scream with its contour lines of terror; then subtract the face.
    Or you could turn on the weather channel to observe those
    irresponsible isobars scrawling across the planet.
    […]

    Ek wonder wanneer hoor ons weer van Leon?

  49. Desmond :

    Marlene, jy skryf: “Slegs organismes wat daarin slaag om hulleself van hulle agtergrond te onderskei en hulleself fisiek of simbolies te reproduseer kan lewendig genoem word.” Ek stem saam. Jy verwys in hierdie verband na Maturana en Varela; jy sou seker ook na Georges Caguilhem, Deleuze en ook Foucault se groot leermeester, kon verwys. As ek reg onthou, praat Canguilhem van die soort reproduksie waarna jy verwys as die skep van nuwe norme; terwyl die afwesigheid daarvan, van die vermoe om nuut te normeer (wat juis die teenoorgestelde is as om bloot aan te pas / in te pas by ‘n ‘normaal’), patologie is, en natuurlik lei tot dood. Interessant genoeg, in ‘n voetnoot in Black Skin, White Masks, skryf Fanon dat sy konsep van ‘patologie’, eerder as ‘n psigologistiese, psigiatristiese een, ooreenstem met die van Canguilhem.

  50. Susan Smith :

    Maria, jy is volkome reg oor die bruikbaarheid van nuwe teorieë. Nuwe invalshoeke lewer bepaald nuwe perspektiewe en kan tot stimulerende diskoerse lei – soos al die bydraes hierbo dan ook getoon het. Die onderlinge uitruil en wisselwerking tussen dissiplines werk verruimend in.

    Geniet die klippad!

  51. Maria Snyman :

    Susan, dat daar groot klippe is om klein te maak en klein klippe om fyn te maak in hierdie rigting waarin jy werk, is duidelik – ons houding teenoor die natuur moet verander. Daar was vandag ‘n bobbejaan (hulle vermoed mak/troeteldier) los in die buurt (wat nie bobbejaanwêreld is nie)?! Sien uit na jou volgende stuk.

  52. Leon Retief :

    Maria ek het tans niks om te sê nie, nie eers ‘n snedige opmerking oor Derrida nie (grappie). Van ekokritiek weet ek niks maar het die gesprek interessant gevind. Dalk kan ek maar my geliefkoosde Kanadese digter laat praat want ek dink hy het iets om te sê op ‘n manier wat ek nie kan nie.

    THE LIGHT OF UNOCCUPIED MEMORY

    Don Domanski

    1

    I head west by seven feet north by one standing where I stood
    a moment ago listening to the creek’s daily grind of thought
    on stone watching a crow’s scarification of the sky
    early morning blood baptizing blood in hollows
    and on mountaintops clouds building their vast landscape
    tearing it down every few minutes rebuilding it again

    hard not to tug on the heart’s sleeve and move on looking
    for solace in motion’s narrative in those fast and easy phrases
    that define difficult staying centered in the almost reality
    of this moment in the almost world spinning on God’s dime

    all the apologues say to tread carefully that every footstep
    is a reason to remain still that all movement is dangerous
    yet we get on with our lives having no choice
    everything explained and unexplained the future already
    a memory collecting into the folds of things.

    2

    these paper birches are half remembered by yesterday’s rain
    half understood by sunlight I feel at home among them
    peering through their windows caked with dust looking down
    into the soil’s registry where all our names are written
    the secret ones we’ve waited all our lives to hear

    for hours I’ve been listening to the unit of language a syllable
    or sign any diaphanous nod towards meaning
    but the forest has no words whatever it had to say was said
    in the late Miocene the rest has been white syntax the way
    the wind speaks a mouthful of leaves and a luminous stutter

    the treetops sway holding onto a hawk’s breath a lynx pads by
    digesting a rabbit’s whispers beetles and spiders work
    the grass here’s hoping that they find their way home
    to that reliquary light deep in the foliage light without
    impurities without height or width without place
    the light of unoccupied memory.

    3

    each day swallows its wafer drinks its wine receiving
    blessings from somewhere out of the canopy’s green chasuble
    meanwhile wounds are in the details and asters are gifting
    meanwhile history bends the sedge just a little as it passes

    an afternoon soft to the touch like second-hand gossamer
    a drop cloth that holds the visible and invisible
    slightly worn along the creases where life meets fate
    where the lower powers tick on between the weeds

    an afternoon like swansdown adrift on water time scattered
    by hand between rocks and trees a hand as large as thin
    as a fly’s wing little hand make me an hour in which to shine
    make me a minute in which I can see a moment in which the
    exquisite tightens its grip on my all too human heart
    and the weight of the beast becomes the weight of the mind.

    4

    I’d love to have the wolf’s edgeless sense of self to understand
    The weather’s assignations in the underbrush to see through a raven’s
    eye spread out like air between the branches to be moss breathing in
    the green blush of consciousness from the forest floor to know how
    it feels to be this monarch fluttering by this painted child of dirt

    on the other hand being human is underwork drop stitches and intersect
    transcendence and pinprick the mind’s shadow is always the shadow
    of something else never of itself there’s the ache and the heartache
    little curses small banes in the blood flow familiar things

    like a pond the mind plants its reeds washes its stones and waits
    only we haven’t any idea what it’s waiting for not a clue
    even a parable can’t help us even the land even the wind
    can’t rouse an answer wind through the evergreens
    like unleavened souls through Purgatorio.

    5

    quietus of a clear-cut numberless ants running about the
    fatwood with black cutlery in their mouths ferns grab
    onto the shade and hold tight while saplings turn their thoughts
    into leaves and the soil offers up its one belief its one and only
    which keeps the earth spinning in endless space

    sun overhead with nothing to say its wisdom on the q.t.
    in the form of a single golden breath falling in amness and its
    countless minutia each ray an air-kiss and a pat on the back
    I sit among birch shadows without that affection waiting for
    An invitation a call from the other side of a grass blade

    My mind feels like a dry riverbed filled with ghost water it flows
    Withthe light of unoccupied memory nothing to think nothing
    To know only silences sliding between the silences only ghost
    Fish restfully swimming downstream away from the future.

  53. Susan Smith :

    Leon, die gedig is lieflik – ‘n vloeiende stroom van woorde. Ek is nie bekend met Domanski nie – gaan nou definitief nog ‘n bietjie lees. Dankie!

  54. Maria Snyman :

    Ek stem, Leon, wonderlike kontribusie tot die diskoers. (Ek wonder oor die woord kontribusie, toe kyk op my WAT, toe kry ek: “Toe … het tant Kato aangekom met haar kontribusie vir die kerkfondse wat die gedaante gehad het van die twee wit, spekvet mannetjiekalkoene (C.L. Leipoldt: Rotte, 1932, 72).”
    Soos Mnr JD in ‘“Eating Well,’ or the Calculation of the Subject” sê, ons eet mekaar, of ons nou wil of nie, vegetaries of vegan ofte nie, en dit is hoekom ons MOET GOED eet. Hy wou nog iets oor karno-fallogosentrisme geskryf het … As mens dink aan hoeveel mense steeds nie goed kan eet nie …)

    Ek is gaande oor die reël: “like unleavened souls through Purgatorio”! Die beeld van “ants running about the / fatwood with black cutlery in their mouths” maak my ook liries!

    Hoop daar val binnekort ‘n epifaniese appel op jou kop Leon, groete, Maria

  55. Leon Retief :

    Susan ek is gaande oor Domanski se gedigte en het ‘n hele paar bydraes gelewer waar ek sy werk gebruik. Hier is die skakels indien jy dalk belang stel, hier en daar is ook gedigte van ander Kanadese digters maar dit sal seker nie kwaad doen om hulle ook te lees nie:

    http://versindaba.co.za/2010/05/25/leon-retief-gedigte-van-don-domanski/

    http://versindaba.co.za/2010/10/04/leon-retief-die-maritimes/

    http://versindaba.co.za/2012/08/07/leon-retief-don-domanski/

    http://versindaba.co.za/2014/04/18/leon-retief-landart/

    http://versindaba.co.za/2014/12/01/leon-retief-waarheen-gehasi/

    Ek het nou die dag weer “Walking down to Acheron” gelees, ‘n gedig wat vir my nogal besondere persoonlike betekenis het.

    Maria ek het so iets in my agterkop waaroor ek al meer as dertig jaar wou uitvind maar ek moet eers meer navorsing doen voordat ek kan besluit of dit ‘n geskikte onderwerp vir Versindaba sal wees.

  56. Susan Smith :

    Leon, dis nou baie gaaf! Dankie vir die skakels. Jy het my nou nuuskierig oor Domanski.

  57. Charl-Pierre Naude :

    As julle nie reeds hiervan weet nie:

    Graag plaas ek die aandag van lesers, ook van hierdie baie interessante blog wat ‘n tyd gelede verskyn het, (om en by dieselfde tyd as wat die ewe interessante blog deur Carina v d Walt geplaas was wat toe ‘n gesprek ontlok het tussen die twee blogs), op die feit dat julle ‘n petisie kan onderteken om die onderstaande wandaad te stop. Dit is die betoogaksie van Avaaz teen die beplande pyplyn om afval in die Vaalrivier te stort, en die eko-geweld wat dit aan klein gemeenskappe sal berokken.

    https://secure.avaaz.org/en/dam_of_sewage_6/?bRgdFib&v=59845

  58. Susan Smith :

    Charl-Pierre, baie dankie vir die inligting. Ekogeweld is ‘n sterk woord, die soort woorde wat ons nodig het as ons oor hierdie dinge praat.