Carina van der Walt. Duiwe en Denke

Beeld uit “More Sweetly Play the Dance”

’n Duif wat dink. Die Sweedse filmregisseur Roy Anderson gebruik dié idee in sy jongste film A Pigeon Sat on a Branch Reflecting on Existence (2014). Suid-Afrikaner William Kentridge gebruik die duif in sy animasiefilm van ’n bewegende prossessie met die naam More Sweetly Play the Dance (2015), wat nou vertoon word in Amsterdam. Dat duiwe al daar was nog voordat die werklikheid sy intrede gedoen het, gebruik ook die Afrikaanse digter Charl Pierre Naudé in sy gedig Oggend en aand met duiwe. Al hierdie idees oor duiwe wat kan dink, wat iets simboliseer en die vanselfsprekende voorstellingsvermoë by mense oor duiwe wat Naudé net soos Immanual Kant veronderstel, kan die ontluikende digter inspireer om ’n eie interpretasie daaraan te gee.

 

Anderson gebruik in A Pigeon Sat on a Branch Reflecting on Existence die perspektief van ’n duif. Elke toneel is met die grootste sorg in Studio 24 (Stockholm) rondom die kamera opgebou. Hy gebruik ’n vastehoeklens. Daar is geen verhaallyn in die film nie. Dit bestaan uit ’n aantal los binneshuise tonele wat soos pragtige skilderye lyk. Die tonele is surrealisties, want die karakters se gesigte is gegrimeer asof hulle sopas witgeskrik uit die dood ontsnap het. Dialoog bestaan nouliks. Die duif kyk in vertraagde tyd. Musiek speel ’n belangrike rol. As gevolg van die verskillende tonele wat mekaar afwissel en later weer bymekaar aansluit, moet die kyker, jý, jou eie klein “verhaaltjies” skep om betekenis daaruit te haal. Jy word die duif wat uitgenooi word om by voorbaat en by nabaat na te dink oor jou eie bestaan: lewe en dood, gister en môre, tragedie en komedie.

Stil uit “A Pigeon Sat on a Branch Reflecting on Existence”

In die openingstoneel van A Pigeon Sat on a Branch Reflecting on Existence hoor die kyker ’n duif koer, maar hy sien ’n opgestopte duif op ’n droë tak in ’n museum. Die duif is dood, gestol in tyd, maar sy koergeluid word ’n soort mantra van die lewe. Voor die kas waarin die duif sit, staan ’n grou man wat lyk asof hy enige oomblik in trane kan uitbars. Sy vrou wag met ’n krytwit gesig. Sy lyk ongeduldig. Die lewe gaan aan. In ’n ander toneel is Jonathan en Sam twee mislukte handelsreisigers in kermisitems soos Draculatande en poepkussings, maar kry niks verkoop nie.  Dis tragikomies. In nog ’n toneel probeer ’n vet flamencodanseres haar leerling verlei. Sy kan haar hande nie van hom afhou nie. Hy moet net kéér. Later sit hulle saam in ’n restaurant, maar hy loop weg en sy bars in trane uit. Liefdesdrama. ’n Aantal tonele later sit die flamencodanseres op ’n môre met ’n kinderwaentjie in ’n park. Sy speel met haar baba se kaal voetjies teen haar wange. En die duif koer.

 

William Kentridge ontgin die simboliek van die duif op twee plekke in die prosessie More Sweetly Play the Dance. ’n Vrou dra die duif as ’n talisman en simbool van vrede bo haar kop dra. Sy is deel van die stoet teen die houtskool getekende landskap buite Johannesburg. Dit lyk soos verbrande aarde en dood. Kentridge se Joodse herkoms spreek byna altyd uit sy werk. In die Jodedom word wit duiwe geoffer vir versoening, reiniging en nuwe lewe. In die Tora keer die duif in “Noag en die sondvloed” se verhaal terug met ’n olyftakkie in sy bek. Die duif simboliseer hier nuwe lewe na die dood, Al die môres wat voortkom uit die gisters. Hierdie simbool van nuwe lewe word ook op ’n ander plek in Kentridge se prossessie baie duidelik en eietyds tussen die ebolapasiënte uitgebeeld. ’n Groepie vermaerde figuurtjies is met bloedoortappings aanmekaar verbind. Hulle loop struikel-struikel saam. Pure lyding. Een kry sy bloed uit ’n aardbol; ’n ander uit ’n kruis; iemand anders uit ’n telefoon; nog ’n ander uit ’n duif. Bronne van verlossing.

Stil uit “More Sweetly play the Dance”

Net soos Kentridge laat Charl-Pierre Naudé iets van sy filosofiese agtergrond sien as hy in sy gedig Oggend en aand met duiwe die woorde “a proiri-duiwe” gebruik. A priori is Latyns en beteken iets soos ‘by voorbaat’ of ‘die logika voorafgaande aan die feite of die ervaring’. Wanneer Naudé die mens se vermoë om vooruitskouend te dink en oordele te vorm aan die meetlat van duiwe verbind, sit hy definitief op dieselfde lyntjie met Anderson se A Pigeon Sat on a Branch Reflecting on Existence. Oggendduiwe kondig miskien lewe aan, aandduiwe die dood. Is hier ook liefde en verlatenheid, net soos in Anderson se film? Naudé se titel gee baie weg, maar nie alles nie. Dit lyk asof die gedig ’n oop tydlyn is, want hoewel die lug vergrys, bly die duiwe a priori – volkome logies altyd dáár net soos die vrou en net soos in Kentridge se werk. Die post factum-uile bewoon die nag – ná die feite.

 

Oggend en aand met duiwe

 

Die lug is vol a priori-duiwe.

Oral waar hul is, wás hulle tevore.

Soos ’n droom wat spartel in die lug

is die dag,

met een hand gepluk

uit die flikkerende stroom, dan verdof dit.

 

Die huise teen die randjie staal skraal geëts

in die vroeë lig, soos tekenplanne.

En die lug is vol a priori-duiwe

vandag, of miskien was dit gister.

 

Die nag, weer,

word bewoon deur post factum-uile.

Hulle fladder op en verf

met hul bromiedkwaste

die teenwoordige tyd bruin –

die heterdaad word roes.

 

Onthou jy die leë huis met die voetstappe?

“Mense van ’n vervloë tyd…”

“Miskien net óns s’n.”

 

Deur die stroke van die blindings

skuif motvlerkoë oor jou lyf

in akkoorde;

onder somersproei bot die polkadot

in die bikini-boorde.

 

Vet soos nuwe konfytbottels

staan die dimensies op ’n ry.

Die helder vlakke stig kore

uit die heuningkoeke

teen die steiltes;

 

die as stort in matesis.

 

Die lug word grys van apriori-duiwe.

En alle tyd skyn deur,

soos ’n fiets teen die lig.

 

 (uit: Al die lieflike dade, 2014)

 

Die Latynse “a priori” in kombinasie met “duiwe” in Naudé se gedig het my nuuskierig genoeg gemaak het om die betekenis te gaan opsoek. Eén stap verder was die ontdekking dat daar ook iets soos “a posteriori” bestaan. A posteriori beteken ‘terugskouend’ of ‘die logika afhanklik van en afgelei uit die konkrete feite’. Hoewel ek geen filosoof is nie, lei ek af dat in Naudé se “post factum-uile” ’n aposteriori beskouing verskans is. My eie werklikheid word verdeel tussen gister en môre, vroeër en later, daar en hier en dus ook tussen ‘vooruitskouend’ en ‘terugskouend’.

’n Ander woord (behalwe bogenoemde twee Latynse begrippe) wat die burokratiese stelsel in Nederland vir my van vooraf oopgesluit het, is Welkom as pleknaam. ’n Leeftyd lank het ek hierdie plek op dokumente ingevul sonder om daaroor na te dink. Hier moes ek meerdere kere tot my verrassing van agter die toonbank hoor: “Wat een leuke naam! U moest zich toch welkom voelen om zo ter aarde te komen!” Die werklikheid was dat ek nie honderd persent welkom voel hiér (in T) nie, maar beslis ook nie meer honderd persent welkom voel dáár – in Welkom – nie. Op die ongemaklike skarnier tussen gister se tuis en vandag se ontuis, het ’n tweeluik vorm aangeneem. Die Nederlandse gedig a priori Welkom het eerste ontstaan. By voorbaat welkom in die hande van die amptenaar, sonder dat hulle besef wat dit inhou. Onwillekeurig het die slot van die gedig my teruggelei na die Afrikaanse gedig a posteriori Welkom. Welkom by nabaat, nadat jy die feite beskou en die ervaring verwerf het. In laasgenoemde gedig styg en land die duiwe op twee verskillende plekke. Hulle koer nuwe lewe uit sagte ronde kroppe.

 

My uitgewer het my aangemoedig om die Afrikaanse gedig a posteriori Welkom by die Nederlandse apriori Welkom te skryf. So het die tweeluik vorm gekry. In die komende bundel is verder van my kant af net Afrikaanse gedigte opgeneem.

 

a posteriori Welkom

 

by gebrek aan beter weet is ek bogronds gebore in Welkom

 

Welkom sê my geboortesertifikaat

& die duiwe fladder op uit die park

bo-oor die kloktoring langs Stateway

 

Welkom sê my ID

 

Welkom sê my nuwe paspoort

agteraf beskou het die duiwe toe al in die bos geland

langs die ou hogeschool wat doodloop in ’n T

 

ondergronds voel ek ’n klont van ’n kopskuif

 

& is ek ver anderkant my kindertyd se mynhope

as die duiwe aanhou koer: jy’t vergeet vergeet

Welkom is ’n woord wat sê wat dit sê

 

gaan ondergrond & delf na weet soos in wéét

 

 

***

 

a priori Welkom

 

Welkom is de naam van mijn geboortestad

Welkom zegt mijn geboortecertificaat

Welkom zegt mijn identiteitskaart

 

Welkom zegt mijn paspoort Welkom

zegt mijn voorlopige verblijfsvergunning

ik behoor het nu te weten

 

zo lang al zwerf ik ver buiten die stadspoort

dat ik misschien een keertje naar Welkom

terug moet om het nooit weer te vergeten

 

(uit: AMALGAAM, Uitgeverij IJzer, Utrecht, Okt. 2015)

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Carina van der Walt. Duiwe en Denke”

  1. Evette Weyers :

    Heerlike magiese realisme en die vervleging van visuele beeld, gedig en film.
    Evette Weyers

  2. carina van der walt :

    Dankie vir jou mooi woorde, Evette. Dis vir my besonder waardevol komende van ‘n kunstenaar soos jy. Om na “A Pigeon Sat on a Branch Reflecting on Existence” te kyk,is soos om poësie te lees of na poësie te kyk. Hierdie gewaarwording is traseerbaar in talle uittreksels van die film op YouTube, spesifiek in die clip – “Poem”.

  3. Hilda Smits :

    Carina, ek gaan jou blog later ordentlik lees maar GELUK met jou publikasie!! Dit is eenvoudig wonderlik. Oktobermaand skaf ek ‘n kopie aan.

  4. Susan Smith :

    Baie interessante blog, Carina. Soos ek by my eie duif-blog opgemerk het, die sinkronisiteit van die twee plasings is verbluffend, so ook die ooreenstemmende fasette.

    Baie geluk met die publikasie – ek sien uit daarna om dit onder oë te kry.