Marlies Taljard: Hoe vou ʼn mens sy liggaam in die vorms van woorde (Deel 2)

Daar is reeds veel geskryf oor Heilna du Plooy se “Gesprek met die beeldreeks The Hunt van Maureen Quin” wat in haar nuutste bundel, Die stilte opgeskort (2014) verskyn onder die titel Die jag. Die doel van hierdie kort artikel is – soos ek in my vorige blog aangedui het – om die fokus te laat val op (onder andere) enkele narratologiese aspekte van dié gedigreeks.
The Hunt is ʼn reeks van 12 bronsbeelde deur die beeldhouer Maureen Quin wat tussen 1991 en 1999 ontstaan het (te sien by http://www.quin-art.co.za/hunt.htm). Quin self sê oor die beeldreeks: “I do not want to prescribe to the viewer what to see or experience, but I have tried to express the horror I feel for man’s inhumanity to his fellow man, compounded with the wanton destruction of our environment in the name of development, greed, power and self gratification.” Elders sê sy: “I am African and it saddens me to see that Africa is self-destructing. Finding an artistic solution for my thinking about these problems has not been easy. I had to explore many avenues before I found a way to express the vision which I so desperately wanted to represent in a tangible form.”
The hunt bestaan uit 12 bronsbeelde wat tematies aan mekaar verbind is. Die slanke, gespierde figure is deels mens, deels dier en beeld die verhouding uit tussen jagter en prooi. Oor die ontstaan van die reeks skryf Quin: “Initially I did not set out with any preconceived ideas or themes. I followed my creative instinct until I had reached an indefinable moment when the central theme of what I was doing gradually begun to emerge and manifest itself. From that point onwards I was lead intuitively to the completion of the series.”
Quin se betiteling van elke beeldhouwerk en die feit dat dit altyd in dieselfde volgorde uitgestal en afgedruk word, insinueer ʼn duidelike narratiewe inslag. Die titels suggereer ʼn basiese storie met ten minste twee perspektiewe, naamlik dié van die jagter en dié van die prooi: Bushman – Hunter – Chase I – Chase II – The hunted – The kill – Pietà – Grief – Remorse – Devastation – Supplication – The ultimate sacrifice.

The hunter - Maureen Quin

The hunter – Maureen Quin

Hoewel du Plooy in haar gedigreeks, waar die beelde telkens saam met die gedigte afgedruk is, dieselfde volgorde gebruik waarin die Quin-werke uitgestal en afgedruk word (sy laat Chase II uit), benoem sy haar gedigte anders, en inkorporeer sy soms meer as een beeldhouwerk in dieselfde gedig. Haar titels lui: Die Man (n.a.v. Bushman) – Die jagter (n.a.v. Hunter) – Jag (n.a.v. Chase I) – Die prooi (n.a.v. The hunted) – Naweë (n.a.v. The kill en Pietà) – Anagnorisis (n.a.v. Grief, Remorse, Devastation en Supplication) – Pathos (n.a.v. The ultimate sacrifice).

Die titels Anagnorisis en Pathos het betrekking op die plot of die intrige van die tragedie soos Aristoteles (384-322 v.C.) dit in sy Poetika beskryf. In die tragedie word die val van die held uitgebeeld, dikwels deurdat hy ʼn oordeelsfout begaan of weens ʼn inherente menslike swakheid. Die held hoef nie te sterf nie, maar sy lewenslot moet drasties verander. Daarbenewens kom hy ook dikwels tot insig aangaande die lot van die mens of die inherente menslike kondisie. Aristoteles beskryf dié insig as “a change from ignorance to awareness of a bond of love or hate” (ek gebruik Gerald F. Else se vertaling van Aristoteles se Poëtika).
Aristoteles definieer die tragedie soos volg: “Tragedy, then, is a process of imitating an action which has serious implications, is complete, and possesses magnitude; by means of language which has been made sensuously attractive, with each of its varieties found separately in the parts; enacted by the persons themselves and not presented through narrative; through a course of pity and fear completing the purification (catharsis, sometimes translated “purgation”) of such emotions.”
Nabootsing of mimesis waardeur die werklikheid of die waarheid deur middel van kuns gerepresenteer word, gee volgens Aristoteles vorm en betekenis aan dié werklikheid of waarheid – in teenstelling tot Plato se insig dat die werklikheid nie deur kuns gerepresenteer kan word nie. Omdat die poësie volgens Aristoteles se insig meestal met universele waarhede werk, word ʼn universele werklikheid of waarheid in gedigte uitgebeeld, en nie enige toevallige gebeurtenis nie. “Handeling met ernstige implikasies” beteken dat dit geskik is om vrees of medelye te ontlok en raak gewoonlik etiese, psigologiese of sosiale kwessies aan. Die feit dat die handeling volledig behoort te wees en groots in omvang beteken, aldus die Poëtica, dat dit nie net ʼn reeks episodes is wat uitgebeeld word nie, maar die konsep van nabootsing is hier belangrik in die sin dat handeling selektief uitgebeeld word. Enige aspek van die handeling wat nie in sigself universele waarhede bevat nie, word uitgelaat. Die taal moet geskik wees vir poëtiese uitinge en moet meer melodieus wees as prosa. Die tragedie maak staat op dramatisering en nie, soos die epiek, op vertelling en die rol van die verteller wat die storie vertel nie. Die tragiese handeling gee aanleiding tot emosies van vrees en medelye. Dan kom die katarsis en word alles wat vuil of besoedel was, in die laaste toneel (die pathos) gesuiwer (deur dit te omskep in voordeel) of verwyder (deur dit uit die emosionele sisteem uit te werk).
Aristoteles onderskei ses elemente van die tragedie, waarvan plot (storie) die belangrikste is. Volgens hom is die plot wat enkelvoudig maar kompleks is, die beste soort plot. Dit is die soort plot wat gekenmerk word deur ʼn ommekeer en ʼn insig. Die ommekeer (peripeteia in Aristoteles se terme) vind plaas wanneer die handeling wat sy loop in ʼn bepaalde rigting geneem het, skielik “omgekeer” word. Insig (anagnorisis, wat in Engels dikwels vertaal word as recognition, knowing again, knowing back, knowing throughout) is ʼn ingesteldheidsverandering van onkunde na bewuswording van ʼn band van liefde of haat, soos wanneer Oedipus die koning van Thebes doodmaak en dan uitvind dat dit sy vader was wat hy vermoor het. Die derde plot-element waarna Aristoteles verwys, is lyding (pathos). Dit kan ook met die woorde ramp, onheil of ellende vertaal word en is ʼn destruktiewe of pynlike handeling.
Neem ʼn mens nou weer die gedigreeks Die jag in oënskou, blyk dit dat hierdie reeks opgebou is volgens Aristoteles se beskrywing van die tragedie: In Die Man word die figuur in besonderhede beskryf. Elke gewrig is
ʼn hefboom wat werk
om in sy onskuld oop
te staan min te verberg
(my kursivering)

Die figuur is “onmiskenbaar mens” en het in sy hand ʼn instrument
wat soos ʼn speer so skerp word
wanneer hy hom verweer

Die volgende gedigte, Die jagter en Jag bevat die aanvanklike handeling wat medelye ontlok (Die prooi). Die ommekeer (peripeteia) kom in Naweë:
Ná die geveg staan die jagter
vervreemd in die aller-
innigste stilte

Sonder luister hoor hy die kreun
van sy eie soort en hy weet,
ons is nou een.
(My kursivering)

Insig in die onvermoë en die weerloosheid van die mens en veral die kunstenaar met gepaardgaande verslaenheid en die besef dat boetedoening moet volg, is die tema van die lang gedig Anagnorisis:
Hoe vou ʼn mens sy liggaam
in die vorms van woorde
uit ʼn vergete woordeskat?
Hoe wys ʼn mens se slim
slim hande smart?
Hoe sê ʼn mens se slim
slim mond verslaenheid?
Is daar woorde vir die maaksel
van ongeborgenheid
en onherbergsaamheid
wat voortspruit uit die mens se wil?

Die laaste gedig van die reeks, Pathos, verwys duidelik na die kruisiging van Christus en die moeder se pynlike offerhandeling.
Uit hierdie bespreking behoort dit duidelik te wees dat Heilna du Plooy se gedigreeks Die jag nie ʼn blote beskrywing of ʼn eenvoudige herinterpretasie van ʼn reeks beeldhouwerke is nie. Sy struktureer die reeks doelbewus met inagneming van Aristoteles se beskrywing van die tragedie en maak selfs van sy terminologie gebruik om haar werkwyse openbaar te maak. In my volgende blog sal ek uitbrei op die voorafgaande insigte en probeer aantoon wat die verhouding is tussen die gedigreeks en die primêre kunswerk.

Bookmark and Share

Comments are closed.