Onderhoud met Marlise Joubert (bladspieël)

 

Marlise Joubert gesels oor haar nuutste bundel bladspieël met Gisela Ullyatt.

 

 

1. Marlise, baie geluk met bladspieël.

Die vrouefiguur op die voorblad skep ’n atmosfeer van vervloeiing, oplosbaarheid, maar terselfdertyd ook van fragmentasie. Die kleurvolle voël wat op die agterblad as deel van hierdie waterverfskildery verskyn, vertak as’t ware uit hierdie vrou. Kan jy ons meer vertel oor die ontstaan van hierdie skildery en of dit direk met die titel van die bundel skakel?

Dankie, Gisela. Die oorspronklike skildery is een van ’n groepie naakstudies wat ek sowat twee jaar gelede al gedoen het. Ek het hierdie een paslik gevind as omslag vir die bundel om die eie belewenisse en grepe uit my alledaagse lewe te verbeeld. Dit is natuurlik ’n verwerking van die oorspronklike skildery, wat ek gemanipuleer het (met ’n rekenaarprogram) na slegs twee/drie kleure toe sodat dit byna soos die negatief van ’n foto lyk. Fragmentaries, ja, maar ook soos ’n spieëlbeeld verteenwoordigend van liggaamlike verganklikheid en die groter gestrooptheid wat die jare meebring. Die voëltjie agterop is merendeels simbolies van ontvlugting en losmaking. Vrywording as teenpool vir die grense waarbinne die mens lewe.  Die gedigte in hierdie bundel is in ’n mate meer gestroop en toeganklik. Die belewenis self word die bladspieël in die vorm van teks. En daarom pas die omslag met min detail beter.

 

2. Anders as Splintervlerk is bladspieël nie in afdelings verdeel nie. Wat was die denkproses wat jy hier gevolg het en het jy dit reeds vroeg met die samestelling van die manuskrip beplan?

Dit het vir my gevoel asof ek slegs een ruimte (of tydperk) met hierdie groepie gedigte verken/verteken het, naamlik dié van die ouerwordende vrou en haar daaglikse ervaringswêreld, hetsy oor familie, kleinkinders, liefde, kort of langer reise, jeugherinneringe, sosio-politieke kwessies of die kreatiewe prosesse self. Asook die poging (byna desperaat) om die ‘moment’ ten volle te ervaar. Toe ek die gedigte saamgestel het, was dit moeilik vir my om dit op te breek in afdelings. Dan sou ek die vloeibaarheid van ervarings (waarvan sommige seker as ‘n bewussynstroom getipeer kan word) gestuit het. Dis ook nogal mode deesdae om konsepbundels saam te stel. Om noukeurig te orden in afdelings. In hierdie bundel gaan dit nie vir my om slegs een dominerende konsep nie. Daar was ’n soort vervloeiing en aaneenskakeling sigbaar wat ek nie wou verdeel of laat versplinter in tematiese ordeninge nie. Alles hou met mekaar verband en dit het beter as ’n psigiese eenheid sonder afbakenings vir my gewerk.

 

3. Die bundel se motto’s is onderskeidelik geneem uit Bo Kapelan se Urwind en Jaan Kaplinski se The wandering border.

 

“Each day is somewhat lighter than the last.

In the air, in the wind, I sign my name.” (Kapelan)

“the sun shines on the red wall and the wall is warm.

I feel it with my hand, I put my cheek against it.” (Kaplinski)

 

Hoe het jy op hierdie motto’s besluit?

Daar is soveel motto’s wat ’n mens kan gebruik om rigtingwysers te wees! Ek het maar ’n paar  versamel wat ek toepaslik gevind het en slegs twee daaruit gekies. Ek het heelwat tydens die skryf van hierdie gedigte ook o.a. Kaplinski se gedigte weer gelees en die sensoriese ervarings wat hy uitbeeld in sy woorde het iets in my eie gedigte laat resoneer. Kapelan se motto het weer my verbintenis en visualiteit met my omgewing en elemente soos die natuur, wind, lug en water ondersteun.

 

4. ‘dagskrif vir die wegland’ (p 10) is nie net ’n gedigsiklus nie, maar inkorporeer ook ’n aand-oggend-middag-aand-siklus. Verder word vormgewing uitgestippel deur ’n numeriese orde (‘1-4’) en ’n tydsaanduiding (byvoorbeeld ‘aand’) wat verder in (a)- en (b)-gedeelte verdeel word. Hoekom het jy besluit om strenger vormgewing met bladspieël te volg? Vertel ook meer oor die ontstaan van hierdie siklus.

Toe ek hierdie gedig geskryf het, was dit tydens ’n naweekbesoek aan ’n gunsteling gasteplaas. Tye van ’n dag verskil inherent van mekaar en skep telkens ’n nuwe gedagtegang. Byna soos seisoene wat mekaar vinnig opvolg, maar wat dan hier in ’n dag se spanwydte voorkom. Sonder om veel na te dink oor die ordening daarvan, het dit maar net logies so uitgewerk om dit in te deel in verskillende tye of momente omdat dit byna ’n ‘nuwe’ belewenis telkens tot stand laat kom het.

 

5. In sommige gedigte is daar is ook ’n intertekstuele gesprek waarneembaar met Louis Esterhuizen se Die afwesigheid van berge, soos ‘by die lees van’ (p16):

 

ek lees jou baie lang gedig

oor die afwesigheid van berge

ek word eufories daarvan

op die dak van my huis

spat hael oorverdowend oraloor

op die stoep spring hulle

soos patroondoppies uit ’n magasyn

aan die einde van jou bundel

kyk ek op uit stilte

die gras is wit soos ’n laken

en toe die son deurbreek

word alles weer water

 

Die haelkorrels wat versmelt tot water, maar wat vroeër ‘patroondoppies uit ’n magasyn’ was, suggereer ’n  alternatiewe visie van die gewelddadige realiteit wat in Die afwesigheid van berge afspeel. Ook in ‘dagskrif vir die wegland’ se laaste gedeelte is daar ’n gevoel van beskerming en dat die ‘ons’ nie geweld vrees nie: ‘nooit sluit ons hier ’n deur nie’ (p15). Die motief van geborgenheid, gekoppel aan die tuiste, word verder in ‘dagleef’ bepeins (p22): ‘is ek weer tuis en ingebed soos ’n mangopit/in sy goue vlees//my hele haard tregter ’n vertroude skil om my’. Bied bladspieël dus bewustelik ’n alternatiewe visie of antwoord op hierdie interteks? Op ’n meer persoonlike noot: is daar ’n wederkerige invloed tussen jou en Louis se poësie?

Nee, ek dink nie my gedigte is enigsins ’n bewustelike toepassing of antwoord op enige bundel van Louis Esterhuizen nie. Ons ervaringswêrelde verskil. As vrou is my belewenisse uiteraard ook anders as syne. Maar daar is gedeelde ervarings, want ons leef saam. Die genoemde gedig was my ontroering nadat ek sy manuskrip vir die eerste keer gelees het in een sitting, want inderdaad is dit ’n bundel wat ontstig en ons geweldadige samelewing in ons land oopskryf.

Wat die tweede vraag betref: huis en liefde is die enigste veilige hawe wat ons dikwels ervaar, veral in die land waarin ons vandag leef. Huis is ook jou eie psige wat jy wil beskerm teen geweld van buite af. Maar soms is ons ook weerloos in die sogenaamde veilige ‘huis’, word die naderende dood ook ’n vorm van bedreiging, vrees, ironie, aftakeling of vernietiging.

 

6. Die bundel bied ook ‘’n optekening/van ’n skerf geskiedenis’ (p78); ’n besinning oor naasbestaandes soos jou vader, kleinseuns en dogter. Word hierdie tema meer veelvlakkig en in diepte verken as in jou vorige bundels?

Of hierdie temas van die familie meer in diepte verken word, weet ek nie. Miskien kom meer perspektiewe na vore soos wat jy as mens/digter verder groei.

 

7. Die motto van ‘terugvlug’ (p100) is geneem uit Franco Fortini: ‘Poetry changes nothing. Nothing is certain, but write.’ Volgens Fortini bestaan daar dus ’n inherente paradoks in die skep van poësie. Beleef jy jou eie skryfproses op hierdie wyse?

Ja, ek dink dat ek veel meer besinnend oor die proses van digmaak begin skryf het. Ons weet almal wat ’n gedig is, maar ons weet ook dat dit verskillende dinge vir verskillende lesers kan beteken. Die digter worstel soms met die woordkuns, bevraagteken dit, probeer te verstaan, raak liries of vernietigend /skepties of krities daaroor.

 

8. ‘’n dag in die lewe van ’n digter’ (p20) verwoord die alledaagse lewe van ’n digter, gebaseer op die gedig van Kaplinski: ‘selfs vervelig soos ’n somervlieg’. Tog spreek jou gedigte lesers op ’n liriese wyse aan. Jou gedigte is ook besonder beeld- en klankryk. Ervaar jy die lewe as digter (en skilder) as meestal alledaags?

Miskien het die begrip van ‘alledaags’ verskillende betekenisse vir verskillende digters. Hoewel ek dig en/of skilder, ervaar ek myself tog ook as ’n gewone mens met sekere gewone behoeftes en ervarings of gebeure soos alle ander. Ek beskou myself nie as uitsonderlik net omdat ek ’n passie vir die digkuns het nie. Jy is mos in die eerste instansie gewoon ‘mens’ wat probeer om sinvol te oorleef soos al die ander.

 

9. Daar is ’n deurlopende water-motief in bladspieël te bespeur soos byvoorbeeld in ‘hoogsomer: waylands’: ‘dis slegs die water om van belang te wees/vir die heftige dors wat in die droom kom hang’ (p48).  Ook is jou kunsmedium waterverf. Verder vermeld jy spesifiek in ’n gedig wat aan jou jongste kleinseun gerig is – ‘brief vir Felix Theodor Huxley’ – dat hy ’n water-geboorte gehad het (p71). Heg jy ’n spesifieke waarde of simboliek aan water?

Water het beslis ’n geweldige betekenis vir my en dit sal seker altyd as ’n simbool figureer in my skryf- en skilderwerk. Water het sekerlik ‘n groot betekenis in ander digters se werk ook. Ek het grootgeword in die Waterberge. Net die naam ‘waterberge’ alleen sou ’n permanente afdruk gelaat het in my geheue. Die plek (Bela Bela/Warmbad) waar ek grootgeword het, is bekend vir sy warmwaterbronne en as kind was dit ’n sentrale deel van my wêreld, so ook die omgewing met talle watervalle, damme en riviertjies. En ja, skoolvakansies ook, wat altyd by die see was, of ‘n rivier, of ander plekke met warmwaterswembaddens.  Water is ’n bron van leef en koestering, ‘n noodsaaklikheid. Soos asemhaling. Ek wens mens kon op water skryf! Maar ten minste kan ek skilder daarmee…

 

10. ’n Digter wat jy aanhaal (‘winterstorm: p88) en ’n gedig aan opdra (p17) is Adonis. Is daar ’n kruisbestuiwing tussen sy oeuvre en jou eie gedigte? Vertel meer oor die kennismaking met sy digkuns en wat dit vir jou beteken.

Adonis is een van my gunstelingdigters.  Boonop is sy lewensverhaal aangrypend. Ek keer dikwels terug na gunstelingdigters soos Amichai, Neruda, Paz, Plath, Carson, Michaels, en vele ander. Maar dit was eers sowat ‘n jaar gelede dat ek meer vertaalde gedigte van Adonis onder oë kon kry en kennelik het dit my geïnspireer om een of twee gedigte te skryf.

 

11. Marlise, is daar ’n gedig in bladspieël wat jou besonder na aan die hart lê?

Aangesien ons dan met Adonis geëindig het met die onderhoud, sal ek graag dié een aanhaal:

.

straatspieël. vir adonis

 

ek het jou gedig verloor op ’n middag

toe die skadu van ’n roofvoël oor my skuif

maar ek onthou jy het iets geskryf

oor ’n straat in beiroet wat ’n vrou is

 

hier is my straat ook ’n vrou

wat geluidloos alle klanke vertaal

dikwels dwalende met veraf fluisteringe

as die reën teen haar wange spat

 

hier is glasriviere wat deur haar lag

snags is die lamppale van haar bene

nakend totdat die son haar weer bedek

met die geel geluide van ’n vink

 

ek hoor haar soms ligweg dwarrel

om die hoeke van donker huise in my buurt

sy vertel haar kinders het alles hier verlaat

miskien ontmoet jy hulle in beiroet

 

deesdae sterf honger honde

in haar arms al om die ander uur

die straat en die bome loop leeg

maar ek bly gelukkig hier –

 

 

(Uit:  bladspieël. p17. Human & Rousseau, 2015)

 

 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Onderhoud met Marlise Joubert (bladspieël)”

  1. Ivan Mocke :

    ‘n Wonderlike onderhoud, julle. Deesdae hoor ‘n mens nogals dikwels die begrip “laatwerk(e)”. Sou dit ook hier van toepassing wees? Die indruk wat ek kry is dat hierdie in ‘n groot mate ‘n viering van die lewe en gewoon menslike is. Soos ook by TT Cloete se “Karnaval en lent”. Dit maak dan die meer “gestroopte” aanslag, soos julle dit noem, besonder funksioneel.

  2. Heilna du Plooy :

    Mooi onderhoud van albei kante. Geluk daarmee. Heilna

  3. Dankie vir hierdie onderhoud! Wat jy oor die betekenis van die watermotief se, Marlise, herinner my aan Frida Kahlo se ‘What the water gave me’.

  4. Melanie Grobler :

    Lieflike onderhoud deur twee mense wat in my hartkamer bly. Baie dankie.

  5. Marie Bredenkamp :

    Ek eggo graag Melanie se kommentaar. Geluk, en baie dankie.

  6. Cas Vos :

    Marlise, baie geluk met ‘n pragbundel, sowel die besondere buiteblad as die teks. Gisela se onderhoud met jou is van die allerbeste. Mooi so!

  7. Marlise :

    Baie dankie vir almal se kommentare hierby. Ek waardeer!

  8. Gisela Ullyatt :

    Baie dankie vir die positiewe kommentaar. Julle maak my dag. Ek klink sommer ‘n glasie op julle almal en veral op bladspieël.

  9. René Bohnen :

    Ek het heerlik en stadig aan hierdie bundel begin lees. Wat ‘n lieflike onderhoud om uit te druk en opgevou binne-in die bundel te bêre! Goeie vrae, goeie antwoorde.