Onderhoud met Nini Bennett (Boekstaaf)

Boekstaaf: Onderhoud met Nini Bennett deur Gisela Ullyatt.

 

1. Van harte geluk met jou nuwe bundel, Nini. Die voorblad van Boekstaaf toon ’n skildery van Liekie Fouché, genaamd Another world is calling, wat herinner aan René Magritte se bekende man met die bolkeil en jas. Wat my opgeval het, is dat die figuur in Fouché se skildery ’n manlike subjek daarstel. Is daar ’n rede waarom jy, as vroulike digter, hierdie invalshoek gekies het? Of verwys die figuur na die gedig, “Die man met die grys tas” (11): “Dan stap ek en hy spieël hom / teen ’n lewende skilderdoek”? Hoe het jy op die voorblad besluit?

Baie dankie, Gisela. Ek het aanvanklik ’n ander ontwerp gehad. Die literator by Cordis Trust wat die manuskrip ná keuring moes afteken vir publikasie, het egter beswaar gemaak teen die omslag – dat dit strak en verbeeldingloos vertoon. Ek het met toestemming van dr. Fanie Marais (van Cordis Trust) vir Liekie Fouché gekontrakteer vir ’n nuwe omslagontwerp. Ek hou van haar werk, veral die uitbeelding van wolke en water. Ek het grafika aangestuur (onder meer voorbeelde van Goth– en post-apokaliptiese musiekalbums se ontwerpe), en breedweg vir haar verduidelik wat ek wil hê. Dit het ’n man met ’n jas, hoed en tas voorgestel. Liekie het haar eie vertolking aan die idee gegee en die skildery gemaak. Die ontsluiting van René Magritte se werk skakel ook plek-plek met die surreële sfeer in die bundel, asook die titel,  Another world is calling, wat die alternatiewe werklikheid van die bundelkonteks suggereer. Die omslag verwys inderdaad na “Die man met die grys tas”, maar ook na ander enigmatiese figure in sommige van die gedigte. Die ontwerp kan natuurlik ook ’n androgiene figuur voorstel – dis oop vir interpretasie.

2. Ter aansluiting by die voorblad: die subjek dra ’n bolkeil. Die programgedig, “Da Capo”, aktiveer die hoed-motief reeds in die tweede versreël: “is min dinge so leeg en eensaam soos ’n hoed”. Alhoewel die gedig dit aan die leser oorlaat watter hoed  hy/sy visualiseer, kan ’n konnotatiewe betekenis aan die laaste twee reëls toegeken word: Milan Kundera se The unbearable lightness of being. Sabina, die minnares van Tomáš, die protagonis, is baie geheg aan ’n bolkeil wat ’n nalatenskap van haar oupa is. Hierdie bolkeil simboliseer verskeie moontlikhede wat geleidelik deur Kundera ontplooi word, veral die verwikkelde seksuele kode tussen die twee minnaars.

[…] Ek het jou liefgehad

soos ’n hoed of ’n eenvoudige profesie.

Wat was die stukrag agter dié gedig?

Die eerste prikkel met die skryf van die gedig was ’n sensuele toneel in die film Modigliani (2004), waar dié skilder en sy minnares, Jeanne Hébuterne, op speelse wyse vir mekaar ’n hoed aangee en daarmee flankeer – soortgelyk aan die hoedkodes wat The unbearable lightness of being oproep. In ander tonele word die hoed verwissel tussen Modigliani en Picasso, en suggereer dit ’n magspel. ’n Hoed het my nog altyd gefassineer as die ‘getuie’ van iets, en in die bundel is dit waarskynlik ’n simbool van reis deur tyd en ruimte en die blootlegging of versluiering van identiteit. Da capo, wat beteken “herhaal vanaf die begin/kop” hervat weer die sikliese gang van die bundeleenheid ná die slotgedig: […] “en alles / neig van voor af na vuur”.

3. Die bundeltitel is veelvlakkig. Was daar ander werkende titels waaroor jy besin het voordat jy die finale titel-keuse gemaak het?

Ek het die titel Fynskrif in gedagte gehad waar laasgenoemde onder meer die lesersooreenkoms  tussen leser en outeur voorstel en waarin poësie as implisiete taal sou gestalte vind binne dié “kontraktuele verbintenis”. Ongelukkig het die basiswoord “skrif” met nuwe prefikse in velerlei gedaantes verskyn as boektitels en afdelings in bundels en gevolglik het ek die titel verander. Met Fynskrif was ek ook versigtig vir ’n moontlike soetsappige konnotasie met kalligrafie. Dus het ons op Boekstaaf besluit.

4. Die bundel het vier afdelings: Deel i fokus op die boekstawingsproses van die spreker se geliefde asook die metaforisering van hulle donker en soms dodelike passie vir mekaar; Deel ii se oorkoepelende tema is ekopoëties; in Deel iii is verlies veral opmerklik asook gedigte met ’n filmiese invalshoek. In Deel iv is verganklikheid die fokale punt. Het hierdie temas organies ontwikkel en watter het jy op ’n bewustelike vlak geëksploreer en nagevors?

Die meeste gedigte het organies ontwikkel. Ek maak sterk staat op intuïsie as ek skryf, en skryf slegs as ek iets het om te sê. Aanvanklik het ek gedigte losweg volgens tema en stemming gerangskik. Ek lees wyd oor natuurverskynsels en wetenskapverwante onderwerpe. As iets my boei, maak ek ’n punt daarvan om dit in diepte na te vors. Ek het veral met die ekoverwante gedigte organismes deeglik geëksploreer en ook die films waaroor ek geskryf het, twee of drie maal gekyk.

5. Wie beskou jy as dig-mentors, hetsy op direkte of  indirekte vlak (byvoorbeeld ’n digter wat jy nog nie ontmoet het nie, maar wie se oeuvre jou boei)? Wie is jou ideale leser, die eerste persoon wat jy toelaat om ’n nuwe gedig van jou te lees? Wie of wat inspireer Nini, die mens, en ook Nini, die digter?

Ek het nie ’n formele digmentor nie, maar wel ’n paar digtersvriende met wie ek kan klankbord oor nuwe gedigte. Ek benut elke kans om te leer, maar dis veral die oeuvre van Marlene van Niekerk, Breyten Breytenbach en Tom Gouws wat my boei. As digmentor moet ek self beproefde en nuwe studiemateriaal internaliseer, en ek het nog altyd wyd gelees.  Die eerste persoon wat ek toelaat om ’n nuwe gedig onder oë te neem, is my lewensmaat, Mellet Moll. Ek is bevoorreg om in die dampkring van ’n persoon met so ’n buitengewone intellek en aanvoeling vir digkuns te leef. Enige iets kan my inspireer, maar normaalweg is dit ’n prikkel wat uit visuele waarneming ontstaan en wat lei tot ’n onderwerp wat ek in detail wil ondersoek. Inspirasie kan ook spruit uit ’n gevoelsbegrip vir iets of iemand. Die sneller daarvan is gewoonlik  ’n melankoliese gewaarwording.

6. ‘Baragwanath-hospitaal, 18 Desember 2006’ (3) aktiveer ’n hospitaal-ervaring en is opgedra aan G. Bennett, wat die leser laat vermoed dat die gedig ’n sterk outobiografiese element insluit. Was dit vir jou ’n moeilike proses om hieroor te dig?

My eerste man is oorlede toe ek 34 jaar oud was. Die aflegging van die proses was moeilik, maar toe ek die gedig geskryf het, het ek soos ’n buitewaarnemer ingekyk op die situasie en niks gevoel nie. Die gedig bevat wel elemente wat emosioneel die waarheid is. Miskien was die gedig vir my simbolies die afsluiting van ’n siklus en die begin van ’n nuwe tydvak.

7. Nini, nie net is jy  ’n bekende en geliefde aanlyn digmentor nie, maar ook het jy by vanjaar se Woordfees saam met digters soos Danie Marais ’n poësie-slypskool aangebied. Ook skryf jy ’n Poolshoogte-artikel vir LitNET oor  die aanlyn-digkunsakademie (http://www.litnet.co.za/Article/poolshoogte-die-bedryf-van-n-aanlyn digkunsakademie.) Verruim en verskerp mentorskap jou eie digproses? Watter keuringsprosedure volg jy wanneer voornemende digters vir mentorskap by jou kom aanklop en moes jy maar ook al ’n paar die virtuele deur wys?

Mentorskap verruim en verskerp inderdaad my eie digproses. Ek leef in noue interaksie met die digters saam, al is dit aanlyn. Ek gaan saam met hulle deur al die soms gebroke prosesse van digterskap en ontwikkeling, en elke klein triomf voel  soos my eie. ’n Digmentor is ook maar ’n sielkundige – jy kan nie die mens en digter in kompartemente begrens nie. Ek maak gebruik van holistiese onderrigmetodes om kreatiwiteit te stimuleer en ’n liefde vir literatuurstudie aan te moedig.  Uiteraard bly ek woordfiks en soek ek gedurig na nuwe materiaal vir my program. Ek het al ’n paar mense die virtuele deur gewys. Voor ek iemand aanvaar, kyk ek na, naas die lewensvatbaarheid van talent, ook na die ‘pakket’ as mens: intelligensie, of die persoon skeppend is in ander velde, beroep en kwalifikasies, ensovoort. Die korrekte digtershouding is ook belangrik: of die persoon ontvanklik sal wees vir die leerkurwe wat die program bied.

8. Cordis Trust was ook die uitgewer van Kodeks,  jou debuutbundel. Hoekom het jy besluit om weer by hulle te publiseer en nie byvoorbeeld by Tafelberg nie?

Ek het ’n verbintenis met dr. Fanie Marais van Cordis Trust sedert 2011. Cordis Trust is ’n huis met baie wonings, en Cordis Trust Publikasies is ’n onafhanklike uitgewer van nispublikasies. Cordis Trust maak gebruik van dieselfde keurders, kunstenaars en medewerkers as die hoofstroomuitgewers. Ek het vertroue in die gehaltekontrole waaraan nuwe bundels onderwerp word en dat Cordis poog om afgeronde produkte die lig te laat sien.

9. Een van die gedigte wat my opgeval het, is “Ave Kundera” (20):

Filigrein in wolke

kristallyne van riviere

 

die sonvlekke skadu voëls

en ek sweef deurskynend

 

ek is die vliesare van gevleueldes

 

ek, die skoenlapper

wat vlieg met gebrandskilderde vlerke.

Die beeldgebruik, ‘sweef deurskynend’, ‘vliesare van gevleueldes’ en ‘skoenlapper’ ondersteun die idee van ligwees en vryheid. Om aan te sluit by ’n vorige vraag: hou hierdie metaforiek sodanig verband met Kundera se The unbearable lightness of being? Of is daar ander motiewe in Kundera se oeuvre wat jy as basislyn vir die gedig gebruik het? Wat wou jy met die titel aktiveer?

Die gedig is geskryf as ’n vlugtige saluut of groet aan Milan Kundera. Die metaforiek speel in op The unbearable lightness of being. Die vlug van die skoenlapper (die beliggaming van lig(wees)) binne ’n groter landskap wat sélf lig is en as’t ware deur die skoenlapper morf, aktiveer ook ander temas soos sterflikheid, ewigheid, en eksistensiële gewigloosheid versus gewigtigheid.

10. “Hoogskrif” (22) is ’n aangrypende gedig (reëls 1-4):

Die mooiste God het ek bemin

 

in my kinderbybel met die af rug:

Noag se ark, Moses se staf

en Simson en die leeu.

 

’n Deurlopende tema is die spreker se worsteling met haar godsbegrip wat wissel tussen verwondering en teleurstelling. Sou ’n agnostiese leser hiermee kon identifiseer? Of iemand met byvoorbeeld ’n Calvinistiese agtergrond wat gaandeweg sinies oor godsdiens geraak het?

Ek dink dat ’n agnostiese leser wel met die gedig sal kan identifiseer. Daar is baie ware geloof in twyfel en baie twyfel in ware geloof. Die gedig mag dalk ’n bittersoet herinnering by die agnostikus laat; die gedig kan waarskynlik ook as tipe geloofsfabel van die spreker gelees word. Daar moet gelet word daarop dat min individue agnosties gebore word. Die meeste mense word groot binne ’n religieuse tradisie en neem daarna die vryheid op om hulle eie besluite te neem. Daarom is die nostalgie wat die gedig opwek, myns insiens steeds universeel.

11. ’n Sterk ekopoëtiese inslag word gevind in Afdeling ii se gedigte. Titels soos “Kremetart” (31) en “Slak” (32) utiliseer sub-titels waarin die Latynse naam voorkom. “Vuurgees Strelitzia reginae” (38) is ’n treffende voorbeeld hiervan:

Strelitzia brand blou

voor dit oranje spring

en sketterend spits in

kroonblare wat vlamme mimiek,

want Strelitzia is vuurgees

kraanvoël- en piesangblom

rebelse hibried

blouvuur: botanie

se avonturier.

Vertel ons van jou belangstelling in ekopoësie en wie in hierdie konteks jou grootste invloede, teoreties- en poësiegewys, is.

Ek stel eerstens belang in die brandpunte op die wêreldagenda wat sentreer rondom die volhoubaarheid van die planeet: ekologie, bio-ekonomie, klimaatsverandering, energie- en watervoorsiening, ruimteverkenning, sosiale transformasie en die verligting van armoede. Die geskiedenis het bewys dat die politici nie baie suksesvol is in die oplossing van hierdie vraagstukke nie, dus moet denkleiers, wetenskaplikes, akademici en ook skrywers hande vat om hierdie uitdagings aan te spreek. Sover moontlik probeer ek die werksaamhede van die Zeitgeist Movement, The Club of Rome en The Tesla Foundation volg. Ek is lief vir die wetenskappe en genereer dikwels idees vir my gedigte uit joernale wat ek lees. Belangrike eksponente van ekokritiek en -poësie in Afrikaans is onder meer Susan Smith, Johann Lodewyk Marais, Hennie Nortjé en Marlene van Niekerk.

12. ’n Gedig waaroor ek jou graag wil uitvra is “Skulp” (49). Jy voer aan dat dit na ’n idee van e.e. cummings geskep is. Kan jy met die nuuskieriges onder ons deel of daar ’n spesifieke gedig was wat jy in gedagte gehad het of was dit ’n tema of motief in sy gedigte? Wat beteken cummings se oeuvre vir jou?

Die gedig, “no time ago” van Cummings het my op die idee gebring van ’n Christus wat ’n eensame wese is; dat ’n verhouding met ’n Christus ’n verhouding met eensaamheid (self) word. Daar is egter ’n paradoksale vervulling of volkomenheid in só ’n verhouding, waarin die skulp as konkrete matrys (en metafoor) laasgenoemde klandestiene verhouding huisves. Ek hou van Cummings se oeuvre omdat hy ’n grensverskuiwer was en hom nie deur die kanon laat stuit het in sy tipografiese eksperimente nie. Ook vind ek Cummings se ideebeelde en metaforiek verfrissend.

13. Jy gebruik onder andere prosodiese digvorme soos die villanelle in “Changing of the guards” (52) en “Apollo-ligte, 1969” (66). Is daar ’n tendens in resente poësie om na tradisionele digvorme terug te keer? Indien dit die geval is, waarom?

Ek vermoed dat digtendense ook maar soos modegiere kop uitsteek. Die afgelope paar maande het ek byvoorbeeld ’n toename in die voorkoms en frekwensie van die villanelle bespeur – aanvanklik eers deur gesoute digters op die sosiale media; later deur digters op gesaghebbende webwerwe. Villanelle-kompetisies is uitgeskryf en boekpryse is uitgeloof. Dit lyk of digters gaandeweg weer terugkeer na tradisionele digvorme, alhoewel die vrye vers steeds die botoon voer. Digters hou van uitdagings – en ná die eksploitasie van die vrye vers vir soveel dekades word ’n tradisionele digvorm weer as ’n ‘nuutjie’ ervaar. Dit word ook vergesel met ’n mate van trots as ’n digter ’n versvorm, wat dissipline vereis, kan bemeester. Die verwagtingshorison en kanon van die dag dikteer ook in ’n sekere mate digters se gedrag.

14. Jou gedigte spreek ook van musikale kennis (soos gesien in die titel “Da Capo”) en liefde vir musiek; musikale terme word plek-plek gebruik. Ook is jou gedigte  klankryk. Was daar enige spesifieke snitte, groepe of komponiste waarna jy geluister het terwyl jy aan die bundel gewerk het of het jy merendeels stilte nodig om te dig?

Ek skryf met stilte en musiek; dit hang af van die gedig. As ek ’n sekere stemming wil skep wat emosioneel evokatief is, luister ek na die musiek van Goth-groepe, soos Diary of dreams, Lacrimosa, of na Saint-Preux, Chopin of Steampunk. As ek in stilte werk roep ek soms die musiek  in my geestesoor op; die musiek is binne-in my.

15. ’n Gedig wat diep tref (“In memoriam”:78) aktiveer die tema van buitestanderskap of ‘die Ander’ (the Other) wat buite die veilige verwysingsraamwerk van die burgerlike samelewing val:

in Weskoppies sterf mense

grafloos; geen steen of muur

vir siele wat  ongebreideld

loot uit ’n saligspreuk nie

maar volmaak

in die aarde ankerskiet –

in Weskoppies groei roosbome

kransstandig gekruis op mense

se dood en herinner

 

dat psigiatrie steeds die stiefkind

van die mediese wetenskap is.

 

Werp vir ons lig op die laaste twee versreëls.

Ek het empatie met mense wat swaarkry of ly. In die geval van psigiatriese pasiënte is daar soms ’n beletsel op hulle handelingsbevoegdheid, en pasiënte wat geïnstitusionaliseer is, se familie versaak hulle gewoonlik. Sulke mense is baie kwesbaar. As gevolg van negatiewe etikettering verloor hulle persoonlike geloofwaardigheid. Die Wet op Geestesgesondheid bly ongelukkig in gebreke om sulke pasiënte te beskerm en hulle sterf uiteindelik eensaam en alleen.

16. Laastens: kan jy vir ons jou gunsteling gedig met ’n liefdesmotief uit Boekstaaf aanhaal? Waarom lê hierdie gedig jou na aan die hart?

“Nabeeld” was een van die eerste gedigte wat ek geskryf het nadat ek my lewensmaat, Mellet Moll in 2012 ontmoet het. Een van sy stokperdjies is fotografie, ’n kunsvorm wat albei van ons se digkuns aanvul. Ek kan lank na foto’s kyk en word veral geboei deur die ‘binnebeelde’ wat in die oënskynlike skuil. Ek het nie gedink ek gaan weer gedigte skryf nie, maar Mellet se geesdrif met sy eie digkuns was aansteeklik. Ook het ek nooit gedink dat ek my sielsgenoot sou vind nie. Dié gedig was ’n rigtingwyser vir ’n besondere tyd in my lewe, alhoewel die inhoudelike oor afskeid en afsluiting van ’n vorige lewensfase handel.

Nabeeld

Foto: ’n snipsekond wat vir ewig leef.

Daar is soveel ruimtes om jou, waarom

het ek dit nie voorheen gesien nie?

Of tolk tyd sy eie gapings? My geestesoog

dissekteer jou digitaal. Wat wás

die splytsekond tussen strooilig en sluiter,

die binnekyk van die lens se dun ooglid?

Ek skandeer dieper rondom jou ingeskulpte

liggaamstaal en droom van jou, beminde,

’n nabeeld uitgegloei in die matrys van tyd.  (16)

Baie dankie vir stimulerende en interessante vrae, Gisela.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Onderhoud met Nini Bennett (Boekstaaf)”

  1. sigeuner :

    Die vrae strek wyer as Boekstaaf en die antwoorde meer kompak as die digter. Dankie vir hierdie uitsonderlike onderhoud, Gisela.
    Hierdeur kry ons `n dieper blik op die mens, die skeppings-proses en die digter.
    Die onderhoud is puik.

  2. Ellen Margaret Hancke :

    n PUIK onderhoud … welgedaan Gisela Ullyatt … Nini Bennet mag Boekstaaf wortelskiet en groot hoogtes bereik xxx

  3. Gisela, al jou onderhoude is deeglik voorberei en indringend. Baie dankie dat jy met jou vrae ‘n knap en sensitiewe digter soos Nini Bennett aan ons, haar lesers en bewonderaars, bekendstel.

    Baie geluk ook aan jou, liewe Nini, en aan CORDIS TRUST met hierdie glanspublikasie: waarlik ‘n werk uitstekend ge-BOEKSTAAF.

  4. Gisela Ullyatt :

    Dankie Sigeuner, Ellen en Myra. Julle kommentaar word waardeer.

  5. Nicolette van der Walt :

    Skitterende onderhoud, Gisela. En geluk aan Nini met ‘n besonderse bundel.

  6. Nini Bennett :

    Baie dankie vir die lees en hartlike terugvoer!