Resensie: Boekstaaf (Nini Bennett)

Boekstaaf deur Nini Bennett (Cordis Trust Publikasies, 2015; ISBN: 978 09922057 44, Formaat: Sagteband, 87 pp.)

Resensent: Marius Crous

Omslag

Op die voorblad van Nini Bennett se digbundel word die leser gekonfronteer met Liekie Fouché se Another world is calling.  Dit is ’n studie in blou, van ’n man met ’n hardebolkeil en tas, wat uitkyk oor die see in die rigting van die horison en ’n onbekende gebied. Dit toon ook assosiasies met David se Wanderer above the sea (1818), terwyl die man met die hardebolkeil tereg assosiasies oproep met die skilderye van Magritte.  Die gedig “Blou” (p.70) sluit by die ontwerp aan, veral die slotstrofe:

sal ons blou word,

want blou is die verste kleur

Sinonieme vir die woord boekstaaf in die titel sluit in opskryf, te boek stel, aanteken. Die bundel word in vier afdelings aangebied en volgens Gisela Ullyatt in haar onderhoud met Nini Bennett op Versindaba (9 Junie 2015) handel die onderskeie afdelings oor die volgende:
Deel I fokus op die boekstawingsproses van die spreker se geliefde asook die metaforisering van hulle donker en soms dodelike passie vir mekaar; Deel II se oorkoepelende tema is ekopoëties; in Deel III is verlies veral opmerklik asook gedigte met ’n filmiese invalshoek. In Deel IV is verganklikheid die fokale punt.

Die bundel word afgesluit met ʼn “Ars poetica” (87), wat soos volg lui:

Die suiwerste poësie sonder taal.

Dis die begeerte om stof tot stilte

om te dig, om digterwordend

die stilte te stoffeer; dis die metamorfose

van die metafoor as hout fossiele word:

steenkool vra om te brand, of water

hoogty in branders vlam; dis die friksie

van asem in fynhout

aangehits deur die wind –

Die digter, die magiër van ouds

dek die altaar en alles

neig van vooraf na vuur.

Die leser word dus ingelig dat die digter wat hier aan die woord is naas omtoorder van vuur en metafoor, ook iemand is wat die stilte najaag. Maar die digter is ook ’n alchemis, ’n towenaar wat “alles” opnuut soos ’n feniks uit die vuur laat verrys.  Dit is veral hierdie “metamorfose van die metafoor” wat my opval in Bennett se gedigte.  In die gedig “Groenskrif” (p. 24) verwys sy ook na die kind wat daaroor gedroom het om ’n bioloog te word, maar

… nou ontleed

sy trope meedoënloos en maskeer

haar daagliks dieper met metaforiek.

Daar is ’n bewuste soeke na die poëtiese woord om ’n bepaalde ervaring te verwoord. Dis ’n bundel met vondste soos “brandsis oor die skerm”, die Kaapse winter wat “eindeloos in stilfilms bly dyns”, “snipsekond wat vir ewig leef”, iemand “veldun” liefhê, die “welklig” wat die boom “kalk”, ’n mot wat “gewywaad sit”, die leeu wat soos ’n kat sy “klawerkussings / naels inflens”, die waters wat in rafels gekaard word, om “ingeberg [te wees] in die stilte”, die ma wat probeer om die kol te “stelp” op die wit jas, “skuilgestaltes”, “ontmindes geënt met MIV”, “grifgeskrifte van grief” of die “dromerige fynkyk van ’n profeet” – om maar enkeles te noem. Hierteenoor vind ek die gebruik van woorde soos “allokeer”, “predatore”, “mortaliteit”, “nokturniese” en “skulptuur” steurend, maar gelukkig is hulle in die minderheid.

Boekstaaf lewer nie net verslag oor die digter se soeke na die poësie nie, maar bevat ook opgetekende herinneringe oor die geliefde, oor plekke wat besoek is, oor boeke wat gelees en films wat gesien is en indrukke wat deur bekendes gemaak is (Alan Turing, John Nash). Hierdie intertekstuele inslag van die digproses word as ʼn “herbesoek [aan] trofeë gebuit van woordtonele” (p. 63) beskryf. Ek vind nie al laasgenoemde gedigte ewe geslaag nie. Bv. die gedig “FBI” (p.62) kom onaf voor, terwyl die slot van die vers oor Leni Riefenstahl ’n andersins sterk gedig bederf.

Die waarneming van die natuur speel ook deurlopend ’n belangrike rol met die uil as ’n sentrale teken van die digter.  In die gedig “Nagwakers” (p.4) word die digter en geliefde met uile vergelyk wat in die nag “op dieselfde nok” mekaar inwag. In “Drif” (p. 13) word pertinent genoem dat die spreker en die geliefde nou uile is, wat “triomfeer / oor nokke en kerktorings met hekse-uur”.  Die uil kom ook ter sprake in “Meester” (p. 18) waar die skatpligtigheid aan die meester van wie die spreker “sy swye” geërf het, asook sy boeke en die “geeste van baie skrywers”.  Dit is die skerpsinnigheid van die meester wat hom met die uil assosieer, soos blyk uit die volgende:

soos die derde ooglid van ’n uil

wat nie wyk in die fynkyk

van sy visie en meedoënloos

onbeskut teen sy wete soek.

Die belangstelling in die natuur word geaktiveer met die voorliefde vir biologie in die gedig “Groenskrif” (24) en hierop volg gedigte oor voëls, diere, bome en sneeu. Met haar drietal verse oor die sneeu lewer Bennett ’n belangrike bydrae en dis veral die stilte van die sneeulandskap wat haar as digter bekoor, asook die “duimdrukke van God se biometrie” in die onderskeie tipes sneeuvlokkies.

In enkele gedigte kom God ook ter sprake en die onderskeie manifestasies van God en God-heid kom veral voor in “Hoogskrif” (p. 22) waar onderskeidelik gefokus word op die mooiste God, die innigste God, die suiwerste God en die liefste God. Laasgenoemde is

… die een

wat waak in die wagwoord van elke

nuwe vers(.)

Boekstaaf het ’n melankoliese ondertoon en verlies en verganklikheid staan inderdaad, soos Ullyatt opmerk, sentraal in die bundel.  Reeds in die openingsgedig met die hoed as sentrale beeld (p.2), word die digter se besinning oor die verganklikheid geaktiveer.  Dié gedig sluit soos volg af:

As ons ná die eendagsreis ontslaap, die self

kolskoot en finaal ophang aan die kerfstok

sal ek weer aanmeld by die laaste

halte – die inlas van verlies vind;

jou hoed hang daar, jy is hier,

vir ewig tuis. Ek het jou liefgehad

soos ’n hoed of ’n eenvoudige profesie.

Nini Bennett se bundel bied heelwat vir die poësieleser en ek hoop sy hou aan om (as die wandelaar) te hunker na die ander mistieke wêreld wat roep aan die oorkant van die blou onbekende.

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Resensie: Boekstaaf (Nini Bennett)”

  1. Nicolette van der Walt :

    Baie geluk met hierdie goeie resensie, Nini! Welgedaan.

  2. Die resensent lewer ‘n gebalanseerde oorsig, wat die fyn weefwerk van BOEKSTAAF uitlig en belig. Nini Bennett is ‘n sterk stem, haar geredelik vestig in die geledere van groot letterkundige name.

  3. Mellet Moll :

    ‘n Baie volledige, gebalanseerde en deurdagte resensie. Na my mening is die resensent suksesvol in sy poging om die essensie van die bundel uit te wys en die sentrale tematiek te volg in al die gestaltes daarvan. Miskien kon die uiteindelike uitspraak minder implisiet gewees het, maar dit neem nie weg van die baie volledige ontleding wat gedoen is nie. Veels geluk aan Nini wat hierdie belangrike mylpaal met vlieênde vaandels bereik het.

  4. René Bohnen :

    Dankie, Marius, ek geniet altyd jou insigte en perspektiewe. Geluk met die positiewe resensie, Nini.

  5. Nini Bennett :

    Nicolette, Myra, Mellet en René: baie dankie vir die lees en vriendelike woorde!

  6. Lieze Staasen :

    Baie, baie geluk Nini. Kan nie wag om self in jou bundel in te duik nie. X

  7. Alice Hendriks-Boshoff :

    Nini, hartlikste gelukwense met die verskyning van jou hoëgehalte bundel. Hierdie eerlike, respekvolle en veral gebalanseerde resensie kom jou absoluut toe. Baie dankie aan die resensent wat die woorde, sinne en gedigte so deeglik gelees en ingeneem en deurvors het.