Resensie:’n Digter in Antwerpen (Leonard Nolens, vertaal deur Daniel Hugo)

’n Digter in Antwerpen – Leonard Nolens, vertaal deur Daniel Hugo

Resensent: Heilna du Plooy

Potchefstroom

Junie 2015

Omslag

I

Een van die bekendste uitsprake oor die vertaling van poësie is gemaak deur Robert Frost: “Poetry is what gets lost in translation” . Die volledige uitspraak van Frost, wat kom uit Conversations on the Craft of Poetry (1959) klink so: “I could define poetry this way: it is that which is lost out of both prose and verse in translation”. Die langer uitspraak verskuif die fokus van die poësie as genre, na die poëtiese of digterlike aard wat alle goeie en ernstige skryfwerk kenmerk. Ek vermoed dit gaan vir Frost eerder om daardie onbeskryfbare en onbenoembare en onverklaarbare kwaliteit wat ’n prosaskrywer of digter in ’n goeie literêre teks kan bereik of regkry of skep of per ongeluk raakskryf, waardeur die woorde en sinne en die teks self gesamentlik meer beteken as die somtotaal van hulle semantiese waardes.

Om gedigte te vertaal, is dan sekerlik ook die mees veeleisende vorm van vertaling omdat die poësie taal in sy mees gekonsentreerde en mees komplekse vorme en moontlikhede gebruik en ontgin. Mens kan jou voorstel dat die vertaler, wanneer hy die werk van ’n digter lees wat hom buitengewoon sterk aanspreek, dit graag wil deel met ander. Of dalk gebeur dit dat die uitwerking van die oorspronklike gedigte die leser (die potensiële vertaler) dwing of verlei om dit ook in sy of haar eie taal (of juis in ’n ander taal) te wil oorsit. Daarmee word nie net die gedigte toeganklik gemaak vir anderstalige lesers nie, maar die grense van die ander taal (doeltaal) word ook poëties getoets en selfs verskuif. Afgesien van die behoefte om die skoonheid en die tematiese diepgang en insig met ander lesers te deel, kan die aanleiding tot die vertaling ook prakties gemotiveer wees, om die gedigte te gebruik in navorsing in ’n ander taal, om ’n prominente digter bekend te stel aan ’n groter gehoor, ter wille van bemarkbaarheid, om bande te smee met ander tale en die digters van ander tale. So kan mens voortgaan. Maar die vertaling van letterkundige werk en veral die poësie is so oud soos die berge en dit bly een van die belangrikste maniere om mense se verwysingsvelde te vergroot, om kennis en insig oor te dra – kortom om mense met ’n wyer blik na hulle eie leefwêreld te laat kyk.

Dit neem nie weg dat die vertaling van spesifiek die poësie tegelykertyd doenbaar en nie doenbaar is nie. In alles wat daaroor geskryf word deur vertaalkundiges en letterkundiges kom al die probleemareas telkens weer onder bespreking. Die vertaler moet deurlopend onderskei tussen taalkenmerke en tekskenmerke om te besluit wat gewoon talig in die ander taal oorgeskryf kan word en watter vooropstellings en beklemtonings daar in die brontaalteks is wat doelbewus betekenisdraend is en wat dus ook as vervreemdende taalgebruik in die nuwe taal weergegee moet word. Daar moet besluite geneem word oor getrouheid aan die bronteks in terme van eksotiese inhoud en lokale kleur of toeganklikheid in die doelteks. Op ’n bepaalde manier is die debat tussen ekwivalente, dinamies-ekwivalente en funksionalistiese benaderings tot vertaling,  die verantwoordelikheid teenoor  óf die bronteks of die doelteks, die afweeg van balanse tussen die digter se (vermoedelike) intensie, die vertaler se eie poëtiese aanvoeling en vermoë en die potensiële leespubliek deurentyd op die spel by literêre vertaling. Dit kan nie anders nie, al is dit byna op ’n onderbewuste vlak omdat die oppervlak van die proses oorheers word deur die literêr-tegniese aspekte van die oorsettingsproses.

Die vertaler kry ’n goeie gedig met bedagte en unieke inhoud en tematiek om te vertaal. Die komplisering van inhoud, taal en tegniek om betekenis teleskoperend te laat uitwaaier, is reeds gedoen deur die digter. Die woorde, struktuur, ritme, klank, metaforiek en die samehang tussen alles, maak elke klein onderdeel van die gedig se inhoud meerwaardig. Dit dra veel meer as wat gewone taalkennis en woordeboekbetekenisse kan bevat. Die hele poëtiese proses moet dus in ander woorde in ’n ander taal her-gebeur.

Waarby ek wil uitkom, is dat die vertaling van poësie nie net ver-taal kan wees nie. Die vertaler van verse moet ’n baie goeie leser wees en hy moet sy eie lesing en interpretasie van die gedig voor hom, sy eie verwysingsveld en sy eie poëtiese aanvoeling deurentyd bewustelik verwerk in die vertaalproses omdat hy besig is met ’n poëtiese gesprek tussen twee tekste, ’n bestaande en ’n potensiële een, in twee tale. Die taak van die versvertaler word dus bykomend tot en geïntegreerd met die taalomsetting, ook ’n taak van herdigting, omdigting, herskrywing. Dit hang egter daarvan af of die vertaler gewoon die gedigte in ’n ander taal omsit en daarmee tevrede is en of hy werklik (en dalk selfs nuwe) poësie in die doeltaal wil maak (sonder om plagiaat te pleeg). Sommige vertalers sal hulleself ten doel stel om die bronteks te transformeer in die nuwe taal, om van die bestaande gedig ’n nuwe versie in ’n ander taal te maak, ’n vers met dieselfde inhoud maar as ’n nuwe gedig wat as gedig op sy eie kan bestaan. Vanselfsprekend lê al hierdie moontlikhede op ’n glyskaal, die benadering sowel as die praktiese uitvoering van die vertaalwerk, en juis die glyskaal is wel ’n gepaste metafoor want poësievertaling beteken onvermydelik dat die vertaler hom begewe op ’n glibberige en onvaste terrein.

II

Daniel Hugo se keuse om die werk van Leonard Nolens te vertaal, is goed te verstane. Nolens is ’n gevestigde, produktiewe en hoog aangeskrewe digter in die Vlaamse en ook in die wyer Nederlandstalige literatuur. Hy het altesaam al 32 bundels en outobiografiese tekste gepubliseer (insluitend versamelbundels) en het daarvoor al 12 literêre pryse ontvang, waaronder die prestigieuse VSB Poëzieprijs in 2012.  Hy is nie baie bekend in Suid-Afrika nie maar na sy bywoning van die Woordfees in Stellenbosch sal meer mense van sy werk kennis geneem het. Mens kan egter wonder of die feesgangers besef het hoe uitsonderlik dit was dat Nolens op die fees verskyn het. Want Nolens  is ’n eenling, ’n eensaamling, ’n afstandelike, ’n waarnemer. In sy eie woorde in ’n outobiografiese stuk sê hy: “Ik leef als een schaaldier, besloten in mezelf. En toch is heel de oceaan daar doorheengegaan”.

Daar is ook inderdaad in sy werk ’n ongrypbaarheid, ’n ontwykendheid wat poëties baie boeiend, maar tog moeilik te begryp is en vanselfsprekend dus baie moeilik te vertaal is. Hy pas byvoorbeeld nie regtig in ’n spesifieke stroming nie al vertoon sy werk in die bemoeienis met die relatiwiteit van alle dinge postmodernistiese trekke. Hy is ’n eiesoortige en unieke digter, een wat beskryf kan word as ’n “paradigmadigter ” – iemand wat in ‘n sekere sin ‘n stroming op sigself is, wat sy eie paradigma skep, terwyl hy tog deel uitmaak van die digtersgenerasie waartoe hy histories behoort. Sy problematiek kom voort uit die klimaat wat ervaar is deur digters in die Lae Lande sedert 1945. Hy glo egter wel dat hy as toegewyde digter juis vanweë sy onttrokkenheid deel kan wees van die gemeenskap omdat sy afstand hom in staat stel om goed te kan waarneem.  Die generasie na-oorlogse digters sien hulleself en hulle werk as niksseggend in die wyer gemeenskap en aanvaar dat hulle nie berge kan versit met hulle skryfwerk nie. Dit is immers die aard van die tyd, dat niks werklik uitsluitend of absoluut  belangrik is of kan wees nie.

Ek het in 2008 ’n onderhoud met Nolens gevoer in Antwerpen as deel van ’n navorsingsprojek waaraan ek gewerk het oor narratiwiteit in liriese poësie. Ek het die afspraak via sy vrou gereël aangesien hy nie juis met telefone of selfs e-pos werk nie. Die gesprek het plaasgevind in sy “kantoor” in ’n appartement in ’n woonbuurt wat nie in hulle eie woonhuis is nie. Hy gaan dus elke oggend na sy kantoor toe om te skryf. Die kantoor bestaan uit ’n klein sitvertrek, ’n kombuisie en ’n werkkamer/skryfkamer/studeerkamer. Die werkkamer is kraaknetjies, die boeke elkeen op hulle plek in die rakke, die lessenaar leeg en skoon, met net ’n pen (’n vulpen), papier en ’n klein lang dun glasie vol sjerrie langs hom. Hy is gewis nie ’n man van baie woorde nie, maar die onderhoud het wel aangenaam verloop. Hy het direk aan die begin gesê dat hy elke dag daar kom werk en dat hy nie ’n “baan” kan hê nie. “Ik kan het niet”, was sy woorde. Om ’n gewone daaglikse beroep te volg, is vir hom iets buite sy vermoë en hy het ook vertel dat hy bly is dat dit vir hom moontlik was om so ’n lewensstyl te kon hê omdat hy uit ’n welgestelde familie kom. Ook dat hy dit waardeer dat hy daarin ondersteun word deur sy vrou aan wie hy deurlopend in sy verse sy toegeneëntheid bely.

Wat my egter gans verslae gelaat het, was dat die venster van die werkkamer uitkyk, eintlik direk vaskyk teen die wit muur van die gebou langsaan. Daar is net ’n klein stegie tussen die venster en die plat, gans witte muur. En ek kon nie help om te dink dat ’n Suid-Afrikaanse digter dit gewis nie sal kan regkry nie. Om sonder enige blik op ’n landskap, stadskap, dorpskap, straatskap, bergskap, seeskap of watter soort –skap ookal kreatief te wees, lyk vir my na iets onmoontliks vir mense uit ons sondeurdrenkte buitelug beduiwelde Afrika. Ander skrywers en digters kan dalk van my verskil, maar ek het ’n vermoede ons is mense van uitsigte, ons wil fisies ingeskuif wees in dinge buite onsself, hetsy natuur of gemeenskap.

Die merkwaardige is egter dat Nolens vanuit hierdie afgeslotenheid oor baie jare heen aktief aan die skryf bly. Hy skryf oor die wyer problematiek van die mens in sy tyd; as waarnemer, byna as kluisenaar, beskou en bedink hy die werklikheid en sien hoe relatief alles is. Tog kry hierdie vervloeiende tematiek universaliteit deur middel van die poëtiese vormgewing, die liriese vloei, die statige ritme en bykans inkantatiewe herhalings in die gedigte. Daarin lê ‘n groot paradoks, dat die poësie so ontroerend en meevoerend kan wees omdat die poëtiese segging as sodanig die relatiwiteit van die tematiek oorstyg en die verse universele geldigheid verkry. Inderdaad lewer die skaaldier se gedigte bewys daarvan dat die hele oseaan in en om en deur hom gevloei het.

III

Danie Hugo kies vir sy vertalings van Leonard Nolens se werk, gedigte uit 12 verskillende bundels tussen 1979 en 2011. Die keuse van gedigte is oortuigend en gee werklik ’n goeie oorsig oor die digter se werk. Ten aanvang word daar ’n motto gegee: “Zo sta je dan ten dade opgeschreven en voeg je vakkundig de dood bij het woord”.  Hierin word kerngedagtes van Nolens se oeuvre saamgevat, die handeling en optrede van die individu, die vakkundigheid, die dood en dan veral die woord. Alles word taal en slegs in die taal kom iets tot bestaan. Daarbuite vind Nolens nie veel van waarde nie.

Mens kan nie elke vertaling van Hugo oorweeg en in diepte bespreek nie, maar dit is vir my duidelik dat hy as vertaler kies vir ’n vertaalbenadering wat so na as moontlik aan die bronteks bly. Dit is natuurlik moontlik omdat Afrikaans en Nederlands na aan mekaar is en baie woorde en uitdrukkings bykans moeiteloos van die een taal na die ander oorgehewel kan word. Maar juis in hierdie verwantskap lê groot struikelblokke opgesluit. Die gedigte is ook langs mekaar geplaas sodat die leser sowel die Nederlands as die Afrikaans kan lees.  Ook hierdie praktyk het voordele en nadele vir die vertaler en die leser.  Uiteraard gaan baie lesers die gedigte as tweelinge lees, iets wat ek ook aanvanklik gedoen het. Vir ’n tweede lesing het ek egter die Afrikaanse gedigte alleen gelees om hulle as gedigte, elkeen op sigself, te ervaar.

In sommige gevalle kom daar deur geringe aanpassings pragtige beeldspraak in Afrikaans tot stand: In die gedig “Antwerpen I” beskryf die digter homself as iemand wat alleen is maar inderwaarheid ook deel is van alles ander mense: “Vandag was ek alleen én meer as een”.  Daarna noem hy al die mense op met wie hy kontak gehad het en met wie hy hom geïdentifiseer het, selfs sy eie dronk skaduwee. Hy vertel dan dat “Later het die park op my oë gelê en droom van reën” en dan kom die pragtige beeld waarin sy reise en herinneringe versmelt met wat hy sien in die blare en bome in die park: “Die paaie van dorpe en stede wat ek ken, het mekaar in die/ antieke nerfgeraamte van beukeblare deurkruis, in die obskure glans van/ ’n swaan se swart veer”.

Die vertalings is knap gedoen in die sin dat Hugo die Nederlands baie goed ken en dus gemaklik kan vertaal. Van die gedigte is dan ook net so treffend in die Afrikaans as in die Nederlands en mens leer ken die digter in sy verskillende lewensfases. Afgesien daarvan dat hy dikwels in gedigte sy ouderdom noem, kan die leser deur hierdie seleksie van gedigte ook ’n ontwikkelingsgang by die digter ontdek. Daar is byvoorbeeld eers die jong verliefde wat die geliefde besing en sy afhanklikheid van haar bely soos in die baie mooi vertaalde verse “Skatpligtig” (p. 23) en “Skuldige liefde” (p. 25). Later in “Soewerein” (p. 37) bely die digter sy verbondenheid sowel as die belastheid van die geliefde as hy sê “Ek bly jou noodsaak” en in  “Kier” (p. 39) spreek die digter selfs sy wanhoop uit oor hierdie afhanklikheid aan die geliefde “omdat geen mens my menslike gewig kan dra nie”. Die geliefde word metafoor vir die poësie en die poësie vir die geliefde soos in “Grafskrif” (p. 53) maar later word die verbondenheid ook meer relatief soos in “Binne en buite” (p. 65), “Een soen sal bewys/ Dat ons elkeen op sy eie nog saamreis”. In “Eiland” (p. 67) word die geliefdes beskryf waar hulle hand aan hand loop langs die Schelde. Waar hulle vroeër “met hulle verliefde monde/ inmekaargeskroef nie meer herkenbaar was nie”, loop hulle nou terwyl daar “geen skip [is] wat hulle van dié eiland sal kom haal nie”.

Die ander tema wat  deurgaans voorkom en deur vele variasies en grade ontwikkel, is die spel met verbondenheid en identifikasie enersyds en afsondering en uniekheid andersyds. In “Sosiale betrokkenheid” (p. 63) betoog die digter vir die reg van sy poësie om aan sigself vrae te stel. Hy erken hy is wêreldvreemd maar vra dadelik en herhaaldelik aan “watter wêreld” hy dan nou vreemd sou wees. Hy wil homself handhaaf maar is bewus van sy eie onbelangrikheid en die relatiwiteit van sy bestaan en sy werk. In “Ek” (p. 51) sien hy homself as onvervreembaar deel van die wêreld, “Maar dit is ek. Ek is dit vyf miljard keer./ Die wêreld is altyd vyf miljard keer ek.” Maar daar is ook die deurlopende selfondermyning  soos in “Missenburg” (p. 54) waar die digter in ’n woud, in ’n “onderdak van niks”, deur niks gesteur word nie “[be]halwe soms ekself, as dit sy asem hoor”. Hier verwys die digter na homself as dit en in “Missenburg 2” bevestig hy eers sy aanwesigheid “Ek is deur en deur hier” maar dan gaan hy weg en sê “Wanneer sy dit lees, is ek nie meer hier nie”. Net soos hy sy persoon opskryf én wegskryf, word die poësie as aanwesigheid én afwesigheid uitgebeeld. In “Vaderland” (p. 49) word selfs die ontstaan van die gedigte as sodanig eintlik betwyfel.

In Nolens se werk raak al die temas versmelt, die liefde, die poësie, die digter self, die plekke waar hy lewe, die dinge wat hy doen. Hoe meer mens die gedigte lees, hoe meer vloei die terreine en onderwerpe in mekaar. Die digter self is die saamtrekpunt van sowel bestaan as onsekerheid. In “Vreemde voël” (p. 57) beskryf die digter homself as ’n voël tussen ander stomdronk voëls, maar een wat ’n swart pen uit sy “afwesige” veredos trek en “daarmee kras ek traag en diep my spookverskyning/ Op die mure van my hok”. Die digter bevind homself altyd “elders”:

Ver weg in ’n ander land, daar slaap ’n kind

Gewikkel in die hartslag van sy dooie moeder.

Die man wat ek nie geword het nie, gee sy geboorte af

Aan hom wat langs haar lê. Hy slaan my in die wind.

As mens egter die Afrikaanse gedigte opsigself lees met ’n fynproewende oog (soos my oog ten spyte van myself geleer doen het), is daar tog soms ’n strakheid in die gedigte en daar is selfs woordkeuses en uitdrukkings wat die vraag laat ontstaan waarom daar soms enger en soms vryer vertaal is. Die strakker dele sou kon baat by vryer vertaling en soms is die verbondenheid aan die bronteks hinderlik.

In die gedig “Antwerpen 1” (p.11) kan mens vra waarom die “obscene glanzen” van die swart swaanveer vertaal is met “obskure glans” in Afrikaans. Sekerlik is die assosiasies van obskuur hier aanduidend van iets meer geheimsinnigs as obseen en dit is dus dalk ’n verryking van die gedig. Maar in die vorige gedig, “Donderdagoggend 12 Oktober 1978 om halfsewe in De Pelikaan”, staan daar in die Nederlandse vers “Ik snap niet welke wil en wat voor wiel/ Jullie bezielt om dagelijks die moeilike machines/ Te bedienen met een kinderlijke hand…” . Hierdie uitdrukking is in Afrikaans vertaal “Ek snap nie watter wil en watter wiel/ Julle besiel om daagliks daardie moeilike masjiene/ Met kinderlike hande te bedien…nie”.  Nou besef ek baie goed dat die klankspel in “wil” en “wiel”, “wiel” en “siel” en ook “siel” en “bedien”, die vertaler hier laat besluit het om die uitdrukking na aan die Nederlands te hou, maar mens moet toegee dat op sigself gelees die uitdrukking “watter wil of wiel jou besiel” in Afrikaans regtig nie baie gelukkig of verstaanbaar is nie. Hier is die enger opsie gekies terwyl by “obskuur” die vryer keuse gemaak is.

Die vertaler kies vir die Nederlandse woord “lavelose” in Afrikaans “lawelose” (p. 57) , ’n woord wat ek nie in ’n gewone woordeboek kry nie (dalk in die WAT?). Mens sou kon aflei dat dit verband kan hou met “sonder lawing of lafenis”, maar die Nederlandse woord beteken eintlik  letterlik “stomdronk” en gesien die assosiasie met drank (en juis te veel drank) wat regdeur Nolens se oeuvre en ook in die gekose gedigte voorkom, sou “stomdronk” tog ’n goeie Afirkaanse keuse kon wees. Aan die ander kant gaan die gedig oor voëls wat die digter naderfluit en daarom kon die stom- in stomdronk pla. Of dalk juis ironies treffend wees? Dieselfde geld ’n keuse soos die “stampende” hawe terwyl “polsende” dieselfde ritme het en dalk in Afrikaans meer sprekend sou kon wees om die bedrywigheid in die hawe te beskryf.

Dit gaan nie vir my om kritiek op kleinighede te lewer nie, maar die spel met die woorde in die twee verwante tale maak die keuses nogal opvallend. Terwyl mens die vrae stel, weet jy dat daar waarskynlik nie ’n klinkklare antwoord op is nie omdat die vertaler gewoon ’n keuse maak en dit volgens aanvoeling op ’n bepaalde plek doen. Dalk voel die vertaler soms dat hy juis ’n vreemde woord wil behou om die vervreemdende werking daarvan te bewaar soos (indien wel die geval) in die oorspronklike teks of om juis ’n vernuwende konsep in Afrikaans in te bring.

Ten slotte is dit merkwaardig dat Nolens, hierdie digter van die swewende blik en uitkyk, homself weldeeglik ruimtelik plaas en homself as ’n Antwerpse digter sien. Hy skryf baie oor die stad en in hierdie versameling word baie van die gedigte uit die versamelbundel “Een dichter in Antwerpen en andere gedichten” (2005) opgeneem. Met die beeld van die digter in sy skryfkamer voor die wit oorkantste muur, in die wyer spesifieke ruimtelike plasing van sy stad, Antwerpen, voor my geestesoog is die gedig “Onderhoude 1” (p. 97) uiters insiggewend.

Onderhoude 1

Jy vra my uit oor my visie ná veertig jaar se skryfwerk, my visie!

Beledig jy my of my poësie?

Ek was nog jonk, ’n kind, toe ek by hierdie tafel my plek ingeneem het

Om plek te maak vir wat ek nie weet nie.

My insig is die blinde werk van ’n ouer man met geen ander uitsig

As hierdie landskap nie, ’n tuinmuur van baksteen.

En hoog daarbo die trae streep van ’n straaljagter, stil

Soos ’n lyntjie kokaïen, en ’n krysende wolk

Van meeue, en verder niks meer as blou blou blou die hemel

En die koperdoofpot van die son nie.

Ek is soos altyd met niks vergelykbaar

In hierdie kamer nie, hoe kan ek bestaan?

Te dikwels, te lank, te grondig hier in die donker gesit

Om na die lig te kyk, te lank

Die goue pupil in die vaderlike oog van die son gefikseer

Om dieper, om verder te kan kyk as ek.

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Resensie:’n Digter in Antwerpen (Leonard Nolens, vertaal deur Daniel Hugo)”

  1. Beste Heilna
    Baie dankie vir jou interessante uiteensetting van die poe”sievertaler se dilemma en van Leonard Nolens se digterskap. Ek reageer graag op enkele punte.
    1. Dit was nie my keuse om Nolens te vertaal nie (hoewel ek natuurlik geen beswaar daarteen gehad het nie), maar alle vertalings wat ek uit Nederlands doen, geskied in opdrag van ‘n uitgewer. Die uitgewer se keuse van wie vertaal word, word weer in ‘n groot mate bepaal deur die beskikbaarheid van subsidies uit die Lae Lande.
    2. Waarom ek “obscene glanzen” as “obskure glans” vertaal het, gaan my verstand ook te bowe.
    3. Oor “lavelose lawaai”: Ek het dit vertaal as “lawelose dronklawaai” – dus nie bloot as “lawelose” nie. Ek weet dit is toutologies (maar net vir die lesers wat die Nederlandse betekenis ken). Ek wou “lawelose” behou ter wille van die alliterasie met “lawaai”. Die klank van die oorspronklike frase was dus vir my ewe belangrik as die betekenis. Verder het ek met die woord “dronk” ‘n bykomende alliterasie geskep met die woorde “duisende” en “donkerte” in die volgende ree”l.
    4. Waarom is “watter wil of wiel jou besiel” nie in Afrikaans verstaanbaar nie, maar wel in Nederlands?
    5. Wat die “stampende hawe” betref (“stampende haven” in die Nederlandse teks): Ek verstaan nie waarom dit “polsende” moet word nie – hierdie woord is veels te “poe”ties”. Daar is inderdaad gedurig stampgeluide by ‘n hawe (van treintrokke en staalhouers wat op die kaai afgelaai word, byvoorbeeld).
    Vriendelik
    Daniel