Carina van der Walt. Grense

 

Die nuus in Europa word daagliks oorspoel met beelde van oorvol bootjies op die Middellandse See. Vlugtelinge uit Afrika probeer desperaat om Europa binne te kom via Italiaanse eilande soos Sicilië, Lampedusa en Malta. Terselfdertyd probeer vlugtelinge uit Turkye ook om sommige Griekse eilande soos Rhodos te bereik. Italië en Griekeland beteken vir hierdie mense binnekoms in die welvarende Weste, maar gisteraand het ’n verontrustende beeld van die kaart van Europa op die nuus verskyn: die sluiting van die grense ten noorde van Italië en Griekeland.

 

Hoewel deel van die Europese Unie, voel Italië en Griekeland in die steek gelaat wanneer dit kom by menseredding langs hulle kuslyne. Verlede jaar het Italië met Mare Nostrum begin, wat die lang Italiaanse kuslyn patrolleer en spesialiseer in reddingsaksies. Dit lyk egter asof die noordelike Europese lande maak asof dit alles net Italië en Griekeland se probleem is: derduisende verdrinkings en dié wat tog gered word, moet noodgedwonge dan maar ook daar gehuisves word. Beskuldigings vanuit Europa dat juis hierdie twee lande nie hulle finansiële huishoudings op orde het nie, gaan wrang af. Wat tel waar? Hoe noordeliker – geld, hoe suideliker – mense?

 

Afrikane wat probeer wegkom van oorlog en hongersnood het nooit leer swem nie. Gewetenlose mensesmokkelaars op die Noord-Afrikaanse kus melk hierdie wanhopige mense en stuur hulle in groot getalle op bootjies met stukkende enjins. Soms het die bootjies te min petrol om die oorkantste kus te haal. Sonder genoeg water moet hulle dikwels hulle eie urine drink om op see te probeer oorleef. Maar bootvlugtelinge uit Afrika is nie net ’n toenemende verskynsel van die afgelope twee of drie jaar nie. Dit het ook al in 2006 en 2007 ’n rol begin speel tussen Wes-Afrika en die Kanariese Eilande.

 

Vir hierdie tipe onregverdige ellende het kunstenaars, digters en skrywers nog altyd oopgestaan. Deur artistieke refleksies word ander met die werklikheid gekonfronteer. Miskien dwing dit mense om verder daaroor na te dink? Daarop hoop die kunstenaar, digter en skrywer ten minste, wanneer hy met sy produk die werklikheid soos ’n spieël voor ander mense ophou. Of nie. Die onmag van die kunstenaar, digter, skrywer lê juis ook opgesluit in die einste ‘spieël ophou-aksie’.

 

Die Amerikaanse videokunstenaar Isaac Julien reflekteer met Western Union, Small Boats (The Leopard, 2007) op die verdrinkings van bootvlugtelinge na die Kanariese Eilande toe in 2007. Hierdie spesifieke video uit 2007 se trefkrag het met die onlangse gebeure verdubbel. Op die video hoor mens net onderwater- en ander geluide – geen gesprekke, onderhoude of redenasies nie. Beelde volg mekaar vinnig op. Dit wissel van half bewustelose mense op bootjies;  spartelende figure onderwater; kledingstukke wat in vlak water uitspoel; mense wat uit die vlak branders opgetel word en in ’n kasteel met kroonkandelare en gladde vloerteëls met ’n luiperdmotief ingedra word en die einste mense wat dan op die vloer begin rondkrul en –spartel asof hulle nog steeds besig is om te verdrink, midde-in hierdie nuwe welvaart. Besoekers in Museum De Pont staar geskok en gefassineer daarna. Die publiek word met hulle neuse op die volgende feit gedruk: die probleem van bootvlugtelinge en –verdrinkings is al meer as ’n dekade oud. Europa het nog steeds nie ’n antwoord daarop nie.

 

Still van Carina vd Walt uit die video “The Leopard”(2007) deur videokunstenaar Isaac Julien.

 

In die komende digbundel AMALGAAM reflekteer ek en my mededigter, Willy Martin, op hierdie akute probleem. Martin kyk terug na sy kinderjare. Hy het heimwee na sy goeie en onskuldige kinderdae. Dit was veral lekker om al die vreemde name van die lande van Europa te herhaal en op die tong te proe wanneer meneer vir hulle die kaart ingedril het. Maar hy herinner ook by homself ’n sekere ongemaklike gevoel daaroor.

 

 

EUROPA’S KLEUREN

 

in grote dikke zwarte letters

stond jouw naam te lezen

bovenaan de kaart

 

de meester had het glimmend doek

vóór het bord opgehangen

en met een stok wees hij

een land een streek een hoofdstad aan

 

en wij herhaalden

als een koor

de wonderlijkste namen

Kar-pa-ten Wol-ga IJs-land Boe-ka-rest

 

het deerde ons niet

dat steeds weerkerend ritueel

 

integendeel

wij hielden van de klanken

en van het amalgaam van kleuren

op de kaart

 

het helder blauw van water

het zachte bruin het groen het geel

van bergen bossen dalen

alles te samen één geheel

 

alleen het harde rood

van grillige en dwars

door alles heen getrokken lijnen

viel uit de toon

 

wisten wij toen veel

wat binnen- en wat buiten-

grenzen waren

 

 

Verontwaardig oor alles wat in die Middellandse See gebeur tussen die kuslyn van Tunisië en die eiland Lampedusa skryf ek onafhanklik van Martin my eie ervaring daarvan neer. Ek het empatie met die geromantiseerde verwagtinge en ellendige lot wat my medeAfrikane te beurt val. Die redenasies en die bolangse simptomatiese oplossings wat mense hier om my uitdink, onthuts my. Ek vererg my vir hulle afwagtende houding oor hoe en deur wie hierdie probleem in welvarende Europa aangepak moet word.

 

 

bootramp by Lampedusa

 

die see offer 300 swart anemone

op die strande van Lampedusa

ontmenslik is hulle ledemate spons

wat in die vlak branders roer & roep

vryheid gelykheid broederskap suster Europa

 

aangespoel damp hulle lywe soutlug

droog hulle sagte oë gryswit & styf

verdamp verlangens verstil uitroepe

Europa kroon Lampedusa op sy strande

met segekranse van verwelkte anemone

 

“Stille Stormooggaai” van die beeldhouwer en woordkunstenaar Sjon Brands.

 

En nog is dit “het einde niet”. Beeldhouwer Sjon Brands het onlangs sy varende voëls of vliegende bote (dit hang af hoe jy daarna kyk) in ’n ou kapel in Tilburg ten toon gestel. Hy noem dit “luchtschepen”. Elke “luchtschip” is van afvalmateriaal gemaak. Eén daarvan het die fantasienaam Stille Stormooggaai. Sy vlieg met ’n windmeul op haar rug deur die oog van ’n storm en oor die vlugtelinge wat verdrink in die Middellandse See. Hoe simbolies kan die materiaal van ’n kunswerk wees? Maar Stille Stormooggaai is ’n welvarende dame met opvallende oorbelle, hoewel haar hart letterlik uitsak vir die drenkelinge onder haar. Halfhartig het sy ’n paar toutjies na bootjies toe uitgegooi. Hys sy kratte vol kiste gevul met die lyke van drenkelinge en gemerk met Afrikaanse name na bo. Name soos Jabulani, Lerato en Mpho spel ironies verspilde lewens wat eens durf hoop het op ’n beter toekoms êrens anders as in Afrika. Géén oorlewende wat aankom in Europa besef dadelik dat sy sparteling om te oorleef op die verraderlike vloerteëls van die Weste nou eers begin nie. Die ontnugtering kom later.

Bookmark and Share

47 Kommentare op “Carina van der Walt. Grense”

  1. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie hiervoor, Carina. (Maar Malta is mos darem nie ‘n Italiaanse eiland nie!) Hierdie massale verskuiwings of verplasings van mense – van ‘suid’ na ‘noord’ as wrange verdere bedryf van die treurspel wat hom vroeër van ‘noord’ na ‘suid’ afgespeel het – is ‘n fenomeen waarvan die omvang en uitwerking onderskat word. En te ingewikkeld om hier te probeer saamvat.

    Hoe het dit gekom dat jong mense uit Afrika (ek praat nou nie van oorlogsvlugtelinge uit ander geteisterde gebiede, soos die Koerde en die Afghane nie) met alle mag en geweld na Europa wil kom, soms wel wetende dat die kans op verdrinking of omkom in die woestyn baie hoog moet wees? Watter lugspieëlings van welvaart is daar in hulle koppe geprop, en hoe? Wat vertel dit vir ons van internasionale verbruikerswaardestelsels? (Ons weet die mense word ‘afgevaardig’ of uitgestuur om oorsee genoeg te gaan verdien om die familie in Afrika aan die gang te hou. Gaan kyk maar net na al die halfgeboude huise oral in en om die Afrikastede…) Wat sê dit vir ons van die Europese erfenis van nasiestaatbedelings in Afrika, die voortsetting van kolonialisme (ironies dat so baie jonger Portugese weer hulle toevlug soek in Mosambiek en Angola nou Portugal so-te-sê bankrot is) waar geen enkele Afrikastaat kan omsien na die legitieme behoeftes en verwagtings van hulle landsburgers nie? (En die ‘elite’ aan bewind plunder voort, hand in een geldsak met Europese en Chinese en Brasiliaanse en… entrepreneurs en ‘ontwikkelaars’.) Wat vertel dit ons van die nationale trots of eer of selfs net verantwoordelikheid van enige van hierdie state? (Is dit minder van ‘n misdaad as die onwilligheid of onbekwaamheid om vigs en ebola te bekamp?) Wat sê dit vir ons van Europa se geheueloosheid? Wat sê dit vir ons van die feit dat daar geen Europese beleid is gevestig in etiese buitelandse politiek nie? Wat sê dit vir ons van die feit dat geen Europese staat die druk van ‘inkommers’ op hulle stelsels kan dra nie – maar dat hulle wel die goedkoop en dikwels ‘swart’ arbeid wil hê vir die vuilwerk – en dat hulle eie burgers ‘verdring’ voel, maar dat hierdie verskynsels byna nooit by die naam genoem word nie? Veral nie deur die kunstenaars wat op veilige afstand munt slaan uit ‘n verknoeide en dikwels selfbehepte ‘meegevoel’ nie. Wat sê dit vir ons van selfsugtigheid, oppervlakkigheid, facebookdiepmeelewing, depolitisering en die afsterwe van selfs net die begrip ‘solidariteit’?

  2. carina van der walt :

    @ Breyten: ek het dus tog tydens die “edit post” proses vergeet om dit te verander na “die Republiek van Malta”. Maar nou weet almal dit. Ek reageer graag op jou kommentaar.

    My gedig is al na die bootramp in Oktober 2013 geskryf toe 366 vlugtelinge naby Lampedusa verdrink het. Volgens die VN het 220 000 mense in 2014 onwettig die Middellandse See oorgesteek. Vanjaar moet Europa rekening hou met tussen 500 000 en een miljoen bootvlugtelinge wat hulle bestemmings veilig sal bereik. In die week van 20 tot 24 April vanjaar het 1000 bootvlugtelinge verdrink op pad Europa toe. My “300” in die gedig moet lankal simbolies gelees word. “Mare Nostrum” kos Italië meer as nege miljoen euro per maand. Dis die eerste keer na die tweede wêreldoorlog dat meer as 50 miljoen mense wêreldwyd vlug. Vanuit Viëtnam, Birma (die Rohingya) en Bangladesh vlug mense aan die anderkant van die wêreld na Maleisië en Indonesië, nadat uitgestrekte Australië sy grense in 2013 onder premier Abbot skadalig gesluit het. In dieselfde jaar het 300 skepe met 20 582 vlugtelinge in Australiese hawens aangekom. In 2012 was dit 278 skepe met 17 200 vlugtelinge, veral uit Pakistan, Sri Lanka, Afghanistan, Iran en Irak.’n Mens se kop draai van al die syfers.

    Wat word deur wie in potensiële vlugtelinge se “koppe geprop”? is jou vraag. Ek vermoed dat ‘n mens nie die krag van welvaartsbeelde uit die Europese én Amerikaanse Weste (wat alle Afrikane binne sekondes met die klik van ‘n vinger op hulle selfone kan oproep) moet onderskat nie. Die wêreld het a.g.v. sosiale media en intensiewer mobiliteit vinniger as ooit binne bereik van almal gekom. ‘n Rekenaar met internetverbinding is nie eers meer nodig nie. Kapitalisme praat kliphard. Niemand wil meer in ‘n Afrikaland bly wat nie “kan omsien na die legitieme behoeftes en verwagtings van hulle landsburgers nie”, oorloë buite rekening gelaat. Hoe lyk dit dan in Afrika noord van die Sahara? Libië is wetteloos en in diepe armoede. In Nigeria voer Boko Haram ‘n skrikbewind. In Somalië heers burgeroorlog. Die Somaliese Al-Shabaab dring Kenia tot in sy hart binne as hulle universiteitstudente gaan afmaai in Nairobi. Kan ‘n mens dus die boot- en ander vlugtelinge verkwalik op soek na ‘n beter toekoms vir hulleself en hulle kinders?

    Dat Afrikaleiers en ander elite soms ten koste van hulle eie mense voortplunder “hand in een geldsak met Europese en Chinese en Brasiliaanse en… entrepreneurs en ‘ontwikkelaars'” is sekerlik nie te ontken nie. Maar wie se verantwoordelikheid is dit in die eerste instansie? Die geldskieters? Of die uitvoerders? Hier in Nederland is die probleem opgepik. Geluide klink toenemend op dat Ontwikkelingshulp aan Afrika gestaak moet word as dit nie ook streng gekontroleer kan word nie. Word die geld inderdaad aangewend waarvoor dit geskenk is? Vir sover ek kan sien en lees, is Europa (of ten minste Nederland) nie ‘geheueloos’ nie. Maar géén enkele land in Afrika se politieke elite stel ook werklik belang in die etiese norme en waardestelsel wat vereis dat jy die geld wat jy kry verantwoordelik moet gebruik en resultate met daardie einste geld moet kan wys nie. Die Nederlandse politiek is oor die bootvlugtelinge in twee kampe verdeel: die liberale VVD vrees die “aanzuigende werking” van nog meer hulp (met nog geen geslote grense nie, terwyl die sosiaal-demokrate in die PvdA ‘n meer humanitêre benadering van die probleem wil sien. In werklikheid bly hier ook 16 miljoen plus mense in ‘n land so groot soos Gauteng. Natuurlik word dit dan makliker ‘n bietjie beknop om ‘inkommers’ op die stelsel te dra. Die veel groter Duitsland absorbeer tans sonder om te veel te kla die meeste vlugtelinge. Wat wél waar is in alle welvarende lande, is dat hulle jongmense geen nederige hande-arbeid (jy noem dit ‘vuilwerk’) meer wil doen nie, maar dit eerder oorlaat aan buitelandse arbeiders. Op die oomblik pluk die Pole Nederlandse aarbeie en tulpe. Dis ‘n welvaartsiekte. Daarom is ek ook besonder bly as in Suid-Afrika Selina se dogter nie meer in my sussie se huis ‘n bediende wil wees nie, maar haar eerder vir ‘n graad in iets soos verbruikerswetenskap wil inskryf. Dis ‘n konkrete teken van toenemende welvaart.

    Ten slotte is kunstenaars “wat op veilige afstand munt slaan uit ‘n verknoeide en dikwels selfbehepte ‘meegevoel’” wat my betref sensitief vir, lees én gebruik die onreg in die geglobaliseerde wêreld soos dit nog nooit eerder moontlik was nie. Ouma se vuis teen Sara se ken destyds is tans gelykstaande aan ‘n toegeslane herehuisdeur in die gesig van Abraham in Brisbane. Wie watter kunstenaar dan ook sy “spieël ophou-aksie” verwyt, weet nie meer hoe steek die wêreld van vandag inmekaar nie. Almal en alles is binne sekondes in verbinding met mekaar. Regerings word met oproepe op sosiale media vinnig en kragdadig omvergewerp – soos tydens die Arabiese Lente in 2010. Hy of sy wat die kunstenaar sy werk in reaksie op enige onmenslike gebeure waar dan ook ter wêreld verwyt, misken die kunstenaar se ‘solidariteit’ met die mens in sy mees elementêre staat.

  3. Maria Snyman :

    Mnr BB, u skrywe laat my dink aan een van my gunsteling aanhalings, naamlik van Freud (2005) in “Civilization and Its Discontents” (1929):

    “Civilization began the first time an angry person cast a word instead of a rock.”

    Vanuit hierdie perspektief het beskawing nog nie eers begin nie, want dit wil lyk of ons nogsteeds nie iets regkry met woorde nie (die “facebookdiepmeelewing” ten spyt, vlak bly vlak), net masjiengewere werk. Volgens my is die antwoorde daar (dink maar net aan al die gedigte [binne die Bybel en ander Groot Boeke ingesluit] wat mens implisiet en ekspliet op ‘n mooi manier maan om mooi met mekaar saam te leef), maar dit kan skynbaar nog nie gelees en verstaan word nie.

    Maar soos Nietzsche ook in The Will to Power geskryf het:

    “The dream of two equal forces, even if they are granted an opposition of meaning, is an approximate and crude dream, a statistical dream, plunged into by the living but dispelled by chemistry.”

    Hoe maak mens in so ‘n werklikheid, hoe hou mens huis met sulke groteske chemiese feite?

    Die ironië van menslike migrasie maak my ook dronk in die kop! Dit herinner my dan ook heeltyd aan Derrida (1976:273) se verwysing (in Of Grammatology) na wat Jean-Jacques Rosseau in sy “Essay on the Origin of Languages” geskryf het; hy skryf en haal Rousseau aan:

    Condillac’s position is more difficult to maintain. He must reconcile a poetic origin (Rousseau) and a practical origin (Warbuton). Through the weaving of these difficulties and differences, Rousseau’s intention becomes precise. History goes toward the North as it parts from the origin. But whereas for Condillac this distancing follows a simple, straight, and continuous line, for Rousseau it leads to a place before the origin, toward the nonmetaphoric, the language of needs and the language of action. In spite of all his borrowings, all his convergences, the system of the Essay thus remains original. In spite of all difficulties, the caesura between the gesture and the spoken word, between need and passion, is maintained:

    It seems then that need dictated the first gestures, while the passion wrung forth the first words. By pursuing the course of the facts with these distinctions we may be able to see the question of the origin of language in an entirely new light. The genius of oriental languages, the oldest known, absolutely refutes the assumption of a didactic progression in their development. These languages are not at all systematic or rational. They are vital and figurative. The language of the first men is represented to us as the tongues of geometers, but we see that they were the tongues of poets.

    Hoe skep mens solidariteit? Deur mense ’n gat in die kop te praat (skiet sou nie in hierdie geval werk nie, dink ek), of deur af te kyk/af te skryf by die solidariteit wat daar bestaan tussen die lieflike lekker tonge van gedugte digters (ek het u Hans van de Waarsenburg skrywe in gedagte/vars in die geheue)?

  4. Leon Retief :

    Maria ek is nie seker dat geweld besig is om toe te neem nie, soos wat jy skynbaar suggereer. Sien:
    http://ourworldindata.org/VisualHistoryOf/Violence.html#/12

  5. Maria Snyman :

    Dankie vir die postitiewe perspektief Leon. Ek het nie spesifiek geweld in gedagte gehad nie, maar eerder net dat die mens tegnologies fantasties vooruitgaan terwyl dit met betrekking tot die ding van “wat mense aan mekaar doen” nie dieselfde fenomenale vordering toon nie, ten spyte van al ons mobiliteit en massakommunikasie.
    In ruil vir jou kaart, ken jy hierdie kaart van die “Journey of Mankind” – dit laat my altyd goed voel om aan hierdie voortvarende voorouers terug te dink:
    http://www.bradshawfoundation.com/journey/

  6. Leon Retief :

    Maria, ‘n optimis is ek allermins, maar ek dink tog dat daar so nou en dan, hier en daar, klein vorderingkies is. Geletterdheid is besig om toe te neem die persentasie mense wat onder die broodlyn leef is minder as ‘n paar dekades gelede, die sterftesyfer van vrouens in kraam het skerp gedaal en die streftesyfer van kinders eweneens – als dinge wat plaasgevind het agv wat ten minste soms as altruisme bestempel kan word. Maar dan is daar natuurlik dinge soos die Holocaust en die Gulag…
    As jy werklik interessante navorsing oor die reis van die mensdom deur tyd en ruimte wil lees, kry Cavalli-Sforza se boeke of ander publikasies in navorsingsjoernale in die hande, fassinerend.

  7. Leon Retief :
  8. Maria Snyman :

    Jy’s reg Leon, mens moet ook nie dat die donkerte mens die klein ligpuntjies laat miskyk nie, want party van hulle is groot. Dankie vir die verwysing na Cavalli-Sforza (“a splitter and a lumper. Whatever [he] pulls apart, [he] also puts together” – klink na pret vir my)- hierdie stukkie (met so ‘n pikkie poësie daarin) in ‘n 2000 New York Times resensie is ook genoeg om my aptyt te wek:

    Mr. Cavalli-Sforza, emeritus professor of genetics at Stanford University, has taken blood samples from African Pygmies in the Central African Republic, examined church records near Parma, Italy, and considered the linguistic connections between the Basques of Spain and the Hunza people of Pakistan.

  9. Waldemar Gouws :

    Carina, jou verwysing na “die mens in sy mees elementêre staat” in ons konteks laat my dink aan ‘n monsteragtige hibride van gewone dierlike nood enersyds, en die byderhandse breinspoelende effek van die gespesialiseerde representasie van Europese sokker aan die ander kant.

    En is Buiteblaf se herinnering aan solidariteit nie nou iets argaïes nie?

  10. carina van der walt :

    @ Waldemar: beter kon ekself dit nie gestel het nie. Natuurlik is ek bewus van die paradoks tussen die twee sake. Wanneer die mens sy basiesste behoeftes van bed-bad-brood deur ‘n sisteem of deur eksterne omstandighede ontsê word, verkeer hy in “sy mees elementêre staat” van “gewone dierlike nood”, soos jy dit noem. Daarteenoor is die kuns of letterkunde “gespesialiseerde representatie”-s daarvan. Of jy dit nou vergelyk met “Europese sokker” of met ‘n bord skaakspel, maar geen verskil nie. En as dit dan ‘n “breinspoelende effek” het op kykers of lesers wat nie so bewus was van die saak nie en/of wat bekoor word deur die skoonheid van die kuns of die geskrewe woord ten spyte van die grusame werklikheid, “goed zo”! Dan word daar ten minste daaroor gedink.

  11. Waldemar Gouws :

    Beste liewe Carina, as jou basiese behoeftes al geallitereer kan word, is daar ‘n dimensionele fout op die lappe. My verwysing na sokker aktiveer geensins die hele wêreld se mikrowedywerings of die estetika van die kunsparadigma nie. Ek bedoel sokker. Hoe behep was die miljoene byvoorbeeld met Anand en Carlssen-hulle se skaakwedstryde? Algemene skoonheid, of skoonheid in die algemeen, is onder ‘n donker wolk. En kuns is een element (soos ‘n basiese behoefte?) van jou “grusame werklikheid”.

  12. @ Breyten: “Veral nie deur die kunstenaars wat op veilige afstand munt slaan uit ‘n verknoeide en dikwels selfbehepte ‘meegevoel’ nie. Wat sê dit vir ons van selfsugtigheid, oppervlakkigheid, facebookdiepmeelewing, depolitisering en die afsterwe van selfs net die begrip ‘solidariteit’?”

    Dit slaat de spijker op zijn kop. Op mijn kop. Ik kan het niet meer verdragen. Wat ik ook heb gedaan om deze wereld te veranderen, het heeft niets opgeleverd. Integendeel. Deze oude wereld raakt meer en meer verrot, in zichzelf gekeerd. De mensen die er wonen inbegrepen, mezelf incluis. Ik ga mezelf niet verontschuldigen dat ik naar binnen vlucht, uit machteloosheid, uit het niet meer weten. Ik hoef geen oceanen over te steken, ik word niet opgesloten in vluchtelingenkampen. Ik mag me terugtrekken in mijn huis, dat geen huis meer is met deze wereld eromheen. Veilig, maar onvrij, het is mijn gevangenis. Daar schraap ik het laatste restje ‘geluk’ bij elkaar, dat geen geluk meer is. Daar probeer ik op kleine schaal nog wat te betekenen voor anderen. Het is niet veel, het is ontegenzeggelijk veel te weinig. Maar het is genoeg, de wereld laat zich niet veranderen door ronkende oordelen, door ritselend zelfbeklag. Daar help ik niemand mee, geen hond, geen dakloze, geen vluchteling in een zinkend bootje.

  13. Buiteblaf Breytenbach :

    Sjon Brands: my veralgemeende verwysing na die onmag van die kunste om nog die lewende vesel en senuwee van ons gedeelde menslikheid (of slegs ons mensheid) te kan raak, en dat ons “versugting na betekenisvolheid” (sou Nietzsche miskien kon sê) te dikwels geperverteer word tot ‘n morbiede teer op die traumas van die wêreld wat om ons afspeel – was nié gemik op u of u werk nie. Ek het immers nie die uitstalling gesien nie en ek behoort teen dié tyd te weet dat wat die individu vergestalt soms tog wel ‘n kataliserende effek kan hê, al is dit ook slegs in persepsie en omdat dit ‘n toestand in fokus bring. My bedoeling was ook nie om u betrokkenheid af te kraak of selfs net te bevraagteken nie.

    Toe die Spanjaarde in opstand gekom het teen die Franse besetting destyds en Napoleon se soldate allerlei gruweldade gepleeg het, het Goya op een van sy skilderye geskryf, “no se puede mirar” – hierna kan nie gekyk word nie – en desondanks het hy voortgegaan om dit wat hy geweet het, of van vertel is, te probeer skilder. Beckett se: “I can’t go on, I must go on.”

    Wat ek met my kommentaar op Carina van der Walt se artikel probeer doen het (dit was aanvullend en nié, soos sy skynbaar dink, om haar te betittel nie), was om ons attent te maak daarop dat die uit(ver)beelding van die ellende van die ander te maklik en te selfkoesterend kan lei tot ‘n “oriëntalisering”, ‘n moraliserende vergoeiliking van ‘n uiters komplekse situasie waarby die teatrale ‘n groot rol speel. Die mense suid van die Sahara wat na Europa probeer kom (soos ook na Suid-Afrika) – en laat ons nooit vergeet dat hulle mense is en nie noodwendig ‘slagoffers’ nie – probeer nie oorloë ontvlug nie. Hulle “vat hulle kanse” om beter te kan lewe, sodat hulle families wat agterbly beter kan lewe, dikwels ook vir beter onderrig, en omdat die wêreld se voordele hulle toekom net soos dit vir die wittes die geval is. Dat hierdie verwagtings gebaseer is op wensdenkery, dat hulle informasie – dikwels verfynd betreffende die vergelykende skuiwergate of instellings van die lande wat hulle probeer bereik – berus op hardnekkige persepsies, op onderlinge informasie van mond tot mond aangegee, en nié op die selfingenome vervreemding van “klik-en-skik” bobbejaanspieëltjies nie, is ‘n ander storie. Dat hulle wéét hulle owerhede is krimineel aandadig aan die gebrek aan moontlikhede in hulle tuislande, en dat hulle gou genoeg besef hulle sal as skaduwesens moet oorlewe in die Europese Vesting, is ook ‘n ander verhaal.

    Die bewonderenswaardige is dat u, as kunstenaar en as mens, “op kleine schaal nog iets probeer te betekenen voor ander.”

  14. carina van der walt :

    @ Sjon: je hebt het goed gezien. “Deze oude wereld raakt meer en meer verrot. In zichzelf gekeerd.”

    Ik zie het in een doorgeschoten bureaucratie die mensen als nummers behandelt; in bankiers die banken om laten vallen, rechtop laten zetten en dan weer hun eigen corrupte gedrag hervatten; in managers die systemen introduceren waar mensen massaal de dupe van worden.

    Maar ik zie het óók in de oude wereld van het continent Afrika. Waar mensensmokkelaars echt geloven dat ze de vluchtelingen helpen aan een nieuwe toekomst, ook al beroven ze hen van hun laatste centen; waar regeringsleiders denken dat hun wanbesteding van geld uit het buitenland onopgemerkt door kan gaan.

    Hier ga ik onafhankelijk mijn eigen gang. Altijd half buitenstaander, ook tussen mijn taal- en landgenoten. Ik lijd niet aan vervolgingswaan, maar op afstand vermoed ik roddelpartijen tussen die “inkommers”. Een uitgeschakelde “inkommer” is winst voor eigen zak. We lijken warempel wel een stelletje Russische emigré’s aan het begin van de vorige eeuw. De prijs die ik betaal voor mijn onafhankelijkheid smaakt naar gal. Het leven is corrupt, ook al “probeer ik op kleine schaal nog wat te betekenen voor anderen.”

    De kunst en de letterkunde schijnen machteloze instrumenten te zijn. En hierover wilde ik eigenlijk dat dit debat zou gaan.

  15. Waldemar Gouws :

    Carina, ek hoop Nietzsche had dit nie mis, want ek bedoel dit as riem onder die hart vir jou, toe hy geskryf het (die Engels is van Kaufmann): “For cheerfulness … is a reward: the reward of a long, brave, industrious, and subterranean seriousness, of which, to be sure, not everyone is capable.”

    Jy is reeds georïenteer. Anders as ek:

    wakkerword van die winternag
    opstaan vir ‘n pie en koffie
    gooi ‘n kombers oor die koulike kat
    vir die voordag lees ek
    eers breyten breytenbach

    en vou dan die hande

  16. Buiteblaf Breytenbach :

    Vir Waldemar Gouws:

    (n)oneness
    “Move on!”

    Jy sal sien, liewe leser (hét gesien en gelees)
    dat ek al lank soveel seisoene en jare en siklusse probeer bedig
    om ‘n beskrywing of ervaring staan te maak
    (te soen en te seën)
    wat die gelyke sou kon wees van hierdie wêreld

    O, nie soortgelyk nie – want uiteraard
    iets anders onderhewig aan prosesse eie
    aan die aard van daardie ander yk – die skrywe –
    en nog minder as glans of vlies oor dit
    (die vis van ‘n ander vlees)
    wat omskryf wil word

    Maar dan ‘n membraan om die klopping
    getrou weer te gee: om te lewe
    is tog maar baie soos om te lewe
    op pad na verval, verduistering, vervanging, vergeet

    Dus: nie om woorde af te smeer
    aan wat binne en buite om jou tril nie,
    ook nie as toevoeging aan die alom
    wat sonder vroeg of laat of voeë is,
    wat is is nie

    Maar om te leer beweeg. Te bewe
    met die eerste lig. Te weet (verduidelik)
    niks verklaar die voël se fluit
    omdat dit reeds heeltemal klaar is.
    Te help keer dat die weer en weer
    nie net ‘n meervoudiging van dwaasheid is nie:

    Verwering is immers die enigste verweer
    teen die verganklike.

    En dan snags deur die woorde te sif
    ter wille van die oorwete dat alles afwesigheid is
    en te weet jy lewe langs jou eie
    oorlewe soos ‘n skaduvlek in die duister

    Alle reise het ‘n begin: selfs al het
    die laaste nie ‘n einde nie

    Tot die rukwind kom of die son bars
    en jy van alle skyn en syn gestroop besef
    dit was omsons,
    die skrywe ‘n fladdering
    waarvan afvlerk voëls droom,
    geen soom aan die naatlose kleed
    van belewenis,
    my skrywe nie eens ‘n blaar kon laar roer
    of ‘n akkedis laat sing nie

    O leser – is dit dan nie bevrydend
    om verniet te kon lewe
    in die eindelose stilbeweeg nie?

  17. Waldemar Gouws :

    Kan skrywer en leser miskien kop in een graf wees as die desperates uit die see en van oor die riviere moet oorneem, oorvat?

  18. carina van der walt :

    @ Breyten: om “Te help keer dat die weer en weer / nie net ‘n meervoudiging van dwaasheid is nie” aanvaar ek ook die afvlerk voël se fluitgeluid as ‘n volledig afgeronde geheel, hoewel akkedisse tog pragtig kan sing in die raar maar ware toestand van hipnopompie. Al wat ek nog (veral vir myself) kan toevoeg danksy Waldemar se verwysing na Nietsche is “Amor Fati”.

  19. carina van der walt :

    @ Waldemar: Dankie vir jou verwysing na Nietsche, Waldemar. Ek het die naweek weer bietjie deur sy “Die Fröhliche Wissenschaft” gaan rondblaai. Sy idee van “Amor fati” is besonder aantreklik: “dit sal van nou af my liefde wees! Ik wil geen oorlog voer teen alles wat lelik is nie. Ek wil nie aankla nie, ek wil nie eers die aanklaers aankla nie. Met die blik afgewend sal ek my eie ontkenning wees! En, alles bymekaar en uitvergroot: ooit wil ek iemand wees wie ja kan sê!”

  20. Waldemar Gouws :

    Carina, die hipnopompie-toestand is nie so myle ver van die letterkunde nie, maar ongeag die skrynende erns van die stormvloed van 60 miljoen migrante, wil ek net sê, indien ‘n ligter noot hier nie te diep veroordeel sal word nie, dat my ervaring van die hipnopompie teleurstellende resultate gelewer het. Die twee uitgebreide families geitjies wat tussen my aalwyne leef, sing almal – van piepklein tot groot – slegs ‘n kortasem tweede stem.

  21. Waldemar Gouws :

    Buiteblaf, so tekenend helder soos die Groot Hond self van die begin af. Baie dankie vir die plasing van u bakengedig hier op Versindaba. Ons, die lesers, is nie verniet hier nie.

  22. Buiteblaf Breytenbach :

    Beste Waldemar: dankie. U wikkel die riem om die nek los en span dit onder die hart. En – met verskoning aan Carina van der Walt wie se blogwaters nou so onwettiglik binnegevaar word deur sinpapeles/identiteitsloses (Carina: dankie vir die tydige en nodige soeklig hier bo gerig op ‘n mensedrama wat onder ons oë afspeel, waarna nie met genoegsame begrip gekyk word nie) – hierdie reis as saamblaf:

    gedig

    neem my deur ‘n streek van sneeu
    landerye met bale hooi in die somer
    waar voëls die lappe woorde vreet
    om tot bewegende ritmes te swerm
    na helderheid, na ‘n bietjie helderheid

    neem my terug oor die lope van ‘n lewe
    waar geliefdes lê met vergane gesigte
    in krippe stof
    wys my die skilpadspoor se doel in die sand
    laat my die sterre nog ‘n laaste
    eerste keer die aarde sien seën
    met helderheid, met dorstige helderheid

    laat my begryp hoe hang die wind
    vlae en vreugdes vir die wapper
    in boomtoppe se bewing
    laat my die kind hoor huil
    die seun se lag op pad skool toe
    die klag van die duisternisroeper in die nag
    om helderheid, om die droom van helderheid

    laat my hierdie lyf nog ‘n wyle strek
    oor die voue en die sugte van die vrou
    laat die ruggraat se rilling ‘n vlam wees
    dis goed dat donker soos dag teen die ruite
    die onthoue laat stort in saad van vergeet
    en dat liefde en leed genoem is
    om helderheid, om die stil lied van helderheid

    neem my na die hoogste berg
    laat my klippe in my broeksakke dra
    pas die vlerke van plastiek oor my skouers
    dat ek mag opstyg na waar alles blou knetter
    en net die leë seespieël glinster
    van helderheid, van helderheid se verblinding

    laat my neer in die diepste put
    waar wande klam is van die soek van hande
    na die maan wat soos ‘n gedagte
    sonder gesig in die afdonker dobber
    snoer die woordvloei soos ‘n tou om my nek
    en laat my hang aan helderheid se ruwe vervlegting

    maar laat my gehurk in stilte sit
    laat dit alles kom en gaan
    laat my vergeet en opgaan in kom en vergaan
    laat my die hart hoor kwaggel in die niet
    wat ‘n reis is, ‘n asemruimte
    van helderheid, o die helderheid

  23. Breyten – dis ‘n !@#$%^&*()_+ uitstekend

  24. Carina, dankie dat jy hierdie wreedheid in die kollig plaas. In die ‘Burgerteaters’ hier in Duitsland wys vlugteling-toneelspelers hul
    lewenswerklikheid op die verhoog. Ook in sommige politieke kabaretprogramme op televisie.

  25. Johann Lodewyk Marais :

    VLUGTELING

    Met my drome kan ek die oseaan
    leegdrink, die winddonker see ingaan
    en ongewete in ’n sinkboot dryf
    tot ek gered aan die ander kant staan.

  26. carina van der walt :

    Beste Breyten, dankie nog vir jou 2 gedigte as bydrae aan hierdie debat oor “Grense”. Dit het my asem laat wegslaan het. Gevolg? STILTE. Ek verstaan 100% dat mense soos Gert Rautenbach hierbo maar net in magtelose verwondering daaroor kan uitbreek in “een scheldpartij” ;-)Die ekonomiese krisis van Griekeland in Europa het in die laaste tyd hierdie vlugtelingramp bietjie begin oorheers, terwyl die strome nie opdroog nie. Ten spyte van die Grieke se finansiële verknorsing (waaraan Europa ook skuld het) moet ‘n Griekse eiland soos Rhodos steeds vlugtelinge uit die Turkse hoek opvang. Wie het ooit gesê die lewe is regverdig?

  27. carina van der walt :

    Dankie Johann en Engela vir nog weerklanke by “Grense”, terwyl ek as deel van ons somervakansie die geldkrisis van die gewone Griek op voetsoolvlak beleef het. Ek is geen ramptoeris nie. Dit het net toevallig so uitgewerk dat ons die Grieke se verontwaardiging oor die streng en voorskriftelike maatreëls van veral die Noord-Europese lande kon opsnuif. Nie dat die Grieke onskuldig is nie. Hulle moet hulle skuld terugbetaal. Dat hulle egter nie self kan kies HOE nie is ‘n flagrante aantasting van ‘n volk se demokratiese reg. Of soos ‘n Griek onlangs op TV gesê het: “As ‘n kind stout is, straf jy hom. Jy maak hom tog nie dood nie?”

  28. Leon Retief :

    ‘n Land se burgers het die demokratiese reg om in ‘n verkiesing te besluit wat daai land se regering moet doen. Die uitslag van daardie verkiesing is egter geheel en al glad nie bindend op die regering of burgers van enige ander land nie. Griekeland het ‘n lang geskiedenis van nie lenings terugbetaal nie, die eerste keer al so lank terug soos 400VC toe ‘n paar destydse state nie kon betaal nie, meer resente “defaults” was in 1826, 1843, 1894 en 1932. Hulle gaan ook nie nou begin nie en dis waarom hul krediteure die skroef aandraai. Nie at dit gaan help nie, daar is nie geld nie en sal ook nie wees voordat die ondoeltreffende en korrupte regeringstelsel sowel as die houding van die Grieke self verander nie. Ek hou nie my asem op nie. Sien ook: http://www.macleans.ca/news/world/a-time-for-difficult-decisions-in-greece/

  29. Leon Retief :

    Askies, wat ek per abuis uitgelaat het na “…van enige ander land.” Griekeland se demokratiese reg is dus nie aangetas nie.

  30. Buiteblaf Breytenbach :

    Verontrustend en jammer om te sien, Leon, dat jy die giftige (sal ons sê ‘verontmenslikende’?) houding van die neoliberale (oftewel eintlik neokonserwatiewe) propagandiste, met al hullle skynheilighede, so heelhuids sluk. Goed dan, laat die Grieke – oud en jonk – gras vreet. Hoekom sal hulle wegkom met hulle retsina en hulle bouzouki en hulle gedansery en hulle nuk om in die openbaar teatraal te wil redeneer so asof daar iets soos ‘n volksintelligensie sou wees – terwyl ons noorderlinge met die verskrompelde siele onder die rowe van ons selfkastydende synskuld moet swaarkry? Wéét hulle dan nie – soos die vrolike ou Pruis met sy verrinneweerde menslikheid in die rolstoel ons skuimbek herinner – dat die lewe bestaan uit reëls en straf nie ? En dat die heilige reg van die internasionale geldskieters en spekulante om rente uit die grasvreters te wurg nie aangetas mag word nie?

  31. Gert :

    18 mense wat om ‘n swembad staan en kyk hoe iemand verdrink – en nie een het die moed om sy hand uit steek nie (wat sal Duitsland dink?).

    Die Europeërs behoort hulle koppe in skaamte te sak.

  32. Leon Retief :

    Breyten ek het niks gesê oor die plig van ander lande in die EU om tot Griekeland se hulp te kom nie (wat ek wel dink moet gebeur). My betoog was 1) Griekeland se demokratiese reg is nie misken nie – hulle kon en het gestem, maar geen land is verplig om `n besluit wat deur `n ander land se burgers geneem is te gehoorsaam nie. As Duitsland byvoorbeeld `n referendum sou hou en besluit Griekeland moet nou onmiddelik elke sent terugbetaal, en die Grieke wys vir hulle die middelvinger is dit nie `n aantasting van Duitsers se demokratiese reg nie. 2) die Grieke was tot `n groot mate (alhoewel nie alleen nie) die argitekte van hierdie debakel en dit was die gevolg van hul korrupte en ondoeltreffende regeringstelsel, dat as dit nie verander nie (en ek dink nie dis onredelik om so iets te verwag nie), wel, dan gaan niks verander nie en gaan daar eendag maar net weer `n trein van dieselfde stasie vertrek op pad na dieselfde afgrond.
    Die Grieke se skuldlas is nie die gevolg van armoede nie, in 2008 toe die krake begin wys het was die gemiddelde geldwaarde van die gemiddelde Griekse huisgesin meer as die van `n Duitse gesin. In die laat 90`s en vroeë 2000`s het 96% van die groei in Griekse staasbesteding gegaan aan verhogings in maatskaplike toelaes en 4% vir infrastruktuur. So iets is onhoudbaar en almal, die EU en Griekeland, moes dit geweet het. Ek kan aangaan tot môre-oggend want ek het so `n tyd gelede begin wonder wat die aanloop was na hierdie situasie en heelwat daaroor gelees.
    Griekeland moes nooit eers deel van die euro geword het nie en mens kan Duitsland tot `n groot mate daarvoor blameer, want die Duitsers het die euro entoesiasties gesteun omdat hulle van die te sterk Duitse mark wou ontslae raak en `n gemeenskaplike Europese geldeenheid sou hul uitvoere bevorder.
    Dit is so dat niemand aan beide kante van die enorme berg euros wat deur Griekeland geskuld word met leliewit hande staan nie – nie die leners nie en ook nie die uitleners nie. Laasgenoemde moes veel vroeër al besef het dat Griekeland nie `n goeie “belegging`is nie, ten spyte van die feit dat selfs Eurostat (die liggaam wat `n ogie moet hou oor die finansies van EU-lande) `n hele tyd lank gesukkel het om agter die kap van die Griekse byl te kom omdat Griekse politici hul boeke gekook het – oftewel, gelieg het. Daar is so iets soos verantwoordelikheid aanvaar vir wat mens doen of nalaat om te doen en dit wil my voorkom asof hierdie beginsel, veral mbt Griekeland, deur baie mense uit die oog verloor word.
    Nietemin, dis nou als gedane sake -wat ook al gaan gebeur, Griekeland gaan nie en kan nie die geld terugbetaal nie en ek dink die skuld moet maar afgeskryf word – ek voel nie té jammer daaroor vir die bankiers nie want ook hulle moet verantwoordelikheid aanvaar. Dit raak wel aan die sakke van gewone mense elders in die EU en nie net die bankiers nie – Finland het die laaste paar jaar 10% van hul regeringsbegroting bestee om Griekeland te help en baie van daardie geld kom uit die sakke van Finse belastingbetalers.
    Al wat oorbly is dat die res van die EU nou maar die skuld afskryf en die lot van daardie Grieke wat onder hierdie situasie ly moet verlig. En dat die Grieke veranderinge aanbring.
    Ek is tans byna klaar met die boek wat genoem word in die skakel wat ek gegee het. Die skrywer is Grieks-Amerikaans en is nogal heel simpatiek jeens Griekeland, maar een ding wat vir my duidelik geword het, uit sowel die boek as ander materiaal wat ek gelees het is dat die Griekse manewales vir Jacob Zuma en kie laat lyk soos `n kerk se boekhouding – of dan soos ek dink `n kerk se boekhouding behoort te lyk.

  33. Buiteblaf Breytenbach :

    Dankie, Leon, vir jou meer breedvoerige en daarom genuanseerde uitleg. (Ons behoort seker ook dankie te sê vir Carina van der Walt wie se blog ons met afdwalings beset sonder inagneming van haar Grense, en vir die Webmeesteres wat ons toelaat om te blaf.)

    Ek wil nie met jou stry oor syfers nie. Net daarop wys dat ekonome soos Piketty en die Nobelwenners Krugman en Stiglitz die persentasies anders interpreteer. Sien ook ‘n lang ope brief gerig aan sy Duitse vriende van DSK (Dominic Straus Kahn) – sy geloofwaardigheid het dalk agterweë gebly met sy broek wat hy in te veel vreemde beddens vergeet het, maar hy was darem die vorige uitvoerende direkteur van die IMF, en strate beter as die huidige bokkom daar. http://www.huffingtonpost.fr/2015/07/18/dsk-grece-twitter-reseaux-sociaux-economie_n_7823634.html. Dis ook die moeite werd om Jürgen Habermas se hartekreet te lees. En daar is veel meer. Net nog twee relevante feite wanneer daar oor Griekse verneukery gepraat word: destyds toe die “boeke gekook” is was die Griekse owerhede se raadgewer natuurlik Goldman Sachs, en hulle het aan die begin ook die versuipende lenings bewerkstellig; en die grootste enkele belastingontduiker in Griekeland is volgens berigte ‘n Duitse maatskappy plaaslik gestel, seker juis daarom.

    Dat die Grieke ‘Mediterreens’ is, is so waar soos fetakaas. Ek stem met jou saam dat hulle nooit in die eurogebied moes gewees het nie. Miskien nie om dieselfde redes nie. In stede daarvan om hulle potensiaal te verwesenlik as moontlike sterk spelers in die Middellandse See en die Nabye Ooste (soos Spanje dit behoort te gedoen het met betrekking tot die Maghreb en die Spaanssprekende wêreld in Suid-Amerika, en Portugal binne die Lusofoniese ruimte) het hulle periferaal gaan staan en word tot die Sentrum vergestalt deur die Duitse hegemoon. Die Noorderse, Protestantse ekonomiese strengheid, die heersende kapitalistiese paradigma, is nie vir die Suiderlinge ‘n opsie nie. Ek dink die Noorde het van Griekeland ‘n sondebok probeer maak vir ‘n falende werêld-ekonomie wat gebaseer is op ekspansionisme en al hoe meer winste. Die ontnugtering is soveel erger omdat Duitsland en Griekeland mekaar glad nie verstaan nie. Die Duitsers het Griekeland verafgood as ‘n romantiese en eksotiese vakansieplek, en die Grieke smous al sedert eeue met hulle eksotiese en vrye leefwyse. (Terloops, die huidige Grieke is kultureel nie afstammelinge van die klassieke tye waaroor die Duitse Sehnsucht so in vervoering was nie, maar produkte van Bisantium en van die Ottomaanse Ryk.) Iin gedagte moet ook gehou word die herinnering aan die Duitse besetting tydens die Tweede Wêreldoorlog wat nog baie vlak lê.

    Ek wil kortpad by iets anders uitkom. Alhoewel die Europese Unie nodig is as teenwilg vir die Amerikaanse en die Chinese imperialisme – en nou al hoe meer bedreig word deur bloedlustige barbarisme in die naam van streng Islam – dink ek dis ‘n kankergewas wat diversiteit in tale en produkte en lewensgebruike vernietig, net soos demokrasie vernietig word in die naam van effektiewe regulering en gelykmaking deur ‘n kaste van magsbehepte en arrogante burokrate en tegnici. Europa se ‘model’ (wat m.i. nagestreef behoort te word) is dié van outonome stadstate met veel meer direkte aanspreeklikheid teenoor hulle kiesers/inwoners, wat dan kan federeer of alliansies bou. Die ‘staat’ (soos plaaslik Botha s’n net soos Zuma s’n) was altyd en is nog steeds ‘n skuilplek vir skelms en uitbuiters. En Europa se bydrae tot die wêreld en die geskiedenis is die verfyning, die innoverende en die rykheid van hulle kulture, en die wyse waarop daar gestreef word na menseregte. Dis teen so ‘n agtergrond, dink ek, dat die Grieke se Vryheidsoorlog, Burgeroorlog, en stryd teen die regime van die kolonels vir ons iets kan sê van hulle ware aard. Ten minste was hulle nie skape soos die Duitsers wat nie eens self van die Nazis ontslae kon raak nie! Ten minste is hulle nie beterweterige en skynheilige suurlemoenbekkerige Nederlanders nie…

    Griekeland strek ons tot eer. Of sou ons kon klaarkom sonder die gedigte van Eleitis, Seferis, Kavafis, Ritsos, Kazantzakis…?

  34. carina van der walt :

    Beste Leon en Breyten, ek wou nog reageer op jou pos op 17 Julie, Leon. Die saak is darem bietjie ingewikkelder as wat jy dink, ondanks jou negatiewe statistieke wat ‘n mens kan oortuig. Maar toe kom Breyten met ‘n sterk aanklag. Die res staan hierbo. Nou voel ek soos ‘n donkie waarvoor julle ‘n groot, geurige wortel hou om nog ‘n blog te skryf met ‘n paar gepaste gedigte daarin, om te voorkom dat hierdie polimiek nie die Webmeesters se “grense” te ver oorskry nie. Ek herinner julle aan my eerste verwysing na Rhodos + vlugtelinge + finansiële krisis (ook op 17 Julie. Dus? My “grense” as blogger word in elk geval nie oorskry met julle interessante bydraes nie.

  35. Leon Retief :

    Carina, als is meer ingewikkeld as wat mens in so ‘n noodwendig kort respons kan noem, maar “negatiewe” statistieke is negatiewe statistieke en maak nie saak watter ander van die baie relevante faktore mens hier ook in ag neem nie, die bottom line is dat als begin het met korrupsie en ondoeltreffende staatshuishouding en van daar af het als net afdraande gegaan – met, soos Breyten genoem het, die hulp van predatoriese banke. Ek kan voortgaan met statistieke noem en beskrywings gee van twyfelagtige optrede deur Griekse regeringsdepartemente tot môre soos ek gesê het maar sal my daarvan weerhou.
    Breyten, ek is bly ons verstaan mekaar nou beter, maar ek dink nie dat Piketty en kie die syfers, dws nou daardie syfers waarvan ek gepraat het (interne Griekse huishouding en regering) en wat oorsaaklik was van die huidige situasie, anders interpreteer nie – hulle interpreteer wel die syfers oor wat nou gedoen moet word anders as byvoorbeeld Merkel en kie, en daar stem ek nogal met hulle saam. Dit is so dat Goldman Sachs baie van die Griekse manewales fasiliteer het maar dit was met die gretige samewerking van Griekeland self – die destydse minister van finansies het dit beskryf as “a very sexy deal between two sinners.” Griekeland het destyds versuipende lenings nodig gehad en G-S het die kans gesien om ‘n geldjie te maak.
    Ek is temperamenteel waarskynlik nader aan die noorderlinge, gevolglik my onwrikbare klem op verantwoordelikheid neem vir die gevolge van mens se doen en late. Wat nie beteken dat nood nie verlig moet word nie.
    Ek reken my sienswyse, vir wat dit werd is, word beste opgesom in hierdie skakel:
    https://www.project-syndicate.org/commentary/greece-debt-agreement-risks-by-barry-eichengreen-2015-07
    Carina, dankie dat ek jou inskrywing op sleeptou kon neem want dis eintlik als ly toedoen. Ek hoop jy sien hierdie as ‘n wortel vir nog ‘n inskrywing. Ennieway, hierdie is my laaste straaltjie.

  36. Buiteblaf Breytenbach :

    Beste Leon – weer eens dankie vir die uitruil van opinies. Ek dink die vere is nou allerweë platgestryk en ons kan rustig verder dut op ons sitstokke. (En ek hoop dit gaan baie goed daar waar jy is – in Kanada?) Darem net, as laaste straaltje van my kant, hiermee Habermas se onderhoud in The Guardian. Groete en beste wensen – Breyten.
    http://www.theguardian.com/commentisfree/2015/jul/16/jurgen-habermas-eu-greece-debt-deal

  37. Leon Retief :

    Carina en die webmeesteres sal my darem seker ‘n antwoord op Breyten se vraag gun. Ja dankie Breyten, gaan nog goed met ons in Canuckistan, het nou afgetree en kans vir al die dinge waarvoor ek nog nooit regtig genoeg tyd gehad het nie – lees, musiek luister, kos kook en al die baie wyne van die Okanagan vallei te proe. Hoop dit gaan goed met jou ook.

  38. Marlise :

    Twee jaar gelede het ek onderstaande gedig “Sirïe” geskryf. Intussen het hierdie krisis afgryslike afmetings aangeneem. Ek is gewoon sprakeloos oor die hoeveelheid vlugtelinge wat heenkome soek. Oor die verdere moontlike ellende en aanpassing wat vir hulle wag. Carina jy sal ‘n opvolg nou moet skryf vir ons…

    Sirië

    geen taal hiervoor nie –
    waarheen dan met leegtes?

    so ver van hier af dat
    ek niks daaraan kan doen nie –
    dié vlugtelingkampe elders
    buite die land uitgegooi
    op gebreekte sand
    ’n nuttelose kordon
    teen die skreiende koue son

    elke tent saamgelap
    tot verdroogde slakkedop.
    geen boom of voël in sig.

    ’n eenkantkind spelende
    in vergeelde lig en stof.
    verbeeldingsvlerk en kneusing
    saamgemaal tot spel:

    hyskrane om soms
    ’n skoenbokshuis af te laai –
    so groei ’n stukkende dorp
    uit die bloed van die grond.
    maar waarheen dan?

    verminkte kinders
    teen mekaar geplak
    sonder ma of pa.
    kermende nablyfsels
    van oorlog se verlies.

    iewers probeer ’n vrou
    ’n groentetuin aanlê
    om verlede jaar te ontsê.

    ’n afbeenman verlang daarna
    om weer self brood te bak.

    (Uit: bladspieël, 2015)

  39. Buiteblaf Breytenbach :

    En sou dit nie wonderlik wees as ‘n Afrikaland of Afrika instansies aan sou bied om van die vlugtelinge onderdak of asiel te gee nie?

  40. Marlise :

    Ja, dit sou Breyen! SA kan ook seker ‘n paar honderd huisves.

  41. Vandag begin die 15. internationale literaturfestival berlin: 06.00 tot 17:30
    ‘Berlin liest’ zum Thema Flüchtlinge und Asylsuchende in Europa (digters, skrywers en lesers – enigiemand kan voorlees in Duits, Engels of Pools).
    Op 16 September lees en gesels Wole Soyinka oor hierdie onderwerp in Afrika.

  42. Desmond :

    Ja – ek sien op sosiale media heelwat Suid-Afikaners wys moralisties vinger na die EU, maar vergeet wat met vlugtelinge en migrante in ons eie land gebeur, en dink nie daaraan om te “hashtag” vir Suid-Afrikaanse asiel vir Sieriese vlugtelinge nie.

  43. Marlise :

    Ja, Desmond, en met meer as 40% werkloosheid is daar seker geen toekoms hier vir hulle nie. Sou tog so graag so swartoog kindjie wou aanneem…

  44. Buiteblaf Breytenbach :

    Feit is natuurlik dat weinig Siriërs sin sou hê daarin om na SA te vlug (hulle wil nie eens in Hongarye wees nie!): dalk is dit te veel van ‘n “from the frynig pan into the fire”. Maar desnietemin sou dit ‘n gebaar wees wat die verbeelding vlerke gee indien SA, of SAners (daar is wel Moslems wat ‘n helpende hand uitsteek) hulle bereid verklaar om vlugtelinge te ontvang en beskerm. As SA maar ‘n buitelandse beleid had….. Trouens, dit sou baie vooroordele help ongedaan maak indien ‘n Afrika land, énige Afrika land, daardie mede-menslikheid sou betoon.

  45. Leon Retief :
  46. Waldemar Gouws :

    Baie dankie, Leon, vir die skakel na Guy Sorman se artikel met sy nugtere vergelyking van vandag se vlugtelingkrisis in Europa, en die vlug van die Jode so sewentig jaar gelede uit Europa uit.

  47. Leon Retief :

    Interssant genoeg, Waldemar, is City Journal nogal ‘n baie regsgesinde joernaal, maar nou ja, net soos ver linkses kan ver regses ook soms die waarheid praat…