Onderhoud met Christine Barkhuizen le Roux (Skynskadu)

Christine Barkhuizen le Roux gesels oor haar

jongste digbundel skynskadu met René Bohnen.

 

1) Christine, baie geluk met hierdie geskakeerde bundel wat die leser op interessante paadjies lei. Die eerste twee reëls van die motto-gedig deur Rilke, lui

 

“Jij donkerte waaruit ik stam,

’k hou meer van jou dan van de vlam “,

 

dan volg die motto vir afdeling 1, wat lees

“Where there is no shadow, there is no light.”  (‘n aanhaling van Wally Lamb)

en uit die programgedig, wat die enigste gedig in afdeling 1 is, haal ek ‘n gedeelte uit jou  agtste versreël:

 

“die skadu dien die lig”

 

Binne die eerste drie bladsye reeds, is ʼn kernmotief stewig gevestig. Lees ek reg as ek meen dat afdeling een dien as rigtingwyser vir die leser en selfs beskryf kan word as ʼn programafdeling?

Ek het nooit bedoel om ‘n versameling gedigte met ‘n spesifieke tema aan te bied nie. Ek skryf nie so nie. Söteman praat van impure en pure dichters. Laasgenoemde skryf uit die hart, uit die taal, nie uit die aktuele gebeurtenisse van die dag nie. Ek dink dat my gedigte deur jare heen ‘n sekere strekking het, maar dit sien ek eers wanneer ek na ‘n lang tyd die skryfsels langs mekaar sit. Dus, daar is nie vooraf ‘n “program” nie – eerder die resultaat van ‘n stuk lewe wat geleef is, en waaroor daar agterna besin is.

2) Caravaggio is ‘n skilder en ‘n interessante figuur van geweld en skoonheid, van intrige, misdaad en geniale talent. Ook die verhouding tussen hom en sy beskermheer was verwikkeld – iets wat jy van toepassing maak op die verhouding tussen digter en resensent asook digter en leser. Hoekom het jy hom bo alle skilders gekies om die programgedig te bewoon?

Ek het by ‘n grammatika-kursus in Nederlands in Utrecht intens te doen gekry met die werk van Caravaggio. Die spel tussen lig en donker, die kontras tussen goed en kwaad, die helderheid te midde van die duister het my aangegryp soos geen ander skilder in die geskiedenis tevore nie. By hom, soos by Judith Herzberg, die Joods-Nederlandse digteres, oor wie ek my meestersgraad in Afrikaans en Nederlands gedoen het, staan dié gedagte sentraal: die lewe is nie dít OF dát nie. Alles staan langsmekaar.

3) Chairoscuro is (oorvereenvoudig gestel) sterk kontraste tussen lig en donker – effekte wat natuurlik in film en fotografie ook benut word, veral om dimensie te skep. Kenmerkend van Caravaggio se werk is die intensiewe gebruik van chiaroscuro, met die grafiek veral swaarder aan die somber kant. Hoe stem jou verse in toonaard ooreen hiermee of verskil dit hiervan?  Is die programgedig ook ʼn ars poetica?

Ek sou beslis nie sê dat somberheid noodwendig die toonaard is van die bundel nie. MAAR ek dink dat ‘n mens in die algemeen die donker misken. Terwyl duisternis/skaduwee juis die lig beklemtoon. Dit is ook die lyn wat deurloop in die gedigte. Dat jy wanneer jy terugkyk, dalk hierdie belangrike skakel, kan sien: “hoe deerlik git die geel vlam verf”. En ja, ek sou sê eintlik is die bundel in geheel ‘n ars poetica.

4) Die bundel bestaan uit agt afdelings, elkeen met sy eie motto. Afdeling twee handel ondermeer oor kommunikasie en die disintegrasie daarvan. In die gedig Baoji lees ons:

 

“om te

in ’n wêreld sonder lees
letters om te begryp

bestaan minus weet in klank
sonder te weet van woord
wat sin is

in Chinees
om té”

 

Hoe sluit dit aan by die motto, ʼn aanhaling van Jean Cocteau: “With whom else should I converse?” en wat kan jy ons meer van hierdie afdeling vertel?

Ek dink die digter – die méns – het in wese ‘n behoefte om begryp te word. Toe ek ‘n klompie jare gelede by my dogter in China was, was dit asof ek sonder taal, sonder uitdrukking, sonder myself was. Skriftekens teen mure, winkelingange, klanke wat ek nie kon verstaan nie.

Maar dit het my ook gebring by my lewe in my eie land: Met wie ander kon ek regtig praat? Daar is min geesgenote wat op dieselfde golflengte is, en dit bedoel ek hoegenaamd nie as ‘n intellektuele uitspraak nie – dit is gewoon so, dat ‘n mens, of jy skryf, of motors heelmaak of in ‘n winkel werk, of diervelle smous, met baie min ander mense regtig kan práát – en boonop begryp word.

My ondervinding in China het my by uitstek hierop attent gemaak.

5) Jy maak op ʼn besondere manier van ironie gebruik en veral afdeling drie is tekenend. Die afdeling het as motto die laaste reël van Uys Krige se gedig plaashek. Teenoor die ietwat idilliese landelike nostalgie in die Krige-vers, vind die leser in jou gedigte ironiese kontraste met reëls soos:

’n oes is af die dam is leeg
die nuwe droogte is in sig

en ʼn heel ander plaasomgewing kom na vore, soos ook wrang uitgebeeld in jou gedig “lysie vir die dorp”. Die plaaslewe en die lewens van vrouens op plase is aan jou bekend. Watter verskuiwings wil jy in hierdie bundel veral verbeeld, watter spesifieke aspekte dalk belig?

Ek leef in ‘n boerderyomgewing. En ek kry dikwels te doen met mense wat die liewe plaaslewe romantiseer. (Ek het die huis waarin my man groot geword het, in ‘n gastehuis omskep.) Die lewe op ‘n plaas is nie soos mense van buite – en ook die regering – dink nie. Dit is afwagting vir reën, dit is die uitstaan van hael en droogte. Dit is ook die saamleef met die werkers/ werksters wat afhanklik is van die boer. Want hoe kry hulle dít wat hulle benodig van die dorp af?  Dis ‘n simbiotiese bestaan wat nie altyd verstaanbaar is vir die buitewêreld nie. En die boervrou begryp meesal – al kan sy nie daaraan verander nie – die versugting na ‘n groter “New Freedom”, soos in die gedig lysie vir die dorp.

My gevoel rondom die plaaslewe, die boerdery, maar ook in die groter geheel van Suid-Afrika en ook die res van wêreld, is dat elkeen, élkeen op sy eie werf, in sy eie omgewing nood moet help verlig.

6) Christine, jy skram nie weg van moeilike onderwerpe en skrynende oomblikke nie. Die tema van skuld, skuldgevoelens en aandadigheid deur medewete word genuanseerd onder die loep geneem. Ek dink bv aan oupa, ouma, die kerk en die lyflike; selfs die onskuldige wat skuldig voel. Soos Caravaggio neem jy ook die donkerte van godsdiens en die kerk in oënskou. Oortreding en gewydheid word saamgevoeg om intense kontras te bewerkstellig. Veral afdelings vier en vyf bevat verse van maatskaplike kritiek. Hoe het jy hierdie afdelings saamgestel en hoekom het jy die spesifieke motto’s daarvoor gekies?

Weer eens: ek skryf nie om maatskaplike kritiek aan die bod te bring nie. Ek skryf soos wat ek die lewe om my beleef. Die kinderjare-gedigte kom vir ‘n groot deel uit my agtergrond. ‘n Lewe wat op ‘n sekere manier gestalte gekry het en wat woorde en bestaansreg gekry het in ‘n gedig. Die aanwesige, maar afwesige ma-figuur. Die hunkering van ‘n kind wat op ‘n ma se skoot wou sit.

Toe ek deur die verbye  jare afkom op die aanhaling van Herbert Gold: “He carried his childhood like a hurt warm bird held to his middle-aged breast”, het dit soos ‘n lem deur my hart gesny. Iets om vas te hou, maar iets wat dieper sny as enigiets in die volwasse wêreld.

Die verse in die volgende afdeling het te doen met gebeure wat my in my grootmenslewe tussen die oë geslaan het. Die inkongruensie van dinge wat net nie klop nie. Oumense, skuifelend in ‘n ouetehuis, op pad na die dood, ‘n tsoenami wat onverwags op mense toeslaan, ‘n getraumatiseerde vrou wat by die hospitaalkafeteria sit en ‘n verpleegsuster se relaas aanhoor.

7) Afdeling sewe beweeg na die sfeer van onderrig en vriendskap of kameraadskap. Dit staan onder die motto: “A good teacher is like a candle – it consumes itself to light the way for others.” ʼn aanhaling van Mustafa Kemal Atatürk, die eerste president van Turkye. Hy het hom onder andere beywer vir die bou van skole en die daarstel van opvoeding vir almal. Hierdie afdeling bevat verse wat opgedra is aan individuele tannies, digters, prosaïste en skilders. Beskou jy al hierdie mense as mentors vir jou? Waar lê jou invloede? En watter digters of skrywers lees jy graag?

Daar is baie skrywers en digters wat ‘n invloed op my pad gehad het. NIE soseer op die manier waarop ek skryf nie, maar wel dit wat hulle in lewe vergestalt het en waarop hulle my attent gemaak het. Hulle is mentors. Leermeester. Leefmeesters en –meesteresse.  Ek het laat in my lewe begin skryf, so ek het nie soos dikwels die geval is ‘n spesifieke dosent, professor, nageskryf nie. Wel het ek die werke gelees, maar dit het alles in my besink, sodat ek later ‘n eie styl ontwikkel het.

My gunsteling Afrikaanse digteres  bly egter Olga Kirsch.

8) In afdeling agt, veral, slaag jy daarin om, soos Caravaggio, die leser medereisiger te maak in die gedigte wat op spesifieke plekke afspeel, maar waarvan die emosionele gewaarwordings universeel is. Hierdie afdeling se motto fokus dan ook tereg die aandag op die nuwe manier van sien eerder as die nuwe bestemming. Reis jy dikwels en hoe versmelt jy jou “ou oë” met jou “nuwe oë” in digvorm?

Kyk, ek bly mos op ‘n plaas, nie ‘n landgoed nie, ‘n regte egte boereplaas. Hier by ons is dit meesal droog; jy kyk die reën uit die wolke uit, en dan kom daar net ‘n buurmansreën.

Maar dis in die spanning tussen hierdie lap grond en die groter wêreld wat die skryfwerk gebeur.  Dis om dit wat jy weet van jou eie wêreld te amalgameer met ‘n nuwe omgewing. Om te beleef: hoe anders is ons – en hoe dieselfde is ons nie! En dan sien jy jou eie plek, dorp, plaas, met nuwe oë – kry jy nuwe beelde om die ou vertroude dinge mee te beskyf. Dan sien jy die man buite die Primada Katedraal in Toledo as iemand anders as die bedelaar voor die OK in jou eie dorp.

9) Die bundel eindig met ʼn vers van ʼn Egiptiese groet en in woorde wat aan die meeste Afrikaanse lesers onbekend sal wees –  ʼn aspek wat weer teruggryp na die kommunikasieverval in afdeling twee. Nogtans is hierdie groet een van verwelkoming en insluiting by ʼn familie van die een of ander aard. Ook begin en eindig die gedig met dieselfde woorde, soos ʼn refrein, of ‘n inkantasie. Word daar hiermee ʼn verhouding tussen die buitekring en die binnekring van verskillende groepe mense geaktiveer? (Ek merk hier byvoorbeeld die “verkapte” Chagall, drie verskillende perspektiewe op Amsterdam en wrang getekende oomblikke in Antwerpen.)   

Inderdaad dui die Egiptiese groet op ‘n (hopelike /idilliese dalk?) insluit van die vreemdeling – dié een wat uit die “donker” (wie hy ookal mag wees) kom en wat sorg nodig het.

In die bundel word verwys na godsdiens/geloof/ongeloof/verwardheid en of onverskilligheid ten opsigte van ‘n hoër gesag/moontheid. Die wrang getekende oomblik in Antwerpen is nie ‘n sanksie van geloof, nóg ‘n afrekening met ongelowiges as sulks, maar ‘n tekening van die werklikheid op ‘n gegewe moment.

10) Christine, ek het aantekeninge gemaak oor die sinestesie verskynsels in jou bundel, byvoorbeeld die pragtige wyse waarop Pissarro die stiltes en die klokgelui verf. Jy is self ʼn veelsydige kunstenaar – een wat skryf én skilder. Nou word hierdie bundel van jou vergesel deur ‘n CD met toonsettings. Was dit ʼn nuwe reis vir jou en hoe het jy die proses ervaar? Het kleur vir jou klank geword?

Ek skryf visueel – ten minste, dis soos wat resensente sê. Sowel as in prosa as in die poësie. Ek dink nooit daaroor na nie, maar wanneer mense my gedigte lees, merk hulle op dat daar baie kleur- en  natuurbeelde in die gedigte is. Met hierdie bundel – waar vyf van die gedigte deur Olga en Trudie Leonard en Babette Viljoen getoonset en op CD oorgedra is, het die gedigte vir my ook weer nuwe inhoud gekry. Van die gedigte word ook deur my gelees, maar die musiek en sang van hierdie span is vir my betowerend.

 

11) Ietsie oor die voorblad: dubbelsinnig soos die titel, wil dit lig werp terwyl dit die kyker ook verkul met wat dit uitbeeld.  Is dit skaduwees wat wyk voor lig of is dit lig wat in pieksels en blokkies opbreek voor die mag van die donkertes, wonder die leser. Hoe het jy op hierdie voorblad besluit?

Ek en Johan Koortzen, grafiese ontwerper by Naledi, het ‘n gesprek gehad, en toe ek hom vertel oor my liefde vir Caravaggio het hy vorendag gekom met hierdie skildery – van ‘n leerling van Caravaggio – wat hy toe verwerk het vir die voorblad van “skynskadu”. Dit is die beeld-essensie van wat in die bundel woorde kry – die skadu dien die lig.

 

12) Die bundel bevat ook hospitaal-, teater, siekte- en sterfgedigte, Christine, ek kan nog baie vrae vra; oor ouderdom en verlating, oor die ongewone gebruik van leestekens, oor neologismes en testamente. Watter gedig wil jy egter uitsonder om volledig hier te plaas, as lusmaker en laaste gedagte vir die lesers wat jou bundel gaan aanskaf?

René: “laaste wil” is die gedig wat ek by die leser sou wou laat.

laaste wil

draai my in ’n groen jurk
en lê my op ’n baar

wanneer die reëntyd oor is
die wolke druppelloos

skuif my in die smal hoogoond
sodat ek skoon en wit kan brand
nie wag op wurms ondergrond
bolangse krans of Sondag se besoek

neem die potkleikruik met as

breek dit tot skerwe skud my vry
oor waboom tolbos en bergriet
teen die Langeberg se hoogste spits

neurie deuntjies vry van verdriet

hoor hoe die jong hoep-hoepies roep
die swart toktokkies sein en klop
die ou-ou kode tussen my en jou

wanneer die reën en groei weer kom
blare hand uitsteek na die son
kom soek my tussen heuningbos

waar ek knalgeel tussen die kwartsklip blom

Bookmark and Share

12 Kommentare op “Onderhoud met Christine Barkhuizen le Roux (Skynskadu)”

  1. Melanie Grobler :

    Sjoe,hierdie onderhoud het ek geniet! Baie dankie aan albei van julle!

  2. Christine Barkhuizen le Roux :

    Dankie Melanie – ek hoop jy kry die geleentheid om daardie briljante meisies se musiek te kan hoor.

  3. René Bohnen :

    Dankie Melanie!

  4. Lyk na ‘n besonderse bundel. Wie is die uitgewer? Waar kry mens die CD?

  5. marie bredenkamp :

    Ek het hierdie “gesprek” geniet soos ‘n geskenk. Geluk aan julle albei, en dankie vir ‘n gleuf wat weer ‘oopgemaak’ word op ‘n nuwe reis.

  6. Webmeester :

    De Waal Venter, hier is die inligting wat jy soek (let wel, die CD is deel van die boek en word in ‘n sakkie agter in die boek gebêre): Naledi, 2015; R179 (BTW Ingesluit) – CD INGESLUIT; BLADSYE: 108, FORMAAT: sagteband; ISBN: 978-0-928316-11-7.

  7. Christine Barkhuizen le Roux :

    Marie Bredenkamp en ook De Waal Venter – dankie vir die woorde. Hoop julle vind iets in hierdie bundel om by aanklank te vind.
    Christine

  8. “waar ek knalgeel tussen die kwartsklip blom”
    Kragtige taal en onweerstaanbare beeldgebruik.

  9. Christine Barkhuizen le Roux :

    Dankie De Waal!

  10. Lieflike oop gesprek – geweldig geniet! Die boonste rak Nederlandse grammatika-les slaan my asem weg. ‘Laaste wil’ sal my nog lank bybly.

  11. Hans Ittmann :

    Dit is ‘n uitstekende onderhoud, het dit baie geniet (ook die tussen-in Nederlands)! Baie geluk met die digbundel Christine – het gewonder wanneer dit ‘n werklikheid word. “Laaste wil” is besonders selfs vir hierdie natuurwetenskaplike.

  12. Christine Barkhuizen le Roux :

    BAIE dankie julle, Engela en ook Hans! Dalk is dit tog wat alles in die lewe betekenis gee – die déél. En daarvoor sê ek dankie – dat daar mense is wat wil lees, wil hoor, wil verstaan. Wat is daar meer? Groetnis, Christine