Resensie: Skynskadu (Christine Barkhuizen le Roux)

SKYNSKADU – Christine Barkhuizen le Roux. (Naledi, 2015; R179 – CD ingesluit; pp 108, ISBN: 978-0-928316-11-7; EPUB; 2015)

Resensent: Marlies Taljard

Omslag

“There is no coming to consciousness without pain. People will do anything, no matter how absurd, in order to avoid facing their own Soul. One does not become enlightened by imagining figures of light, but by making the darkness conscious.”

Hierdie bekende uitspraak van Carl Gustav Jung resoneer saam in die titel van Christine Barkhuizen le Roux se nuwe bundel Skynskadu. In Jungiaanse psigologie (hoewel nie meer relevant in die kliniese praktyk nie, maar steeds by uitnemendheid geskik om oor literêre tekste te besin) speel die skadu-metafoor  ʼn belangrike rol. Daar word dikwels na die mens se onbewuste as sy skadukant verwys. In teenstelling met die Freudiaanse siening van die skadu as negatief, wys Jung daarop dat die skadu ook die setel van kreatiwiteit is – dink ook aan D.J. Opperman se bekende opstel “Kuns is boos”!

Die titel Skynskadu aktiveer sowel die opposisie skadu/donker-lig (wanner skyn as “glans” geïnterpreteer word), maar ook die semantiese veld van “(sins)bedrog”. Dit is gou duidelik dat die titel eweneens simbolies, in terme van lig en donker as aspekte van die menslike kondisie, gelees kan word. Die kerngegewe van die bundel word verwoord in die mottogedig – die enigste gedig in Afdeling 1 – waarin ʼn belangrike aspek van die bundeltitel aan bod kom. Chiaroscuro is die kernwoord van die gedig. Dit is ‘n skildertegniek waar gebruik gemaak word van skadu om ligter dele van ‘n skildery te beklemtoon, soos dit onder andere ook deur die skilder Michaeli Caravaggio (1571-1610) gebruik is:

 

Skynskadu

 

uit stegies armoede gehaal Michaeli

Caravaggio uit donkerte gered

tot groter doel tot hoër plig wen jy

Francesco del Monte se gul guns

 

jy teken en skakeer seuns appels peer

by kersvlam in die duister nag verskyn

essensie van die spier en vrug

chiaroscuro toon: die skadu dien die lig

 

dan dryf die lood tot waan

waardeur jy moor en self sou sterf

 

veel later sou wie kýk steeds sien

hoe deeglik git die geel vlam verf

 

Die “donker” kant van die skilder se lewe, naamlik sy misdadigheid en die moord op ten minste een mens wat metafories in sy skilderye beslag kry, was – aldus onlangse navorsing – waarskynlik te wyte aan akute loodvergiftiging. Die insig: “die skadu dien die lig” kom in verskeie gedigte in alle afdelings van die bundel voor, hoewel dit nie as ʼn deurlopende tema beskou kan word nie. Verweefdheid van metaforiese “lig” en “skadu”/”donker” word in verskeie gedigte vanuit verskillende perspektiewe belig. In refrein kom die digter tot die insig “dat groen die lig en donker deel”. Dat lig en donker nie van mekaar geskei kan word nie, word ook verwoord in die gedig verweef waarin oor die verhouding met die geliefde besin word in terme van bome wat “albei sou sonlig kry … dog in die ondergrond” met mekaar verstrengel raak: “eers in die aandwind sou hy [die tuinier] merk / twee bome het tot een geraak”. Die slot van uit dieptes gans insinueer die ineengestrengelde aard van vreugde en pyn:

ek moes die Langeberg se rotse klim

vasval in skeure en ravyn

.

voor ek die lig sou sien

wat aanleun teen die pyn

Donker/skadu as metafoor van boosheid kom slegs eenmaal eksplisiet voor, naamlik in ʼn gedig oor die skilder Chagal waarin verskeie argetipiese simbole hulle verskyning maak, soos “die rooi bok”, “die rooi haan” en “die fluitspeler” [van Hameln]. Die lig-donker-goed-boos-simboliek is een van die oudste simbole van die mensheid. Sowel Freud as Jung was kinderlik opgewonde toe hulle kennis maak met die Kabbalisme en die geskrifte van Rabbi Baer waarin hy worstel met die sentrale paradoks van die Kabballah, naamlik dat boosheid, wat die antitese van goedheid is, terselfdertyd die oorsprong van die goeie is. Die geskrifte van Isaac Luria, die sestiende-eeuse mistikus wat die kern van die moderne Kabbalistiese filosofie vorm, wys ook daarop dat die lig verskuil lê in die donker. Die insig dat donker en lig onafskeidbaar deel van die lewe en deel van mekaar is, vorm die kerngegewe van byvoorbeeld Afdeling 4 van die tersaaklike bundel, in gedigte oor die problematiese verhouding met die moeder, die spanning tussen godsdiens, ras en liggaamlikheid en in die gedig Boland-herinnering waarin die donkerte van seksuele misbruik en aandadigheid deur kennis, oopgevlek word. In hierdie gedig vind, in die idioom van die sogenaamde “nuwe plaasroman”, ontluistering plaas van die idilliese plaaslewe wat dekades lank deur Afrikaanse digters en skrywers (van o.a. jeugromans) verromantiseer is en waarin die oupa en die ouma gewoonlik ʼn positiewe rol speel:

onthou jy nog ons wegsluip uit die huis

asems onrustig warm in die skuur

ons wegkruipplek as Oupa roep

sy hande grypend op soek

 

onthou jy hoe die korrels swel

die Boland en sy ondergrond –

 

Ouma se vieruurtee ryp vrugtekoek

haar klein vergoed vir sy vergryp[.]

Die morfologies verwante woorde “vergoed” en “vergryp” is hier ʼn voortreflike vonds deurdat dit inspeel op die verweefdheid van goed en kwaad, sonde en berou en ander oënskynlike opposisies wat in die bundel as geheel meermale ontgin word. Ontluistering van die plaaslewe kom eweneens voor in gedigte soos plaas: “ʼn oes is af die dam is leeg / die nuwe droogte is in sig” en in lysie vir die dorp waarin die sogenaamde vryheid van die plaas met ironie gelaai word deur die laaste item op die inkooplys: “pakkie peds New Freedom”. Terloops, die digter se sin vir ironie is een van die sterkste styleienskappe van die bundel.

Nog ʼn belangrike tema wat telkens in die betrokke bundel aan bod kom, is dié van sosiale betrokkenheid en deernis met mense in nood. Die gedig Tohoku oor die tsoenami wat dié dorp getref het, is een van die mees aangrypende gedigte in die bundel. Die gedig is ikonies in die opsig dat die uiterlike vorm soos ʼn golf lyk. Dit eindig met die betekenisvolle reëls:

ʼn Armageddon in Tohoku

vermink die mens

se verste

dink

Ontmensliking van die mens wat aan die einde van sy lewe gekom het, is die tema van besoek aan Huis Aandgloor, terwyl in katedraal Primada, die prag en praal van die katedraal wat in die eerste deel van die gedig beskryf word, in ironiese relasie staan ten opsigte van die slotreëls oor ʼn bedelaar voor die katedraal:

ʼn vod wat vra om brood

ʼn brokkie vleesgeworde God

Ontrafeling van die skering en inslag van menslike verhoudinge, veral die verhouding met die moeder, getuig van die digter se moed om binne die liminale sone te skryf – dié ongemaklike gebied wat dikwels verswyg word omdat dit sosiaal aanvaarde kodes weerspreek en sogenaamd verleentheid vir die konkrete outeur kan skep. Die eerste 7 gedigte in Afdeling 4 fokus op ongemaklike aspekte van die moeder-dogterverhouding, waarin die truie wat die moeder brei “die surrogate van haar hart” word. Die moeder word hoofsaaklik deur die dogter onthou vanweë haar huishoudelike deugde met klemlegging op uiterlike vertoon, soos “my wit hemde se skerp nate” en die moeder se besigwees met “Surf en Sunlight / staalwol en Mister Min”, asook die handwerk waarin sy uitblink, maar “na al die jare sweer die naald / se afbreekpunte nog in my”. In bede, ʼn aangrypende liefdesgedig, word die sintuiglike ervaring van liefde in sinestetiese metafore en deur middel van ʼn tantaliserende ritme opgeroep:

bede

 

neem my waar jy ook mag gaan

al langs die Bosporus

laat ruik my foelie en anys

in Istanboel se speserybasaar

bewaar kaneel net vir die nag

 

verlok my met die geur van lokum

rooswater, bergamot en ment

lei my               lei my

wanneer muezzins roep

dra my in jou gebed

 

o neem my in ʼn derwisjdans

neem my

laat my in ʼn beswyming kom

neem my

neem my

Soos dit die afgelope jare die mode geword het, staan daar in hierdie bundel ook verskeie gedigte waarin besin word oor skryf en die skrywer (oftewel dig en die digter). Die konkrete outeur word direk by die bundel betrek deur die CD wat saan met die bundel kom en waarop Christine Barkhuizen le Roux self enkele van die gedigte uit die bundel voorlees. Daarbenewens bevat die CD ook ʼn paar toonsettings van gedigte. Hierdeur word sterk klem gelê op die orale funksie van poësie soos dit voorkom in liedere en voorlesings. Veral in ʼn drietal gedigte in Afdeling 2 word die digproses bepeins. In digter in die nanag, ‘n gedig wat aan P.C. Boutens opgedra word, insinueer die verwikkelde sinstruktuur en grammatika die moeisame, selfs veeleisende werk om ʼn gedig te maak, en teen dagbreek breek die vertwyfeling dikwels deur:

hy maak ʼn beker koffie en voordag

vermoed laas nag is nog ʼn lam geslag

Ook die daarop volgende gedig, operasie, is ʼn metafoor vir die ambag van die digter: die spreker is in haar operasiejurk op haar kwesbaarste, veral wanneer die dokter onder narkose met sy lanset na haar hart mik: “vermoede resensent”. [R]otwerk verwoord die oorbekende, stereotiepe insig van digters, naamlik dat die skryf van  ʼn gedig ʼn stadige, pynlike geboorteproses is. Wat ars poetica betref, is daar in hierdie bundel helaas min wat nuut is.

Ook wat tematiek betref, is daar min vernuwende insigte – hoewel dit natuurlik nie noodsaaklik is dat digters “vernuwend” móét skryf nie. Tog voel dit vir my asof ek weer eens ʼn ou boek besoek wat ek al dikwels gelees het. Tot die digter se lof moet egter gesê word dat haar beeldgebruik en die volgehoue sintuiglikheid wat in die grein van haar gedigte ingebed is, verfrissend is. Tog is baie gedigte te soet, te oordadig en te eksplisiet verklarend. Die steurende en ongemotiveerde gebruik van die dubbelpunt aan die begin van reëls (in navolging van Breyten Breytenbach?) is ʼn lastige truuk wat nie by die digter se styl inpas nie. Die groot aantal gedigte wat getuig van haastige, ondeurdagte afwerking, is iets wat my baie gepla het. ʼn Strofe soos “midde die grint van griffels / lei jy my langs jou op die bank” of, met verwysing na gedigskryf: “om meestal eentjie maar te baar” hoort eenvoudig nie in ʼn behoorlik geredigeerde digbundel nie. Ook nie metrumdwang soos “dynserig lug”, die keuse van slordige rymwoorde soos “by die wasgoeddraad sien sy die stof / opslaan ver anderkant die bog” of grammatikale verwringing soos “jou tong onthou die welling mals”! Nog ʼn teken van ʼn lui taalpraktisyn is die spelling van Schweinehund met ʼn kleinletter, terwyl Duitse selfstandige naamwoorde in alle gevalle met ʼn hoofletter geskryf word. (Tussen hakies: ek dink nie dat ek die afgelope 10 jaar al enige teks waarin Duits gebruik word, gelees het waarin daar nie ʼn spelfout of ʼn grammatikafout voorkom nie – wat is dit met ons taalpraktisyns?)

En dit bring my by die totale aanbod van die bundel. Soos dit so dikwels met onlangse (en minder onlangse) digbundels gesteld is, is ook hierdie bundel te lywig. Dit behoort uit my bespreking in die eerste deel van die resensie duidelik te wees dat daar ʼn aantal sterk gedigte in Skynskadu is wat weldeurdag en deeglik afgewerk is. Barkhuizen le Roux kan wel dig, maar sy het nie die ondersteuning van ʼn streng teksredakteur gehad wat, in haar eie belang, vir haar gesê het: “Kill your darlings!” nie. Veral die laaste afdeling, wat 18 gedigte oor die reiservaring bevat, is heeltemal te lomp. Die meeste van dié gedigte kon myns insiens weggelaat gewees het ten einde ʼn meer gebalanseerde digbundel te produseer. Minder gedigte beteken dikwels ook ʼn waardevolle seleksie van goed afgeronde gedigte met groter diepgang. Ook die gebrek aan die metaforiese “goue draad” wat die bundel tot ʼn geheel sou kon saambind, ontbreek tot ʼn groot mate deurdat te veel gedigte willekeurig opgeneem is en die klem waarskynlik geval het op “wat kom in?”, in plaas van op “wat moet uit?”

Ten spyte van die tekortkominge, is daar – soos gesê – heelwat om voor dankbaar te wees, soos byvoorbeeld die gedig handwerk waarin die weef van die lewenslot – a la Penelope – deur middel van sinestetiese beelde en intertekstuele verwysings uit die skilderkuns (bv. Vermeer) deurgekomponeer word:

 

handwerk

 

vrou by die venster

kies die opslaggroen

weef dit tussen die rante in

– die kleur van hoop

moet uitwys tussen skaduwees –

bou die reliëf van koppies

met inlegwerk van skildaddop

vleg wol van dagoud lammertjies

as wolke bo die strak grys klip

 

vrou by die vensterruit

dit is die oog wat soek

wat die ontwerp vind op die duur

maar dis die kleure in jou hand

wat steeds weer inslag vind

 

vrou by die weefgetou

jy wil die lot van garing rig

dog weet dis reeds beslis

die skering word bepaal

deur droogte en met skalieklip

 

 

*

Bookmark and Share

Comments are closed.