Hennie Nortjé. Sy

Sy

 

Daar is ‘n roering in die moerbeibome,

die spinners woel onverpoos.

Uit die skadu van die Groot Muur

wieg kamele oor klipwoestyne,

dag vir dag teen slakkepas

na die slaapplek van die son.

 

Deur Persië se groen valleie

verby die brons duine van Arabië

kruier die aaneengeweefde rye

tot in Sidon aan die turkoois see.

 

Spoedig fletter seile, beur spane,

eers na Kition, dan Miletus, Korinthe

en met die guns van Poseidon,

deur Herkules se pilare

tot aan die  kus van Lusitanië

waar die gesogte vrag oplaas ontskeep.

 

En só met die Gilāo se silwer kronkels

al verder stroom-op van Tavira

kom haar geskenk uiteindelik aan

hier op die markplein van Evora,

 

sodat, geliefkoos deur die oostebries,

die vergulde windsel net genoeg onthul

om my beitel ongekaarte paaie langs te lei.

Want hierdie newellige lyne moet ek

tot aan die einde van tyd voort laat reis:

’n speelse glimp vir dié hierná

om ook so agterna te staar –

hoe ragfyn sy, vir die ene-oë bly skyn.

 

© Hennie Nortjé / 2015

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Hennie Nortjé. Sy”

  1. Pragtig atmosferies. Dankie!
    Suggestie: ek sou “ene oë” nie koppel nie en met hardop lees, dwing die tong na oosterbries.
    Ek hou nie van “ongekaarte” nie; maar dis maar persoonlike voorkeur; daardie woord is vir my so verslete.
    Die gedig in sy geheel is egter vir my lieflik.

  2. Hennie :

    Waardeer die kommentaar opreg. Met elke woord gesukkel sover.

  3. Heliflute :

    Kan met net Groter waardering na SY kyk.

  4. Hennie.

    Jou naam is vir my bekend maar ken jou werk nie. Dis die eerste – vermoed ek – van jou gedigte waarmee ek kennis maak en sjoe! dis meesterlik. Jy benut die besondere soepel poëtiese moontlikhede van Afrikaans ten volle en spin ‘n syde gedigteweefsel vloeiend om hierdie bespiegeling oor ‘n geskiedkundige aaneenskakeling van menslike vaardighede. Dit werk op sóveel vlakke. Gaan jou verder ontdek.

    Het bly vashaak in die Afrikaanse klassieke (tot, sê, die sewentiger jare – wat mens van ‘n ou man kan verwag/verstaan) en het enigsins afkerend/-keurend teen flardes van onlangse taal ge-/misbruik te staan gekom.

    Het eers onlangs Versindaba ontdek en dit het my al gou my tot jou drumpel gelei. Nuwe besieling vir een wat Afrikaans as sy moedertaal beskou, al was dit nie sy moeder se taal nie.

  5. Maria Snyman :

    Lieflike gedig Hennie. En ek kan jou laat weet ek stem nie saam met Myra nie, beide die reëls
    “om my beitel ongekaarte paaie langs te lei.” en
    “hoe ragfyn sy, vir die ene-oë bly skyn.” werk baie goed vir MY. (Die harde klanke in “ongekaarte” akkordeer met daardie “beitel”, en “ene-oë” is een ding, so een woord [net met koppelteken om verwarring te vermy]).
    Die prent van die reliëf bo laat my dan ook dink aan my nuutste ontdekking, naamlik die verhaal van Gradiva, deur Wilhelm Jensen. Is jy bekend daarmee? En dan veral ook “Delusion and Dream. An Interpretation in the Light of Psychoanalysis of Gradiva” van Freud&Jensen. Die verhaal speel ook in op daardie “speelse glimp vir dié hierná”; die Gradiva reliëf “bly skyn” “vir die ene-oë” van die argeoloog Dr Norbert Hanold. Ek wil niks meer sê nie. By http://www.gutenberg.org kan mens Delusion and Dream… gratis aflaai.

  6. lindie :

    Weereens skitterend Hennie! Ek dink jy beskryf presies wat jy wou uitdruk met treffende beskrywings!

  7. maryna wasserfall :

    hierdie is heen literere kommentaar Hou van die mistiek en speelsheid