Johann Lodewyk Marais. Garissa

GARISSA
2 April 2015

Die Tana se bruin water loop stadig
ooswaarts deur die warm, droë vlakte
waar die nomades met hulle vee trek,
groepies doempalms staan en kraaie krys.
Maar op die kampus vloei bloed in gange
en lê pen en papier stukkend getrap
deur die laggende mans uit die noorde.
Kyk ook die enkele skoen, sandale
en aan die doringdraad om die slagveld
stukkies vleis, hare en repe klere
van hulle wat wild en wakker moes vlug.
Stadig loop die Tana se bruin water.

© Johann Lodewyk Marais /2015

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Johann Lodewyk Marais. Garissa”

  1. Waldemar Gouws :

    Johann, ons menslike natuur laat nie veel aan die verbeelding oor nie. Dink jy die “laggende mans” het die vergryp vir die grap gaan pleeg, of was daar erns in hul missie? Losbandigheid of strategie?

  2. Johann Lodewyk Marais :

    Waldemar Gouws, al-Shabaab het ongetwyfeld ‘n missie en ‘n strategie. Baie van hulle vegters put inspirasie uit die lewe en werk van die groot Somaliese digter en rewolusionêr Mohamed Abdullah Hassan (1865-1920). Ek het elders ‘n gedig oor hom gepubliseer.

  3. Indien julle dit nie ken nie:
    Klaus Theweleit, “Das Lachen der Täter: Breveik u.a., Psychogramm der
    Tötungslust ” (2015) ondersoek die verskynsel laggende moordenaars.
    Tydens navorsing vir sy doktorale proefskrif “Männerphantasien” (1977)
    ontdek Theweleit dat die moordenaars van Rosa Luxemburg en Karl
    Liebknecht hierdie moorde met skaterlag gevier het. Ook dat Duitse
    weermagsoldate in Britse oorlogsgevangenekampe mekaar vertel het
    van persoonlike gruweldade en luidkeels gelag het.

  4. Waldemar Gouws :

    Dankie, Johann en Engela. Nou wonder ek oor watter spektrum die sg. bevrydende lag nie alles kan laat loskom nie.

  5. Ek is so lief vir die wyse waarop jy suiwer Afrikaans besig, Johann! Jou punktuasie is altyd puik en die somber, nugter trant pas by die onderwerp. Die rustige trek van die nomades staan in direkte teenstelling met die onheilspellende konnotasie van doempalms en krysende kraaie, laasgenoemde boodskappers van God. Die effektiewe aanwend van inversie in die intree- en slotreëls, dui die natuur se onverstoorbare gang aan, waar die bruin water asof omarmend gekontrasteer word met die skielike bloedvloeiing, en die halsoorkop vlug, tussen die eerste en laaste reël. Die lang- aa en e-klanke van — “… sandale
    en aan die doringdraad om die slagveld
    stukkies vleis, hare en repe klere …” simuleer ook verder die stadige gang van die Tana, so asof die leser gedwing word om teen stadige spoed die implikasies te besef (en tot verantwoording geroep word, namens die moordenaars!) van die onverwagte slagting. Dankie dat jy my so meevoer! GRINNIK Ek geniet jou waarnemings, wat jy so noukeurig digterlik opteken.

  6. Johann Lodewyk Marais :

    Myra Lochner, dankie vir die vriendelike woorde en simpatieke lees van “Garissa”. Ek deel ‘n bietjie later my gedig oor die Somaliër Mohamed Abdullah Hassan.

  7. Johann Lodewyk Marais :

    MOHAMED ABDULLAH HASSAN
    1856-1920

    Bo die inwoners in wit en swart buibuis
    en gedreun van ou motors en taxi’s
    pronk die ruiterbeeld van die Mad Mullah
    op sy pedestal oor Mogadisjoe.
    As stigter van die Derwisj en vegter
    teen oprukkende Italiaanse,
    Britse en Ethiopiese magte
    het hy bevele soos sweepslae laat klap.
    Agter dié magtige lê die volksmond
    vol van die verhale en legendes
    van een wat lang reise aangepak het:
    Mombasa en Kartoem gesien
    en in Mekka en Madinah kon kniel;
    gedigte geskryf het oor sy vriende,
    om oorwinning te vier, tot God te bid
    en die vyand vir ewig te vervloek.
    In die mense is beelde ingejaag
    van heiligheid, oorwinning en lewe
    wat in die are vloei van Siad Barre,
    krygshereen die brandarmes
    en verdof in die blik van die ruiter
    op sy perd hoog bo Mogadisjoe;
    en voorlopig sterf in die mond vol grond
    van die eerste vegter van al-Shabaab
    op die pad van die dor Somalië.