Zandra Bezuidenhout. Aan die Groot Maroela

Aan die Groot Maroela

 

In die taal se kweekhuis

laat val die muse

ʼn handvol woordsaad

oor die akkers van versemakers.

Wildgroei word getem

steggies geënt tot peul en blom

mekaar herken as werpsels

van dieselfde stam.

 

Ter afskeid dus: ʼn groenerige vers

vir die Groot Maroela

gewortel in die Vredefortse koepel

met takke wat oorvloedig dra

uit heilige nuuskierigheid

met die aarde praat

om in ʼn liefdesidiolek

al skrywende te ontdek

die ander een is ek.

 

 

© Zandra Bezuidenhout. 2015.

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Zandra Bezuidenhout. Aan die Groot Maroela”

  1. Aangrypend, Zandra! Wonderlik hoedat geboorteplek (Vredefort) en plek van Oorsprong dieselfde plek is … Dankie!

  2. carina :

    @ Zandra: Daar is niks sterkers wat mens vir so groot skrywersgees kan doen nie! Skryf vir en oor hom ‘n goeie gedig. En die manier waarop jy die titels van sy bundels in jou slotstrofe vervleg, is baie besonder Zandra. My gedig vir hom is al lankal geskryf, maar nog onder embargo. Ek kan dit nog vir ‘n rukkie as ‘n geheim koester.

  3. Zandra Bezuidenhout :

    Dankie vir jul kommentaar op die Maroela-gedig, Myra en Carina!

  4. engemi ferreira :

    Hierdie uitgawe van Versindaba bevat so veel om aan te herkou, maar jou gedig as boom vir die digter wat oor hom sy takke sprei en hom tot rus lok in die skadu, maar ook die voedsel – miskien soetigheid van ‘n likeur of konfyt, ‘n troos bied vir die lang pad, het my as iets so besinnend getref. Ook die vernuf van wat carina noem ~ amper asof dit ook vir die laaste reis ‘n koepel vorm waarvan hy sou hou; so ‘n afeindiging. Baie dankie.

  5. Zandra Bezuidenhout :

    Dankie vir reaksie op Maroela-gedig, Engemi; jy open meer interpretasiemoontlikhede.