Andries Bezuidenhout. Die praat van ʼn huis in ʼn suburb wat niemand kan kry: Drikus “Brixton” Barnard (1969-2015)

Brixton Barnard voor ‘n skildery van James Phillips (Bernoldus Niemand)

Foto deur Edward Burns

 

“Bekende musiek-man sterf,” sê Beeld se plakkaat teen die lamppale vanoggend. Ek en Irma hou stil sodat sy een kan afhaal, seker as aandenking. Ons maak altyd grappe oor hierdie tipe plakkate. As hulle die woord “bekende” as byvoeglike naamwoord gebruik, moet mens weet die persoon waarvan gepraat word, is nie werklik bekend nie. Anders sou hulle mos die naam gebruik het. Die verkeerslig slaan groen en Irma spring terug in die kar. Sy weet waaroor ek dink – ons het die gesprek al soveel keer gehad. Irma vertel oor die koerant se lokplakkaat met haar pa se dood. Dit het bloot gesê: “Sanger sterf op pad.” As jy sê wie gesterf het, koop niemand die koerant nie. Tog sou ek eerder wou hê die plakkate moet mense soos Brixton Barnard of Koos du Plessis se name gebruik. Of James Phillips for that matter, want dis die name wat ek gebruik om my vriend Drikus se nalatenskap mee te vergelyk – Koos du Plessis of James Phillips. Hy was in daardie klas. Oor James Phillips het hulle juis ʼn film gemaak met die subtitel: “The man who was famous for not being famous.” Mense wat die hoofstroom soos pes vermy het, maar tog ʼn musiekskat van onskatbare waarde vir ons nagelaat het (as ek die rits clichés vergewe kan word). In Brixton Barnard se geval, sewe albums, oor ʼn tydperk van twaalf jaar. Hoor wat sê Lloyd Gedye in die Mail & Guardian oor sy enigste solo album:

“Every now and then an artist manages to make an album so bold, so brilliant, that it forces a retrospective look at their previous work in search of signs that this new work could have been predicted. What I am trying to say is that Hartseer Broers, Nooitlag Susters is the magnificent album that Brixton Barnard has always threatened to make, but never got round to, until now… It is not as though there is no precedent: Barnard’s songwriting across three Trike albums released on the One F Music label had moments of genius and his songwriting contributions for veteran Johannesburg band Brixton Moord en Roof Orkes have also been lauded by many fans and critics. But Hartseer Broers, Nooitlag Susters is a game changer and hopefully a sign that this very talented songwriter is about to hit a golden streak… If you have ever given a shit about the heritage of Afrikaans songwriting, then this is one album you cannot afford to miss.”

Wie kan vir ʼn beter getuigskrif as dít vra?

Drikus Barnard, of Brixton Barnard, soos hy as musikant bekendgestaan het, is op 17 Desember 1969 in die Koningin Victoria Kraamhospitaal (of die “Queen Vic”, soos mense dit genoem het) in Hillbrow gebore. Alhoewel nie meer ʼn hospitaal nie, staan die Queen Vic se gebou vandag nog, ʼn monument vir Johannesburg se art deco-argitektuur van die 1930s en 1940s, langs wat vandag die Konstitusionele Hof is. As kind het die Barnards baie verhuis en Drikus is na ʼn aantal laerskole toe – onder andere Laerskool Boskop in Honeydew, Unika Laerskool in Randburg en uiteindelik, vir sy laaste laerskooljaar, Noordskool in Krugersdorp. Die familie het hierna vir ʼn lang tyd in Krugersdorp gewoon en Drikus was sy hele hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Monument. Oor sy tyd in Krugersdorp sou hy later skryf: “Dit was die Wesrand se skole en kerke/ Mense wat treine moes vat na kak werke/… ‘Moet net nie dink’ was ons skool se leuse.” Nodeloos om te sê, Drikus het nie baie van skool gehou nie.

Drikus se pa het ʼn stel langspeelplate gehad, meestal van Elvis Presley, maar ook Bill Haley and the Comets. Drikus en sy ouer broer Gerhard het in die geheim na die plate geluister, iets wat hulle glad nie mag gedoen het nie. Drikus se beroep op Facebook: “Altar Boy fully toegewy aan Elvis se kerk.” Hul oom Bok het hulle ook aan ander musiek voorgestel, onder andere Kris Kristofferson. Gerhard het later self ʼn plaat van David Kramer gekoop en die twee broers het al die songs uit hulle koppe geken. Ek het die twee laat een aand, waarskynlik na ʼn gig in Sannieshof of iewers, saam “Stanley en die koei” hoor sing. In om en by Standerd 8 het Drikus begin om songs te skryf – lirieke, maar ook melodie, al het hy nog nie ʼn instrument bespeel om homself te begelei nie.

In 1987 skryf Drikus matriek en registreer in 1988 vir ʼn graad in die regte aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. Hy vat die trein kampus toe van Krugerdorp af, maar gaan woon ook by sy ouma in Westdene, naby aan die kampus. Hy spandeer meeste van sy tyd in die biblioteek, waar hy homself veral in Sylvia Plath se digkuns verdiep. Verder het hy baie van sy tyd in die bioskoop deurgebring, met die gevolg dat hy die jaar daarna verplig word om weermag toe te gaan, eerder as om verder tyd aan sy eie kurrikulum en selfstudie toe te wy. Van 1989 tot 1990 doen hy sy diensplig – aanvanklik in Grahamstad se infanterieskool, maar daarna Bourkes Luck se hondeskool en later Voortrekkerhoogte, waar hy wag moes staan by een van die Spesmagte se basisse.

Baie van ons het in hierdie tyd die Voëlvrybeweging se musiek ontdek en begin volg. Wat dit betref was Drikus nie ʼn uitsondering nie. Ek dink egter hy was meer opgewonde oor Valiant Swart en Battery 9, wat kort op Voëlvry se hakke gevolg het. Sy eie musieksmaak was meer in die rigting van punk – hy het Andy Warhol se kuns waardeer en het veral van Velvet Underground, Joy Division en Pixies gehou. Later ook Nirvana. Na die weermag het hy in die Johannesburgse Algemene Hospitaal (of “Joburg Gen”) se stoorkamers gaan werk. Hy woon aanvanklik in Braamfontein, maar trek toe Hillbrow toe – aan die suidekant, reg op die destydse Harrow Road (nou Joe Slovolaan). In “Ferdi” skryf hy later oor hierdie tyd:

Hy speel konsertina op LSD, sy hande bewe
Met ʼn lied in sy hart en ʼn mission wat niemand verstaan
Saterdagaand is lank as jy nie weet hoe om te val nie
Die bier moet maar kom want die hartseer is lank nie verby.
Die wêreld is koud, maar briewe is vriende
Dis in die praat van ʼn huis in ʼn suburb wat niemand kan kry
Dis nes Hillbrow van ouds, maar lank voor die nes
Nog so lank voor die nes
Sy venster is ʼn mengsel van ou reën en voëlkak
Buurvrou verkoop haar liggaam, dis ʼn tuisindustrie
Die snotkop hier onder, hy dabble met e’s en ʼn dom dans
Hey, Candy my baby, kom oor vir ʼn smoke en ʼn chat

In die middel-1990s, terwyl Drikus in Hillbrow bly (later in Northcliff, Nooitgedacht en Muldersdrift) begin hy as musikant op te tree. Die eerste onmiddellike impuls was sy our broer Gerhard se behoefte aan ʼn bass guitarist vir sy band Planet Caravan, so genoem na ʼn Black Sabbath song. Die band het obskure covers gedoen, maar Drikus het al hoe meer van sy eie musiek begin inbring. Soos musikante se temperamente nou maar is, breek bands die heeltyd op en hervorm weer, of nuwe bands word begin. Oor hierdie tyd, en Joburg se clubs soos Doors, Alcatraz en Thunderdome, sing Drikus in “Paul van der Zandt”:

Op daai eindelose Vrydae
toe ons almal gemaak het of die son nooit weer sou skyn…
Oor jou grys geboue, in jonk wees se kloue
met niks om te doen but onsself te versoen met die feit
dat ons net hier rondkruip.
Punks en head bangers, Gothic sonskerm
Luther Lugosi was eintlik Albertus Jan Theron,
ons was almal oraait.
Le Club happy hour, Donderdae duiselig
Vrydae het white trash vir hul sondes
by die werk loop betaal,
al die stories herhaal
Die boere maak skoonskip,
het net in tyd my trip
die bong in my long die dot op my tong ingesluk
dagbreek toe druk.
Rudi se wit Ford, somer se lang quarts,
Tony Wyomi nie juffrou Ciccone,
my vriend, ons het almal gedroom.
Geslaan aan kitare, grunge en lang hare,
die pyn van Cobain, die Cramps se drug train,
pay your dues.
Nog ʼn amp wat uitfuze.
Nog ʼn band nog ʼn drommer
wat verlief raak op ʼn nommer
en sommer sy stokkies ophang
vir die babakak blues…

Hy eindig die liriek met die mededeling dat Paul van der Zandt selfmoord gepleeg het, dit ten spyte van die feit dat hy hom ʼn week voorheen in Wings Beat Bar gesien het en Paul van der Zandt gesê het dat hy okay was en dan die sydelingse maar verpletterende verwysing na Kurt Cobain. In “Paul van der Zandt” leer mens Drikus ken as die meester van die tragikomiese liriek.

Dis in die einste Wings Beat Bar in Braamfontein waar Drikus vir Clair Cantrell (toe Evans) ontmoet, wat later Esme Evakwaad in beide die bands Plank en Trike sou word. Maar eers het Drikus deel geword van ʼn punk band genaamd Slow, waarvoor hy sommige lirieke in Afrikaans skryf, onder andere “Krismiswurm”. Die band neem van die songs op, maar stel ongelukkig nooit ʼn album vry nie. Slow tree onder andere by Carfax in Newtown op, waar hulle ook ʼn kamer vir rehearsals huur, wat hulle met Battery 9 deel. Die ontmoeting met Paul Riekert van Battery 9 sou ʼn groot invloed op Drikus se lewe en loopbaan as sanger hê. Paul het aanvanklik al Drikus se musiek opgeneem en hom later bygestaan om sy eie musiek te kan opneem. Die meeste van Drikus se musiek is ook deur Paul se record label, One-F Music, uitgegee.

In die laat-1990s het Taz Viljoen ʼn nuwe kroeg in Brixton oopgemaak – die Abelarde Sanction – vernoem na plekke waar spioene van beide kante tydens die koue oorlog ʼn veilige hawe kon vind. Vir ʼn tyd lank was die Abelarde die hart van Johannesburg se nie-hoofstroom musiek geword – wat Afrikaanse musiek betref het beide Karen Zoid en Riku Lätti hier opgetree, asook Paul Riekert se Breinskade-projek, laasgenoemde deels omdat skade aan die mure nie so ʼn groot probleem was soos in ander venues nie. Slow het hier opgetree, asook Miss September, ʼn band waarin Drikus baskitaar gespeel het. In hierdie tyd het Drikus en Gerhard in Muldersdrift se omgewing gewoon en aan-en-af by hulle pa se hardeware en boumateriaalwinkel in Tarlton gewerk. Baie van Drikus se songs is in sy kop gekomponeer terwyl hy tussen Carfax, Brixton en Muldersdrift ry vir band rehearsals en optredes. In hierdie tyd het hulle ook ʼn nuwe band genaamd Plank begin, met Drikus (op bass en vocals), Esme Evakwaad (op vocals), Gerhard, bekend as Pastoor Pat Plank (op kitaar) en Andrew Evans, bekend as Andy Dowelsticks (op drums). Plank het wel ʼn CD opgeneem, maar dis ʼn tragedie dat dit nooit formeel uitgereik is nie. Ek het my huis omgedolwe op soek na ʼn kopie – helaas, dis weg.

Dis ook in die Abelarde Sanction waar ek en Ockert “Moord” Greeff, wat kort vantevore die Brixton Moord & Roof Orkes (BMRO) begin het, vir Drikus en Gerhard ontmoet het. Gerhard is vir ʼn tyd lank uit die Abelarde verban, maar kon gelukkig weer terugkom. Toe Steve Savage, BMRO se eerste baskitaarspeer, Zambië toe verhuis vir werk, het ons Drikus gevra om by ons aan te sluit. Hy het vir ʼn paar dae daaroor gedink (ek dink ons was dalk te hoofstroom vir hom) en toe die mantel van Brixton Barnard op hom geneem. Kort daarna het Gerhard ook by ons aangesluit, as Kapelaan Pat Plank op lead kitaar.

Plank en BMRO het gereeld saam opgetree en getoer, asook die band room in Carfax gedeel. Ons het redelik vinnig naam gemaak – Pieter Redelinghuys het ʼn artikel in Insig oor die nuwe golf van Afrikaanse rock bands geskryf – BMRO, Plank, Diff-olie, Spinnekop en Akkedis, as ek reg onthou. Dit was die dae voor MK. Ons het ook by Oppikoppi begin optree. In 2002 het ons die eerste BMRO CD, “Spergebied”, by Paul Riekert opgeneem en vrygestel – vir eers met my as sanger, maar Drikus se wonderlike song “Inkvis” was ook op die album. Ons sou daarin slaag om nog twee albums op te neem, maar meer hieroor later.

In hierdie tyd – met Plank in die punk genre en BMRO al hoe meer ʼn rock band – het Drikus ʼn uitlaatklep vir sy meer introspektiewe songs begin soek. Saam met Esme Evakwaad het hy Trike begin – Drikus op akoestiese kitaar (wat hy soos ʼn baskitaar gespeel het) en die twee van hulle op vocals. In 2003 het hulle “Volle Militêre Eerbetoon” vrygestel met ʼn muis wat deur Paul Riekert se kat van kant gemaak is op die omslag. Die omslag het natuurlik enige pogings om die CD in winkels te kry gekelder. Die humoristiese “Skaamkoekie” het nietemin ʼn underground hit op Radio Tuks geword. Drikus se songs is meestal donker, maar moenie sy sin vir humor onderskat nie! Trike sou hierna nog twee albums opneem en vrystel: “Kennis van die Oggend” (2005) en “Vingerbakatel” (2006). Die song “Simon”, van laasgenoemde album, is op Bush Radio in Kaapstad gespeel, wat tot ernstige klagtes gelei het en selfs ʼn versoek dat Danie Marais en Clive Smith, die Unhappy Hour Show se DJ’s vir die aand, afgedank moet word.

Intussen het BMRO “Terug in Skubbe” (2004) opgeneem en vrygestel, met ʼn baie meer sentrale rol en bydrae deur Brixton Barnard, onder andere die epiese “Trane van ʼn Terroris”, asook “Paul van der Zandt”, waaruit ek vroeër aangehaal het. Dit bly twee van my gunstelinge. Die naaste wat ons aan hoofstroom gekom het, is toe RSG een van die ballades op die CD op hul speellys gesit het. (Ek hoor RSG het vandag een van ons songs gespeel – ek hoop van harte dis nie “Fortuinverteller” nie en eerder een van Drikus s’n.)

Tussen 2002 en 2006 het Drikus met ander woorde daarin geslaag om ʼn CD ʼn jaar vry te stel. Dit was besige, maar produktiewe tye. Dit was ook harde tye, want in hierdie tyd het hy van slegs die inkomste van sy musiek oorleef. Hy het in sy suster Madelein se huis in Westdene en later Albertsville gewoon. Daar was baie opgehoopte materiaal om mee te werk – hy het immers in Standerd 8 begin om songs te skryf. Drikus se skryfproses is merkwaardig. Hy het nooit sy lirieke op papier geskryf nie. Dit was alles in sy kop. Hoe hy als onthou het, is ʼn misterie. Tydens band practice moes ek eers my lirieke van papier af leer. Drikus, egter, het dit alles reeds in sy kop gehad. Op toer kon hy doodstil sit terwyl ons ander sit en gesels, of stilhou om verspring langs die pad te oefen (ʼn vreemde maar heerlike tydverdryf as mens soveel tyd op die pad spandeer). Drikus het egter aan lirieke en melodieë sit en werk – in sy kop. Eers met die vervaardiging van die CD’s en sleave notes het hy dit uitgeskryf en dan het ek dit getik.

In 2011 het Drikus sy enigste solo CD vrygestel, met die bemarkbare titel: “Hartseer Broers, Nooitlag Susters”. Ek het Lloyd Gedye se resensie daarvan aangehaal – need we say more. Nog ʼn belangrike gebeurtenis uit 2011. Ons vriend Francois Fourie verjaar. Hy woon in Bloemfontein. Hy nooi ons uit om vir sy verjaarsdag by die Aasvoëlklub net buite die stad te kom speel. Dis een van ons gunsteling venues. Hoekom nie? Dié aand ontmoet Drikus toe vir een van Francois-hulle se vriendinne, die beeldende kunstenares Marguerite Visser. Die twee kliek onmiddellik en kort daarna trek Marguerite Johannesburg toe.

Wat BMRO betref het dit ons baie lank geneem om by ʼn derde CD uit te kom. Baie van die songs was reeds daar, van hulle uit Plank se dae. Moord Greeff het egter Kanada toe verhuis, wat beteken het dat ons ʼn tyd lank geneem het om weer ons voete as band te vind. Dinge het op dreef gekom toe die ervare drummer Louis Graham by ons aangesluit het. Die derde CD, “Slaaptyd in die Suburbs”, is in 2014 vrygestel en is ook deur Drikus self opgeneem en gemeng. Paul Riekert het die master gedoen. Ek is steeds trots op hierdie CD, met Drikus se “Einde van Dae” as my gunsteling track. Klassiek. Ook “Bliksemstraal”, ʼn song uit Plank se dae:

Want ek is bored soos ʼn bliksemstraal
wat diep in jou dorp verdwaal…
Ek’s ʼn light show vir hoop en vrede,
ʼn diskoteek vir donker stede…
Want ek is bored soos ʼn bliksemstraal,
dis vir jou wat ek vanaand kom haal…
Ek het ʼn kop vol visioene
en drome wat nooit sterf,
ek word dronk terwyl jy TV kyk.
Wanneer kom jy huis toe, wanneer kom jy huis toe,
gaan ek jou ooit weer sien?”

Wat “Slaaptyd in die Suburbs” betref is ek ook mal oor Marguerite Visser se skilderye wat op die omslag gebruik is – die portrette van die band, asook die stedelike landskappe. Haar skildery van Drikus vat sy uitdrukking so goed vas – so iewers tussen bedonderd, geamuseerd en aspris. Die drie van ons het ook saam gaan toer as die Vrye Radikales, Marguerite op keyboards en vocals. Ek is steeds jammer dat ons hierdie projek nie verder geneem het nie.

Ek moet Drikus se rol as uitvoerende musikant noem. Benewens sy eie projekte staan twee dinge uit. Drikus as baskitaarspeler vir Gert Vlok Nel, veral as Gert in Gauteng kom toer. Min mense weet dit, maar Drikus is al voorheen naby aan die dood gewees. Hy sou verdrink het tydens ʼn rock fees in die Kaap (ek dink Dirk Uys se Wingerdrock) as Gert Vlok Nel hom nie gered het nie. Ek onthou nou Drikus se laaste optrede saam met Gert Vlok Nel in Harry Kalmer se huis in Observatory in Johannesburg. Drikus kon nie meer baskitaar speel nie, so Gerhard het sy plek ingeneem. Voor Gert se beurt het Gerhard vir Drikus begelei op kitaar – die beste wat ek Brixton Barnard ooit hoor sing het. Hy kon sy arm nie meer beheer nie, maar hy was in beheer van die musiek en die gehoor, die songs gestroop met net die woorde en die melodie. Dan Drikus as baskitaarspeler in Bacchus Nel se orkes. Natuurlik ook die Johnny Cash huldiging. Daar’s soveel wat nog opgeskryf moet word. Drikus as producer en musiekverwerker.

Ek skryf min oor Drikus as mens en daar is so baie wat mens wil sê oor die ongelooflike reaksie van die vriendekring toe Drikus die operasie moes kry. Ek wil egter hier net ʼn begin maak met ʼn tipe biografie en diskografie van ʼn fenomenale musikant wat heeltemal te vroeg dood is. Daar was nog baie songs in Drikus se kop. Dit was ʼn groot frustrasie vir hom dat hy so verswak was dat hy niks daarvan kon opneem nie. ʼn Paar maande voor sy insinking, operasie en diagnose het Drikus vir Marguerite gevra om met hom te trou. Miskien, as hulle die tyd gegun is, sou die twee van hulle die praat van ʼn huis in ʼn suburb iewers kon vind. Netnou post Annerina Jaeggi hierdie liriek van Drikus uit haar inbox op Facebook. Hiermee dan die laaste woorde aan Brixton Barnard as homself, hy kon dit altyd self soveel beter sê:

eers diamant se ompad, toe kom my oupa na die goudstad, eks in die queen vic gebore, bakbene en bak ore, op die heuwel van konstitusie, ses jaar voor televisie, voorlopig eers na die wesrand, die winters was n veldbrand, somers kom egalig, donder storms klap eenmalig, in die aande net voor son sak, as die sweet nog aan jou lyf plak, onthou jy nog ons aande saam, die onskuld las, die hande skaam, onthou jy nog ons wou daar weg, ons pad terug na die stad toe vleg, met n vaal ou datsun jou sondae opgelaai, by die mense in houghton se mooi huise loop draai, ons sou trou en daar gaan bly, in drome kan mens prys af stry

Andries “Roof” Bezuidenhout
27 Julie 2015

BRIXTON BARNARD SE ALBUMS:

As Brixton Moord & Roof Orkes:
Spergebied (Rhythm Records, 2002)
Terug in Skubbe (Rhythm Records, 2004)
Slaaptyd in die Suburbs (Onafhanklik, 2014)

As Trike:
Volle Militêre Eerbetoon (One-F Music, 2003)
Kennis van die Oggend (One-F Music, 2005)
Vingerbakatel (One-F Music, 2006)

As Brixton Barnard:
Hartseer Broers, Nooitlag Susters (Onafhanklik, 2011)

Drikus Barnard is op 26 Julie 2015 aan breinkanker oorlede.

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die praat van ʼn huis in ʼn suburb wat niemand kan kry: Drikus “Brixton” Barnard (1969-2015)”

  1. Jacques :

    Dankie Andries

  2. Louis Esterhuizen :

    Watter aangrypende huldeblyk! Dankie, Andries. In alle opsigte is dit jou vriend waardig … Sterkte vir julle.

  3. SJOE – baie dankie Andries!

  4. Braam Smit :

    Baie mooi geskryf, dankie Andries.

  5. Buiteblaf Breytenbach :

    ‘n Lieflike gebaar van lojaliteit en vriendskap, Andries. Dankie dat jy jou waardering so oorsigtelik deel en dit daarom ook die lesers s’n maak.

  6. Leon Retief :

    Baie dankie Andries. Jy mag dalk effens verras wees om te hoor dat ons “Terug in die Skubbe” besit. Ek sou dit baie graag nou wil speel maar ongelukkig lê dit in ‘n boks in Kaapstad…

  7. Leon, ek is altyd verras as iemand ons musiek ken! Buiteblaf, hier’s ‘n stukkie van Drikus se galgehumor:
    https://soundcloud.com/brixton-moord-roof-orkes/c-maximus

  8. carina :

    So “vervreem” is ek nou al dat ek nie kan verstaan waarom die omslag van “trike” en die nommertjie “skaam****ie” (ek gebruik maar sterretjies vir veiligheid, mens weet nooit nie!)vir julle destyds probleme gegeen het.

  9. Buiteblaf Breytenbach :

    Andries: dankie vir die stukkie “galgehumor” – ek sien uit na die luister. Dit sal moet wag vir ‘n bietjie later. Hier in die gopse is die aflaai van woord- en beeldvlegsels ‘n stadige storie.

    En Carina: enige nommertjie met die titel “skaamtongetjie” soék mos skoor!

  10. Sarel van Zyl :

    Mooi geskryf.
    Het Drikus net een keer ontmoet maar besit al die Trike albums,solo ene en 2 BMRO (hy skuld my nog die laaste een hehe) en ek voel hartseer asof ek ‘n ou vriend verloor het. Sterkte vir julle…

  11. engemi ferreira :

    Ai Andries, ek weet dis totaal onmoontlik, maar hoe wens ek jy het hierdie wonderlike ‘bekendstelling’ geskryf toe ek nog na hom kon gaan luister; vir my alles so onbekend, maar met die luister na sy stukkie galgehumor, ook tog so oerbekend. Hoe graag sou ek die optrede in Harry se huis wou bywoon, maar ek sal soek na CD’s. Mag jou vriend sy rus vind

  12. engemi ferreira :

    Wou net byvoeg, dat die liedskrywer en die digter dalk tog strome wissel en mekaar vind as reisgenote . . .

  13. carina :

    @ Breyten en oorlede Brixton – sulke soetklinkende woordjies kan mos nét onskuldig wees!