Carina van der Walt. Orfeus en Euridice

 “Orpheus and Eurydice” (1862 – Edward Poynte

Dit was al na elfuur saans. Skielik klink die mooiste musiek van onder uit die woonkamer. Dit het my soos ’n magneet getrek. ’n Uitsending van Christoph Willibald Gluck se (ballet-)opera “Orfeus en Euridice: ’n liriese toneelstuk in vier dele” uit 1762 het pas begin. Bejun Mehta sing die rol van Orfeus. Hierdie goedgeboude, kaalkop sanger met die priemende oë se helder sopraanstem nael my verder voor die televisie vas.

Orfeus kom uit die Griekse Mitologie. As digter en sanger, dikwels uitgebeeld met ’n lier in die hand, kon Orfeus die natuur tem. Wilde diere het hom gevolg, bome en ander plante het voor hom gebuig. Hy kon die woeste golwe laat bedaar en kadans bring in die roeiers se roeibeurte. Orfeus was ook die skrywer van die “Hiëroi logoi” of “Heilige Woorde” – ’n werk wat vierentwintig boeke beslaan het en die ontstaan van die kosmos vir die Grieke verwoord het.

Die verhaal van Orfeus en Euridice het bekend geword deur die digter Ovidius en ook Vergilius se “Georgica”. In Vergilius se verhaal flirt Aristaios met Euridice, maar sy vlug. In haar vlug trap sy op ’n dodelik giftige slang en word gepik.  Orfeus was ontroosbaar. Hy wil in die doderyk – Hades – afdaal om haar te gaan terughaal, maar hy moes eers saam met die veerman oor die Styzivier kom. Hy slaag daarin om met sy sang die hellehond Serberus en ander bewakers van die doderyk te oortuig dat sy smart oor Euridice se skielike dood ondraaglik is; dat hy nie sonder haar kan leef nie. Uiteindelik aangekom by die koning van die doderyk (ook Hades) kry hy veral deur toedoen van Hades se vrou toestemming om Euridice mee te neem uit die doderyk. Op één voorwaarde. Orfeus mag op hulle terugtog na die aardse lewe nie omkyk na Euridice nie. Maar dit gebeur. Vir ’n tweede keer sterf sy. Hierdie keer in sy arms. Orfeus verloor Euridice onherroeplik.

Op enige ander tyd as die aand voor die digter Theunis Theodorus Cloete se begrafnis, sou hierdie mitologiese verhaal vir my maar net nog ’n verhaal gebly het. Maar ek sien skielik ’n tevrede glimlaggende Cloete op daardie spierwit marmersarkofaag lê. Sy familie en vriende, oudkollegas en kennisse van die Noordwes Universiteit, die Potchefstroomse gemeenskap en digters en skrywers uit die Afrikaanse literêre wêreld is daarom saamgedrom om die laaste eer aan hom te bewys.

 

sarkofaag

 

ek is die kind weer wat ek dag ek

onherroeplik was     vollengte uitgestrek

 

lê ek in die donker skuur

op die Vredefortkoepelplaas klein

op die middaguur

 

die veraf groot son pas

netjies ertjieklein-miniatuur

in ’n koeëlronde roesgaatjie in die sinkdak

 

stuur

na my ’n skerp staalblink straal

af waar ek lê op ’n lusernbaal

’n sarkofaag

 

tot in my hart deur my ondig

uitduiende en invouende ribbekas

steek die skerp spies van die sonlig

wat netjies deur ’n roesgaatjie

in die sinkdak pas

 

Uit: “Karnaval en Lent” (p.126)

 

Hoe baie het Cloete miskien nie na “Orfeus en Euridice” se verhaal na tant Anna se dood geluister nie? Hy het haar baie gemis. En hy het sy Grieks en die klassieke literatuur goed genoeg geken dat dit glad nie onmoontlik was nie. Kan iemand wat op so ’n hoë leeftyd soos by Cloete wat sy lewenslange maat verloor, ooit daaroor kom? Sou hy soos Orfeus van ouds haar wou gaan terughaal uit die dood as hy maar kon?

Cloete het in die Afrikaanse Letterkunde die natuur miskien net so digterlik besing soos Orfeus in die Griekse Letterkunde. Met sy Psalmberymings kan Cloete miskien as ’n christelike voorsetting van Orfeus se “Heilige Woorde” waardeer word.

Die begin van M.Horne se libretto van die bekende lamento in deel twee waarin Orfeus oor Euridice op die sakofaag buig, lees so in Engels:

 

Live without my dear Eurydice!

Can I live without my love?

In my woe, where can I go?

Whither wander with no love!

Whither wander with no love!

 

Eurydice! Eurydice!

Oh heaven, now tell me

Oh, tell me

I am forever thy true lover,

I am forever thy true lover, thy true lover.

 

Euridice word aan Orfeus oorhandig in die doderyk (ongeveer 400 v.C. – Marmerreliëf uit die Nasionale Museum, Napels)

 

Monteverdi was die eerste komponis wat al in 1600 die verhaal van “Orfeus en Euridice” in ’n Italiaanse opera verwerk het.  Die musiek van daardie opnames op internet dra vandag nog baie tekens van tradisionele musiekinstrumente uit die Middeleeue. Ruim ’n eeu later is dit Gluck se barokmusiek wat nog steeds aanklank vind by my en vermoedelik by baie van die eenentwintigste eeu se luisteraars. Anders sou dit nie uitgesaai word nie. Die Italiaanse tenoor Luciano Pavarotti het die opname “Che faro senza Euridice” – “wat is ek sonder Euridice”(1987) in Modena gemaak. Ook die sopraan Maria Callas (’n Amerikaanse Griek) besing Orfeus se verlange na Euridice in die opname “J ái perdu mon Eurydice” – “ek het my Euridice verloor” (in 2010 op You Tube gelaai).

Ek is egter nie die enigste leser wat Cloete aan die Griekse Mitologie verbind nie. Hier op “versindaba” se IN MEMORIAM groet Marlies Taljard uit Potchefstroom  hom met die woorde:

“Rus in vrede, geliefde Hefaistos.”

Ek verstaan Taljard se afskeidswoorde omdat sy Cloete se gedig ken waarin hy homself in die rol van Hefaistos ingeskryf het.

 

Hefaistos en die gelag van die gode

Ilias vs. 595 e.v.

 

“toe het vader Zeus my mos aan my voet gegryp

en soos ’n hamergooier op die spele

my om sy skouers gewentel

en gelos en ver uit die hemel geslinger

 

die hele dag deur het ek getrek

lank soos die son van oos na wes stort

en met sononder op Lemnos geval

 

toe was daar maar min asem in my oor

en my gebeente was gebreek op baie plekke

 

daar het die Sintiese manne my opgetel…”

 

en sy ma Hera het geglimlag

toe sy die beker nektar uit sy hand vat

terwyl die beroemde met die kunstige vingers

binnesmonds vertel

 

…toe het hy vir al die ander gode wat nooit sat

word van al die feesvier nie en welgevoed

van voorkoms nektar geskep uit die mengvat

en die welriekende vonkelende soet

drank vir hulle van regs af

bedien

en terwyl hulle drink

het ’n onbedwinglike lagbui

by die salige en fiks gode opgeskuim

toe hulle Hefaistos deur die paleis sien werksaf

en hink

 

Uit: “Heilige Nuuskierigheid” (p.99)

 

Hefaistos was in die Griekse Mitologie die god van die vuur, het een van die vier elemente van die natuur verteenwoordig en was ook ’n edelsmid. Hy het onder andere Achilles se skild en Apollo se pyle vir hulle gemaak en gesorg het dat Thetis se wapens altyd goed bly. Sy werkplekke was die Griekse eiland Lemnos en die vulkane Vesuvius en Etna in Italië. Oor Hefaistos se geboorte bestaan twee verhale. Hesiodos vertel dat toe Athene uit Zeus se kop verrys het, Hera as ’n soort teenskuif daarop die lewe geskenk het aan Hefaistos, maar sonder die tussenkoms van Zeus of enige ander god of man. Dit maak van Hefaistos van destyds ’n soort Jesusfiguur uit die Christendom van vandag. Homerus en latere skrywers vertel egter dat Hefaistos die seun van Zeus en Hera is wat met ’n byl Zeus se kop oop moes kloof, sodat Athene daaruit kon verrys. Hefaistos was kreupel en het ook ander liggaamsgebreke gehad, maar sy skitterende handewerk is in die Griekse kuns en literatuur besing. Verder het Hefaistos hom altyd met mooi vrouens omring. Homerus het in die “Ilias” die skoonheid Charis vir Hefaistos gegee en in die “Odyssee” was die “blinkogige” Afrodite sy vrou. Behalwe vir sy liefde vir sy vrou en kinders wat hy in talle gedigte besing het, skryf Cloete tot aan sy dood nog gedigte oor Marilyn Monroe. En nog is dit “het einde niet”, want hy skryf ook gedigte vir Heilna du Plooy, Joan Hambidge en Elize Botha – om maar ’n paar te noem.

Dat daar al ’n digter uit die Afrikaanse digkuns soos Cloete opgestaan het wat homself kon identifiseer met ’n figuur uit die Griekse Mitologie is nogal spesiaal. Hy bevestig daarmee sy eie akademies literêre bydrae aan Afrikaans. Dit word deur ’n letterkundige soos Taljard bevestig. Met my spontane en byna sintuiglike erkenning van Cloete as ’n eietydse Orfeus deur die uitsending van Gluck se (ballet-)opera op die vooraand van sy begrafnis, bevestig ook ek dieselfde rol. Cloete die digter. Cloete die akademiese digter met sy eie plek in die Afrikaanse letterkunde. Uiteindelik het hy nooit die kollig gesteel nie van die jonger liriese sanger Breytenbach en die nóg veel jonger politiese wekker Krog – as lesers my die growwe veralgemening van laasgenoemde twee digters se oeuvres onder hierdie spesiale omstandighede kan vergewe.

Vir Afrikaans (’n taal in kinderskoene en amptelik maar pas 90 jaar oud) is Cloete en ander eietydse digters soos Cas Vos se intrekking van die Griekse Mitologie in die Afrikaans letterkunde ’n herinnering aan die taal se onsigbare, maar baie diep wortels in die bakermat van die westerse beskawing. En die toekoms? Ek hoop dat die verbintenis van Afrikaans met Europese tale en kulture net soveel gekoester sal word soos die verbintenis van Afrikaans met Afrikatale. Albei verbintenisse is ryk spanningsvelde wat Charl-Pierre Naudé alreeds begin het om effektief in sy skryfwerk te ontgin.

Luister hier na Christoph Willibald Gluck se Tjeggiese uitvoering van “Orfeus en Euridice” soos dit op die Nederlandse televisie uitgesaai is rondom middagnag op 30-31 Julie 2015.

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Carina van der Walt. Orfeus en Euridice”

  1. Baie dankie, liewe Carina; ek het jou innige en aanskoulik-mitologiese vertolking en terugblik op ‘n grepie van ‘n merkwaardige lewe baie geniet.

    Edengroete hier uit George.
    Myra

  2. carina :

    Myra, as jy na die (ballet-)opera op You Tube wil kyk, gebruik dan die soekwoorde: “Christoph Willibald Gluck Orfeo ed Euridice – Beja Metha, Eva Liebau”. Dis werklik die volle kyktyd van 1:15:05 werd. Hier is dit so ‘n soele somersaand waarby kaalarm vroue ingedagte by hulle dakvensters uitleun, jong meisies die blomme op die vensterbanke in die straat lawe en ouens verbyfiets sonder om kamtig iets op te merk.