Melt Myburgh. Lucian Freud voor sy esel

Lucian Freud voor sy esel

(Met apologie aan N.P. van Wyk Louw)

 

Hoe dun, hoe bleek, hoe swaar sy hand wat die kwas vashou,

Elke vinger aan die draderige klou pyndeurtrek.

Hy skraap verf van die palet; skiet dit teen die doek,

Smeer en plet soos een wat weet

Binnekort gaan hy alleen vertrek,

Sonder die windhond wat eenkant lê.

 

Vol yswater sy oë, soos van ‘n gestorwe komeet, terwyl die dier

Lynvaardig gestalte kry in kleur – roes, geel, pers,

By die ballas ’n titsel blou, oor die snoet ‘n donker veeg.

Perfek die boog tussen heup en poot.

In stroke lê hy alle aardse dinge af, elke kwashaal ‘n groet.

 

As die lig yler word, sit die kunstenaar sy gereedskap neer,

Loop uit die ateljee sonder skadu of wandelstok.

 

L ’Envoi:

Bedremmeld voor die venster

Kyk die dier op na die nagruim

Waar die skutter se buitelyne hom in sterlig groet.

In die verfmengsel wat die klein planeet omgloed

Terwyl dit deur die flank van die konstellasie skeer,

Ruik hy vertroud die basis van lood:

‘n Leksel geel, bietjie amber, ‘n tikkie roet.

 

 

© Melt Myburgh / 2015

Bookmark and Share

Comments are closed.