Resensie: vry- (Gilbert Gibson)

vry.  Gilbert Gibson. (Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-7053-6.)

Resensent: Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die NWU)

Bundelomslag

Met sy vier vorige bundels, veral die laaste drie (Kaplyn, 2007; oogensiklopedie, 2009; en [vii], 2013), het Gilbert Gibson hom as ’n belangrike eietydse verteenwoordiger van die meer “hermetiese”, oftewel geslote of moeilik toeganklike soort verskuns in Afrikaans gevestig. Hierin is hy al as erfgenaam van ouer digters soos D.J. Opperman, Wilma Stockenström en Breyten Breytenbach bestempel (Andries Visagie, in ’n 2009-onderhoud elders op hierdie webwerf gepubliseer).

Gibson se benutting van saamgedronge beeldgebruik, uitgebreide verwysingsvelde en intertekstualiteit, innoverende strukturering en woordspel is as kenmerke in hierdie verband uitgesonder (deur Louise Viljoen, in ’n 2011-artikel in Current Writing). Hierby moet die ontglippende aard van sy siening van sake en van sy segging gereken word. Om woorde uit sekere gedigte in sy vorige bundels in te span: Daar is ’n “skeel kyk” en ’n “wegskramsê” in sy digkuns te bespeur. Die onseker, betwiste gebied van woorde as tekens en van ons weet / nie-weet word deur hom op die voorgrond gestel. Postmodernistiese literêre kenmerke deurspek dus sy bundels: betekenisfragmentering en -onsekerheid; die gevolglike aktiewe rol van die leser in die (re-)konstruksie van die teks; die problematisering en radikale relativering van werklikheidsbelewing; die vooropstelling van intertekstualiteit en van vasgevangenheid in taal.

[V]ry- is, as bundeltitel, een van die sogenaamd peritekstuele tekens wat verskaf word om toegang vir die leser tot hierdie bundel te bemiddel. ’n Ander is die feit dat die gedigte eintlik titelloos is (die begindeel of die geheel van die aanvangsreël dien telkens as gedigtitel). Voorts dat die bundel (luidens die PDF-weergawe wat ek onder oë gehad het) nie ’n inhoudsopgawe bevat nie, maar dat die verse daarin in drie genommerde afdelings gegroepeer is.

Om by die bundelstruktuur te begin: Die eerste bundelafdeling, wat volg op ’n alleenstaande bundelopeningsvers (waaroor later meer), kan as herinneringsverse bestempel word. Ervarings uit veral die jeugjare word vertolk: opwindend bevrydende (maar ten slotte ook ontgogelende) reise na byvoorbeeld vakansieplekke; maatskaplike rigiditeite en opstandigheidsgevoelens daarteen; ’n familielid uitgebeeld as ’n gevangene van sy omstandighede; ensovoorts. Ook word ’n gedig oor die beperkings van die geheue hier ingesluit (“oud geword u geheue”, met ’n betekenisvolle toespeling op ’n beroemde gedig van William Carlos Williams).

Breedweg gestel, staan dood, vergetelheid en verydeling voorop in die tweede groepering – die eintlik onafwendbare vordering “in die rigting van so min as moontlik”, na “rigting weg”, soos dit in die gedig op bladsy 45 lui. ’n Toespeling op Jan F.E. Celliers se bekende “Dis al” in die gedig direk daarop versterk ’n interpretasie soos hierdie.

In die derde deel lyk dit of die intieme verhoudingslewe binne huweliks- en gesinsverband min of meer sentraal staan as onderwerpsmateriaal. Hoe dié verhoudings egter deur eksterne gebeure en verwikkelinge (die dood van ’n vader; die bedreigings van ’n gewelddadige samelewing; ensovoorts) geraak word, dit wil sê versterkend óf kompliserend, is ewe sterk ter sprake. Besinnings oor digterskap en poësie gaan ook hiermee gepaard.

Die tematiese indeling is egter geensins waterdig nie, en deurlopende motiewe dra by om die eenheid van die driedeling te beklemtoon. Want die bundeltitelwoord vry- sinjaleer, met sy afkappingsteken, dadelik voorwaardelikheid, onvoldongenheid. Dit is kennelik ’n woorddeel wat eers “voltooi” word in verband of in samehang met iets anders. Dis sowel ’n teken van oorgang as van beletseling – soos ’n horison.

In die gedigte word “vry-” ’n hele aantal kere, waar dit aan versreëleindes geplaas is, gevolg deur die woorddeel “staat” aan die begin van die volgende reël – beide in sterk beklemtoningsposisies dus. So word eerstens ’n heenwysing gemaak na die Vrystaatse ruimte waarbinne die gedigte meestal geplaas is (byvoorbeeld Bloemfontein, waar Gibson woon en werk, maar ook sy landelike grootword wêreld wat deur die vermelde herinnerings opgeroep word). In bepaalde gedigte word dié gewestelike heenwysings eksplisiet gemaak.

“Horison”, tesame met woorde soos “end” en “einde”, is ’n goeie handvol kere of meer in die bundel raak te lees. ’n Mens sou kon redeneer dat die afkappingsteken (of dan – teengesteld in funksie – koppelteken), soos ’n soort horison funksioneer – ómdat dit op die grens (of “kaplyn” – dié woord duik ook in die bundel op) tussen die hier en die anderkant funksioneer. By uitbreiding gaan dit ook oor die moeilike houdbaarheid van onderskeidinge tussen die waarneembare / beleefbare / begrypbare / beheerbare en die onwaarneembare / onbeleefbare / onbegrypbare / onbeheerbare.

Die twee openingsgedigte is sleutelgedigte in hierdie verband. Hulle vertoon enkele ooreenkomste, maar ook belangrike verskille wat die bewoording betref. Die eerste, wat soos ’n (ongetitelde) motto- of voorspel-gedig deur wit bladsye voorafgegaan en gevolg word sodat dit alleenstaande is, en wat talle belangrike bundelmotiewe bevat, staan in die geheel deurgehaal afgedruk – as ’t ware deur ’n horison uitgevee. Dit lýk of dit ’n meer tradisionele digvorm aanneem. Ook deur dié soort verskuns word dus by implikasie ’n streep getrek.

die vrystaat het ’n horison voor eendag weer ’n see

en alhoeminder aarde wat ouer word in die geheue van

water/ wat voor die rant fonteine bedoel/ en tot stof

jou voete vergader// waar leë parke die slaap

van biblioteke namaak/ tot anderkant die wilgerbome

by die spruit/ waar die hart bedaar en skeibare vulkane tot

niks versaak// die horison lê bedags soos woede voor die deur

soos honde uitgestrek in die tuin/ ’n anderheilige soek na

iets wat water/ onder formele tegniek bedek// die brein

is ’n gedaante wat aspirasies faal/ wat in die styl

van vlakte nie lig in jou oë verbeel nie/ en dus snags

jou slaafsbemin/ die horison van binne af, in

Dan volg die openingsgedig van die vermelde eerste (ongetitelde) bundelafdeling. Dié keer is daar wel ’n gedigtitel: ’n herhaling van die openingsreël van die gedig. Maar die versbou is opmerklik vryer as die teenhanger wat dit voorafgaan.

die vry-

die vry-

staat het ’n horison

waarvoor ek oor die stoep kan kyk

die horison is ’n verknoopte skoenveter

wat ’n mens deursny met ’n rooi knipmes

die horison is jou tong

die horison staan in die lug voor ’n fluitspeler,

maak jou vir slange bang

die horison is subtiel soos ’n sweempie

stof op ’n baadjie se skouer

dit herroep die droogskoonmaker

die horison lê soos ’n gevalle mas

wanneer die anker lig

lê bedaard soos ’n galg

en jy is die dood

’n Hang of drang na vryheid of beweeglikheid, maar wat dan terselfdertyd fataal ingeperk staan, word gesuggereer. Nie verniet nie is plek-plek toespelings op Opperman se bekende gedig oor digterskap, naamlik “Digter”, raak te lees in dié gedig.

“Staat” in die kombinasie “vry-staat” slaan dus duidelik op veel meer as benoeming van ’n geografies-politieke gebied of ’n belewenisruimte; dit betrek ook die betekenis stasis/staties, waar laasgenoemde dan paradoksaal staan teenoor (of langs) “vry”. Sekerheid, moontlikheid en vastigheid word dus, as ’t ware onlosmaaklik, met swewendheid of beweeglikheid of veranderlikheid of selfs verval verbind.

Dié spanninge word verder opvallend gemaak deur verskillende binêre motiewepare op verskeie plekke dwarsdeur die bundel teenoor mekaar op te stel (soos reeds in die deurstreepte bundelopeningsgedig): reën en water teenoor droogte, wind en stof, byvoorbeeld; of liefde, intimiteit en rus teenoor verhoudingspanninge, woede, gesuggereerde gevaar of geweld, en slapeloosheid.

Wat ’n beskrywing van ’n liefdestoneel sou kon wees, word byvoorbeeld in die slotgedig van die bundel as ’n geweldgeteisterde, byna voëlvrye toestand uitgebeeld.

ek droom van jou ’n laaste keer

ek droom van jou ’n laaste keer in die naklank van primitiewe

voëlgeluide en jy is hier jou bruin lyf soos die kalf in die put jou

voete op gekweekte gras kaal en onaangeraak

op jou gesig glim jou sweet insekte voor lig jou hande lê gestut

jou skouers gespan asof permanent gebukkend om in tente in

te stap. jou oë is opgeneem in skadu

elke tree wat jy in die gang af gee ’n nagmars jy bly my soldaat

jy klim in my bed soos ’n verspieder klim na die rand van die berg

al wanneer jy kniel is as ’n patroon op die grond val die geelkoper

gee aanstoot in stof en dit is hier waar my slaap

in verwarring kleiner krimp die soet tatoeëring op jou arms

bevestig die treurige aard van die droom, en hoe

oorloë die droom omsoom

voor jou lê die stof van die kaplyn soos die

beloofde land daar is bloed om jou tandvleis

daar’s bloed aan jou deur

Onderskeidinge, grense en betekenisse bly moeilik te trek. ’n Bestreping, of “horisonskepping”, wat op ’n ander wyse (verstegnies) die spanning tussen vastigheid of gevormdheid en die relativering daarvan aktiveer, is die benutting van die enkele of dubbele vorentoe-skuinstreep soos dit in die deurhaalde bundelopeningsgedig en ’n hele aantal ander gedigte in vry- voorkom. Konvensioneel word sodanige gebruik van die skuinsstreep benut om, wanneer gediggedeeltes in ’n prosaparagraaf aangehaal word, versreël- en strofesnitte aan te dui. Hier word dit egter ín ’n digteks aangewend. ’n Effek van onsekerheid oor, of van die onvastheid van versreël- en strofeverdelings in die betrokke gedigte word sodoende in die hand gewerk.

Trouens, die verskunstradisie self word met agterdog bejeën – soos ook die taal as betekenisskeppende of –draende medium. Iewers in ’n gedig word, op sprekende wyse, gepraat van “’n sonnet met sinkende reputasie / twyfelagtige notas woordspelings wat min verduidelik” en wat die spreker op die “laaibak” van sy “bakkie” karwei. En luidens die gedig op bladsy 79: “die lig is nie ’n funksie van sintaksis nie / lewe is onduidelik”.

Stilisties en verstegnies sorg Gibson derhalwe dat die leser hierdie onsekerhede en ontwrigtings eerstehands ervaar. Ellipsering en sintaktiese onvoltooidhede en ineenvloeiings deurspek die gedigte, soos ook die benutting van a-logiese beeldspraak, paradokse, dubbelsinnighede en selfs opsetlike teenstellings (oksimorons). Vergelyk die volgende gedig (waarin “gewrigte”, waarskynlik bedoeld, op “gedigte” wil klink):

’n formele tegniek in jou gewrigte

’n formele tegniek in jou gewrigte kom jou kort

maar jou bene buig konsekwent

jou enkel onderhou die kleiner

soos die hak die hele gedeelte.

as jy stilstaan ontstaan ’n verhouding onder

die lig wat op jou skouer spil, leun jy terug

met die statiese onsekerheid van hare oor jou nek

en die nek buig plegtig in wording tot ineen-

storting, jou rug oor die rand waar drake

die arms as jy wakker word in die son se verskriklike

lig jou voete van voor af aan die aarde laat raak

Dikwels maak die gedigte ’n indruk dat hulle weergawes van (assosiatiewe) gedagtespraak kan wees, sy dit uit die mond van ’n ín-kennige (na binne toe), ingehoue spreker wat meermale eerder minimaal of deels verswygend kommunikeer. Hiervan is die versweë of slegs deur middel van voorlettergebruik aangeduide skrywersbronne van interteks-eggo’s (byvoorbeeld “PB” of “vWL”) al ’n teken.  Die leser moet meermaal eers uit die intertekste wat in so ’n gedig weerklink, aflei dat, byvoorbeeld, Peter Blum of N.P. Van Wyk Louw bedoel word.

Gibson beoefen ’n digkunssoort wat eers intense intellektuele betrokkenheid van die leser verg, voordat die emosionele betekenislading in die leeshandeling oordraagbaar word. Dié digterlike werkswyse word tot taamlike uiterstes gevoer in gedigte met punktuasie wat soos selfstandig betekenende elemente (soos “woorde”) ingespan word – ’n skryfstyl wat herinner aan tekengebruik in die digitale omgewing, en wat sowel aaneenskakeling as (onder-)skeiding sinjaleer. Die gedig op bladsy 40 is ’n sprekende voorbeeld:

dit.[neem:/’n.tydomtot.verhaal.te]kom

:die.reg.tot/ter.sprake\\die.bekende’.patroon

…[van.dinge.wat verander].die.tweede\\na(tuur-die verdiende loon)

{ek.sal.alles doen…is.die.[[…verhaal

++.die.pad.van.genesing/die.res.kommettyd.\\

::ons.pas.in.buigsaamheid,/.vul.

die.beste.jare.in.kinders.se.lewens\|

terwyl+ek.=.werk.aan.’n.finale..komplot

::wat-so.die.einde.[[…bepaal

’n Resultaat (risiko?) is dat die leser, selfs na herhaalde lees van die bundel, eerder die geheel van die tematiese aanpak, ook soos dit onderskraagd staan deur bogenoemde stilistiese en verstegniese elemente, onthou – en nie enkelgedigte of selfs gedigdele nie.

Geslote of ontglippend is ál die gedigte in die bundel egter nié. Veral in die slotafdeling is verse te vind wat onmiddellik tref op emosionele vlak. ’n Gedig soos die volgende is selfs “mooi”, sodat dit kers vashou by die soort liefdespoësie wat ’n mens geleer het om uit die pen van ’n Breyten Breytenbach te verwag (en aan wie erkenning gegee word in die subtitel van die gedig).

’n ruk na spreekure

(BB)

’n ruk na spreekure lei

jy my aan die hand huis

toe al met die oewer van bloemspruit langs

om die verbeende bleek van rûe kom

die skemer wind om ons hare die klere

wat ons aanhet, oor die brug en die

ongesnoeide bome hulle takke krimp

in die lig wat kwyn soos ’n verbode

blom geboue verflou voor die vrae

van herfs hoe hul vensters een-een

toemaak oor die waai van jou.

en ons sal trappe klim na ons kamer

en onder die groute van beurtkrag na me-

kaar staar en peusel aan gebakte

hoender, gemengde groente, rys; en

met die nag anderkant stilstaande gordyne

sal jy jou bloes oor jou skouers skil

die res sonder versoek (want jy is verslaaf

aan my) jy dring jouself in my

mond, word stil in die

slaap wat soos ’n akkedis

uit die bed klim en opreis

van die vloer, deur die toe ruit,

op tot in die blink laning bome,

en dan die maan

Na my mening sal die bundel beslis ter bekragtiging dien van Gibson se status as (tweemaal bekroonde) verteenwoordiger van die meer (“hermeties-”) geslote digkuns – een van die interessante tendense in die Afrikaanse digkuns sedert die millenniumwending.

© Bernard Odendaal / 2015

Bookmark and Share

Comments are closed.