Onderhoud met Emma Bekker (Skryn)

Emma Bekker  gesels oor haar debuutbundel “Skryn”

met René Bohnen.

.

Emma, wat ʼn heerlike leeservaring is Skryn! Soveel invalshoeke – juwele binne-in ʼn kissie bo-op ʼn altaar in ʼn tempel. Baie toeganklik, maar ryk verpak.

Pens-en-pootjies in jou bundel vol hoenders en kalkoene, tempels en skepe, besef ek dat die openingsgedig (bladsy 7), dien as lusmaker én as waarskuwing vir die leser wat wonder wat om van die gedigte te verwag.

Oggendrit deur Linden

.

Van Wyk se wyk se mense

woon agter hoë heinings en afgemete grense;

straataf van die huis waar Sheila se wysers sou paar

is ʼn drankwinkel, ʼn pawn shop en die Spar.

Hierin sien ek beloftes van beide interteks en alledaagsheid, asook woordspel, humor en lyflikheid.  Wat kan jy ons vertel van so ʼn geïntegreerde lewensbeskouing? Gebeur die integrasie vir jou outomaties in die digproses?

Ek glo alles is deel van die Al. Dis my sjamaniese lewensuitkyk. Vir my begin die skeppingsproses soos die kook van consommé. Mens kook dit mos met al die onaansienlike dele wat die beste geur het.

Ek praat hier van die oorskot van banketmaaltye, nageboortes, skille en wortels, wrakke van rampe, beendere en senings. Alles kom in die sopketel van my onderbewussyn. Daar veroorsaak die geroesemoes net genoeg storing vir ‘n sagte prut. Wat daar afkook, word gebruik om alles wat ek skryf, te geur. Poësie is vir my die filtraat van ‘n ervaring, verryk met daardie consommé.

In die tweede gedig ontmoet die leser ʼn nuuskierige dogtertjie wat woorde kan proe en gefassineer is deur die Taj Mahal. Later kom velerlei vreemde bestemmings aan die bod. Is jy ʼn ywerige reisiger; hoe beïnvloed eksotiese plekke jou digkuns?

Reis is vir my ‘n genot en ‘n opvoeding. Ek neem soms lank om reiservarings te verwerk en as ‘n gedig op te dis. Reise vind op verskillende maniere neerslag in my lewe. Ons verblyf in Rome in 1997 het vir ewig my kookkuns verander, maar is nog nie as digkuns vasgevang nie. Die resonansie met Argentinië was so hoog dat die woorde net gekom het. In Bali het ek iets omtrent I.D. du Plessis se hartstog verstaan, al kon ek self nog nie iets oor die magiese ervaring kwytraak nie. Ek glo wêreldreise maak die interne landskap soveel meer geskakeerd. Selfs al skryf ek nie altyd oor alles nie.

Vertel asseblief a) meer van die pragtige voorblad met sy fantasmagoriese wortel wat onder andere ʼn teepot en ʼn takbok aan sy stingels en blare dra. Dit lyk amper soos die suggestie van ʼn wit “tatoe” teen die wasige naakte vrouefiguur in halfskaduwee.

en

b) My gedagtes gaan ook na die gedig op bladsy 54, “Kalkoen in die kragdrade”. In watter mate laat jy drome (hetsy sjamanisties of ontstigtend) ʼn rol speel in die skeppingsproses? Dink jy soms drome uit ter wille van gedigte?

a) Die wasige figuur is ‘n selfoonselfie. Annemart Swanepoel, wat die voorblad ontwerp het, het met fyn aanvoeling die lyf in ‘n altaar omskep. Die lyf is immers die skryn van hierdie lewe. Die selfie is in my masseerstudio geneem, omdat ek vir my man ‘n idee vir ‘n waterverfstudie wou stuur. Die eindproduk was alles wat ‘n selfie nie moet wees nie: te kwesbaar, te dof, te donker, te ontblotend, te ambivalent. Annemart se skrynkrans van simbole is ‘n sjabloon van arkana op die eietydse.

b) Hierdie droom het my werklik een nag op die lyf geloop. Ek moes dit in ‘n gedigvorm vaslê om sodoende te sien of ek daarvan kon sin maak. Op ‘n sjamaniese vlak het die neerskryf van die droomgebeure my insae in my ouma se lewe gegee.

Drome dien my as digter op verskillende maniere. Daar is beelde wat in drome verskyn wat so bisar is, dat mens dit iewers in ‘n gedig moet inwerk. Ander kere verbind drome oënskynlik onverwante dinge met mekaar. En sekere gedigte repliseer die verwarring van die droomwêreld. Ek dink hier aan ‘n gedig soos “Die weduwee Macdonald.”

Teen die agtergrond van tempels en die liggaamlike, word die verhouding tussen man en vrou dwarsdeur die bundel ontgin. Ek vind die samesmelting van elemente pragtig in die “Boeremantra” (44) met die aanbeveling dat ʼn drinkplek vir die sater gelos moet word.

Buiten Sjah Jahan en Mumtaz (en Wyk en Sheila) lees ek ook ander pare raak, byvoorbeeld Maria draai en tol, terwyl Enrico staan en tuur;/Maria vloei soos water, Enrico gloei soos vuur./ in die sensuele gedig “vir Astor” (46) en dan natuurlik die minnaars op hulle winterwittebrood wat “Nag na nag skommel (…) op ’n dubbelbedskip met slap vere”.  Word al hierdie “jinne en jange” vir jou ook metafoor vir die digkuns of, anders gestel, dalk, in watter mate is liggaam en tempel één?

Hierdie lyf is die skryn van my bestel. As dit nie deur die lyf beweeg nie, bestaan dit nie. Ons is stemvurke vir die groot energie. Ek hou daarvan om my liggaam as die vleesbevange kerk te beskou. Mens moet nooit vergeet dat ons ganse wêreld aan mekaar gehou word deur die stroom wat weens die spanning tussen pole geskep word nie.

Jy timmer baie vernuftig aan die konvensies van volksryme, kleutersange, moppies en kwatryne om ʼn verwysingsdoek en intertekstualiteit te bewerkstellig. Jy verwys ook spitsvondig na limerieke as “die digkuns se slette” in die slim gedig Ars poetica (45) . Is die rym en ritme vir jou so moeiteloos as wat dit voorkom? Jou bundel en die begrip “skryn” laat my ook dink aan ʼn music box omdat dit dikwels so melodieus is. Gebeur die musikaliteit outomaties in die verse? En mag ek ook vra of jy dalk wel met vaste vorme soos die sonnet of villanelle, byvoorbeeld, flankeer?

Ek is ‘n gebore flirt wat daarvan hou om vaste vorms uit te daag. Dis so bietjie soos om die linte van ‘n stywe korset los te sny: daar is dalk minder te sien van die vorm, maar groter toegang tot die lyf. Miskien is dit hoekom ek so lief is vir parodie. Die hofnar hou daarvan om die draak te steek met konvensies. Dit dwing mens om op ander maniere na die bestaande inhoud van dinge te kyk. Ek bewonder wel die vakmanne wat hulle gedagtes met afgespitse erns in sulke vorme kan giet.

Dis heerlik om met lesers se verwagting te smokkel. Dis deel van ‘n diepgesetelde speelsheid wat in my vesels sit. Hier is die wêreld van molekulêre gastronomie vir my ‘n inspirasie: Ferran Adria, een van die wêreld se pioniers op die gebied, het byvoorbeeld op ‘n stadium besluit om die essensie van ertjies in kaviaragtige pêrels te omsluit. Dit proe soos ertjie, maar lyk soos kaviaar!

Ek het in my tienerjare my eie liedjies begin skryf, en op universiteit kabaret ontdek. Om ‘n liriek te skryf, dwing mens noodwendig om ritme en rym in ag te neem. Met kabarettekste kom die uitdaging om die ironiese lem in ‘n  gemoedelike skede te versteek, saam met die rym en die ritme. En uiteraard moet die teks aanpas by die melodie. Rym en ritme kom vir my baie natuurlik. Ek moet myself soms dwing om eerder die rym te verbreek, ter wille van ‘n gefragmenteerde effek.

Met die mes as lieflike herdenkingsgeskenk op bladsy 53 en “Jael se wiegelied” (71), tref jou besondere ironiese aanslag. Jy slaag deurgaans daarin om humor na moeilike situasies te bring of om ernstige filosofie mee te belig (soos bv by die hadida se uiters geslaagde tuinmaakproses – ʼn oomblik wat nuuskierige aankopers gerus kan gaan soek in die bundel!)  Hoe ervaar en bedryf jy ironie en humor as verstegnieke en selfs oorlewingstegnieke?

Ons word in die oer-ironie gebore: ons eerste asemteug is ‘n oomblik nader aan ons dood. Ironie is die element wat diepte verskaf aan elke menslike ervaring. Dit is ongelukkig ook die ding wat die mensdom graag met sentimentele wol probeer toespin. Teenstrydigheid in dinge maak baie mense mos sielsongelukkig.

Ek glo dat geluk lê in die vermoë om te kan lag vir ironie. Dit is ‘n ingrypende deel van my lewensuitkyk en dit word dus maar onafwendbaar deel van wat ek skep. Ironie is die ondertoon van humor en satire, afhangende van die skerpheid van die tong en die insig. Ek glo ook dat die vermoë om ironie te kan raaksien, ons van ons argwaan verlos en ons met ons diepste aanvaarding van ons menslikheid verbind.

Emma, ek hou vreeslik baie van “die digteres as masseuse” (70), met sy treffende slotreël oor hande en olies. Vertel iets van die beelding en miskien ook die duidelik outobiografiese strekking daarvan, as jy nie omgee nie.

Ek werk as ‘n masseuse. Straat-af van die huis waar Van Wyk Louw sy laaste asem uitgeblaas het. Ek sê altyd grappenderwys: “I am a masseuse and a writer. I have ugly hands and a dirty mind.” Niemand wat saam met my op skool was sou kon raai dat ek ‘n lewe van handediens bo die akademie of die teater sou verkies nie. Vreemde gawes vat jou op vreemde roetes. Nou werk ek as ‘n soort “voorstedelike sjamaan.” My hande vryf metafore en mitologieë uit ander se lywe uit. My vingerpunte is petriebakkies vol mikroverhale. My brein is ‘n swakverligte lens en my mond ‘n primitiewe dataprojektor. Mense kom na my toe om ‘n kraaines van storielyne wat agter knieë en enkels en in heupgewrigte vasgekoek sit, tydsaam te ontrafel en in ‘n bol te spin. Die lyf berg nie leuens nie.

Die wêreld waaroor jy skryf is klein en bekend, maar magies en wyd – saamgesnoer die heelal wat in sterre lag en die klein messie wat  ʼn roos uit die radys ontsluit. Blomme, kruie, groente en kwantumfisiese partytjiediere vertoon die digter se heerlike algemene kennis en organiese belangstelling in ʼn fisiese wêreld. Is jou kombuis ʼn laboratorium? Is daar planete in jou tuin?

Laat ek begin deur my kinders aan te haal: “Mamma, jy is baie random”. My kombuis is ‘n hart en my tuin is ‘n long. Ek is intellektueel promisku,  ‘n nuuskierige aag,  sitkamer-hedonis, onbeskaamde smulpaap, slaapkamerfilosoof en aandagafleibare naaister. My kop en my huis is ‘n rawenes, vol onsamehangende blink voorwerpe tussen al die strooi. Daar is kinders, katte, mense wat goed maak, musiek, boeke, instrumente, choas en liefde. My man sê dis alles waar. Hy sê ook ek is die enigste digter wat hy ken (sy pa is ook ‘n digter) wat op die naat van haar rug op haar selfoon lê en skryf. Wat was die vraag nou weer?

En dan: “laat my omkom soos kom wees” sê die ek-spreker in ʼn vitale gedig wat die sirkelgang van lewe en dood besing. Word die skrynende en die pyn wat byvoorbeeld in die kinderonkologiesaal voorkom, of in Darfoer plaasvind, hierdeur besweer? Of is dit die sjamane se werk; hulle wat “ander se siektes eet”? Die gedig oor die San Ignacio ruïnes is aangrypend, soos ook die lelike hande in ʼn ander helende gedig. Emma, hoe het jy loflied en treurlied so knus in dieselfde kissie gepak?

Hierdie antwoord bring my terug na my verknogtheid aan ironie. Ons menslike liggaam is vol teenstrydighede: ons skei uit wat ons inneem en breek af wat ons opbou. Vir die liggaam om gesond te bly, moet al hierdie prosesse in wans bly. Dit is vir my belangrik om daardie soort balans in alles wat ek doen te probeer handhaaf. Ek soek die pole naby mekaar, want ek is nuuskierig om te sien watter soort stroom hulle gaan opwek. Ek wil hê hierdie ongemaklike dinge wat so teenaan mekaar ingepas is, moet ‘n stroom van gesprek ontketen. Dis waar die sjamaniese proses van transformasie begin: die gesprekke rondom die skrynende.

Die laaste gedig in die bundel is nogmaals kort en kragtig; ʼn kwatryn. Lieflik draai jy ʼn bekende gedagte mooi op sy kop: slotte is sleutels. Hier word ʼn nuwe verhouding, ʼn gedeelde geheim en ʼn paring geaktiveer – jy skryf dat  ʼn sleutel en ʼn slot hulle eie gebod maak. (Alweer ʼn tempelwoord!) Emma, ek wonder waar die sleuteltjie wat die krytblik met sy “tas mahaal” moet oopsluit deur jou weggesteek is?

Andersoortige spiritualiteit en onkonvensionele vroulikheid is natuurlik twee van die groot relikwieë wat in my skryn lê. In “Skoondier” word die wilde vroulikheid besoek.

Skoondier

.

Die rooikat ken net die rooikat.

Alles anders is die verkenningsveld.

Voorkennis is ’n reuk of ’n klank,

die stank van sentiment bederf geen oordeel nie.

Die dood is bloederig en suiwer,

die binnegoed die maklikste om te verteer.

Daar is aasvreters wat die agterlaat

van senings en been waardeer.

Die rooikat word nie gesien of gehoor nie.

Sy los haar spoor op die tapyt van die nag,

dis hoe sy jag,

omseilend en ontwykend van mensesinne.

Die slagysters van woorde

is haar gespaar.

.

Jag is jag,

paar is paar.

Die wind is wind,

tot dit bedaar.

Bloed is warm,

die maan is bleek,

gras is ’n skuilplek

wat die lyf versteek.

Die skoondier is vir niks onlief nie.

Een laaste leidraad in die leser se oor gefluister…?

“Die dood van Raponsie” handel oor die vormverandering van vroulikheid. En ‘n spel tussen die jin en die jang binne een liggaam.

Die dood van Raponsie

.

Vandag grawe ek

vir sy klimmery ’n graf.

Sy gewig

vervreem

my kopvel

van my kopbeen,

my nekwerwels kners

tussen ophys en kophou.

So verdig

ek die luike van my ore

teen die orfiese trek van sy lokstem,

ek sny my vlegsel teen die lewe af.

Vanaand wag ek hom

met ’n nuwe kapsel in:

’n afgestompte Raspoetin.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Onderhoud met Emma Bekker (Skryn)”

  1. marie bredenkamp :

    Ek het my nou so diep ingelees in hierdie gesprek dat ek opgestaan het en die bundel begin soek het. Helaas, twee maande verwyder van julle. Baie dankie Emma. En geluk René. (die gremlins het my kommentaar ook gevreet, maar kom ons probeer weer.)

  2. René Bohnen :

    Dankie Marie!