Gisela Ullyatt. Wat het van Meyer van Rensburg geword?

2015-09-11 18 12 26_resized

’n Paar weke gelede ontvang ek ’n besonderse retro-geskenk in die pos van my dig-mentor: ’n kopie van die 1983-debuutbundel, Klankmanwoordboom, deur Meyer van Rensburg. Jare gelede het ek reeds na hierdie bundel begin soek, maar hierdie soeker kon niks vind nie: tóé jare reeds uit druk.

Ook werp ’n soektog op die internet oor beide bundel en digter geen vrugte af nie. Ek kon nóg resensies nóg biografiese inligting vind. Die Groot Verseboek (Junior in Geel (1989); Senior in Kakie-groen (1990) en Die Dikke in Moerbeirooi (1990) asook die geblikte uitgawe van 2008 sluit geen Meyer van Rensburg-gedigte in nie. Helaas, ook nie Poskaarte, saamgestel deur Ronél Foster en Louise Viljoen nie. Die Senior Verseboek se 1991-uitgawe het wel twee gedigte opgeneem: ‘Drieankerbaai, 19 Julie 1965’ en ‘Klankmenger’ (243-244). Versjoernaal (2008) het ook ’n kort bespreking van die ‘Drieankerbaai’-gedig en ’n kort biografie. Andersins is daar weinig beskikbaar.

Wát het van Meyer van Rensburg geword?

Hy bevind homself weliswaar in die land van die lewendes en kon ek met hom op facebook en later per e-pos kommunikeer. Ek sien myself as besonder geseënd met al die inligting, materiaal en foto’s wat ek van hom ontvang het, in ’n baie kort bestek van tyd.

Om die leser dus bekend te stel aan Meyer (of herbekendstel), stippel ek allereers sy biografiese besonderhede uit wat op ’n e-posonderhoud wat ek met hom gevoer het, gebaseer is.

FB_IMG_1441984186209

Meyer is op 4 Julie 1944 te Upington gebore, maar het op ses-jarige ouderdom saam met sy gesin na Warrenton  verhuis (tot aan die einde van sy standerd sewe-jaar/graad nege). Hy was ook altyd die ‘baba’ in sy skoolklasse omdat hy Sub-A oorgeslaan het. Sy pa is ‘n boorling van Ceres en Meyer het dus van kleintyd af kennis gemaak met die plant en snoei van vrugtebome. Hierdie kennis ontkiem en bot jare later in Klankmanwoordboom wat onder meer snoeityd en okkulasie as beeld en metafoor ontgin.

Na sy pa se afsterwe verhuis hy en sy gesin na Brits waar hy matrikuleer. In 1962 sluit hy by die SAUK as klankkontroleur in die ou gebou in Commissionerstraat aan. Later is hy werksaam by Springbokradio-ateljee. Hier sluit sy “pligte” (tans sekerlik genoem die gewraakte ‘Key Performance Areas’) die volgende in: om al die plate, bande en spots (kommersiële boodskappe) teen die korrekte spoed en op die regte plek te speel. Hierdie ondervinding het hom later handig te pas gekom: nie net in die musiekbedryf nie, maar ook in sy debuutbundel.

Rondom 1966 word hy ’n musiekopname-ingenieur en is hy betrokke by opnames van jazz en ‘ligte musiek’ wat ook Boeremusiek insluit (in Ateljee 3A). Die volgende gedig, ‘Konsertinaspeler’ (1983:42), word ook in Gerrit Komrij se 1001 Afrikaanse gedigte (1999) opgeneem. Die gedig is op die konsertinaspeler, Nic Potgieter geskoei:

Kop omhoog, met oë toegeknyp,
soek hy knoppies soos ’n blinde
toe sy vingers verruklik
in ’n heel ander wêreld sing.
In die lig
van sy blaasbalk se vuur
sien hy, weggevoer
na sy eie stukkie hemel,
hoe kras die terugkeer
na ’n agterplaas vol varkvoer,
tussen semels.

In 1972 aanvaar Meyer ’n pos by R.P.M.-ateljees wat sy ‘ruk-en-rol-dae’ inlui. Alle bekende Top 20-musikante van Suid-Afrika het hier opgeneem. Hy verwerf bekendheid met sy opnames van die orkesleier, (kommersiële musiek met big band-instrumente) Dan Hill. Hy werk ook saam met John “Mutt” Lange wat later wêreldbekend word vir sy werk met veral AC/DC. Verder werk Meyer ook saam met 4 Jacks & A Jill (met Glenys Lynne); Lionel Peterson, Richard Jon Smith, Jonathan Butler en vele meer.

Meyer saam met die jazz-musikant/orkesleier, Dan Hill.

Meyer saam met die jazz-saksofoonspeler, Bez Martin, circa 1972.

Meyer word ook ’n bekende liedskrywer (hy verpes die woord ‘liedjie’). As musiekopname-ingenieur het hy gedurende die vroeë sewentigjare ’n paar Afrikaanse kunstenaars opgeneem, maar nié die swak lirieke waardeer nie. Dan Hill daag hom toe uit: skryf jý dan beter lirieke vir ons. Bekende lirieke volg: Ramaja; My hart het ’n kleine venster, Haai Casanova (vertolk deur Glenys Lynne/4 Jacks & a Jill) en veel meer. Meyer ontmoet ook sy vrou, Lorraine (Lainie) deur hierdie gemeenskaplike sfeer; sy was betrokke by musiek-publikasie. Hulle is vanjaar 37 jaar getroud.

Die skryf van lirieke was ’n belangrike leerskool vir Meyer wat algaande meer in die digkuns begin belangstel. Hy word groot in ’n huis waar boeke hooggeag word, veral deur sy pa, wie as vyftien- en sestienjarige in die Anglo-Boereoorlog geveg het. Meyer se pa was ’n tolk/vertaler vir die Hof in die destydse Suidwes-Afrika en was vele tale magtig: Afrikaans, Nederlands, Duits, Swahili, Koi-koi (toe bekend as Boesman).

Hy skryf sy eerste gedig “nadat ek ’n bundel van Ingrid Jonker se gedigte gelees het en, terwyl ek gestaan en wag het om te betaal in ’n parkeergarage, het die eerste paar reëls van die gedig wat aan haar opgedra is by my opgekom. Daarna het ek ernstig begin skryf’. Die gedig waarna hy verwys, ‘Drieankerbaai, 19 Julie 1965’, is ook ’n gedig wat positief deur resensente ontvang is: Joan Hambidge noem dit ‘die mooiste vers in die eerste afdeling’ (Beeld, 4 Julie 1983) en TT Cloete skryf soos volg (Oosterlig, 27 Oktober 1983):

Dit is nie verniet nie dat dit hier om digters gaan, want as Van Rensburg oor Ingrid Jonker skryf in Drieankerbaai, 19 Julie 1965 speel hy met Jonker se eie woorde op ’n interessante manier. Die klank as tema en as saak is botoon in Van Rensburg se debuut.

Ek haal die bostaande gedig aan vir lesers wat dit nog nie gelees het nie of wil herlees (1983:21):

My lyk lê uitgespoel in wier en gras …

Die son was ’n kind se ligte ballon
hoog teen die diepblou lugplafon
toe jy die pad van jou liggaam soek
tussen kranse met digte mos oorkoek.
Waar elke golf soos ’n hond teen jou spring
met ’n sonnetjie groot in die blou halfkring
skryf jy versies teen strandonkruid
maar die waterse hand vee dit ritmies uit.
Die kabouterman met die aardbolkop
het die geellyf-maan se pens ingeskop:
vind jy ontvlugting in oker rook
of as jou kantelson die see laat kook?
Soos woorde oor die bleekwit strand
groei ’n seewierklad met ’n reikende hand
wat jou vir ’n see-instappie lok.
Jy neem jou woorde se brons sonklok
na Meneer Vergeet oor ’n donkermaan-trap
waaroor jy met poplapvoete stap.
Was die bitterbessie-dagbreek-vrou
wat jou woord ons laat onthou
die beeld wat jy vir ons wou laat?
Jy wat met donker strome praat
laat vroeër of later
jou nageslag blink lê in die water
want jy was ouer, dog ook jonker:
die see is lig en die see is donker.

In 1976 aanvaar Meyer ’n aanbod van die SAUK om regstreekse TV-musiek shows uit te saai. Dit is hier waar hy die eerste keer kennis maak met die mikrofoon-hangstok wat veral in flieks gebruik word. Dit is ook beter bekend in Engels as ’n boom en losweg vertaal, ook ’n ‘klankboom’. Hierdie leitmotief word deurgaans in Klankmanwoordboom ontgin.

Nadat die manuskrip reeds by die uitgewers was (1982), kom Meyer te staan voor ’n persoonlike kruispad: in sy gedigte eksploreer hy die soeke na God deur spesifieke metaforiek wat op die drie elemente (en afdelings) in die titel sinspeel: ‘klankman’ (ook ‘klankboom’); ‘woord’ (‘Woord’) en ‘boom’ (ook ‘stamboom’ wat na ’n genealogiese stamboom verwys, maar meer belangrik, ook na die Afrikaanse kanon, dus die digterlike stamboom. In 1982 neem hy die besluit om die res van sy lewe aan God te wy. Later verwerf hy verwerf ’n Ph.D. in Teologie en tree in 2013 af as senior dosent en akademiese dekaan by die South London Christian College. Voor hy na Engeland emigreer, saai hy regstreeks uit as deeltydse omroeper by Radio Kansel. Hy ontmoet onder meer sportmanne soos Jonty Rhodes, Peter en Shaun Pollock, Hanneke Meyer en die Olimpiese swemmer, Penny Heyns.
Hy gee tans deeltyds klas; preek in Londen, Plymouth; Pole en van tyd tot tyd, in Suid-Afrika.

Hou Versindaba dop vir ‘n opvolg oor Meyer van Rensburg: ’n foto-album wat die digter se lewe en skilderwerk toelig en gepaardgaande inligting. Daar is ook latere, ongepubliseerde gedigte en resensies wat temas en motiewe in Klankmanwoordboom vir die leser aktiveer.

Bibliografie

Cloete, T.T. 1983. ‘Dié digbundel meer as gewone’. Oosterlig, 27 Oktober 1983.

Hambidge, J. 1983. ‘Drie digters se debuutbundels’. Beeld, 4 Julie 1983.

Malan, L. et al. 2008.Versjoernaal – Nuwe benadering tot poësie. Pretoria, Kaapstad: Best Books, pp 236.

Van Rensburg, M. 1983. Klankmanwoordboom. Kaapstad: Human & Rousseau.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Gisela Ullyatt. Wat het van Meyer van Rensburg geword?”

  1. marie bredenkamp :

    Hoe heerlik bring jy nie die ouer inligting hier bymekaar nie! En open ‘n luik op ‘n vertrek wat ek nie eens geweet het bestaan nie. Dankie Gisela!

  2. Gisela Ullyatt :

    Baie dankie Marie, ek voel dis hoogtyd dat hierdie bundel weer aandag geniet. Asook die digter!