Resensie: skryn (Emma Bekker)

skryn omslag

skryn deur Emma Bekker. (Protea Boekhuis, 2015, ISBN: 978-1-4853-0477-7, Formaat: Sagteband, 96p.)

Resensent: Dr Amanda Lourens

Die woord “skryn” is waarskynlik meer bekend in die afgeleide vorm “skrynend” of “skrynerig”, met die betekenis van pynlik of brandend, volgens die HAT. Die werkwoord “skryn” het veral die figuurlike betekenis van “ ’n [b]randende pyn gee of kry deur iets wat skaaf of druk”. (Soos die uitgewersteks by die resensie-eksemplaar aandui, hou die werkwoord ook verband met ’n skrynwerker se aktiwiteit van skaaf en skuur, dus ’n afwerkproses). Daarnaas is daar ook die (verouderde) selfstandige naamwoord met die betekenis van ’n “[m]ooi bewerkte kissie vir kosbaarhede” (HAT).

Die gedig “een nag op ’n trein na pretoria” (die eerste gedig in die eerste afdeling) is op meer as een manier ’n sleutel tot die bundel skryn deur Emma Bekker. Maar voordat die kodes in hierdie gedig ter sprake kom, is dit opmerklik dat die slotgedig in die bundel die titel “Die skoonheid van slotte” het. Hierdie slotgedig is ’n netjiese stukkie woordspeling wat ook op ’n verdere vlak oor die aard van betekenisgewing spekuleer: “’n Sleutel en ’n slot / maak hul eie gebod. / Die verloop van tyd / kan slotte ontsluit.” Die leser word dus aan die einde gewaarsku dat betekenis ook iets is wat oor tyd heen beslag kry. Terugskouend besef jy as leser dat die beste leesstrategie tot hierdie bundel een is waarin betekenis toegelaat word om mettertyd tot stand te kom, omdat die hele bundel as ’n soort organiese geheel funksioneer. Dit is juis ook hierdie aard van die bundel wat dit moeilik maak om die geheel as ’n lineêr ontwikkelende entiteit te beskou – eerder as wat die versameling gedigte vorentoe beweeg in die rigting van die slot, wys die gedigte oor die bundel heen na mekaar, word daar terugverwys, en kom betekenis in ’n soort sirkulêre eenheid tot stand.

In “een nag op ’n trein na pretoria” (pp.10-12, duidelik met die Briel-treffer as interteks) kom die reistema (wat later ook in die bundel figureer) reeds aan die orde, maar hier vanuit die perspektief van ’n dogtertjie wie se krytblikkie met die afbeelding van die Taj Mahal daarop haar anker is te midde van ’n reis wat haar na buite die grense van Suid-Afrika geneem het. Tog is die krytblikkie nie net ’n skryn deur middel waarvan sy aan die kosbare bekende vashou nie – dit word eerder ook die teken van haar nuuskierigheid en fassinasie met eksotiese plekke en verhale. Die res van die bundel is dan ook in ’n groot mate die kreatiewe neerslag van die reise (fisies en spiritueel) waarop die digter gaan. Soms neem hierdie reise haar na die vreemde waar haar tong gereed is “om die kurwes van ’n taal” aan te leer (“Tweede wittebrood”, p.32), en soms word ’n spirituele reis onderneem deur die bemiddeling van haar tuisstad: “dié wat vir jou toemaak, sien net duisternis en vrees / wie hul vir jou oopstel, word van ’n blindheid genees” (“jozi-blues”, p.18). Sentraal tot al dié reise staan ’n sensitiewe en spesifiek vroulike waarnemer – die “curious girl” wat vrae oor die onbekende stel, eerder as om konvensie na te volg:

[…]

“Wat sê jy vir die oom?”

ek kyk na my krytblik en sê

vertel nog van die tas mahaal

Die bundel ondersoek die verskillende betekenismoontlikhede van die woord “skryn”, en word in die proses ook sélf ’n skryn, maar sonder om net ’n bewaarplek vir woordkosbaarhede of sentimente te word. In hierdie geval is die bundel dalk eerder die houer of ruimte waarbinne veelvuldige betekenisse voorlopig geberg word, om deur die leser verwerk en met mekaar in verband gebring te word. Die skryn van die bundel word op hierdie manier ’n gedeelde ruimte, eerder as wat dit die indruk skep van ’n selfkoesterende opgaarplek van sentimente. Aan die een kant is daar ’n voortdurende bewussyn van die kunsskeppingsproses wat ook “skrynwerk” (luidens die titel van die vyfde afdeling) is, maar dan is dit veral ’n proses wat deur die handeling van dóén, voltrek word. “Die digteres as masseuse” (p.70) is ’n baie goeie voorbeeld van hierdie verkonkretiseerde siening van kuns:

[…]

’n Onvoorsiene storm het my skip gesink

en al my woorde het verdrink.

Maar my hande is gered

en kon voelend ’n pad deur die vis vind.

Stomgespoel op ’n vreemde strand het ek begin verstaan –

my hánde moet na Nineve gaan.

Aan die ander kant is daar die eiesoortige seggingswyse in die bundel, wat as Bekker se unieke interpretasie van “skrynend” gesien kan word. Die toonaard van baie van die gedigte is inderdaad snydend, brandend of skrynend, maar die digter slaag daarin om dit indirek te hou, waarin die trefkrag daarvan lê. Telkens word ’n bepaalde spanning op subtiele wyse in fokus gebring, soos byvoorbeeld in die derde van die “Kombuiskwatryne” (p.52):

’n Ou welkokende Maleise keukenmeid

klim soms slu en laggend uit my voorskootsakke uit.

En wie dan eet van daardie blatjang, geelrys en bobotie,

weet hierdie spyse kom nie uit ’n duusvrouskoot nie.

Dit is waarskynlik moontlik om te beweer dat Bekker se spesifieke inkleding van “skrynend” die gevolg is van ’n samekoms van woordspel, ironie, ’n sin vir konkrete beelding en droë humor.

Bekker verkry hierdie effek veral in die korter gedigte waar daar ook heelwat aandag aan struktuur gegee is. “Herdenkingsgeskenk” (p.53) se netjiese sintaktiese opbou, tesame met die knap beredenerende inslag, ondersteun die onderspeelde – maar tog skrynende – boodskap oor die verwikkelde aard van menslike verhoudings:

Dit was nie ’n edelsteen of duur parfuum nie –

dit sou te min vereis van jou en selfs nog minder

dui op jou gevoel vir my. Dit sou my juis hinder

as jy die geskenk goedsmoeds kon neerlê in my skoot.

Ná tien jaar het jy my genoeg vertrou

om met jou eie hande iets vir my te maak – ’n kleinood,

want jy ken my doodsteek goed. Die skaaf en slyp,

soos ons met mekaar ook maak, is tot dié dag geheim gehou.

“Hier is iets vir jou, maar dis dalk héél onvanpas,”

aarsel jy, voor jy die geskenk te voorskyn bring.

Jy gee aan my ’n mes, hartstogtelike staal en hout –

almal weet tog hoe ’n lem geliefdes kan verras.

Dieselfde knap omgang met sin en versreël word in “Teer beleg” (p.63) gesien, wat ook gelees kan word as ’n ars poëtikale gedig waarin ’n gestroopte (oftewel skrynende) segswyse bepleit word:

Gedigte wat uit spervuur gebore word, is ontdaan van verdigsel.

Ligselle vonk uit koeëlkamers en koek saam om meer sekuur

die teikens om die gevalle ego te tref en so die self

te onthef van die dodelike balsem van sentiment.

Die mooi beskrywings sneuwel sonder seremonie

tot net die rou nerfpunte van naamwoorde en werkwoorde oorlewe.

En in hul smeulende dampkring word veldslae vergewe.

Dan word ’n skrynend helder insig in die aard van menslike verhoudings soms te midde van ’n meer uitgesponne gedig aangebied, soos in “kaalvoetstap in stilbaai” (pp.86-87): “ek hou van die see soos van ’n verlangse vriendin / dalk sal ek haar begin verag as ek haar beter ken”.

Die vroulike waarnemer put veral uit die wêreld in en om haar huis, soos reeds gesuggereer word deur “Oggendrit deur Linden” waarmee die bundel open (en ook nie in ’n bepaalde afdeling geplaas word nie). Ten spyte van die buurt se alledaagsheid, sluimer die kreatiewe verbeelding te midde van die gewoonheid van “’n drankwinkel, ’n pawn shop en die Spar”, soos moontlik gesuggereer word deur die verwysings na Van Wyk Louw en Cussons. Soos die bundel egter ontvou, is dit duidelik dat die vroulike verbeelding aan die werk is om gewone ruimtes te omvorm om ook iets van die magiese en sjamanistiese te verkry.

So is daar die siening van die eenheid van dinge waar die natuur sy gang gaan ten spyte van die mens se pogings tot beheer (“Die vryskut-groentetuin” p.14). “Tuin-ode” (pp.16-17) is ’n geslaagde intertekstuele spel met die Langenhoven-vers en volkslied van die ou RSA, maar waarin die digter haar fisiese ineengestrengeldheid met die natuurlike uitsing, terwyl sy ook bewys lewer van haar goeie sin vir ritme. Daarnaas verklaar die digter haar gebondenheid aan die stad Johannesburg in “jozi-blues” (p.18), en dui daarmee aan hoe verbintenisse nie noodwendig aan herkoms verbonde is nie: “ek is nie in jou gebore nie, maar in jou is ek geplant” .

“terwyl ’n mens wegkyk” (p.20) benadruk die mag van die oerinstink in die gegewe van die “skootkat” wat die veilige ruimte van die huis verlaat:

Sy sal hom altyd weer gaan opsoek

in onbewaakte nagte

en hare afgee op sy skoot,

want die onverskrokke skootkat

weet hoe diep smag soort na soort.

Dieselfde gedagte van die natuurlike aard en instink word ondersoek in “Wilde Kanis” (p.23), waar die spreker haar met die “[…] wildewragtig, / die Toendra-oog wolvin” assosieer. Soos Hambidge (2015) ook in haar resensie van die bundel uitwys, word die leser dadelik herinner aan Clarissa Pinkola Estés se bekende werk Women who run with the wolves: Contacting the power of the wild woman, wat vroue herinner aan die ongetemde aspek in die vroulike psige wat ook die bron van energie en kreatiwiteit is, maar normaalweg binne die patriargale opset onderdruk word. Dit is hierdie ongetemde vroulike aspek wat in skryn veral verbonde is aan die magiese en die sjamanistiese, wat die mag van die onderbewussyn besef en wat uit die helende kragte van die natuur kan tap, soos in “Medisyneryme” (pp.77-78) gesien word. “Ode aan Marie Laveau” (p.74) (na Marie Laveau, die negentiende-eeuse voedoe-praktisyn in New Orleans) werk ook met die gegewe van die vrou as die een wat met die magiese en helende in verbinding is.

In “Skoondier” (p.80) tree die rooikat op as die figuur wat in noue kontak met die natuurlike is, en buite die wreedheid van taal en die dubbelsinnigheid van menslike betekenisgewing staan. Tog word woordspel ingespan om die betekenis van die gedig te laat ontknoop: Die rooikat is die “skoondier” wat vir niks “onlief” is nie, oftewel, wat met die eie en groter natuur in voeling is. “Skoondier” is dan ook ’n meer geslaagde gedig as byvoorbeeld “Die heelal lag in sterre” (p.94), wat ’n soortgelyke tema het. Hier word naamlik staat gemaak op beelding wat ietwat voorspelbaar lyk: “Ons deel eers die Kosmos se gelag / as ons met die Groot Verskiet versmelt / en deel word van die nag.”

Die meerderheid van die gedigte in skryn oortuig die leser van Bekker se vermoë om ’n geslaagde gedig te kan skryf. Haar beste gedigte is dié waarin sy skerp en bondig formuleer, en teen die verleiding van oorskrywing waak. Ongelukkig word ’n potensieel baie goeie gedig soms ontsier deur juis die neiging van die digter om haar hand te oorspeel, sodat die spel met betekenis as’t ware deur ’n oorlading van klank en beskrywing vermoei word, soos in “Die innerlike mevrou” (p.15) gebeur:

Ek wil nie meer my gedagtes in uitgerekte truie indruk nie –

die vet weet, ek is moeg vir uitgewaste uitdrukkings

en gaterige idees wat met dun gare aanmekaar geflans is.

Deurdruk en aanhou het my versugting afgespits:

Ek korset my koketterige denke

in verweefde sinne wat ek met dubbeldraadbetekenis aan mekaar naai.

Hierteenoor staan ’n meer gestroopte gedig soos “Die geheim van beddens” (p.25) wat met onderspeelde humor wys hoe verganklik die mens en sy maaksels is, maar hoe die biologiese voetspoor tóg bly:

Huisraad berg geheime op maniere wat verras.

’n Bed met stoere houtraam en uitgediende matras

hou net lank genoeg sy lag oor die pret waaraan hy aandadig was.

Aan klapperhaar en ysterveer klou die boustof van ’n bloedlyn vas.

’n Ander mankement wat hier en daar sigbaar raak, is die neiging tot die voorspelbare, oftewel waar die digterlike verbeelding miskien té naby aan die gemeenplasige kom, soos byvoorbeeld in “Winterwittebrood” (p.29) se tweede strofe gesien word:

Nag ná nag skommel ons op ’n dubbelbedskip met slap vere.

Golwe naarheid spoel my soggens uit.

Maar in my jong buik roer die toekoms

– boontjiepitgroot en broos –

en jy vang silwer elwe vir ontbyt.

Hierdie beswaar geld ook ’n gedig soos “Die heelal lag in sterre”, soos reeds genoem, terwyl “Swaardsmee” (p.41) en “jonker is nie dood nie” (p.55) tematies nie werklik verras nie.

’n Beeld soos “Dié keer is voortplanting beheer deur / die knip van die foondrade tussen eierstok en uterus” (“Tweede wittebrood”, p.32) doen die bundel oneer aan. Ek het ook moeite om die volgende beeld te interpreteer: “my skoongeskropte hande is ’n skryn / van hoe gewillig sy /haarself op die bodem van my bestaan neervly / hoe gedwee sy die riool begroet” (“jonker is nie dood nie”, p.55). Dit is egter heel moontlik ’n subjektiewe beswaar.

Tog is die geheel baie bevredigend, en veral die laaste afdeling (“sleutelsange”) lewer ’n hele paar knap gedigte, waaronder “Gedagtes rondom ’n stormsee” (p.88), “Teen verganklikheid” (p.89), “Om en omkom” (p.91) en “Deurbraak” (p.95).

Hierdie debuut hou heelwat belofte in en die lees van die bundel is meer as die moeite werd. Met hierdie bundel het sy ’n hele paar tematiese lyne getrek, veral die ontginning van die magiese en sjamanistiese deur die werking van die vroulike verbeelding wat terselfdertyd weetgierig, nugter én sensueel is. Ek vermoed die belangrike vraag is hoe volhoubaar hierdie tematiek is, en hoe Bekker haar tegniese bedrewenheid en tematiese reikwydte verder gaan ontwikkel.

 

Bron

Hambidge, Joan. 2015. Resensie van skryn [Internet]. Woorde wat weeg. http://joanhambidge.blogspot.co.za/search/label/Emma%20Bekker. [2015, 19 Oktober].

Bookmark and Share

Comments are closed.