Resensie: Voor-bode (Cas Vos)

Omslag

Voor-bode – Cas Vos. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-4853-0542-2. 143 bladsye. Sagteband.

Resensent: Bernard Odendaal (ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit)

.

Met hierdie negende bundel van hom (naas twee bundels Engelse vertalings uit sy oeuvre, gelewer deur Leon de Kock) bevestig Cas Vos, ’n afgetrede teoloog, sy eiesoortige digterskap binne die Afrikaanse digkunswêreld.

’n Religieuse digter is hy wel, maar dan nie op ongekompliseerde wyse nie. Die belewenisse van die teenswoordige lewe wat hy vertolk, word gekenmerk deur paradoksaliteit en ironie. In die beste dele van sy oeuvre, soos in die bundels Die afdruk van ons hande (2007) en Intieme afwesige (2009), word geykte uitdrukkings, asook aanhalings uit en toespelings op bekende bestaande geskrifte derhalwe – op aantreklike wyse – met eie taalwendings vervleg en verlewendig. Woord- en klankspel versterk die effekte wat sodoende bewerkstellig word. Voorts word die spanning tussen vaster en vryer vormgewing treffend benut om ook op só ’n wyse iets van die paradoksale lewenservarings op te vang.

Dit alles word onderskraag deur ’n beeldingsvermoë wat in Vos se beste werk helder en trefseker is, en wat in sy uitdyende oeuvre steeds sterker uiting vind in meer objektiewe gestalteverse. Onder laasgenoemde tel herskrywings van grepe uit antieke werke soos die Gilgamesj-epos of Die Ilias en Die Odusseia van Homeros, of van die briefwisselings tussen Abélard en Héloïse uit die Middeleeue en tussen Beethoven en ’n onbekende geliefde uit die Romantiese tydperk. Trouens, Vos se vertalings, uit byvoorbeeld die oorspronklike Grieks, Latyn, Frans, Duits en Engels, het op sigself ontwikkel tot ’n gewaardeerde nalatenskap in die Afrikaanse poësiesisteem.

Myns insiens kan die volgende as die belangrikste tematiese velde in Vos se digwerk gereken word (ook in Voorbode, soos verderaan sal blyk):

  • religie (met aanbidding en opstand, bestaansvreugde en -pyn, vertroue en twyfel in gespanne verhouding);
  • liefde (waaronder erotiese verlange en vervulling, maar ook liefdeskipbreuk, -verlatenheid en -gemis, én die impulse tot poësieskepping wat dit alles bied);
  • kunsskepping en kunstenaarskap (die triomfe en verrukkings daarvan, maar ook die pyn en onvoldaanhede wat daarmee gepaardgaan);
  • lyding, skeefgeloopte verhoudings, die somber kante van hierdie lewe; en, laastens,
  • aftakeling (deur ouderdom en die dood, maar ook van mense onderling), versuim en gefnuiktheid – dit waarop in meer onlangse bundeltitels van hom gesinspeel word: Duskant die donker / Before it darkens (2011), Weerloos lewe (2012).

Voor-bode is wéér ’n bundeltitel wat paradoksale betekenisse sinjaleer: duidings van lewensontwaking, kreatiwiteit en vervulling teenoor heenwysings na of aankondigings van onheil, lyding, vernietiging. Dit eggo dan ook op ’n verskeidenheid wyses in die titels van die bundelafdelings: “I Eerste woorde”, “II Eerstelinge”, “III Bodes”, “IV Liefdesbodes”, “V Voorlopers”, “VI Pyngesante”, en “VII Volheid”.

Die uiteindelik optimistiese verwagting van ’n gelowige mens soos Cas Vos vind neerslag in die (simbolies) sewende afdeling (met “Volheid” as titel, soos reeds vermeld). So ’n afloop word, sy dit op ietwat troebel beeldende wyse, reeds in die inleidende, alleenstaande bundeltitelgedig voorsien:

Voor-bode

Môrester, oog van die daeraad,

kyk deur die donker se naat

waar duister soos ’n vlermuis

vlug voor die nag hom verlaat.

Van die treffendste, roerendste gedigte in die bundel staan in die slotafdeling. Hiervan is die volgende ’n voorbeeld (’n gedig wat sterk tot slagoffers uit byvoorbeeld sowel die ou as die nuwe Suid-Afrika behoort te spreek):

Inksripsie

Gevind op ’n flentertjie papier

in ’n Joodse konsentrasiekamp.

Vir Con en Muriel

Genadige Here,

dink nie net aan mense met breekbare drome nie,

maar ook aan dié wat met kwaad en demone heul.

Moenie dink aan al die lyding

wat ons lewens gekwel het nie;

dink aan die sonryp vrugte wat ons kon pluk

danksy ons lyding –

kameraadskap, trou, menswees,

moed, gasvryheid en ruim harte

wat ons op die drumpels van gaskamers oorbluf het;

en as hulle voor die doodsvonnis van u regbank verstar,

laat die vrug van die gees wat ons gedra het

hulle met vergifnis verras.

Afdeling I van die bundel bevat ’n tweetal gedigte oor die “oerspronge” (meervoudsaanpassing van een van die gedigtitels), oftewel ontstaan van of oogmerk met die digkuns. Daarop volg “Eerstelinge”, ’n afdeling oor uitverkorenes-tot-lyding (die digter self, figure soos Augustinus, Maria van Nasaret, die Ou-Testamentiese Daniël en sy vriende) – hulle wat as ’t ware tot lyding gebore of verdoem word, maar waaruit verlossing, van die self én ander, dan kan voortspruit. Die afdeling bevat meestal vertolkings van ’n soort (Christelike) verlos-kunde; ’n hele paar gedigte handel byvoorbeeld oor Christus self. Boeiend is die kontras wat die uitbeelding van die half-oedipale situasie in “”Uitgeban” dan hiermee vorm:

Die kind wat die kers dra

sien die glinsterende eenwording

van ’n pa en ma,

vestig intense jaloesie in hom,

uit hul binnekamer geban.

Die besef word ingeprent:

“Ek is vir julle afwesig, oorbodig.

Toe ek in die baarmoeder geskuil het,

was ek onskeibaar van my ma.

Moenie my met ’n handveeg wegjaag nie,

nooi my saam op julle nagvlugte.”

Ouers wat mekaar liefhet

se kinders is altyd wees.

In die afdeling “III Bodes” is dit engelfigure wat in die gedigte opduik, dikwels vermeend of artistiek verbeeld, of geplaas binne landskappe vol sneeu en ys – alles om hulle wesenlike steriliteit te beklemtoon. “Die engel waak in die kerkhof / sonder klag oor dooies se stof,” lui dit aan die slot van “Engel van marmer”. Dan volg afdeling 4, “Liefdesbodes”. Van die eie of vertaalde liefdesgedigte hier is liefdesbriewe op vers-trant (van die digter aan sy vrou, Lida; van Wolfgang Amadeus Mozart aan sy Constanze; tussen John Keats aan Fanny Brawne).

’n Hoofsaaklik dankbare bestekopmaking van die eie (digterlike én persoonlike) laat lewe, dit wil sê in die skadu van die dood (vergelyk “Tot die dood ons skei”), kry in die afdeling “Voorlopers” beslag. Dit sluit huldigings in van persone (kunstenaars, geestelikes) wat vir die digter op verskillende wyses tot voorbeeld gedien het, asook ’n baie mooi liefdesvers aan die digter se lewensmaat (“As ek sterf”). Laasgenoemde loop uit op die volgende slotreël (op betekenisvolle wyse ook van die hele afdeling): “kyk hoe mooi het jou liefde my gemaak”.

Die sentiment-tweelinge van sodanige dankbaarheid is die (religieus-eties begronde) deernis én afgryse waarvan die gedigte oor allerlei “pyngesante” in afdeling 6 getuig: met en oor vermoordes en ander geweldslagoffers, dood- en ander onheil-afwagtendes, gehospitaliseerdes, armes, bedelaars. “Al is ek ’n bedelaar, klop ek tog versigtig / aan die deur van God se duur genade,” lui dit aan die slot van die gedig “Bedelaar”. En aan die einde van “Kopaf” (’n gedig oor onthoofding): “kopaf spoeg sy strot / ’n boog bloed na God”.

Ongelukkig, soos die geval was in die meeste van Vos se vorige bundels, word die treffendhede van sekere gedigte in Voor-bode geskaad deur die onafhede wat nog alte dikwels in ander – en soms diesélfde – gedigte voorkom. Dit sluit in: minder sekure woordkeuses; geykte stelwyses wat nie hulle geyktheid verbygestreef kry nie; troebele beelding of gebrekkige beeldsamehang (soos uit die hierbo aangehaalde titelgedig blyk). Sulke gebreke word opvallender gemaak deur die voortreflikhede van die omgedigte of vertaalde tekste van ander kunstenaars wat Vos met sy eie vermeng.

Tog wil ek die beste kwaliteite van Voor-bode op die voorgrond stel. Nie die minste hiervan nie is die gedigvertalings wat in byna al die bundelafdelings voorkom. Watter wins vir die Afrikaanse digwêreld is byvoorbeeld die vyftien, uit die Grieks vertaalde, gedigte van Konstantinos P. Kavafis nie (begelei van verhelderende slotaantekeninge oor die taal-, kulturele en biografiese konteks waarbinne die gedigte oorspronklik gebore is). Die trefkrag van beroemde Kavafis-verse soos “Die wag op die barbare”, “Die voetstappe”, “Die tyd van Nero” en “Ithaka” het ek die eerste keer werklik intens ervaar by die lees van hierdie bundel van Cas Vos.

.

.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Resensie: Voor-bode (Cas Vos)”

  1. Waldemar Gouws :

    Met Odendaal se taksering van die huislike toneeltjie – in die Vosvers “Uitgeban,” waarin die seunskind instap op sy ouers in hul liefdesbed – as “die half-oedipale situasie” faal hy daarin om die gegewe behoorlik op te som. Die situasie het nie eers ‘n aks met Oedipus en daardie kompleks uit te waai nie. Waarop mens eerder kan fokus is die kind se egte gevoel van uitgeslotenheid, teenoor die spreker wat myle en jare weg daarvan sit en moraliseer d.m.v. sy oppervlakkige slotsom in die laaste reëls.

    Odendaal kon Rimbaud se vers “Herinneringe van ‘n ou idioot” (geskryf toe Rimbaud sewentien was) gebruik het om bevestiging te kry van wat ‘n oedipale situasie behels: die gedig begin met die woorde “Ek is jammer, Pa!” Dan beskryf die spreker o.a. hoe hy sy ma bekyk het as sy teen die trap opstap na haar slaapkamer – haar rypwordende dye (dink aan moerbeie), haar groot boude, wat hom so laat gloei het op ‘n manier waaroor jy stilbly.

  2. Webmeester :

    Die glipsie is herstel, Waldemar. Die ‘oues’ was beslis ‘ouers’. Oud miskien, maar steeds ‘ouers’. 🙂

  3. Waldemar Gouws :

    Baie dankie, Webhoof, vir die herstel van die mank woord.