Clinton V. du Plessis. Die boor

Die boor

 

Thandisizwe, die rotsbooroperateur,
huur in ‘n township, Boitekong,
‘n sinkhuisie, in die agterplaas
die ekstra huurgeld help die eienaar
sonder kaart of transport
om siel en liggaam aanmekaar
te probeer hou.

Na werk, was Thandisizwe
in ‘n skottel,
op ‘n ou spieëlkas,
sy gesig, sy bo-arms, sy lyf,
moeg na ‘n dag se swoeg,
agt ure die aarde se baarmoeder in
die donker warm vagina waarin
hy verbete boor vir die erts
om los te kom
om te smelt
om uit te voer.

Soms kuier hy naweke laat in taverns
met baie vuur en bier
waar vleis en driftige vlees
hom tydelik laat vergeet
van sy huis ver van hier

Daagliks is dit sy inferno,
die hel is ‘n skag,
‘n tonnel,
diep
in die aarde
geboor,
daar waar
Kapitaal gretig
met haar bene wyd-oop
wink en hy droom van al die dinge om te koop
vir vrou en kind:
die goedkoop vermaak
ingevoer op satellietskottel
en tot vervelens toe herhaal,
die gewaande behoeftes
geskep deur advertensiehuise
se jong briljante cocaine breine.

Sy hel;
‘n boor
van 25kg in sy arms
wat vibreer teen ‘n rotswand
en iewers ‘n skelm wat skuil.

Snags, in sy bed,
steeds die boor
wat in sy arms vibreer,
bewe,
sy hele bed wat skud,
bewe,
die boor wat dreig
om deur
die kamer
se sinkmuur te beur,
vibreer,
deur sy slape te skeur.

* ‘n Skelm is ‘n term wat deur myners gebruik word vir plofstof wat in ‘n rotswand geplaas is, maar nie ontsteek het nie. Daar bestaan die gevaar dat dit later in die boorpunt se pad kan beland en ontplof. Daar is sedertdien nuwe rotsbore op die mark wat nie vereis dat werkers dit hoef vas te hou nie.

© Clinton V. du Plessis / 2015

Bookmark and Share

Comments are closed.