Clinton V. du Plessis. Sela

Sela

Die see gee nie meer vis nie, meneer
nou sit ons net hier rond
en wag,
die boot
die skippers
die crew
hier langs die witgekalkte huisies
met die kat op die stoof
die vrou wat moan
en die kinders wat nie verstaan nie.

Ons het nog net die view oor, meneer
befokte view, amper paradise,
maar om die view regtig te appreciate
het jy ‘n maag, met ietsie in nodig, meneer
maar hulle praat van ons moet skuif
die developers wil hierdie strand afkamp
hekke en booms,
controlled access,
right of admission reserved
amper soos in die ou dae,
maar nou tel die kleur nie meer
dit is die geld wat tel, meneer
jy het of jy het nie.

Here, meneer,
kyk hoe mooi skuimwit boggel hy daar
daardie brander,
elke oggend staan ons op
maar selfs die bietjie vis
kan ons nie hoek nie, meneer
want ons het ‘n permit nodig
om te mag nette gooi, meneer.

‘n Minister was self hier
laas jaar,
met drie body guards
blink van kar
rond van figuur,
met ‘n stywe blink suit,
vensters getint
wat die mense buite hou, weg hou
stakeholders meetings, meneer
met al die interested en al die affected parties, meneer
was alles Engels, meneer
boring speeches en empty promises
permits vir buddies en vriende van dooie stalwarts
talk is so damn cheap, meneer.

Om te dink, meneer
die visser kom al lankal aan
daar uit die Bybel se tyd
al daai dissipels
hulle was manne wat die waters kon lees
weet wanneer die tides kom en gaan,
die sout van die aarde
wat kon bid as die storms op die rowwe waters
dreig.

Nou sit ons hier, meneer
en die wind, die wind
hy waai net waar hy wil
en die see, die see
is ‘n baie ou vrou
met ‘n dooie droë baar, meneer.

© Clinton V. du Plessis / 2015

Bookmark and Share

Comments are closed.