Carina van der Walt. klein reisverslag

rsz_3spoorsny1

Die teller het op die laaste dag op 1836 kilometer gestaan. Dit is die afstand wat ons die afgelope maand deur Suid-Afrika en Lesotho gereis het. Gedurende hierdie tyd het die jongste nuus oor wat in die land gebeur deur koerantartikels en nuusberigte oor die radio ons lewens binnegedring: ’n versengende droogte met beesvrektes in KZN; studente-opstande op die meeste kampusse oor klasgelde en op die rug daarvan ontevredenheid oor Afrikaans as onderrigtaal. Intussen kon ons die lopende treine in die binneland op net één hand tel – ’n vervalle infrastruktuur.

Ons toer was in drie verdeel. Die derde deel op die Hoëveld was gevul met die program “Onder vriende” – optredes saam met digters by NALN in Bloemfontein, in Potchefstroom, Johannesburg en Pretoria. Dit was ’n besondere voorreg om soveel Afrikaanse digters op één reis te kon ontmoet. Alle dank eerstens aan ons onderskeie gasvroue- en here en tweedens aan al die deelnemers.

spoorsny

 

 

ek sny spoor

dit gaan sukkel-sukkel

buite Mangaung lê die treinspore

dof onder ’n sonbesieson – toegegroei

maar woorde kruip waar dit nie kan vloei

Melvillewoorde is water in die kraan – opgedroog

maar teen middernag stoom dit deur kafee & kroeg

op ’n hoë stoep teen ’n bosryke rant in Tshwane

roep die woorde fluit die treine 2 nat linte

Afrika-Afrika! & dit is nou genoeg

digby Oersonskraal knars als tot stilstand

want die spore is gesteel  – woordeloos

sny ek spoor suide toe

 

op ver verlate stasies kruis spore

van kaalgeskeerde skape

beeswagters met beestroppe

brandsiek honde met uithangtonge

van jillende kaalvoetkinders

& onverstoorbare vroue

met emmers water op hulle koppe

vir was & kook want die land is droog

duidelik die dowwe spoorlyne

eers by Matjiesfontein weer 2 silwer linte

– maar digby die stasie in Stellenbosch

laat ’n onverwagse wissel

my woorde ontspoor

 

 

@ Carina van der Walt

19-11-2015, n.a.v. die artikel in BEELD: “Dosente steun prof. Wim” en andere

rsz_1spoorsny20

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Carina van der Walt. klein reisverslag”

  1. Maria Snyman :

    Sjoe, Carina, hierdie is ‘n baie roerende stuk vir my. Spoorlyne en spoorsny is vir my dinge wat my “’n onverwagse wissel” laat ondergaan, “my woorde [laat] ontspoor”. Om dinge nie te gewigtig te laat raak nie, sien ek dit o.a. in die lig van Derrida se vertelling in A Taste for the Secret oor ‘n kleintydfantasie van hom wat gegaan het daaroor om iemand te wees “who, by night, plants bombs on the railway: blowing up the enemy structure, planting the delayed-action device and then watching the explosion or at least hearing it from a distance” en waar dit behels het “devices that all of a sudden put a transit route out of commission, making the enemy’s movement more hazardous”, en dit natuurlik ook waar “the friend, too, will have to live and think differently, know where he’s going, tread lightly.” Kortom: Die ligloop van spoorsny bly mens se voorland al “gaan [dit hoe] sukkel-sukkel”!

    “van jillende kaalvoetkinders
    & onverstoorbare vroue
    met emmers water op hulle koppe”

    is ‘n paar van my gunsteling reëls – lieflik!