Onderhoud met Hendrik J. Botha (Atropos)

atropos

Hendrik Botha in gesprek met Gisela Ullyatt
 oor sy debuut "Atropos"
...

Hendrik, baie geluk met ’n besondere debuut.

Op die oog af lyk die voorbladkuns bedrieglik minimalisties. Terselfdertyd tref dit onmiddellik. Hoe is op die voorblad besluit en kon jy die kunstenaar self kies? Het jy ’n persoonlike visie vir die voorblad in gedagte gehad?

Ek het ‘n skildery van Michaelangelo op die internet teëgekom van die drie godinne van die noodlot. Dit was meer om die gedagte te demonstreer. Die uitgewer het toe ‘n grafiese kunstenaar, Mike Cruywagen opdrag gegee en die voorblad het so sy beslag gekry. Ek het daarvan gehou.

Atropos is opgedra aan jou ouers; ook lui die bundelmotto : “Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die vierde geslag …” (Eksodus 20:5). Was dit problematies om oor jou ouers se ‘sondes’ te besin? Het die Bybelse gebod, “Eer jou vader en jou moeder” jou self-sensuur laat toepas?

Die eerste afdeling handel oor my jeug, my kinderjare, my ouers en ook sibbe. Dit handel ook oor my eie kinders, dus my eie rol as vader. Die “sondes van die vaders” verwys dus nie net na my eie ouers nie. Dit verwys na alles en almal wat ‘n rol gespeel het in dit waar ek vandaan kom, wie ek is. Ook hulle in wie se lewe ek ‘n rol speel of gespeel het, ekself as vader dus, met foute en “sondes”. Ek het my eie pa eers regtig leer verstaan na sy dood, eintlik na ek oor hom geskryf het. Die misverstande en wrywing tussen generasies is so oud soos die mensdom self; dis ‘n nimmereindigende siklus. Almal van ons staan iewers aan die ontvangkant. Ook iewers aan die uitdeelkant. Ek het nie self-sensuur toegepas nie, ek het niemand gespaar nie. Ook nie myself nie.

In 2013 behaal jy ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns. Jou portefeulje se naam is Klankdig. Waarom is die bundel se titel na Atropos verander?

Klankdig was die werkstitel van my portefeulje tydens my studies. Klank en die spel daarmee staan redelik prominent in my werk. Ek was nooit regtig tevrede met die titel nie. In een van my keurverslae het die keurder voorgestel dat ek dalk na ‘n ander titel kyk, dat ek soek na iets wat verband hou met die “mediese gedigte”, wat ‘n prominente afdeling in die bundel is, maar miskien ook sterker deurgetrek kan word deur die res van die bundel. So het “Atropos” haarself aangemeld. Daar was twee gedigte in die bundel waar die mitologiese gegewe ter sprake was. Verder word Atropos ‘n metafoor vir die dood, gif, (die onreg wat mense aan mense doen, die kwaad wat in mense skuil), ook die geneeskunde en meer spesifiek, narkose, (die middel atropien, aanvanklik berei uit die gifplant. Belladonna Atropa, word vandag nog in moderne narkose-praktyk gebruik). Ook vir skoonheid en die liefde word Atropos ‘n metafoor. Gedurende die Renaissance het vroue in Italië veral, maar ook in Spanje, atropien in hulle oë gegooi om die pupille te verwyd uit ‘n kosmetiese oogpunt. Volgens oorlewering het selfs Cleopatra dit ook gedoen. Al die gedigte in die bundel is dus geskryf voor die titel ter sprake gekom het. Van die gedigte se plek en rol het egter nou verander, alles deel van die nimmereindigende slyp- en skaafproses wat ons weet integraal deel is van die skryf van poësie. Die titel “Atropo”‘ het ‘n nuwe dinamika ingebring, amper die bundel op sy kop gedraai. Uiteindelik het alles mooi in plek geval, so asof elke gedig geskryf is met die titel “Atropos” in gedagte.

Nog ’n paar vrae, met betrekking tot jou Meestersgraad:

(a) Die bundel vermeld op die laaste bladsy dat jy ’n narkotiseur van Pretoria is. Kan jy ons meer vertel oor jou keuse om aan die UK te studeer en nie UP nie? Vir enige voornemende studente in die Skryfkuns: hoe op aarde werk die logistieke reëlings (klasbywoning) en werk vlugte byvoorbeeld nie baie duur uit nie? Hoe het die graad ingepas by jou besige skedule as narkotiseur?

Die hele kwessie van mentorskap is myns insiens ’n baie delikate wedersydse verhouding. Ek glo dat mentorskap een plek is waar “one size fits all” nie geldig is nie. Ek dink dis belangrik om ‘n mentor te vind wie se werkswyse jy kan verstaan en wie se oordeel jy onwrikbaar kan vertrou. Aan die ander kant moet die mentor ook weet wat hy of sy van jou kan verwag, en wat nie. Daar is baie goeie eenhede in ons land wat Kreatiewe Skryfkuns aanbied. Ek het Joan Hambidge in 2010 tydens ‘n Winterskool in Pretoria ontmoet wat sy gelei het. Ek het besluit ek wil graag onder haar studeer. Ek dink nie sy is beter of slegter as enige ander mentor in Kreatiewe Skryfkuns in Afrikaans nie, ek dink net sy was die regte mentor vir my gewees. Einde 2010 het ek haar genader oor die moontlikheid. Sy het in daardie stadium net studente uit die Wes-Kaap geakkommodeer in die kursus, om logistiese redes. Sy het die struktuur van die kursus verander na ‘n werkswinkel elke drie weke, versus die weeklikse sessies op daardie stadium om my te akkommodeer. Ek sal haar, (en die ander studente op daardie stadium in die klas), ewig dankbaar wees. Ek het op daardie stadium in ‘n groot Narkose groepspraktyk in Klerksdorp gewerk. Ek het daar bedank en na Pretoria verhuis waar ek op my eie kon werk ten einde my werksprogram meer aanpasbaar te maak om elke derde Vrydag in staat te stel om Kaap toe te vlieg vir die dag. Dit het dus baie opoffering en ook groot finansiële implikasies ingehou. Ek is dankbaar ook teenoor Die Dagbreek Trust vir finansiële bystand wat ek van hulle ontvang het tydens my studies. My pa het immer gesê “niks in die lewe wat die moeite werd is, gebeur sonder opoffering nie”. Ek dink dit was na alles die moeite werd, deur en deur die moeite werd. Dis wat ek dink!

(b) Die slotstrofe van jou program-gedig lui soos volg:

 

Die droewe Atropos waarskynlik,

skêr in die hand, slagvaardig

om alles sonder omhaal te beëindig

met twee lemme en ’n punt.

 

’n Voor die hand liggende analise van hierdie strofe is die mediese spesialis, die ‘Atropos’ se kennelike mag oor ’n pasiënt se lewe en dood. Op ’n letterlike vlak beskou, verwys die lemme veral na die ‘sny’ (snydokter/chirurg) tydens ’n operasie. Meeste operasies vereis die toedien van narkose: sonder ’n narkotiseur is die hele proses nie moontlik nie; hier kan die narkotiseur ook ’n rol van ‘Atropos’ speel.

Op die keper beskou, is die volgende interpretasie ook moontlik: die dig-mentor (later die keurders en redakteur) se rol as die ‘Atropos’. In besonder resoneer die woord ‘punt’ met die digproses, omdat elke leesteken fenomenale waarde en betekenis het. Dis egter ook die redigeringsproses wat veral hier te berde gebring kan word: die uitsny van gedigte; die snoei van woorde en idees (‘skêr’, ‘slagvaardig’ en ‘twee lemme’) asook die oorbekende ‘doodmaak’ van ’n digter se lieflinge (‘kill your darlings’).

Wat wou jy in hierdie gedig aan die leser oordra?

Al die punte wat jy noem, is geldig. Ek het reeds vroeër verwys na al die spore van Atropos wat deur die bundel loop. In die program-gedig stel ek eerstens die mitologiese gegewe aan die leser bekend, maar daar is ook reeds leidrade van wat verder volg, soos deur jou uitgewys. Ek het ook reeds verwys na die rol wat Joan Hambidge as studieleier en mentor gespeel het, maar daar was inderdaad ander invloede ook wat ‘n groot rol gespeel het: twee eksamenverslae, twee baie deeglike en uitgebreide keurverslae, ‘n eweneens uitgebreide en waardevolle redigeerverslag. Ook my redakteur, Carolyn Meads, het insette van onskatbare waarde gelewer. Dit alles het ek deurgewerk, elke stukkie raad en advies en kritiek oorweeg en waar nodig, gebruik in die slyp/herskryf/skaaf/aanpas van die gedigte. Die Franse digter en kritikus, Paul Valéry, het tog gesê “you never finish a poem, you simply abandon it”. Ek dink ek verstaan nou iets daarvan..

(c) Behalwe die titel, verskil die portefeulje ook inhoudelik baie ten opsigte van die bundel. Een voorbeeld hiervan is dat die orde van gedigte taamlik van die debuut s’n verskil. Het jy byvoorbeeld nuwe gedigte aan die uitgewer voorgelê en/of oues afgestof? Waarop berus die verskille grootliks?

Ek het die vraag grootliks reeds beantwoord. Ek kan net byvoeg, na my eerste keurverslag en aanvaarding vir publikasie, was een van die aanbevelings van die keurder dat ek die bundel kwantitatief moet uitbrei. Ek het toe in die daaropvolgende vyftien maande wat ek gewag het voordat ek saam met my redakteur, Carolyn Meads, aan die bundel kon begin werk het, nog ‘n klomp gedigte geskryf. Die manuskrip is toe uitgebrei van sowat vyftig gedigte wat aanvanklik voorgelê is, na sowat vyf en tagtig gedigte. Dis toe vir ‘n tweede keurverslag gestuur en vandaar het die redigering begin gepaard met die snoei en sny tot die uiteindelike agt en sestig gedigte in die bundel. Na elke lees- en redigeerverslag het ek elke gedig weer gevat en aan die hand van die verslag elke stukkie kommentaar oorweeg.

Alice Miller, ’n Switserse psigoanalis van Pools-Joodse afkoms wat onder meer Freud se teorieë, veral die Elektra- en Oedipuskompleks bevraagteken, duik talle kere in die bundel op, soos byvoorbeeld in die gedigte, ‘Die waansin het my reeds kom haal’ (24) en ‘Nothing is what it seems’ (56).

Ek vind Miller aangrypend, nadat ek in 2000 op ’n boek van spontane waterverftekeninge waarin haar eie kindermishandeling na die oppervlak kom, afgekom het. Sedertdien het haar Das Drama des Kindes (The drama of being a child), saam met haar ander tekste, ’n permanente plek op my boekrak gevind.

Gesels oor die rol wat Alice Miller in (a) jou persoonlike ontwikkeling asook (b) in jou ontluikende digkuns gespeel het? Hoe het jy haar ‘ontdek’?

Joan Hambidge het my voorgestel aan Alice Miller se werk in 2011/2012 terwyl sy aan haar eie bundel, Lot se vrou, gewerk het. Ek het haar (Alice Miller) se werk fassinerend gevind. Dit het tot heelwat gedigte gelei wat ek geskryf het nadat ek (op Alice Miller se aanbeveling!) in my jeug en kinderdae begin delf het. Dit het my ook, paradoksaal amper, gehelp om my ouers, veral my pa, beter te verstaan.

Verganklikheid, menslike lyding en die hospitaal-milieu is die medikus se daaglikse ‘bitter medisyne’. As digter eksploreer jy hierdie temas op ’n roerende wyse, waarvan die volgende maar een voorbeeld is (42):

Serebraal gestrem

 

Vooraf besoek ek jou.

Jy lê privaat, gestut teen kussings,

bene spasties opgetrek.

Jy stotter, speeksel kruip

dun soos ’n slakspoor langs jou mond.

Jou ma praat angstig oor narkose,

jou pa swyg eenkant soos ’n ornament.

Jy wil net weet

of ek jou hand sal vashou

as jy alleen is

voor hulle opereer.

 

Kan ’n digter enigsins bogenoemde tematiese materiaal geloofwaardig aan die leser bied sonder dat hy/sy self ’n sekere mate van psigologiese verwonding en verwondbaarheid het? Hoe vind jy balans tussen die distansiëring van die self en die binnedring van pynlike episodes, hetsy jou eie of ander s’n? Gee jou bundel dus ’n stem aan ‘verwonde’ pasiënte wat nié hulle ervaring kan verwoord nie?

Die sleutel lê vir my daarin om genoeg tyd te laat verloop na enige traumatiese insident, net soos met enige sterk emosionele stimulus, voordat jy dit in ‘n gedig probeer verpak. Die kruks lê in afstand kry. Rou emosie lei selde tot goeie poësie. Dis maar wat ek dink.

Meeste lesers vind dit moeilik om tussen die digter se outobiografiese inligting en die ‘fiksionalisering’ daarvan te onderskei. Die volgende drie aanhalings hou hiermee verband:

Billy Collins vertel dat ’n groep studente volmondig die volgende aannames aanvaar het:

[…] poetry is not bound by ties of historical truth; it must be true only to its own aesthetic integrity. As long as a poem is a good poem, what’s the difference if it is true to fact or not? (Sontag & Graham 2001:161)

Dieselfde groep studente was egter nié ingenome met Collins se daaropvolgende hipotese dat die digter, Sharon Old, se elegiese bundel, The Father, haar pa se dood versin het en dat hy inderdaad nog in Phoenix bly nie (wat onwaar was; Old se vader is inderdaad dood). Hulle reaksie: “They felt a sense of betrayal”.

Die tweede aanhaling oor die onderwerp is deur Ted Kooser:

I have always trusted the ‘I’ of Walt Whitman as he dresses the wounds of fallen soldiers; I trust Mary Oliver to tell me what birds she saw as she walked through a marsh; I trust Stanley Kunitz when he describes two snakes entwined in a tree (Sontag & Graham:161).

 

Kate Sontag skryf:

Of course, not all poems written in the first person are necessarily autobiographical. They may be written in persona, or they may be a collage of personal, observed, and imagined experience (Sontag & Graham 2001:152).

 

Met betrekking tot bogenoemde aanhalings: tot watter mate stem jy saam/ nie saam nie as (1) digter en as (2) leser van gedigte?

‘n Gedig is nie ‘n getuigskrif nie. Net soos met ‘n goeie storie, dink ek nie jy kan die waarheid tussen jou en ‘n goeie gedig laat staan nie. Dis miskien ietwat simplisties gestel, maar ek dink nie, selfs gedigte wat outobiografiese elemente bevat, hoef absoluut en suiwer net outobiografies te wees, of outobiografies akkuraat te wees nie. My gedig, “Nothing is what it seems”, is bv. op die oog af outobiografies, maar in werklikheid glad nie. Die slot berus op ‘n ervaring wat iemand wat dieselfde tyd as ek destyds op die grens was, aan my vertel het. Die ontnugtering wat daarmee gepaard gaan, kon ek egter mee identifiseer, daarom dat ek dit op ‘n amper “outobiografiese wyse” kon aanbied. (Die res van die gegewens in die gedig berus grootliks op wensdenkery!) Ek gee egter toe dat in ‘n gedig wat voor die hand liggend outobiografies is, soos ‘n gedig oor jou pa of ma, dit nie vir my reg is as jy valshede daarstel nie, bv. as jy jou pa as ‘n dwelmslaaf of ‘n verkragter sou uitbeeld in die gedig terwyl dit nie die waarheid is nie. Die motto van die tweede afdeling kom uit die Eed van Hippocrates: “Primum non nocere”, (‘first do no harm’). Ek dink dit geld ook hier. Daar is dus wat my aanbetref, ‘n grys area, maar as ‘n vuisreël dink ek: ‘n gedig is nie ‘n getuigskrif nie. (Dis Joan Hambidge se mantra!)

Sommige gedigte in die bundel het ’n psigiatriese tema wat ook selfdood belig: ‘Morfinis’ (35) handel oor Eugène Marais; ‘Terapie’ (38) is ’n geslaagde satiriese gedig waarvan die einde veral tref. ‘Kersgedig’ (67) is nog ’n voorbeeld van hoe jy beelde en gebeure weer eens op só ’n wyse jukstaponeer, dat die slotreël die leser nie net onkant betrap nie maar ook ontroer:

 

Kersvader met ’n slee

pronk in neon teen ’n heining.

Kinders gil toe ‘n seuntjie op volspoed

met sy nuwe skopfiets om die swembad rits.

’n Kaalborsman snork in ’n tuinstoel,

gister se koerant oop op sy skoot.

Borde, bottels, glase

vind hul weg na die kombuis,

herwaarts getroues sing die vroue.

Jy stap ongeërg verby

om te gaan sterrekyk, sê jy,

net om kort ná skemer met oop oë

op ’n spoorlyn te loop lê.

 

Daar is vele voornemende digters wat oor hul eie gemoedstoestand skryf en voel dat niemand aan hul gediggies moet ‘peuter’ nie, omdat dit húl pyn omvat. Terselfdertyd voel hulle te nagekom en braak gal wanneer hulle verse deur ’n uitgewer teruggestuur word. Watter raad sou jy aan begin-digters gee wat oor pynlike belewenisse soos gemoedsversteuring, dood en selfdoodpogings (of iemand ander se selfdood) wil skryf?

Eintlik het ek die vraag ook reeds beantwoord. Ek herhaal: kry genoegsaam afstand, laat genoeg tyd verloop. Teken die gegewens aan, maar moenie dit dadelik in ‘n gedig probeer inpas nie. Rou emosie maak selde goeie poësie. Laat dit lê. Tot later. As nagedagte miskien: As jy oor jou eie selfdood wil skryf, moet jy dit net dalk nie té lank uitstel nie, want dan skryf jy dit dalk nooit!

’n Program wat deel uitgemaak het van die onlangse RSG Kunstefees word gewy aan jou gedigte, waarvan Rika Sennett en Richard van der Westhuizen die stemkunstenaars was. Ook speel musiek ’n integrale deel van die opname. Die volgende twee vrae hou verband met bogenoemde program:

(a) Op Atropos se agterblad staan daar, onder andere, dat die gedigte ’n ‘vernuftige interaksie tussen betekenis en klank’ is. Vroeër in die onderhoud is reeds vermeld dat jou portefeulje se titel Klankdig is.

Wanneer jy ’n gedig skryf, wat kom eerste by jou op: klank of beeld?

Net soos vorm en inhoud in mekaar moet pas soos stukke van ‘n legkaart, net so dink ek gaan klank en beeld hand aan hand in poësie. As ek in ‘n hoek gedryf word, sal ek toegee dat klank ‘n integrale rol in my gedigte speel.

(b) Deel met ons hoe jy vir die RSG Kunstefeesprogram genader is en wie byvoorbeeld die keuse van gedigte gemaak het? Wat voorlesing aanbetref: moes die akteurs hul eie klem vind of het hulle vooraf jou insae as digter gebruik? (Vir lesers wat graag na hierdie program wil luister, is daar ’n potgooi op die volgende skakel beskikbaar: http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/z20151116_KUNSTEFEES_ATROPOS.mp3 ).

My uitgewer, Queillerie, het alles gereël. Hulle het die bundel voorgelê aan RSG toe hulle begin het om die program vir die Kunstefees saam te stel. Ek was nie bewus daarvan nie. Die eerste wat ek daarvan gehoor het, was toe die bemarkingspan by NB-Uitgewers my laat weet dat my bundel gekies is om deel te wees van die RSG Kunstefees. Kobus Burger wat aan die spits gestaan het van die Kunstefees het my toe gekontak om verdere reëlings te tref.

Ek het met die keuse van gedigte, die keuse van stemkunstenaars en die vertolking van die gedigte geen inset gelewer nie. Ek het dit aan Kobus Burger en sy span oorgelaat. Ek het ook gevoel dat ‘n woordkunstenaar met die vertolking van ‘n gedig dieselfde vryheid behoort te geniet as die digterlike vryheid waarop ek graag aanspraak maak met die skryf van ‘n gedig. Ek het die program die eerste maal die aand oor die radio gehoor. Ek het gedink die vertolking van die gedigte en die musiek wat Tharien Oosthuizen bygewerk het was baie goed gedoen.

As alle Hendrik J. Botha-gedigte en hul kopieë môre uitgewis sou word, maar dat die enigste toegewing is dat jy slegs een gedig mag hou en bewaar, watter een sou dit wees? Kan jy hierdie gedig met die lesers deel?

Epitaaf (59)

.

Hier is geen versoek vir liefde,

vriendskap of begrip.

geen sug na lofprysings,

blomme of trane nie.

Net om in vrede

alleen gelaat te word,

met as nagedagte

miskien ’n pleidooi om genade.

.

Bookmark and Share

18 Kommentare op “Onderhoud met Hendrik J. Botha (Atropos)”

  1. Leon Retief :

    Dankie Gisela vir hierdie uitstekende onderhoud. En aan Hendrik,van een narkotiseur aan ‘n ander: dankie ook vir hierdie bundel, wat eersdaags by my gaan opdaag en wat ek baie uitsien om te lees.

  2. Hendrik Botha :

    Dankie Leon, ek waardeer jou vriendelike woorde.

  3. Gisela Ullyatt :

    Dankie, Leon. Uit nuuskierigheid: werk jy as narkotiseur of psigiater? Of sit ek die pot (!) mis dat jy ook ‘n psigiater is?

  4. Leon Retief :

    Nee Gisela ek is ‘n narkotiseur. Ek onthou ons het ‘n hele tyd gelede gesels oor iets wat ek gesê het oor my psigiatrie-inwoning (of rotasie) by die Oranje Hospitaal in Bloemfontein maar dit was tydens my voorgraadse opleiding – wanneer mediese studente hul kliniese opleiding doen dan roteer hulle deur verskillende afdelings/departemente van medisyne soos psigiatrie, interne geneeskunde, ortopedie en so voorts. Moontlik het ek ondbedoeld die verkeerde indruk geskep. Ek het egter steeds ‘n belangstelling in die neurowetenskappe behou maar narkose was vir my aantrekliker as psigiatrie. Ek het nie die “bedside manner” vir ‘n psigiater nie.

  5. Louis Esterhuizen :

    Leon, hoe lekker lag ek nou vir daai “bed side manner”-opmerking van jou! Maar nou ja, dit is seker so dat nie te veel van jou pasiënte van opera of renmotors gaan hou nie … Dus beter dat hulle slaap wanneer jy dit toedien. 🙂

  6. Gisela Ullyatt :

    Leon, blykbaar is narkotiseurs baie bedrywig met kreatiewe skryfwerk. Ek lees in die afgelope week se Volksblad dat Quentin Smith, ‘n pediatriese narkotiseur, die naaswenner was in die fiksieafdeling van die Britse People’s Prize vanjaar. Hy het het die afgelope drie jaar drie romans gepubliseer. Hy was ook hoofseun in 1982 van St Andrew High School, dié Engelse seunskool in Bloemfontein. Die ‘old Saint’ het jare terug na Brittanje geëmigreer. Gedurende sy dienspligjaar in Natal is hy onder dié wat uitgeroep is om passasiers van die Oceanos te help. Hy het glo in matriek ‘n landswye opstelkompetisie gewen maar besluit om eerder ‘n mediese roete te volg as studierigting. Volgens die Volksbladartikel (2 Des) is hy nog lief vir sy beroep maar gee sy skryfwerk hom die grootste genoegdoening…

  7. Leon Retief :

    Gisela ek weet nie of narkotiseurs meer skryftalent het as ander rigtings in medisyne nie. Ek weet wel dat ek geen sodanige talent het nie, maar narkose is ‘n baie elegante vakgebied en het my so deur die jare baie professionele satisfaksie gegee. Behalwe wanneer ek om 02h00 uitgeroep word vir een of ander dronkgat wat homself teen ‘n telefoonpaal te pletter gejaag het. Dan was ek soms jammer dat ek nie maar ‘n kopkrimper geword het nie. Maar selfs so het ek dit geniet want trauma is nogal ‘n baie uitdagende onderafdeling van my vak.

  8. Leon Retief :

    Louis mens sou eintlik dink dat opera en motorsport bymekaar pas aangesien beide baie passievolle aktiwiteite is wat die toehoorders/toeskouers/deelnemers se binnestes roer (ek weet dis met my die geval) maar toe ek so paar jaar gelede gekyk het kon ek net een persoon vind wat aan beide deelgeneem het. Ek besef dat woorde soos Targa Florio en Mille Miglia (sien eerste skakel) niks vir meeste mense sal beteken nie maar dit was op hul tyd ikoniese motorwedrenne en ek wens ek kon een sien, veral die 1955 Mille Miglia wat deur Stirling Moss en Denis Jenkinson gewen is. Kan jou ‘n werklik pragtige storie daaromtrent vertel as jy wil. Weet nie of dit hier tussen al die hoghere inskrywings sal pas nie maar as ons webmeesteres dink dis okei kan ek vertel, so nie sal ek daaroor swyg.

    https://en.wikipedia.org/wiki/Giuseppe_Campari

    Daar is darem ander afdelings van motor- en motorfietswedrenne waar jaers ook musikale talent gehad het. James Toseland was wêreldkampioen in 2007, hy het vir Yamaha gejaag en toe hy daardie jaar die kampioenskap wen gee hulle hom ‘n Yamaha vleuelklavier as geskenk.

    https://www.youtube.com/watch?v=HV1JQvnpECA

    Elio de Angelis wat in 1986 in ‘n fratsongeluk gedood is was self ‘n talentvolle painis:

    https://www.youtube.com/watch?v=gkUQC028wOo

    Daar was ook nog ‘n Italiaanse professionele konsertpianis wat as stokperdjie aan motorsport deelgeneem het maar ek kan om die dood nie nou sy naam onthou nie.

  9. Webmeester :

    @Leon Retief: webmeester dink beslis dat jy maar jou storie hier kan vertel. Sy het volle vertroue in jou oordeel en dit mag ook vir ander lesers interessant wees. Terloops, webmeester se oom het ook ‘n groot passie gehad vir motorwedrenne (ook alle karre in die algemeen) en opera! Hoewel hy natuurlik nie een van die twee self bedryf het nie.

  10. Leon Retief :

    Dankie aan die webmeester. Dalk vind nie almal die storietjie prettig nie maar vir my is dit nogal snaaks.
    Die Mille Miglia was, soos die naam aandui, ‘n sportmotorwedren van 1 000 myl wat jaarliks tussen 1927 en 1957 op openbare paaie gehou is – die paaie is natuurlik vir ander voertuie gesluit. Die karre het met kort intervalle weggespring en nie almal gelyktydig soos met baanwedrenne nie. Die Mercedesfabriek het daardie jaar vir Stirling Moss ingeskryf in ‘n Mercedes 300 SLR. Dit sou Moss se vyfde poging wees om die wedren te wen. Niemand kan natuurlik al die besonderhede van ‘n 1 000 myl lang roete onthou nie. Mens kan dink dat dit ‘n renjaer nogal kan kniehalter wanneer hy ‘n blinde hoogte nader: hou die pad reguit aan en kan ek maar voet in die hoek hou of is daar ‘n draai? En as daar ‘n draai is, is dit na links of regs en hoe skerp is die draai, aan watter kant van die pad moet ek wees om die draai se apeks ten volle te benut?
    Moss het die hulp van Denis Jenkinson ingeroep. Jenkinson was so kort mannetjie met rooi hare en ‘n woeste rooi baard. Vir drie maande voor die tyd het die twee die roete noukeurig verken, Jenkinson het breedvoerige aantekeninge gemaak en die baie bladsye notas in ‘n spesiaal vervaardigde aluminiumhouer gesit. Die dag van die wedren het aangebreek en vir ‘n kort tydjie het die Ferraris van Luigi Musso en Eugenio Castelotti (wat sonder navigators gery het) voorgeloop maar beide het meganiese probleme ondervind. Jenkinson het heeltyd uit sy notas aan Moss voorgelees en hulle het die wedren gewen met ‘n gemiddelde snelheid van 160 km/uur, ‘n rekord wat nie oortref is nie. Hierdie snelheid sluit die tyd in wat die kar stilgestaan het om bande om te ruil en brandstof aan te vul.
    Na die wedren het Jenkinson besluit om in Italië vakansie te hou. Hy vertel later dat hy eendag middagete in ‘n trattoria in ‘n klein dorpie geniet het en terwyl hy eet luister hy hoe ‘n ou omie in die hoek aan sy vriend vertel van die pas afgelope Mille Miglia. “En weet jy waarom het Stirling Moss die wedren gewen,” sê die omie. “Dis omdat hy ‘n priester by hom in die kar gehad het, ‘n priester met so ‘n lang rooi baard, wat heeltyd aan hom uit die Bybel voorgelees het.”

  11. Buiteblaf Breytenbach :

    Wonder mos nou of Moss sy draaie sou gekry het as dit ‘n rooihaar priesteres langs hom was, met Derrida op haar skoot..

  12. Leon Retief :

    Breyten, Moss sou waarskynlik derridium tremens gekry het…

  13. Maria Snyman :

    Mnr Breytenbach, u spot lekker (pragtig – o, hoe sien ek die prentjie, uit my nerwe gevlei!). Ek is nie ‘n goeie passassier nie (mens sou dalk inderdaad kon sê ek is ‘n bietjie soos Atropos, “onbuigbaar” oor die “onvermydelike” – al sukkel ek om daaroor te skryf, sien ek net botsings, oftewel wat [logies moet/sou moes] gebeur [het], maar Einstein het al gesê, moenie kyk hoe val die klip nie, kyk na die botsings?!), maar ek ry ook nie graag met Jantuisbly se karretjie nie. (Ek wil maar liewer nie sê wat dít van my maak nie?!).

    So het toe op ‘n stadium in my lewe baie duimgery (tagtigerjare van vorige eeu) en beland so toe ook eenkeer in ‘n blinkrooi Posche oppad van Kalkbaai stad toe. Die man trap toe ook so wraggies op daardie petrolpedaal dat ek toe baie vinnig berekeninge met die onberekenbare begin maak (my ogie op die spoedmeter het van 200km/h gepraat) en ek besluit toe om maar eerder stil te bly. Om my stil te HOU daar om die draaie van De Waal Drive, het ek my toe maar ‘n groot bos rooi rose op die agterste sitplek verbeel … Ek het toe nog niks van Derrida se sý liefde vir motors en onweerstaanbare drang om te wil verbysteek geweet nie, soos daar in Derridabase/Circumfession (1993, p5) vertel word:

    “The racing of a car is filmed or photographed, always on the verge of having an accident, from one end of J.D.’s work to the other (for example: The Post Card, pp. 17, 26, 43, 60, 115, 162, 174, 200; “Ulysses Gramaphone,” in fine; Mémoires d’Aveugle, p.11).

    Dalk het ek sielkundig nog net nooit uit daardie rooi Porsche geklim nie, bedwelm, stomgeslaan? Daar mag dus dalk iets droewigs verbonde aan my wees, maar ek is NIE ‘n jaagduiwel nie. (Terloops, gepraat van spoed, my verhandeling wat ruimskoots meer as normale tyd geneem het om te voltooi, is met baie goeie punte geslaagd verklaar. Ek kan dalk binnekort weer begin duimry, in die figuurlike sin van die woord natuurlik – wie laai nou ‘n vyftigjarige rooikop met ‘n witkop spook op haar rug op!)

    “And then I saw Jacques Derrida. He appeared near the front door, stood for a moment, looked at his watch and then, like the White Rabbit, disappeared down what must have been some stairs.” – Gaston, in The Impossible Mourning of Jacques Derrida (2006). Lig en lieflik. Byna soos Botha dit in “Epitaaf” stel:

    Hier is geen versoek vir liefde,
    vriendskap of begrip.
    geen sug na lofprysings,
    blomme of trane nie.
    Net om in vrede
    alleen gelaat te word,
    met as nagedagte
    miskien ’n pleidooi om genade.

  14. Buiteblaf Breytenbach :

    Me Snyman: veels geluk met die prestasie van die verhandeling! Ek is seker die witkop omie sou trots gewees het op u. (Wie weet, miskien is hy juis in sy noppies waar hy ook mag wees, want dis duidelijk dat hy nog lewe iewers.) Wens ek kon vir u ‘n Porsche gee, maar vandat die omgewingsbewustheid allerhande taboes vir ons opgestel het is mens mos skaam vir die uitspattighede.

  15. Maria Snyman :

    Dankie vir die gelukwensinge, Mnr Breytenbach, en veral ook vir (u droom oor) daardie Porche (vir my). Met verbeelding kan mens mos aan enige iets “deelneem sonder om daaraan te behoort” à la versamelingsteorie (Derrida in “The law of the genre”), so ek rits lekker rond in my rooi Porsche – met die witkop omie (sy voete is mos swart, hy was mos ‘n pied noir) op die agterste sitplek, as my backseat driver, ‘n sekere narkotiseur?
    “We are all debts owed to Death” – Simonides, in Anne Carson se Economy of the Unlost (1999), p. 80.
    Of soos u dit in “Al lê die berge nog so blou” (Brink 2008:516-517) stel: “die ding van muurskrif teen wit pleister / is altyd in ‘n vreemde taal”. Hoe kan dit immers ook anders so met “die notisies gekraam met ewigheid se swier”. Daardie wit haas waarvan Gaston praat doen op ‘n manier niks anders as om sulke “muuskrif”-“notisies” van hierdie “notisies [so] gekraam met ewigheid se swier” aan ou filosofiese tekste vas te kram nie – dit bied vir hom niks anders as blote besondere voor-beelde of demon-s(tr)asies van waartoe die mens in staat en/of oppad is nie. Die liefde vir wysheid, soos die soeke na liefde byvoorbeeld ook, laat mens vreemde dinge aanvang, dit ontspoor jou vieslik, maar juis daarom ook, soos die wit knaagdier dit dan ook altyd baie duidelik probeer maak, ook vreeslik mooi, op voorwaarde jy mooi kyk/lees/skryf: “o donker beminde jou lyf / ‘n mobiele landskaap van die liefde as vrou”.

    Ek ontdek onlangs(!) Opperman (Brink 2008:294) se “Sondag van ʼn kind” – waarin ʼn sekere wolhaarstorie, of ʼn storie van ʼn kind wat homself nie wol oor die oë laat trek het nie, vertel word? – en geniet dit te vreeslik:

    My vader, moeder, broer en ek
    het rape uit die land getrek,

    hulle in die spruitjie skoon gewas
    en saam gaan eet op klawergras.

    Later toe ons by ʼn waenhuis kom
    was al die bure saamgedrom,

    en by die een vervalle hoek
    lees iemand vir ons uit ʼn boek.

    Klip na klip word van die muur gerol
    tot by ʼn lam met raapwit wol.

    Wat (moet) gebeur (noem dit ‘n geskenk, die dood, letterkunde, ‘n geheim, of muurskrif of wat ookal) bly in die laaste instansie altyd “sag en teer” (“gentle”), soos die toekoms, “vreemd aan dreigemente en oorloë, al word dit vir hierdie rede juis ervaar as iets soveel meer te vrese en gevaarlik”, soos ou wit langoor (ja, hy is onder andere ook ‘n esel) met sy swart pote dit in “Psyche – Invention(s) of the Other” stel.

    Rits ek darem nou duidelik lekker bedwelmd rond met my mooi rooi Porsche! Dankie nogmaals.

  16. Veels geluk ook van my kant, Maria! Waar kan ons jou verhandeling lees?
    Die man met die sneeuhare en swart voete leef – ten minste op die kommentaarbladsye van versindaba (nie die slegste adres nie!)

  17. Leon Retief :

    Geluk Maria. Vir jou en Breyten, daar is ‘n elektriese Porsche op pad, ek is seker hulle sal vir Maria ‘n rooie hê. Hulle moet net daai aaklige wiele se ontwerp verander.
    http://www.ibtimes.co.uk/porsche-mission-e-all-electric-sports-car-go-sale-by-2020-1532355
    Indien julle nie wil wag nie, Tesla het reeds ‘n elektriese sportmotor op die mark, ek het een sorgvuldig deurgekyk by ‘n motoruitstalling toe ons Juniemaand in Montreal was vir die Kanadese GP.
    https://my.teslamotors.com/en_CA/roadster/gallery
    Indrukwekkend, maar die afwesigheid van sowel die klank as ‘n ratkas – nie vir my nie.

  18. Maria Snyman :

    Dankie Engela en Leon. Engela, ek handing die hardebandkopie en CD volgende week by UNISA in – ek weet nie hoe lank dit dan neem om op die internet beskikbaar te kom nie. Ek sal vra en laat weet. Leon, dankie vir jou voorstelle – ek kon die uitspattige geskenk in my kop baie mooi op datum bring (ek ek stem oor daardie wiele – dit is wraggies erg?!). Wroooom, laat ek weg wees – voor iets vanaf die agterste sitplek my dalk weer op ‘n trip sit!