Resensie: Atropos (Hendrik J. Botha)

Die lewe is ’n grensgebied

Atropos – Hendrik J. Botha [Queillerie, 2015; Prys : R175, Bladsye : 96, Sagteband; ISBN-13 : 9780795801020, Epub-ISBN : 9780795801037.]

Resensent: Heilna du Plooy

Atropos

Atropos

Daar bestaan ’n hele tradisie van dokters wat dig en dit is nogal verrassend watter name almal op so ’n lysie verskyn. John Keats, die sentrale figuur in die Engelse romantiek, het begin skryf terwyl hy met sy mediese opleiding besig was. Hy het die skryfwerk bo medisyne verkies maar het wel ’n aptekerslisensie verwerf en is beskou as ’n begaafde mediese kenner. Anton Tsjekov en Sir Arthur Conan Doyle was beide dokters en as mens bietjie deur webwerwe reis, vind jy veel meer in verskillende tale. Die Amerikaner William Carlos Williams is waarskynlik die bekendste dokterdigter van die moderne era. Terwyl hy vir 40 jaar lank gepraktiseer het, het hy ook tydlose verse geskryf wat steeds keer op keer mens se asem wegslaan.

In Afrikaans is daar ouer digters soos Arnoldus Pannevis, C. Louis Leipoldt, A.D. Keet, Theo Wassenaar en A.G. Visser wat almal medici was. Hierdie digters, soos die ander hierbo genoem, het egter hulle skryfwerk en hulle beroepslewe apart gehou en dit is te verstane as die poëtiese opvattings van hulle tyd in ag geneem word. In die laat negentiende en die eerste helfte van die twintigste eeu is die poësie oor die algemeen binne die Westerse tradisie en ook in Afrikaans beskou as behorende tot ’n eie domein wat deur bepaalde temas, ’n bepaalde poëtiese werkwyse en woordeskat gekenmerk is. Maar later in die twintigste eeu is al hoe meer tradisionele literêre grense oorskry en ook in die poësie het die wyer blik nie net tegniese eksperimente tot gevolg gehad nie, maar ook ’n baie wyer spektrum van temas.

In die werk van latere Afrikaanse digters wat ook medici was soos Casper Schmidt, Phil du Plessis, Henk Rall en Menno Stenvert word die tematiek van hulle beroep in meerdere of mindere mate gereflekteer, maar die digter wat sy beroepservaring en –kennis as medikus voluit in sy verse ontgin is Gilbert Gibson. Trouens, die terminologie en problematiek van die mediese beroep, die wetenskaplike sowel as die meer menslik aspekte daarvan word eintlik die idiolektiese vingerafdruk van Gibson se oeuvre. In aansluiting hierby kan ’n mens noem dat die Yale University School of Medicine en die University College London Medical School byvoorbeeld in 2010-2011 ’n poësiekompetisie vir hulle studente geborg het. Tot hulle verbasing het hulle 160 inskrywings ontvang en die gedigte het meestal gehandel oor mediese onderwerpe soos afasie, mastektomie, en natuurlik lewe en dood. Dat dokters dus ook digters kan wees en dat mediese feite digterlik verwerk kan word, is duidelik.

Die debuutbundel van Hendrik J. Botha sluit eksplisiet by hierdie tradisie aan. Botha is ’n narkotiseur van beroep en die meeste gedigte in Atropos dra tekens van die leef- en beroepwêreld van die digter. Regdeur is die leser bewus daarvan dat die digter homself in grensgebiede bevind, dat hy dikwels met grenservarings te make het. Hiervan is die uiteindelik paar, lewe en dood.

Die bundel is in ongetitelde afdelings ingedeel wat telkens met ’n aanhaling begin om ’n aanduiding te gee van die aard van die afdeling. Afgesien daarvan dat die bundel opgedra word aan die digter se ma en pa word die eerste afdeling ingelei met ’n aanhaling uit Eksodus 20:5: “Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag . . .”

Die gedigte in hierdie afdeling gaan dan ook inderdaad oor die verhouding tussen ouers en kinders maar na twee kante toe. Dit is asof die digter die middelste generasie is wat na die een kant steeds met die ouers en veral die moeder besig is, maar aan die anderkant ook uitreik na die volgende generasie. Die eerste gedig in die bundel, “Lotsbestemming”, is besonder treffend. Die gedig is gebou rondom drie figure, die dogters van Zeus en Themis, wat volgens die Griekse mitologie die lot van elke mens bepaal. Die metafoor waarmee hulle werksaamheid uitgebeeld word, is dié van spin: Clotho spin die draad (van die lewe), Lachesis bepaal die aard en lengte daarvan, maar dit is die oudste Atropos met haar onverbiddellike en onvermydelike skêr wat besluit hoe en wanneer, en dan die lewensdraad knip.

In die gedig verwys die digter na sy moeder wat na sy geboorte “postpartum-blues” gekry het. Reeds hier is die mediese term postpartum opvallend en hierdie seun besin oor die hoe en waarom van sy moeder se nageboortelike depressie. Dit doen hy egter nie suiwer medies of wetenskaplik nie – hoewel die besinning oor die psigologiese kompleksiteit van geboorteskenk as sodanig reeds dui op die medikus se sensitiwiteit vir die verband tussen fisiese en geestelike ervaring. As digter sluit hy egter aan by die mitologie en gebruik dit as metafoor om die moeder se kommer oor die nuwe jong lewe saam te vat: Hoe sal dit met hierdie kind gaan? Hoe gaan sy lewe daar uitsien en sal hy dit oorleef? Die gedig handel oor die jong moeder se nadenke oor haar kind se lewe, maar dit word ook meer, want hierdie patroon, geboorte, die verloop van ’n lewe en die dood, is die verhaal van elke mens se lewe.

Die droewe Atropos waarskynlik,
skêr in die hand, slagvaardig
om alles sonder omhaal te beëndig
met twee lemme en ’n punt.

Die bemoeienis met lewe en dood wat eintlik die deurlopende ondertoon van die bundel is, word hier dus direk aan die orde gestel. Die eenvoudige, direkte en helder segging verhoog die trefkrag van die gedig en maak dit juis meer evokatief.

Die bewustheid van die beperkte duur van lewe kom in die volgende gedigte telkens terug. In “Lazarus” soek die digter die afgestorwene terug in albums, briewe en kaartjies, maar die afwesigheid bly absoluut. Die verlede kom onder meer terug in ’n foto van die spreker en waarskynlik ’n sustertjie wat saam in die sneeu staan. Die gloeiende kindergesigte word dan gekontrasteer met die dooie gesig van die omgevalle sneeuman. In “Opdrag” maak hy ’n afspraak met iemand (dalk ’n seun) om eendag sy as op ’n bepaalde plek te gooi. Die lewe word dus deurlopend gesien soos wat dit deur die onafwendbaarheid van die dood begelei word.

Daar is ’n bewustheid van gesinsverhoudinge en die verbygaande aard daarvan. In “Visvanguitstappie vir pa en seun” word beskryf hoe die pa en seun saam gaan visvang ’n week voor die seun se troue. Die vaderfiguur is die spreker en neem die hele belewenis met groot sensitiwiteit waar: die gesprek, alles in die omgewing en die atmosfeer van lig en water. Van die vader se kant is daar ’n afskeid, maar hy stel die seun ook vry om ’n nuwe fase van die lewe tegemoet te gaan.

Die visvangmetafoor, as metafoor vir die strewe, die behendigheid en die verwondering van die digaktiwiteit, word in die volgende gedig verder geneem as die digter homself onthou as ’n kaalvoetseun wat silwer vissies uit ’n stroom vang.

Hierdie hele afdeling staan in die gees van afskeid, soos ek dit lees, hoofsaaklik van die moeder. Die geel rose wat voor haar dood geplant is, blom welig, maar die geplukte rose verloor al klaar hulle blare, daar word blomme gekoop vir moedersdag al is die moeder reeds twee jaar gelede oorlede. Daarmee saam gaan agtergelate ruimtes, plekke wat verander as die mense daaruit weggegaan het, hetsy deur ’n ander fase van die lewe te betree of deur te sterf.

’n Interessante gedig is “Die waansin het my reeds kom haal” waarin daar verwys word na Alice Miller. Later in die bundel word sy weer opgehaal. Alice Miller was ’n Pools-Joodse psigoloog wat uitgebreid geskryf het oor kindermishandeling en die nagevolge van jeugervarings. Die digter as medikus gebruik hier die verwysingsveld van sy beroep om te besin oor sy eie jeug en sy eie huidige psigologiese situasie wat beïnvloed of selfs bepaal is deur sy jeug.

Die tweede afdeling staan onder die motto “Primum non nocere”. Hierdie frase word meestal beskou as ’n deel van die Hippokratiese eed maar is eintlik afkomstig van ’n Britse medikus Thomas Sydenham uit ongeveer 1860. Wat die oorsprong ookal is, is dit ’n aanmaning aan die medikus om in die eerste plek geen skade aan die pasiënt te doen nie. Die gedigte in die afdeling gaan dan ook inderdaad oor die “lot” van pasiënte, mense in fisiese nood en die dokter wat soms kan en moet help of magteloos moet bystaan in ander gevalle. Die diep meelewing van die medikus met sy pasiënte, die inlewing in die omstandighede van die mens wie se lyding hy veronderstel is om te verlig of te verwyder, spreek uit al hierdie gedigte.

Weer eens is die verse eenvoudig en gestroop tot op die been. Die kontras tussen die aangrypende aard van die belewenis vir die pasiënt sowel as vir die medikus en die direktheid en eenvoud van segging in die verse is besonder treffend en poëties gesproke suksesvol.

In “Haarfyn” gaan dit oor ’n doodgebore baba en die dokter wat selfs daarvoor te laat is. Die gedig bied die gebeure aan asof die mitologiese godinne van die noodlot gefnuik is omdat die premature kind sterf voordat hulle oor sy lot kon beslis. “Mastektomie” handel oor die besef dat die vrou sonder borste steeds bemin kan word, maar dit gaan gepaard met die insig van die geliefde dat hy self ook imperfek is.

Die gedigte gebruik telkens ’n ongewone invalshoek en bring uiteenlopende materiaal bymekaar. So word elektriese skokbehandeling vir trauma op ’n ironiese wyse gestel teenoor die vlug voor die kernontploffing by Fukusjima – in die een geval moet die skok red, aan die ander kant bring dit dood. Daar is die ryk vrou wat aandring op ’n spinaal om pyn te ontsnap die dokter mik die inspuiting in die oog van die getattoeërde draak op haar rug. Verder, hoe ironies dat dit sulke mooi liggies is wat in die PET-scan die kankerselle aandui!

Besondere gedigte is “Breindood” en “Oor die kleurgrens”, asook “Ternouernood” en “Selfmoord” verderaan in die afdeling, wat gaan oor orgaanskenking. In “Breindood” staan die dokter na die oes van die organe in ’n “makabere” toneel net so reddeloos en ontredderd soos die gestroopte lykie van die kind.

Na afloop van die makabere tafereel
tussen geteëlde mure, net ek en jy,
donker wond en dooie oë,
sonder iemand om tot slot
jou óf my hand vas te hou.

Aan die ander kant red die orgaan van een wat sterf ’n ander en gee ’n nuwe kans op lewe. In hierdie hele afdeling staan lewe en dood bymekaar, naasmekaar, twee kante van dieselfde munt.

Saterdagmiddag kwart voor vier:
tussen Witbank en Pretoria
teen tweehonderd-en-twintig kilometer per uur
bring ’n man vir jou ’n nier.

Dit is vir my interessant dat in hierdie afdeling van die bundel waarin die digter as medikus uit sy lewe put vir die tematiek van die verse, hy juis so sterk as digter voor die leser kom staan. Want die digter sien die ongewone hoek, soek die soberste en direkste woord, toon die alternatiewe kant van die ervaring en orden en rangskik die stof tot gedig met vloei en ritme en die klem op die regte plek. Botha is hier nie die dokter as digter nie, maar die digter as dokter: hy toon die menslike kant van die mediese ervarings, hy openbaar die gevoeligheid van die digter in sy hoedanigheid as medikus. Die mediese onderwerpe en mediese insig word ondergeskik aan die menslike aspekte daarvan en veral aan die digterlike moontlikhede daarin.

Die derde afdeling gaan oor menseverhoudinge en juis die problematiese kante daarvan. Die mens is nie juis ’n liefhebbenswaardige figuur nie maar uit die gebrokenhede is daar wel iets te haal. En hier word stof uit die Suid-Afrikaanse omstandighede ontgin, die onderskeid op grond van kleur, die terroris met die Bybel in sy sak, min goeie nuus, Andries Tatane wat sy dood onder sy eie mense se klippe vind, motorkapings – alles steeds met ’n fyn oog vir die ironiese en onverwagte, die diskrepante en dramatiese aspekte van ’n saak.

In die afdeling wat begin met ’n aanhaling van Pearl S. Buck “…what really broke a heart was taking away its dream…” is daar gedigte oor die liefde. Die onbeskryfbaarheid daarvan, die onsamehangendheid en onvoorspelbaarheid sowel as die onverklaarbaarheid daarvan. Waar die liefde onbereikbaar is, maar tog gebeur, so maak die laaste afdeling die stelling dat die dood die uiteinde van alles is. So word ’n sirkel as ’t ware in die bundel voltooi, van die begin van lewe tot die afsluiting daarvan.

“Leef jy lank genoeg,

raak jy aan alles gewoond,

ook aan die dood.”

Hierdie afdeling vertel van die dood van ’n vriend wie se naam ook genoem word. Daar word beskryf hoe die bewuswording van die siekte so onverwags kom, hoe die aanvaarding groei, hoe die digter die siekte probeer verlig, maar dit ook self moet verwerk. Daar word van die digter ’n belofte geëis, waarskynlik om in te gryp as die siekte sy vriend te veel aftakel en hom van sy menswaardigheid ontneem, maar as hy uiteindelik inderhaas ontbied word, is dit nie nodig nie:

Ek het gegroet.

Jy, gewoon net ophou asemhaal.

Die bundel sluit af met ’n mooi gedig waarin die tematiek van die mediese beroep en die digterskap weer eens vervleg word. Die dokter-digter het Hippokrates as bootsman oor die Styx maar die ou man praat met die digter as dokter:

Doen eers aan niemand leed.

Spaar dan jou woorde vir die gode,

Soos vir hierdie verse sonder klank.

Hierdie debuutbundel bevat ’n aantal werklik onthoubare en merkwaardige verse. Die eerste twee afdelings en die laaste is sterker as die res, maar die tekens van ’n natuurlike digterlike aanleg en aanvoeling is regdeur merkbaar. Dit is veral die sobere en onopgesmukte aard van die verse en die skerp oog vir digterlike moontlikhede wat die leser bybly. Vanweë die algemeen menslike aspekte van die tematiek in veral die eerste twee afdelings, sal die gedigte lesers weldeeglik aanspreek en bybly. Dit is ’n bundel wat die potensiaal van die digter vertoon en mens hoop dat daar nog baie verse voor hierdie digter sal kom aantree.

Heilna du Plooy
Potchefstroom / 2015

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Resensie: Atropos (Hendrik J. Botha)”

  1. Elza Lorenz :

    Dankie vir ‘n uitvoerige, interessante maar eenvoudige resensie. Sal graag die bundel lees.

  2. Webmeester :

    Jammer oor die spammerasie wat al weer begin insypel het, ten spyte van die kode wat gelaai is. Ek sal afhaal so gou as wat ek kan. Indien dit aanhou deurkom, sal ek die kommentaarfunksie tydelik afhaal vir hierdie blog. En weer later aktiveer.

  3. René Bohnen :

    Wat ‘n deeglike,insiggewende resensie! Ek sal beslis moeite doen om hierdie bundel in die hande te kry. Dankie, Heilna.

  4. Menno :

    Het amper die resensie soveel geniet soos ek steeds die bundel geniet, Hendrik!

  5. sigeuner :

    Positiewe resensie – sal baie graag die bundle onder oë wil hê.
    Interessant, op die Internet is `n hele paar dokter-digters bedrywig en elkeen bied iets nuuts met `n tweekantige snylem – hul private verse/waarneming en dan `n deel van hul beroep en meelewing van gebeure in hul daaglikse mediese prakryk.