Gisela Ullyatt. Stuur groete aan die reën.

Colesberg

’n Gros woorde sou 2015 kon beskryf: #rhodesmustfall#; #feesmustfall# en ander dergelike hutstekens (of liewer onthuts-tekens?). Terreur, Parys, verset, twis, tweespalt. Afrikaans. Kolonisering, de-kolonisering, neo-liberalisme, Marxisme(s).
Steve Hofmeyr wat country sing. Nathan Trantraal wat op Halloween die Ingrid Jonker-prys wen. Wit patriargie. Swart patriargie.
Open Stellenbosch. Kovsies #Steynmustfall#; NWU #Totiusmustfall#. Oscar Pistorius en die ANC-vroueliga. Suid-Afrikaanse Oorlog. Boer. Grond. Donker donker land. Wye en droewe land.
Twee woorde oorheers egter bostaande begrippe: ‘reën’ en ‘droogte’. Hiermee saam, ‘versengend’; die ‘dieper dors’.
In 6 Desember se Rapport Weekliks skryf Leon Schreiber oor die VN-Klimaatsberaad in Parys (‘’n Droë, warm seisoen’:7). Wat my opval en terselfdertyd nog meer moedeloos laat, is die volgende paragraaf:

Die impak van die klimaatsverandering word inderwaarheid reeds wêreldwyd beleef: 14 van die 15 warmste jare wat tot dusver opgeteken is, het almal sedert 2000 voorgekom. Die Wêreld-Metereologiese Vereniging (WMF) voorspel bowendien dat 2015 verreweg die aarde se warmste jaar gaan wees sedert optekening in 1860 begin het.

Hier sit ons dus, ge-hittegolf. Soos ek hier tik, is dit 35 grade. Maar dit is 20:35. Daar is nie ’n venster of ’n deur wat nie oopgaap nie. Daar is waterbeperkings. Lugverkoeling is te duur vir meeste privaat-huise. Aldus die waaier wat warm lug soos ’n bergwind rondspiraal. Die hitte oordonder alles; die donderstorms bly gerugte.
Veral boere in die Vrystaat en Noordwes word deur die droogte vermink. Daar is nie weiding nie; die aarde is verskroei. Talle moet hul eie diere skiet. Kalfies kry skitterysiekte omdat hulle maagvelletjies nog dun is en nie bestand teen die son is nie: die melk in hul mae word letterlik suur.
Gilbert Gibson, Bloemfonteinse internis wat die Oos-Vrystaatse plaaslewe ken, skryf só oor droogte op ’n plaas (Groot Verseboek, Deel 3:1204):

krit

daar is iets
in die oosvrystaat
marquardsenekalexcelsior
wat uit die ou testament uit peul
iewers in korannaberg
vlam ’n bos toevallig in ’n veldbrand
’n skaapwagter op rietvlei
se stok word ’n slang
steynskraal-beeste se oë
word deur kraaie uitgepik
in sandspruit se waterlose skeut
kniel droogte as profeet

Hans du Plessis dig in ‘Droogte drie en tagtig’ (GV, Deel 2:840) oor ’n knellende droogte van meer as dertig jaar gelede. Die emosionele ondertoon van die gedig (‘diep in die donker van ’n put’ en ‘dié swart gal gaan in my sinne sit’) speel in op die donkerte van moedeloosheid; die ongenade van hitte en son. Let op die wyse waarop die digter as’t ware ’n assosiatiewe spieëlbeeld uit die twee strofes skep: die tweede word ’n emosionele kartering van die eerste se fisiese ruimte:

mielies skuifel skraal skrompeltjies blaar
maer en ritsel teen die droë wind
skalter skewerig skuins en ongekop
op bruin gelit die dorte deur
die draaiwind dribbel uit ’n tregterpot
droë derms uit die dors uitlos
son speel speke teen ’n windpomp vas
as stofstrepe staan waar water was
en diep in die donker van ’n put
bid die son ’n skelm skerfie wit

ek loer flegmaties af
toe stort en staar my kop
uit die wiegende weinig op:
watertjie wikkel wanorde:
lug word water word son word stof:
en word ek ooit weer uitgeput:
dié swart gal gaan in my sinne sit:
iewers in hierdie jammerjaar
het ek nog kop verloor
en die laaste sap
word uit my leë lyf getap

Phil du Plessis se ‘Kalkbaai, Maart 1984’ (uit ‘Asemgedig’:19) eksploreer die verband tussen asemhaling-as-lewegewende ritme van die heelal wat ’n sikliese gang (asem/lug; water/reën) suggereer. Die wisselvalligheid van die kreatiewe proses, hier spesifiek die digproses, is ‘n verdere betekenismoontlikheid ter ontginning.

1

Die heelal haal ritmies asem,
maar hóé
verander die jaar self?

die aarde asem,
verdig die asem tot water,
tog, voor verposing
kom die uitasem
wat dampe weer
die ruimte instuur

soms kom die reën vroeër,
soms later.

Soos met talle van sy ander gedigte, daag Gert Vlok Nel semantiese sowel as strukturele konvensies uit; dit wat ongesê bly en verkap word, moet die leser self invul.
In ‘i sagte reën het agtermiddag’ (10) word die titel in beide openingsreël en laaste reël herhaal en met ’n punt of end stop markeer. Ook word ‘die’ by die openingsreël gevoeg wat spesifisiteit aan die spreker se herinnering verleen.

i sagte reën het die agtermiddag.
ja ons almal het uitgehol, rondgedans in die.
tot Ma natuurlik gesê het kom in julle reën.
julle sal koue.

ekeenAttieenPollie en Vlokkie my vertraagde.
het nie geluister vir Ma nie, ons het.
ons bootjies gery in die sloot langs.
Vlokkie die simpel lag i i i iieeggghh die simpel ding.

in die yard kom Ma uit met die belt kamma.
ons hol in bang kamma. skielik is daar ’n helse.
in die straat is daar i botsing, i bakkie en i.
i sagte reën het agtermiddag.

Christine Barkhuizen le Roux gebruik die garingboom as objektiewe korrelatief in ‘droogteblom’ (55). Die woord ‘pose’ in die slotreël is ’n effektiewe transponering van betekenis vanaf die openingsreël: die kortstondigheid van die garingboom-as-droogteblom. ‘Pose’ is ’n woord wat meestal in onbruik verval het; dit dui ’n vensterperiode of tussenpose aan:

die garingboom het uitgeloop
weerskant aan elke hand
’n diepbord stuifmeel saad en son

drie maande en ’n bietjie tyd
kantel die stingel val die blom

’n droogteplant leef in respyt
tot somer weer één pose kom

Petra Müller se My plek se naam is Waterval (Waterval verwys ook na haar plasie wat in 1984 deur ’n brand verwoes is) se uitgangspunt is geskoei op die Oosterse dig-tradisie; natuur en landskap swaelstert met kalligrafie. Omdigtings en voortdigtings van onder andere Kalligrafie-digters soos Li Po en Riokan word terselfdertyd in konteks met die Afrika-landskap geplaas. So byvoorbeeld word ‘die kersieboom soms ’n pruimboom, die den soms ’n seder’. Ingelyks aktiveer ‘reënroeplied’ (‘Maart, April’:92) Eugène Marais se ‘Die dans van die reën’:

sy hang haar vlae wyd
oor rante oop … draal nog dae
sleep nog ver

o suster van die yl karos
ek roep u uit die vaalte los

met miere, haas en wildegans
begin ek stadig, hortend dans

’n kleinwild wat die tekens lees
om spoortjie van u spoor te wees.

Tradisioneel word die reëndans met die Noord-Amerikaanse Indiane geassosieer. Suid-Afrika het egter Modjadji, die Reënkoningin, wie se tradisionele tuiste Suid van Venda lê. Marais se wêreld skakel dus met hierdie Afrika-legende (’n Engelse Uitgewery wat spesifiek aandag skenk aan vroue-skrywers het hulself na Modjadji vernoem).

Ek sluit af met Marais se alombekende gedig (GV, Deel 1:32): mag ons almal ’n riel kap vir Onse Suster:

Die dans van die reën
Lied van die vioolspeler, Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met al twee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

Ns.: My hutsteken-mantra vir Suid-Afrika, 2016: #rainmustfall#.
Mag die Groot Lafenis ons almal omarm.

Colesberg2

Bibliografie

Barkhuizen Le Roux, C. 2006. roset. Pretoria: Lapa.
Brink, A.P. (ed). 2008. Groot Verseboek, Dele 1-3. Kaapstad: Tafelberg.
Du Plessis, P. 1986. Ek sing waar ek staan. Kaapstad: Tafelberg.
Müller, P. 1987. My plek se naam is Waterval. Kaapstad: Tafelberg.
Nel, G.V. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Gisela Ullyatt. Stuur groete aan die reën.”

  1. Nicolette van der Walt :

    Lieflike en relevante blog, Gisela. As ‘n plaaskind uit die Klein-Karoo was “droogte” ‘n jaarlikse woord – ek lees dus met groot begrip en deernis jou en elke digter se reënroeplied. Ek het al vir jou genoem die betekenis wat ek heg aan hierdie gedig van J C Steyn:

    Verbitterde boerseun bid
    – J.C. Steyn

    Ja, ek weet ons moet glo
    gló, en bid ook, glo
    en hóóp: dit bring glo
    “in ons leed versagting”.
    Die geglo sal glo die westewind laat draai –
    Orraait, maar dan val natuurlik weer die hoop water
    dat al die gesaaides spoel in hul maai.
    En daardie lekker vrypas agterna
    van “laat maar u wil geskied”.

    Laat maar. U wil geskied.
    Om reën bid ons donners verniet.

    Mag die hemele ‘n klam asem oor die drooggeteisterde gebiede blaas.

  2. Gisela Ullyatt :

    Dankie, Nicolette. Ek onthou hierdie gedig was deel van jou vier gedigte tydens die Poësiebrander-uitdaging. Jaap Steyn mag maar dig!

  3. Nicolette van der Walt :

    Ja, dit was! En daaroor het jy lieflike blogs geskryf, Gisela!

  4. Melanie Grobler :

    Og, Dis sooo mooi! Love you, Melanie xxx

  5. Gisela Ullyatt :

    Dankie, Melanie! Jou terugvoer maak die hitte sommer baie meer draaglik.

  6. Waldemar Gouws :

    Dankie, Gisela, vir jou artikel. Ek hoor mense praat dat hulle nie in hierdie versenging selfs meer aangedaan kan raak nie. Net ‘n dorheid in die onderkeel.

    Vir die destydse /Xam-Boesmans het die reën minstens drie onderskeibare aspekte behels (lees mens in JC Hollmann se “Customs and beliefs of the /Xam Bushmen”) nl. die reënvloeistof, of water, dan ook die reënbeeste, wat deur reënmakers gevang is en gery is na plekke waar reën benodig was, en derdens ‘n bewuste wese (soos in Marais se “Die dans van die reën) wat ‘n personifikasie was van reën en die natuurverskynsels daarmee geasossieer, soos wolke, wind, weerlig en die donder.