Bernard Odendaal. sehnsucht

sehnsucht

 

verlange   nie van hier en nou eens naby nie

beur uit die nes van jou omhelsings   aartsverlater   sy reikhals swaanmooi

heen ’n trekvoël nie van hier nie nou of

digby nie

 

haar hunker-

sug

hang windstilswaar   daar waar sy weggefletter het

uit die geknak-

te takelwerk van spookskip lengte-van-dae

 

jy gaan tuisteskep dus metterwoon jou liefhê uit die gemis

maak loopbaan al oor die spoor van die vergetelheid

jou oog op aldag en sy wonders (dogtertjies-met-haarstrikke)

 

dan kom daar poskaarte uit vanouds   van gunter af

jou kop glip naweke weg   kantien toe op vergesog   na hotel afgeleef op êrens

weke wil jy vort   jy wil hoor sy wás daar ja   ge-hitchhike glo   of ysterperd gery

dwaaldolla oor wie elke tweede jan rap sad stories weet te verkoop

 

jy gaan sit in leë kerke waar jy vermoed sy kon gewees het

bedeloos

omwille luisterryke swyes

.

in ’n lughawe se vertreksaal

teen hoë digte vensters langs

iewers aan die einde van ’n somer

volg jou oë om en om ’n onbegonne trekswaelvlug

 

in tale aan die kwyn   haastig of langsamerhand   reis jy verslangs

onweerstaanbaar toe   na digterby en raakgesê

maar sy is soek in elke gedig

 

verseindes skiet te kort   immer sy weet dat eindes eintlik oop

soos einders is   waar jy ’n sin wil toeknoop by die punt   daar glip

verlange

 

uit

 

jul skandekind   ontdek jy op ’n dag   dool

in jou voortuin rond   kaal en maer   huil-huil

hier   nou

 

 

© Bernard Odendaal / 2015

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Bernard Odendaal. sehnsucht”

  1. Maria Snyman :

    Sjoe, Bernard, wat ‘n gedig vir so vandag met die stories oor afgedankte Nene?! Iets lieflik ligs so deur die sehnsucht deur? Ek het toevallig net ‘n rukkie gelede jou “Die kind is steeds nie dood nie” op my Facebook aangehaal?!

  2. Bernard Odendaal :

    Dankie, Maria. Ek het so lank nagelaat om op jou kommentaar te reageer. jammer daaroor! Dis altyd lekker om te verneem dat ‘n mens se verse vir ander iets beteken.